
Hierdie verhaal het die Sandy Schoemanprys gewen. Lees meer oor die prys, en oor die kortlys.
*
Die fluistertaal van blomme
Die plantwinkel is oop. Ek bind myself op en ry met een doel voor oë daarheen: om vir Ma ’n binneplant te gaan koop. Sy het altyd gebel om te sê wanneer haar wit gladiolus oopgemaak het. “Wit soos ’n gebed,” het sy elke jaar gesê. En dan was sy ingeseën en getroos vir die duurte van die wit kelke. Ek vind nie haar wit gladiolus by die plantwinkel nie.
Die ouman suig aan sy vier eensame tande. “Nee, mevrou, van daai lelike jaar af blom mos net die virus.”
Ek loop blind weg met vinnige treë. Ma is ook ’n haastige stapper, want sy was ’n Symington, maar haar oë was stip op haar pad om nie iets lewends te kneus nie. Sy het ook artritislitte, want sy is ’n Symington, maar nooit het sy onnadenklik en lomp geraak aan ’n blom nie.
Soos die krake in haar kop begin wys het, eers fyn soos die skrif vanuit ’n antieke era, het sy haar woorde begin verloor. Hulle het soos trekvoëls in wye plate deur die lug getrek, weg van haar af na ’n plek waar die son sou skyn. Maar in haar donker agterblyland het sy gewys na die koorsboom, die eik, die los litte van die wilger. Haar mond was ’n sagte inkantasie van blomname.
Amarillis belladonna;
Sharon se roos;
klokkies en kamferfoelie;
sakura en magnolia;
lelies wat sterre kyk;
en die geur van maanblom.
Ma hou haar rose getrou tot hulle van kleur verander het. Tot die Just Joey kopervlekke het en die Papa Meilland nagswart is. Die reuk van outuinrose hang nie hoog of laag nie, die aromasfeer dryf so borshoogte op soek na ’n mens se hart. My vriend, Ryno, sê as een roosblaar eers in die water geval het, word die ander rose aangesteek om dit ook te doen. Hy sê rose verloor ook kop.
Op my verjaarsdag ry ek die oggend na haar huisie in ’n aftreeoord. Ek is emosioneel opgebind en toegevou agter die masker van viering. Toe ek die voordeur oopmaak, kon ek sien Mister Altz Heimer het reeds huisbesoek gedoen.
“Hallo, Ma!”
Abby kyk op van die paplepel wat in haar hand huiwer voor Ma se mond.
Kiepie, Kiepie, kom tog gou.
Hier is lekker kos vir jou.
“Kyk, ek het vir Ma after after-dinner mints gebring. Net twee op ’n slag, nè.” Abby lag en rol haar oë. “Een vir Abby en een vir jou.”
Sy kyk nie op nie. Maak net haar mond oop om die lepel in te laat. Sy sprei haar linkerhand, palm na onder, op die tafel oop en vryf langsaam die lengte van elke vinger. Masseer in stadige sirkelbewegings die artritisknobbels. Haar naels is gemanikuur en mauve geverf.
“Kyk nou net hoe mooi,” flikflooi ek kruiperig.
“Amper vergeet ek.” Ek vroetel in my sak na die klein botteltjie champagne wat ek op pad gekoop het. Moët et Chandon, 200 ml. Ek sit dit langs die papbord neer.
“Die beste vir jou, Ma.” Ek vat die servet wat langs haar papbord lê, en dep my loopneus. “Vir jou alleen.”
Abby kug. “Ouma? Jy sê dan niks?”
“Die kop is weer weg vandag. Tsk, tsk, tsk.” Sy staan steunend op en neem die papbakkie kombuis toe.
Ma kyk na iets anderkant my. Haar hande liefkoos mekaar. Stadige rolbewegings soos ’n paardans. Sy neurie.
“Ek wou nog vir Ma blomme gebring het. Maar die blommeman hier onder by Spar is nie waffers nie.” Sy neurie harder. “Ek wou vir Ma ’n bos wit gladiolus gebring het. Dit beteken mos ’n swaard, die lang stengel.”
Ek versit my voete. Tik met my naels op die tafelblad. Ek reik na haar hande. “Ma onthou mos dat die blom staan vir dapperheid en triomf?”
Sy begin wieg haar bolyf en sing nog harder. Nie woorde nie, net geluide. Ek voel die hitte teen my nek opkruip. Ek kyk weg van haar deur die venster waar die buurvrou wit lakens uithang. Die storie is nou nie meer vir haar nie. Dit het net myne geword.
“In Nederland is daar ’n spreekwoord: ‘Dood of gladioli! Alles of niks!’ Die gladiators wat die geveg gewen het, is toegegooi met gladioli. Die trots van die wit swaarde.”
