
Foto: Canva
Koebaai, Meraai
Dit is die agtiende keer dat hy in die buurt inry, en elke keer tref dit hom. Die strate is niks meer as verbrokkelde teer nie; die sypaadjies kaal grond. Die huise is klaaglik verwaarloos en uit plek uit tussen ’n hondekosfabriek en ’n bedrywige skrootwerf. Oor vyf jaar sal die industriële area wat om die buurt uitspruit, hierdie spoorweghuise heeltemal insluk. Geen winkels, geen kliniek, geen biblioteek. Net ’n treinspoor en vaal grasperke wat huise met gebleikte gaasgordyne skei van die res van die dorp.
Die ontvolking het reeds begin. Vensters met gekraakte glaspanele wys op vertrekke sonder mense. Sommige huise het nie meer vensters of deure nie – net swartsakke en maskeerband. Dooie blare en takke lê oral rond.
Die huis waar hy stop, lyk nie veel anders nie. Verby ’n seringboom wat dreigend oor die asbesdak hang, staan ’n Ford op bakstene. Dieselfde een wat al agtien maande lank nie beweeg het nie. Die enjin is langsaan op ’n dik houtbalk. Die beskermseil het lankal afgeval en niemand het dit weer probeer regmaak nie.
Hy sug, skakel die motor af, klim uit. By die hek vat hy aan sy broeksak: R800 in kontant. Hy klop aan. Geen antwoord. ’n Kat draai om sy been. Hy buk om dit agter die klosserige, gemmerkleurige kop te streel. Die deur bly toe.
Hy loop om die huis, die kat hardloop vooruit. Lang gras oorval die sementpaadjie. Binnekant is dit skemer; ou meubels, vaal beddegoed, stilte. Hy kry haar agter by ’n draadtafel, besig om klere uit te spoel. Haar hare is onder ’n net en aan haar mondhoek hang ’n sigaret wat sy uitpluk.
“Is jy weer hier?” vra sy en glimlag terwyl sy ’n handdoek uitwring met haar sterk, songebrande voorarms.
“Dis die twintigste,” antwoord hy. “Ek het gisteraand die advertensie op Marketplace gesien.”
“Ja, ja,” antwoord sy, besig met ’n bloes. Die sigaret is terug tussen haar lippe. “Sy sit gewoonlik die trourok op Facebook. Dis die beste ding wat sy het. Die huur moet die 25ste betaal word. Een maand het niemand iets gekoop nie, toe brand sy vas. Ek moes maar die landlord please explain. Ek het self nie geld vir haar huur ook nie.”
“Jy het laas gesê jy gaan haar Sassa toe vat,” sê hy en beduie na die garage agter die kannas.
“Nee. Hulle wil haar nie help nie. Sy het nie ’n geboortesertifikaat of ID nie. Sy bestaan nie op die stelsel nie.”
“Ek het gedink sy kry darem ’n pensioen.”
Sy kyk hom fronsend aan. “Nee. Waarvan praat jy? Sy bly al vier jaar hier. Nog nooit Sassa gekry nie.”
“Hoe oorleef sy dan?”
Sy laat die sigaret wat nou stompie is, grond toe val. Trap dit met haar platskoen dood.
“Sy verkoop ander goed op Facebook ook. Ou goed. Sy tel blikke langs die pad op. Maak dit bymekaar tot dit genoeg is. Scrapyard toe.”
Hy dink terug. Hy onthou net die trourok. “Waar kry sy die ander goed vandaan vir Facebook?”
“Asblikke, seker. Ek weet nie.”
Hy onthou toe hy die derde keer die rok gekoop het. Sy het toe genoem haar ma het na haar omgesien; hulle het verder af in die straat gebly.
“Het sy al ooit ’n werk gehad?”
“Ek wou haar vat om karre op te pas, maar ek kan haar nie dophou nie. My baas sal dit nie toelaat nie. Ek kan nie my staanplek by die mall verloor nie.”
“Ek verstaan. Is sy hier?”
“Sy is altyd hier. Sy sit die hele dag daarbinne,” wys sy flouweg. Toe roep sy hom terug. “Jy weet sy gaan jou nie onthou nie, nè? Sy onthou niks. Net vir my. My man sê dis dalk omdat ek vir haar kos vat. Of dalk lyk ek soos haar ma.”
Hy knik. “Ek weet.”
