WF 2012: Eksperiment AL1: ALONe

  • 0

BABA Korp.
(sedert 2012)
KWEEK VIR JOU DIE PERFEKTE KIND!
“Hier by BABA Korp. Kan jy en jou huweliksmaat die perfekte kind laat maak. Jy en jou eggenoot se gene plus jou keuse van vermoëns en kenmerke saamgegooi sal vir jou die beste geskenk gee wat geld moontlik kan koop.”

Ek lewe in die wêreld van BABA Korp, waar babas gekweek word soos plante.

Ek was ’n vergete fetus, die sterkste wat al ooit gevind is, perfek vir eksperimentele gebruik. BABA Korp. Wou sien wat sou gebeur as hulle al die beste “vermoëns” in een fetus kombineer. Ander “spesiale vermoëns” is ook ingegooi vir hierdie doeleinde. Hulle het my die naam Eksperiment AL1 gegee. Soms noem hulle my ook ALONe.

Ek het grootgeword in “DIE KWEEKHUIS”, die BABA Korp se hoof eksperimentele fasiliteite, waar ek gesmee is om my gegewe vermoëns te bemeester om die perfekte wapen te word. Ek is die enigste van my soort ... sover ek weet. My hele lewe lank was die enigste mense wat ek geken het, die wetenskaplikes, my onderwysers, my veginstrukteurs, dr Tesla Gilds (die enigste een van die wetenskaplikes wat ’n hart het) en natuurlik dr L Slingervelder (die hoof van die BABA Korp. se eksperimentele fasiliteite).

Dit was my lewe. Vandat ek kon onthou, is ek onderrig in wêreldkennis en gevegskuns. Op die ouderdom van 15 was ek al ’n kundige in 19 verskillende wêreldtale, asook in dinge soos wêreldgeskiedenis, tegnologie, geografie, sielkunde, drama en vermomming. Ek het ook tóé al my “gegewe vermoëns” bemeester: matige beheer van my eie molekulêre digtheid (eksperimenteel: verminder – kan op enige hoogte deur die lug sweef / vermeerder – onvernietigbaar), verhoogde orgaankapasiteit (longe, lewer, niere), versterkte spiere (bonatuurlike krag), hoogs ontwikkelde sig, supersoniese gehoor, versnelde genesingsvermoë, verhoogde oorlewingskapasiteit, die vermoë om mense se emosies maklik te lees (baie gevaarlik – hou gesig neutraal), verhoogde breinkapasiteit (onbeperkte kennisopname en volhoubaarheid – hoogs gevaarlik).

***

Vandag het ek weer ’n gesondheidstoets by dr Tesla. Sy is die naaste ding aan ’n ma wat ek het – sy gee om vir my. Die beste ding van besoeke aan dr Tesla is dat daar geen kameras in haar spreekkamer is nie. Na elke tweede toets smokkel sy ’n roomys vir ons albei in. Ek wonder of haar ouers ’n kind met verhoogde empatie versoek het?

Toe die wagte my in dr Tesla se sorg plaas, het ek en sy mekaar soos altyd gegroet met ’n stywe drukkie (sy ruik weer soos vanielje) en ’n handskud – wat eintlik vir hulle teen die reëls is. Niemand mag eintlik enige emosie teenoor my toon of enige fisieke kontak met my hê nie. Ons begin toe ’n longkapasiteitstoets. Ek draf aanhoudend terwyl ek gemonitor word deur ’n hartklopmeter.

“ALONe, ek moet jou waarsku, dr Slingervelder beplan nog ’n ... eksperiment vir jou,” sê sy in ’n paniekerige stem.

“Wat se sadistiese eksperiment het hýnou weer uitgedink?” lag ek effens terwyl ek dit sê.

Dr Tesla wil nie na my kyk nie en speel met haar baadjie. Sy is ernstig... baie ernstig.

“ALONe, jy is nog nooit aan so iets blootgestel nie. Hy wil hê jy moet ...”

Veronica Bicheveclu, dr Slingervelder se assistent, kom skielik die kamer binne met haar aaklige hoëhakskoene wat teen die vloer klap-klap.

“Dokter, dr Slingervelder wil die ekspe ... ALONe dadelik spreek oor sy volgende ... toets,” uiter sy met ’n klein glimlaggie.

“Sê vir die doktor ALONe sal nou daar wees – ek moet hom net ontkoppel,” antwoord dr Tesla formeel.

Veronica loop haastig die gang af; haar hakke klap hard teen die klipvloer.

Dr Tesla vroetel vlugtig met die drade en plakkers. “Ek wou jou waarsku. Hy gaan jou op ’n missie stuur wat al jou vermoëns gaan toets. Jy moet vinnig gaan – daar sal wagte by die deur vir jou wag. Jy moet sterk wees. Ek is baie trots op jou, ALONe. As dit jou beter laat voel, jy is vir my soos my eie kind.” Sy trek my skielik nader en druk my vas en fluister in my oor: “Hierdie gaan jou kans wees om weg te kom van hierdie aaklige plek af. Jy moet die geleentheid gebruik wanneer jy dink dit is veilig om te vlug.” Dan nog sagter: “Jy sal altyd in my hart bly.” Toe druk sy my weg en vat my deur toe. Sy lyk weer soos ’n professionele dokter. Dr Tesla het dit duidelik gemaak dat ons mekaar nooit weer gaan sien nie. Dankie tog, ek het ’n aanleg vir drama, anders sou ek nou dalk in trane uitgebars het.

Ek loop die gang af met twee wagte aan weerskante van my. Hul wysvingers is op die snellers van hulle gewere, nie dat hul veel sal kan uitrig teen my nie.

Ons kom by een van die voorligtingkamers aan en ek gaan sit op ’n wit stoel in die middel van die vertrek. ’n Stem kom deur die luidspreker. Dis dr Slingervelder ...

Ek is totaal geskok deur die voorligtingsessie. Hy het begin praat oor professor Pof de Muis van die KUP Universiteit, wat voorheen ’n lid van BABA Korp. was. Hy het kontak met dr Slingervelder gemaak en dreig dat hy vir die wêreld sal vertel van die eksperiment waarmee hulle besig is: ek. Vir sy stilswye vra hy R4 000 000 000.

Die rede hoekom ek nou hiervan weet, is omdat dr Slingervelder wil hê ek moet prof Pof de Muis vermoor ...

***

Ek en ’n paar soldate spring op ’n hoogte van 10 000 m by die vliegtuig uit sodat ons ons bestemming vinniger kan bereik. Al die soldate het groot ligblou valskerms om hulle te kamoefleer teen die lug. Ek sweef maar so tussen hulle deur. Ek het nog nooit van só ’n hoogte af gespring nie. Dit voel asof ek vry is ...

Ons land net voor die professor se huis en skielik word ons gebombardeer met ’n haelstorm geweerpatrone. Die koeëls bons van my lyf af en laat geen wond agter nie – slegs gate in my klere. Al die soldate lê leweloos op die grond voor my ... Ek word weer bestook van alle kante af, maar ek staan vas. Ek sien my kans, en sê vir myself: “Ek is gereed vir die wêreld ... Ek is vry ...”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top