Opeens verander iets in die lug. Ma ruk haar kop na agter. Haar lyf kry lewe. Sy beur op uit die stoel en bal haar hande in vuiste. Sy kyk na my. Sy sien my. Haar pupille swart gesper. Sy kap haar vuiste op haar bors, twee keer, en vou dit oop sodat haar naels sterpunte vorm. Sy buig vorentoe asof sy wil saamsweer. Of sy ’n geheim wil lanseer.
“Kom saam!” Sy stoei op uit die stoel en stamp haar botteltjie Moët van die tafel af.
“Ouma, wag!” gil Abby en storm agterna. Sy probeer keer my ma voor sy die binnedeur na die garage toe oopbeur. Ma klap haar hande weg en grom, diep keelgeluide. Asem hortend in haar haas. “Maak oop!” skreeu sy en slaan met haar plathande teen die deur.
Ek hardloop na haar en sit my hande soos twee duiwe op haar skouers neer.
“Dis oukei, Mam, dis oukei.”
Ek vou my arm om haar maer skouers. Voel die knopperige skouerblaaie soos botsels vir die groei van vlerke.
Sy kyk op, deur my oë, tot daar diep waar die skadubeelde van ’n leeftyd hang.
“Kom kyk net hier!” roep sy koorsig uit. Ek maak die deur gewyd oop. Waarom weet ek nie. Onseker oor wat sy wil onthul. Wat sy in die kaal motorhuis aanhou.
Sy vat my hand en stap die donker garage binne. Sprei haar arms wyd oop na weerskante. Haar gesig word ’n lamp. Haar lyf word ’n kruis.
Sy staar met triomf na die emmers en kanne en potte vol blomme. Pers flappe, vlamlelies, bosse magrietjies, affodille, oleanders, botterblomme, krisante, twee strelitzias en een rooi hibiskus.
Haar oë word ryp van al die kleur.
Sy asem diep in en hou dit daar, voor sy dit stadig vanuit haar laat wegvloei.
’n Hadeda-paar trek oor haar huis soos ’n voorbode.
Agter my hang Abby se woorde rond soos verskonings. Dat Ma die heelnag deur die oord gesluip het om blomme te vergader. Sy druk haar hande skuldig in haar uniform se sakke.
“Ek is so jammer. Ek het gedink sy slaap. Nie geweet sy het dit nog in haar om so ver te loop nie. En dit in die middernag! Sy was so saggies ...”
Ma draai om en kyk my stralend aan.
Ek staan met my hande oor my mond gevou. “Mamma,” oordeel ek, “hoe kon jy?”
Sy staar na my, gee twee treë na agter. Weg van my.
“Wat?” roep sy uit. “Wat?” Sy begin huil. Eers ’n sagte loei soos ’n verlate windstroom. ’n Rigtinglose geween.
“Het ek dan iets verkeerd gedoen?”
Sy keer stadig haar rug op my en gaan skuil in haar donkerblou La-Z-Boy-stoel. Haar koesterstoel langs die geelhouttafeltjie met die twee laaie, albei oop. Die laai verste van haar af is ’n kermis van gesteelde sweets. By die laai naaste aan haar peul bondels losgeskeurde blaaie vanuit ’n woordeboek uit. Die WAT. Ek tel ’n bladsy op. In haar krulskrif staan daar geskryf:
boen – poets
konfoes – opneuk
panoptikum – versameling
renbode – koerier
Stofjas – die Duiwel
Ek gaan kniel langs haar. Sy sien my nie meer raak nie. Ek is nie meer van belang nie.
Sy kniel nou voor Mister Altz Heimer. Hy is al wie sy kan sien.
Voordat sy haar Mister se hande kan vat, sodat hy haar uit die stoel kan lig, draai sy haar kop na my en versug: “Dit ís mos jou verjaarsdag vandag.”
*
Ek kyk van buite na die kantgordyne wat voor elke venster met ’n lint weggebind is. Ek sien die oorstelpte amarillis belladonna in vyf potte op haar stoepie. Waar die kolganse vraatsugtig en luid op haar gras kom land. Later die skel tarentale wat verbytrek soos ’n skril radiostasie. Die olyflyster wat haar inwag soggens wanneer sy in die son vir hom sit en wag met sy blokkie kaas.
Ek kry nie die kar in rat nie. Dit skraap. Ek ruik metaal. My tong word frank. Ek donder met my hande op die dashboard. Die radio gaan aan. Elvis Costello sing “She”.
She may be the reason I survive
The why and wherefore I’m alive
The one I’ll care for through the
rough and ready years
Me, I’ll take her laughter and her
tears
And make them all my souvenirs
For where she goes, I’ve got to be
the meaning of my life is she.


Kommentaar
Wat 'n pragtige stuk skryfwerk. WOW.