In LitNet Akademies se Weerdink-artikels (en -onderhoude) word ouer LitNet Akademies-navorsing met aktuele sake geskakel.
- Lees Theo Neethling se LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)-artikel, "Konflik in Mosambiek – ’n ondersoek na die aard en dinamika van die teeninsurgensie-operasies in Cabo Delgado", wat in 2022 publiseer is, by hierdie skakel.
Weerdink-artikel: Mosambiek het ’n groot kopseer vir Suid-Afrika en Suider-Afrika geword. In welke mate is die SAOG van hulp?
Mosambiek was in die afgelope weke op ’n mespunt en gedurig in die nuus. Suid-Afrika se noordoostelike buurman is egter reeds sedert 2017 geteister deur ’n (tot dusver) nimmereindigende jihadiese konflik, soortgelyk aan Boko Haram in Nigerië en Al-Shabaab in Somalië. Boonop moes die Mosambiekse regering nou ook die gewelddadige gevolge van ’n betwiste verkiesing hanteer. Dit alles maak dat Mosambiek ’n politieke en veiligheidskopseer vir Suid-Afrika geword het – en dit terwyl daar in die afgelope dae in die parlement gedebatteer is oor ’n lamlendige Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) wat nie meer oor die nodige toerusting en soldate beskik om as ’n effektiewe buitelandse beleidsinstrument vir Suid-Afrika te kan dien nie. Meer nog: Terwyl die Suid-Afrikaanse regering vanjaar in sy buitelandse verhoudinge baie tyd en energie op Israel se konflik met die Palestyne gespandeer het, is die veiligheidsprobleme op ons agterstoep nie naastenby met dieselfde dringendheid, erns en fokus gehanteer nie. Dit is asof Suid-Afrika maar altyd wil wegskram van ’n sterk standpunt oor of kritiek op ander Afrikaregerings wat nie hulle huishoudings in goeie orde het nie.
Kom ons kyk vinnig eers na die binnelandse problematiek in die suidelike dele van Mosambiek. Die presidensiële verkiesing van 9 Oktober het die Frelimo-kandidaat Daniel Chapo, wat aangewys is om die uittredende president Filipe Nyusi op te volg, te staan gebring teen die 50-jarige pastoor en voormalige radio-aanbieder Venâncio Mondlane. Mondlane was in 2023 onsuksesvol om as burgemeester van Maputo verkies te word. Hy het as ’n onafhanklike anti-regeringskandidaat aan die presidensiële verkiesing deelgeneem met die steun van ’n klein party wat deur Frelimo-afvalliges gestig is. Intussen het die land se hoofopposisieparty Renamo, wat tussen 1977 en 1992 ’n burgeroorlog teen Frelimo gevoer het, ook aan die verkiesing deelgeneem, maar in ’n swak en verdeelde toestand.
Kort na die verkiesing is die Frelimo-kandidaat Daniel Chapo as wenner aangewys. Suid-Afrika was vinnig om hom geluk te wens. Mondlane het homself egter as die oorwinnaar verklaar op grond van ’n soort parallelle telling van die stemme wat deur sy ondersteuners uitgevoer is en ingevolge daarvan is aangevoer dat hy ’n meerderheid stemme gekry het ten spyte van gebrekkige bewyse om sy aanspraak te staaf. Mondlane is deur die prokureur-generaal gewaarsku om hom te weerhou van optrede wat onrus kan aanhits. Hierdie waarskuwing is egter 16 Oktober verontagsaam toe sy ondersteuners op sosiale media, waar Mondlane skynbaar honderde duisende volgelinge het, opgeroep is om betogings en algemene stakings van stapel te stuur teen die hantering van die verkiesing. Geloofwaardige bewerings van onreëlmatighede en bedrog deur burgerlike organisasies en plaaslike en buitelandse waarnemers het hom ook goed gepas in sy oproep om protes aan te teken teen die uitslag.
Vir Suid-Afrika was die politieke onstabiliteit in Mosambiek uit ’n ekonomiese oogpunt uiters negatief. Die logistiek en die voorsieningskettings soos dit loop tussen Mpumalanga en Maputo het onder geweldige druk gekom met die sluiting van die Lebombo-grenspos. Teen hierdie agtergrond het die Suid-Afrikaanse besigheidsektor kommer uitgespreek oor die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se stadige reaksie op die onstabiliteit. ’n Beroep is van hulle kant op SAOG-lidlande gedoen om onmiddellik as bemiddelaar op te tree, om wet en orde te herstel en handelsverkeer te stabiliseer, omdat dit van kritieke belang is vir streekekonomiese aktiwiteite in Suider-Afrika.
..........
"Waar Suid-Afrika reeds met ’n enorme politieke uitdaging sit met die verskynsel van onwettige myners (zama zamas), waarvan die meerderheid klaarblyklik uit sy verarmde buurlande, spesifiek Lesotho, Zimbabwe en Mosambiek afkomstig is, is hierdie baie slegte nuus. In geheel gesien sit Suid-Afrika toenemend met Mosambiek as ’n buurland wat oor die afgelope jare ’n buitelandse politieke en veiligheidsrisiko inhou en die eerste staat in Suider-Afrika geword het waar ’n radikale Moslem-insurgensie ’n greep op ’n deel van die land gekry het. Dit is veral ook slegte nuus as gelet word op die kommerwekkende toestand waarin die SANW verkeer, soos dit op 19 November in die parlement aangehoor is."
..........
