WF 2012: Kloon

  • 0

2035 – ’n nuwe era

Ek wag vir my horlosie se wysertjie om aan te stap tot by 12:01. My voorkop slaan in blink druppeltjies sweet uit. Sy sal nou enige oomblik by die huis wees. Ek wag. Ek vryf oor die tekstuur van die metaalloop van die pistool. Hard. Koud. Vreesloos. Die houtdeur beweeg stadig oop. Ek skiet.

Hy sit skielik orent in sy bed. Hy kyk op die digitale horlosie op die bedkassie: 11:50. Dieselfde nagmerrie soos klokslag elke nag. Hy staan op en trek die laken reg. Hy stap stadig en versigtig na die ander kant van die bed toe. Hy kyk na sy vrou en steek vas.

Hy vryf met growwe vingers oor haar perfekte gelaat. Die perfekte krul wat soos ’n goue lintjie saggies op haar wange val, laat haar soos ’n porseleinpoppie lyk. Een wat bang is om te breek. Haar mond is donker en vol. Soos ’n goeie glas rooiwyn, een waaraan jy jou vir altyd kan verlustig. Hy verken met sy oë elke kurwe van haar lyf. Volmaak soos iets uit ’n skilderprent. Reinette. Haar naam rol soos soet heuning van sy tong af.

Hy stap met afgemete treë by die trappe af, bang dat die gekraak van die houtvloer haar sal wakker maak. Elke tree van sy nr 13-skoen voel so bekend soos die vorige nag s’n.

Die houtvloere weet wat volgende gebeur – die mure ook. Miskien ook die gemakstoel waarin hy hom nou tuismaak. Hy wag vir die horlosie om aan te stap tot by 12:01. Hy weet wie gaan binnekort by die huis wees. Hy vryf oor die tekstuur van die metaalloop van die pistool. Bekend. Selfversekerd. Die houtdeur beweeg saggies oop. Hy sien die bekende gesig, gemasker deur ’n enkele krul wat skaduwees en lyne oor haar gesig trek. Hy sien die kurwes en die mond, donker en vol. Sonder ’n oomblik se huiwering trek hy die sneller.

Oomblikke nadat die skoot gevuur is, kom Reinette by die trappe afgehardloop, ’n ou kombers om haar skouers gevou. Sy hardloop in haar man se arms in en begin huil. Sy huil vir hom en vir haar. Hierdie hartseer wat elke aand in die holtes van haar hart kom sit. Sy kyk na die lyk van haar kloon op die vloer en begrawe haar kop in haar man se skouers asof sy al die hartseer daarin kan wegsteek. Hy vryf saggies oor haar hare en weet dat dit elke aand moeiliker raak, nie beter nie.

Sy plan om elke aand haar kloon in te wag en te verwyder, was dalk nie die beste idee nie.

Reinette was nog altyd syne. Daar was een van haar en sy was volmaak. Deesdae word almal gedupliseer – vir siektevoorkoming en voortplanting. Dit het soos ’n veldbrand versprei, onbeheersd en wild.

Hy verlang na die dae van grootword met een self. Een brein, een hart, een lewe. ’n Eenvoudiger lewe. Hy verlang na haar, net vir homself. Getrou net aan hom. Die regte sy. Sy bly sy enigste vrou – al word sy tienduisend keer vermenigvuldig.

Die mensdom sal nooit oor iets kan saamstem nie. Dit is die kundiges teen die onkundiges. Dit is realisme teenoor selfgeproduseerde idees daarvan. Party mense streef na perfeksie en ander streef net na asemhaling. Hy verlang na vroeër jare. Eenvoud. Normaliteit.

Reinette kan nie soos ander mense die wil en gedagtes van haar kloon beheer nie.

Hy kon nog nooit die feit dat sy vrou se ander self haar elke aand aan ander mans oorgee, verwerk nie. Sy pragtige vrou se lyf wat elke aand uitgeleen word sonder haar goedkeuring. Mans wat vat en neem net waar hulle wil – die gedagte maak hom naar.

Die kundiges trek net hulle skouers op en verklaar dit aan die hand van die nuwe era. ’n Era waar jy tien lywe soos joune kan hê, en nege van hulle wat nooit sal sterf nie.

Nou sit Adriaan elke aand teen 12:01 en wag.

Elke aand moet Reinette sien hoe haar ander self doodgeskiet word en weer die volgende nag terugkeer. Die era van lywe wat nie moeg raak of sterf nie.

Aan die begin was dit makliker as nou. Nou raak Reinette se hartstogtelike trane elke aand meer. Elke dag kry hy minder van sy ou geliefde se lag,en een van die dae sal sy so leeg wees soos die kloon van haarself wat hier op die vloer voor hom lê.

Hierdie era en wêreld is nie meer gemaak vir porseleinpoppies wat kan breek nie.

Hy en sy vrou moet die aarde agterlaat vir hulle ander siele om te bewoon. Hy weet dat hulle iets het wat die klone nie het nie: ’n einde.

01:01 – dit pryk in groen vierkantige letters op sy horlosie se skerm. Hy wag totdat Reinette heeltemal aan die slaap geraak het op sy skoot. Hulle sit in sy bekende ou gemakstoel.

Hy druk sy vrou styf teen hom vas en tel die geweer van die stoel se armrus af op.

Lees nog oor die Kuberklas Kreatief WF-skryfkompetisie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top