Noudat die storm oor inenting teen bek-en-klouseer (BKS) skyn te bedaar het, is dit raadsaam om reeds vorentoe te begin kyk na wat moontlik ’n volgende biosekuriteitbedreiging kan veroorsaak. Hiervan is Johann Kirsten, landbou-ekonoom aan die Universiteit Stellenbosch, terdeë bewus, terwyl die meeste ander belanghebbendes dalk nog aan BKS-babelas ly.
In ’n onlangse Wyngaard Weekliks-gesprek roer hy ook ’n ander kwessie aan, waaraan weinig aandag (indien enige) in die BKS-debat gegee is: “Die interessante dinamika in ons veeartsenykundebestel is dat daar geen vergoeding aan boere betaal word as hulle diere moet doodmaak nie,” sê hy.
Wanneer ’n pes uitbreek – veral in die vark- en voëlbedrywe – moet al die diere doodgemaak word, “al is hulle nie noodwendig besmet nie”. Die probleem wat ontstaan, aldus Kirsten, is dat slegs die groot landbourolspelers oor die finansiële vermoë beskik om hierdie soort verlies te kan hanteer.
Die gesprek begin egter by die opskrif van ’n meningsartikel wat hy pas tevore vir Rapport geskryf het: “Opportunistiese boeregroepe en dom politici is ’n resep vir ’n ramp” lui dit – so effe na die sensasionele kant toe, meen hy. “‘Dom’ was nie eintlik die woord wat na vore gekom het [deur die inhoud van die artikel] nie. Dit was meer misleidend of oningelig.”
Die artikel het die kollig geplaas op die “problematiek” wat hy bespeur het in die bekgevegte tussen politieke en landbourolspelers en wat uiteindelik aanleiding gegee het daartoe dat John Steenhuisen as minister van landbou deur Willie Aucamp vervang is. Aucamp het nie op hom laat wag nie en het onmiddellik ’n skikking buite die hof bewerkstellig in die regsgeding wat Saai, Vrystaat Landbou en Sakeliga teen die departement geloods het.
Boonop het hy ook twee prominente kundiges wat in die BKS-kryt teen Steenhuisen geveg het, op die BKS-bedryfskoördineringsraad aangestel, synde Theo de Jager van Saai en Danie Odendaal van die Veeartsnetwerk. Dit het gehelp om die gemoedere te laat kalmeer.
Die boodskap in Kirsten se meningsartikel is ewe geldig vir die nuwe minister as sy voorganger. Hy waarsku politici teen vinnige besluite sonder dat hulle die wette, reëls en regulasies in ag neem – en dan is daar die vinger wat wys na politici wat taakspanne aanstel en dan nie die span se aanbevelings implementeer nie.
Lank voor Steenhuisen die portefeulje sou behartig het, was Thoko Didiza ’n betreklik gewilde minister van landbou, wat steeds geprys word vir die wyse waarop sy ’n goeie verhouding met boere opgebou het. Sou sy egter die aanbevelings aanvaar en uitgevoer het van haar veeartsenykundetaakspan, waarop Kirsten ook gedien het, sou die BKS-krisis dalk nie in so ’n geweldige kopseer ontwikkel het nie. “Niks daarvan is geïmplementeer nie – ook nie deur John Steenhuisen nie,” sê Kirsten.
Nóg ’n faktor wat ’n wesentlike rol in die aanloop tot die krisis gespeel het, neem ons terug na 2002 toe ’n wet deur die parlement aanvaar en deur die destydse president Thabo Mbeki onderteken is om meer afhandelingsbevoegdheid aan die bedryf te gee.
Nie slegs die rol van politici nie, maar ook dié van amptenare moet onder die soeklig kom, glo Kirsten; en dan vra hy ook: “Hoekom is die landbou-omgewing so gefragmenteerd en hoekom het ons partye van buite die landbou ook betrokke? Wat gaan hier aan?” Die landbou-ekonoom se rol is om landboustelsels, landboupolitiek, sowel as landbou-instansies te ondersoek. “So ek het van die kant af waargeneem dat almal ’n eiertjie te lê het oor die kwessie sonder die nodige inligting. Ek wou [met die meningsartikel] net perspektief op die kwessies plaas.”