Terwyl hy sy weg deur die kannas en klimop maak, dink hy aan hoe baie sy soos sy oorlede suster lyk en die troudag wat toe nooit plaasgevind het vir haar nie.
“Meraai?” roep hy en klop aan die sinkdeur. “Ek is hier oor die trourok?”
Sy hoes. Die deur swaai oop. Daar staan sy in haar rooi sweetpak. Verward, verwese. Olierige hare. Koeëlronde oë. ’n Spoegdruppel blink aan haar mondhoek. Sy staar hom aan.
“Is jy hier vir my rok?”
“Ja,” glimlag hy. “Die tannie in die huis sê dis hier.”
“Dit is.”
Sy staan doodstil. Hy het hierdie toneel al agtien keer beleef.
“Kan ek dit sien?”
“Ja. Kom.”
Hy volg haar. Die gang is kort. ’n Wasemmer in die toilet. ’n Gaatjie-waslap. ’n Kousie plat seepkoekies wat aan ’n haak hang. Geen stort, bad, kombuis of sitkamer nie. Net ’n buitekamer in ’n garage. ’n Oorblyfsel van staatsbehuising.
Die kamer lyk soos altyd: bal-en-klou-hangkas, staalbed met konkaaf matras, gehekelde duvet, goedkoop teddiebere. ’n Enkele gloeilamp sonder ’n kap. Die lug ruik muf.
“Daar is die rok,” wys sy sonder om op te kyk.
Hy tel dit op. “Sjoe, dis mooi!”
Vierkantige snit. Beslis was dit vir ’n voller figuur bedoel. Oudmodies. Ragfyn nie oor die materiaal nie, maar tyd se vingers wat aan die blink sy begin torring.
“My mammie het dit vir my gegee.”
Hy glimlag. “Vertel my van haar?”
“Sy was baie mooi.”
“Dit was seker haar troudagrok?”
“Ja.”
Sy begin rondkyk. Grawe ’n kartondoos onder die bed uit.
“Hier is foto’s.”
Sy sprei Polaroids oor die bed. Hy het dit al gesien. Hy kyk weer.
“Sy het darem pragtig gelyk,” sê hy sag.
“Ja.”
“Is jy seker jy wil die rok verkoop?”
“Ja.” Sy begin die foto’s weer inpak.
“Die advertensie sê R800?”
“Ja.”
Hy tel die geld af. “Dankie. Hierdie gaan ons dag spesiaal maak.”
Sy neem dit skaam. “Ek het nie ’n sak vir die rok nie.”
Hy maak of hy verbaas is. Hulle was al hier. “Ek het ook nie een nie. Wat van ek kom dit later haal? Volgende week?”
Sy kyk na die kalender. “Wat van die geld?”
“Vat dit nou. Ek wil nie hê iemand anders moet dit koop nie.”
“OK,” sê sy. Die geld verdwyn in haar hand.
“Sien jou dan.”
“Sien jou,” sê sy en sluit die deur.
“Sy het laas oor jou gevra,” sê die vrou agter die wasemmer toe hy terugkom. ’n Nuwe sigaret smeul tussen haar lippe. “Ek het gesê sy verwar jou met iemand anders.”
Hy knik. “Sal jy weer so maak, sou dit nodig wees?”
“Ek sal. Gaan jou goed.”
Toe hy by sy motor is, roep sy: “Die Here gaan vir jou bless!”
Ses weke verby. Hy was in Duitsland. Sien weer die advertensie. Kan nie reageer nie. Sy het nie ’n bankrekening nie.
Die negentiende keer lyk alles anders. Ford is weg. Gordyne ook. Hy draf stoep toe. Leeg. Die agterkamer ook. Selfs die gloeilamp is weg.
Toe hy terugstap, roep ’n buurvrou.
“Ek het jou gesien. Angie en haar man is weg. Hy’s oorlede. Sy kinders het haar gevat. Upington toe.”
“En die vrou agter?”
“Welfare het haar kom haal. Die dag voor Angie weg is. Hulle sê hulle sal sorg.”
Sy hou ’n toegeknoopte Checkerssak oor die muur.
“Angie het gesê ek moet dit vir jou gee as jy weer opdaag.”
“Wat is dit?”
“Ek weet nie. Jy moet maar kyk.”
Hy klim in sy motor. Ontknoop die sak. Hy sluk swaar toe sy vingers aan die materiaal van die trourok raak.

