
Stefaans Coetzee, Sam-Annique Lowry, Petro-Odendaal-Kotze, Sandy Schoeman en Salome Kotze.
Op Saterdag 25 Oktober 2025 het die organiseerders van die Klerksdorp Boekefees ’n nuwe kortverhaalkompetisie met ’n prysgeld van R2 500 aangekondig.
Die tema is: Daar’s net een jy.

Stefaans Coetzee, Sam-Annique Lowry en Susan Coetzer
Die opwindende nuus is tydens hulle Daar’s net een jy-samekoms by From Shack to Sanctuary in Klerksdorp aangekondig. Susan Coetzer het oor haar boek Super C gesels en drie Klerksdorpers, Sandy Schoeman (Rooiletterkind), Petro-Odendaal-Kotze (Wanneer die krieke stil word) en Sam-Annique Lowry (Forever Yours), het meer oor hulle boeke vertel. Al drie die Klerksdorp-skrywers was deel van die Boekefees se slypskool.

Petro-Odendaal-Kotze en Salome Kotze.
Die Klerksdorp Boekefees fokus sedert 2020 daarop om ’n sterker leeskultuur in die Kosh-omgewing te ontwikkel. Die fees is veral bekend vir die saamskryfprojekte – wat bemarkingsgeoriënteerd is. Op pad na Grysberg (Naledi, 2023) en Sewe keer sondig (Naledi, 2024) is publikasies wat hieruit spruit.

Sam-Annique Lowry en Susan Coetzer
Hulle nuwe saamskryfprojek is 4 boeke waaraan 4 skrywers in 4 genre’s geskryf het. Elke boek word apart uitgegee en kan alleenstaande gelees word, maar wanneer die boeke in volgorde gelees word, vorm dit een boek.
Met die oog op toekomstige projekte, het die fees besluit om meer op opkomende skrywers te fokus aangesien dit al hoe moeiliker word om te publiseer. ’n Handvol nuwe stemme is gekies om oor twee jaar kwartaalliks aan werkswinkels deel te neem. Die siftingsproses was gedurende September en Oktober.
Stefaans Coetzee, wat ’n groot liefde vir die korter kuns het, het na die lees van Sidney Gilroy se kortverhaal, “Koebaai Meraai”, op LitNet gepubliseer, besluit om ’n kompetisie te loods. “’n Mens kan Sidney se liefde vir mense optel, en dit is wat ek met woorde aan die lewe wil hou. Sandy Schoeman was die eerste skrywer wat uit ons stal publiseer het, en ons wou haar eer.”

Sandy Schoeman
Hoe dit gaan werk:
- Onthou, die tema is: Daar’s net een jy.
- Die fees kyk na inspirasieverhale van 1500 tot 2000 woorde.
- Verhale wat op randfigure fokus en sosiale kwessies aanspreek, sal voorkeur geniet.
- Die fees behou die reg om die gekeurde verhale te publiseer.
- Die sluitingsdatum is middernag 19 Januarie 2026 en die wenners sal op 3 April 2026 aangekondig word. Die prysgeld is R2 500.
- Alle bydraes moet na dscoetzee22@gmail.com word.
- In die “subject line” skryf: KORTVERHAAL.
- ’n Maksimum van twee verhale per persoon word toegelaat.


Kommentaar
"Daar's net een jy" spreek tot my. As oud-Klerksdorper wat 20 jaar van my lewe daar spandeer het, het stukkies van my hart daar gebly om die dorp te koester, terwyl ander dele gekoes het vir hartseer en moes kies om elders te oorleef as alleenvrou...
Ek wil graag skryf oor die uitdagings van vryheid wanneer jy moet oor begin. Ek glo baie lesers sal daarmee kan identifiseer en hoop kry. Die tema sal wees: Alleenvrou - al een vrou.
Dankie Alta, ek sien uit na jou kortverhale.