Die “konflik in die siening van die saak en ook die konflik in hoe mense die saak benader” wat hy bespeur het, sou vroeër bygelê kon gewees het as daar net ag geslaan was op die bestaande wetgewing oor die hantering van ’n krisis soos BKS. “En toe ek die skikking lees wat buite die hof aangegaan is [tussen die departement, Saai, Vrystaat Landbou en Sakeliga], het ek agtergekom dat die skikking eintlik maar saamvat wat reeds in die wet vervat is. So hoekom het ons nou al hierdie grandstanding nodig gehad om tot ’n punt te kom waar ons almal nou die wet verstaan?”
Die wet is baie spesifiek oor die rol van die staat in die konteks van Suid-Afrika se verbintenis tot die reëls van die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid. Dié reëls bepaal hoe opgetree moet word sodat die land die status kan behou om internasionaal met diere te kan handel dryf.
“Uiteindelik het die groepe die departement gedwing om uitvoering te gee aan wat die wet in elk geval voorskryf,” sê Kirsten. Maar ’n belemmering waardeur Steenhuisen in die uitvoering van sy pligte gepootjie is, is wat Kirsten noem “burokrate wat aspris is”. Die minister het ’n strategiese fout met die hantering van die BKS-krisis gemaak deurdat hy dit “man-alleen” wou oplos, “want dit is nie ’n man-alleenproses nie”. ’n Ander blinde kol was dat hy “homself op die verhoë aangekondig het as die man wat die proses gaan lei”. Dit was, sê Kirsten, ’n “brawe stap – en dit het op die ou end nie so goed vir hom uitgespeel nie.”
Wat belangrik is om in ag te neem wanneer ’n minister se prestasie beoordeel word, is dat hy of sy “baie min mag oor die burokrate het”. Die direkteur-generaal en adjunk-DG’s is almal kabinetaanstellings “en daai mense stel weer ander mense aan wat dikwels politieke aanstellings is”. Die minister sit dus met “vreemdelinge” en ervaar dan dat dit baie moeilik is “om skuiwe [te maak] en die dinge te doen wat jy dink reg is”.
Die bestuur- of leierskapsles wat Kirsten in die Wyngaard Weekliks-onderhoud deel, klink moeilik haalbaar, maar dit is die enigste wyse waarop ministers in bovermelde omstandighede kan verseker dat hulle beheer oor hul amptenare behou. “Jy moet 24/7 op kantoor wees,” sê hy. “Jy kan nie net op verhoë wees nie.” Die manier waarop jy as minister “die mechanics van die departement” onder die knie gaan kry, is wanneer jy gedurig skouers skuur met die amptenare wat verantwoordelik is vir dit wat kritiek is in die uitvoering van die departement se rol.
Die raad aan Aucamp is dat Kirsten – selfs voordat hy met belangegroepe byeengekom het om verhoudings te herbou – ’n lang sessie met amptenare sou gehou het sodat hy hulle mentaliteit kon verstaan en hoekom hulle sekere reëls op ’n bepaalde wyse implementeer. “Bou eers vertroue tussen jouself en die amptenare voordat jy uitreik na belangegroepe,” sê hy.
Nou moet die nuwe minister homself net nie verbeel dat die (beter) hantering van die BKS-krisis sy laaste kopseer gaan wees nie. Kirsten se antwoord op die vraag oor wat Suid-Afrika se volgende biosekuriteitskrisis gaan wees, is ’n tydige waarskuwing: “Hy’s al aan die kom,” skop hy af. “Die eerste een is reeds met ons – en daar is toenemende gevalle van varkpes. En die wêreld word geaffekteer deur verskynsels van voëlgriep en dit mag dalk by ons ook weer kom; en dan is baie boere veral in die skaapwêreld bekommerd – ná al die goeie reën – dat slenkdalkoors kan kom, wat ’n verdere probleem kan wees, want daar is ook nie ’n entstof vir slenkdalkoors nie. So, dis die goed wat vir ons wag.”


