
Foto deur die DA via WikiMedia (CC BY-SA 3.0)
Met die, tans beweerde, nuus dat John Steenhuisen hom in April 2026 nie weer beskikbaar gaan stel vir die DA-leierskap nie, was die vrae onmiddellik of dit die Dion George-sage was en of dit die bek-en-klouseer-uitbraak was wat tot die besluit gelei het. En ook: Het Steenhuisen die besluit vrywillig geneem of is hy spreekwoordelik tot op die afgrond gedruk deurdat sekere finansiële sake baie onaangenaam vir hom in die party gemaak is?
Die nuus van ’n moontlike leierskapstryd in die DA was vir ’n periode ’n sluimerende kwessie in die DA, met stemme in die suide en stemme in KwaZulu-Natal wat met mekaar verskil het oor die toekoms van die DA. Die status quo tot op 2 Februarie 2026 was dat John Steenhuisen in April waarskynlik onbestrede as DA-leier aangewys sal word, omdat die ander waarskynlike kandidaat, Kaapstad se burgemeester Geordin Hill-Lewis, openlik aangedui het dat hy Steenhuisen nie sal opponeer nie. Die aankondiging van Steenhuisen kom op ’n moeilike tyd vir die DA met plaaslikeregeringsverkiesings waarskynlik in November 2026, ’n naderende federale kongres in April waartydens leiers verkies gaan word, en aanduidings dat partye soos die PA stemme van die DA afrokkel in tussenverkiesings in veral bruin kiesafdelings.
Die huidige stand van sake is dat John Steenhuisen die leier van die DA sal bly tot met die federale kongres in April. Hy bly ook aan as minister van landbou in die RNE totdat die DA, onder nuwe leierskap, ’n verandering van toegewyste portefeuljes met die President mag bespreek. Steenhuisen sou egter nie besluit het om te onttrek sonder dat daar binne partygeledere ’n soort ooreenkoms bereik is nie. Kandidate vir die pos van DA-leier kan benoem word vanaf 27 Februarie 2026 en enige ingeskrewe lid van die DA kan vir die posisie as leier in aanmerking kom. Dit is op dié wyse dat Mmusi Maimane so vinnig deur die strukture van die DA beweeg het. Tans lyk moontlike kandidate vir die posisie na onder andere Geordin Hill-Lewis, Ivan Meyer, Ashor Sarupen, Solly Malatsi en Alan Winde, om ’n paar bekendes te noem. Dit is ook belangrik om kennis te neem dat Helen Zille reeds haar kandidatuur as uitvoerende burgemeester van Johannesburg bekendgemaak het en in alle waarskynlikheid nie sal aanbly as voorsitter van die DA se federale raad nie, wat nog ’n baie belangrike posisie in die DA beskikbaar laat.
Steenhuisen se aankondiging het beslis positiewe én negatiewe gevolge vir die DA. Die feit dat hy sy onttrekking in ’n tydperk aankondig waarin die kamertemperatuur oor die bek-en-klou-epidemie baie hoog is, verswak sy beeld en dié van die DA. Dit is egter onbillik om die probleem van bek-en-klou toe te skryf aan Steenhuisen alleen, want hy het in werklikheid ’n verswakkende biosekerheidstelsel van meer as 30 jaar in die Departement Landbou geërf. Selfs as minister was hy gebonde aan sekere reëls en regulasies en moes hy noodwendig met amptenare saamwerk wat deel was van die verswakkende stelsel.
Die positiewe gevolge van Steenhuisen se besluit is dat die DA se seniorleierskapsamestelling baie meer verteenwoordigend en divers gemaak kan word. Dit bring een van die punte waaroor DA-lede in die suide en die noorde met mekaar verskil, skerp in die soeklig. Die DA word reeds erken as die mees diverse party in Suid-Afrika, maar vordering wat partye soos die Patriotiese Alliansie teen die DA in verkiesings maak, verg ’n ernstige strategiese heroriëntasie. Met ’n nuwe leierskapstruktuur is so iets moontlik, veral met meer prominente name soos Ivan Meyer, Ashof Sarupen, Solly Malatsi en Siviwe Gwarube as voorbeelde.
Buiten nuwe leierskap mag die DA ook kyk na hoe ander partye hulle deelname aan die RNE hanteer. In die geval van die VF Plus bly Pieter Groenewald minister van korrektiewe dienste, met Corné Mulder wat partyleier is. Dit gee baie meer politieke maneuvreerruimte aan die partyleier in ’n koalisieregering. Helen Zille sal waarskynlik ook dié rigting volg met die Johannesburgse burgemeesterskap wat ’n handvol is en daarom haar rol as voorsitter van die federale raad sal ontruim.
John Steenhuisen se aankondiging dat hy nie vir ’n volgende termyn as partyleier beskikbaar sal wees nie, het ’n totaal nuwe uitdaging vir die DA geskep en kan die party help om politieke strategieë opnuut te herbedink.


Kommentaar
Ek stem saam. Hy het 'n department ontvang wat jare sukkel om op die been te kom.
Ek dink hy moet terug parlement toe as hoofsweep.