Uit die oogpunt van die Suid-Afrikaanse besigheidsektor is daar tereg geargumenteer dat die beëindiging van die onrus in Maputo en omstreke van kritiese belang is vir die veiligheid van burgers aan beide kante van die grens. Daarby was die vernietiging van infrastruktuur tydens die protes uiters negatief vir die doeltreffende vloei van streek- en internasionale vragverkeer na, deur en vanaf die hawe van Maputo. Vandaar die beroepe deur georganiseerde sakelui op die SAOG om alles moontlik te doen om die situasie in Mosambiek te stabiliseer. As streekorganisasie is die SAOG immers verantwoordelik vir handel, ontwikkeling en beleggings in die streek, terwyl die organisasie ook die politieke verantwoordelikheid dra om die eskalerende na-verkiesingsgeweld in Mosambiek met die nodige politieke wil te hanteer en die vure van onrus rondom die verkiesingsuitslag te help blus.
Die Suid-Afrikaanse besigheidsektor het dit ook duidelik gemaak dat die gewelddadige optrede en onstabiliteit in Mosambiek nie slegs lewensverlies tot gevolg gehad het nie, maar dat die sluiting van die grens tussen Suid-Afrika en Mosambiek verskeie lande in die SAOG-streek negatief geraak het. Veral Suid-Afrika en Zimbabwe is daardeur geraak, aangesien ’n staking in die vloei van handelsverkeer die voorsieningskettings belemmer het. Die belangrike punt is dat Maputo in die afgelope 15 tot 20 jaar ’n belangrike hawe vir streek- en internasionale handel geword het en gegroei het tot ’n suksesvolle openbare, private konsessie wat groei en beleggings in die streek bevorder en ekonomies baie beteken vir Mosambiek as een van die wêreld se armste ekonomieë.
Ofskoon sake stadig begin herstel, bestaan daar geen twyfel dat dit tyd sal neem vir verkeer na en van die hawe van Maputo om terug te keer na vorige volumes nie. Daarom is dit belangrik dat infrastruktuur wat beskadig is, herstel sal word. Handel en vragvloei deur hawens, korridors en vervoernetwerke – beide pad en spoor – na en van Mosambiek sal baie spoedig herstel moet word. Sakelui wys egter tereg daarop dat besigheid met moeite vorentoe sal beweeg in ’n konteks van onsekerheid ná die onstuimige, ontwrigtende tydperk van die afgelope weke. Vir Suider-Afrika om as ’n verenigde, streeksgeïntegreerde handelsblok te kan floreer, is toegang tot die hawe van Maputo uiters belangrik. Dit is dus noodsaaklik om die Maputo-hawe te laat herleef as ’n betroubare, mededingende fasiliteit as deel van die streek- en globale voorsieningskettings. Voorts sal die SAOG – en veral Suid-Afrika vir wie daar ekonomies baie op die spel is – moet toesien dat die ontwrigting van logistieke aktiwiteite nie verder toegelaat word nie, aangesien dit ’n primêre en kritieke drywer van ekonomiese groei en finansiële inkomste in die streek is. Of die SAOG egter ’n betekenisvolle rol gaan speel om stabiliteit in Mosambiek te herstel, sal nog gesien moet word. Die streekorganisasie was nog altyd louwarm as dit kom by die ontlonting van verkiesingskonflik en daar kan tereg ernstige vrae gevra word oor die SAOG se politieke vermoë om belangrike politieke besluite te neem en uit te voer.
Die ander aspek van belang in Mosambiek waarvan die SAOG-lidlande nie kan bekostig om hulle oog te verloor nie, is die konflik in die noorde, spesifiek die mees noordelike Cabo Delgado-provinsie. Nadat die SAOG op 15 Julie 2021 ’n militêre mag van Suider-Afrikaanse state na Cabo Delgado gestuur het in ’n poging om die bloeddorstige Islamitiese ekstremiste, bekend as Ansar al-Sunna (of Ahlu Sunna Waljama), in Cabo Delgado te beveg, is daar in SAOG-verband vroeër vanjaar besluit om die mag in Junie 2024 tot ’n einde te bring. Met hierdie stap is die volle verantwoordelikheid vir vrede en veiligheid op die skouers van die Mosambiekse regering en veiligheidsmagte (weermag en polisie) geplaas.
Hier moet ons net weer ’n tree teruggee om sake in perspektief te plaas. Die jihadies-gemotiveerde konflik in Mosambiek se Cabo Delgado-provinsie strek terug na 2017, maar het veral sedert 2019 verdiep en die Mosambiekse regering onder baie politieke druk geplaas. Vanaf 2019 het die Mosambiekse regering ook onder internasionale druk gekom om militêre ingryping van die SAOG in Cabo Delgado toe te laat ten einde te verhoed dat die geweld verder in die streek versprei. Daar het veral kommer bestaan dat die Islamitiese Staat (ISIS), waaraan die ekstremiste minstens ideologies verbonde is, ’n vastrapplek sou kry om hul operasies uit te brei. Daarby is ongeveer 850 000 Mosambiekse burgerlikes gedwing om hul huise te verlaat ná gewelddadige terreuraanvalle deur die Islamitiese ekstremiste.
Die bloedvergieting deur die Islamitiese ekstremiste het daartoe gelei dat die uiters belowende beleggingsprojekte in die ontginning van aardgas ter waarde van $60 miljard in die noordelike dele van Mosambiek deur multinasionale energiereuse, soos TotalEnergies, ENI en ExxonMobil, op die ys geplaas is. Daar is gehoop dat hierdie ontwikkeling plaaslike, nasionale en streekekonomiese groei sou stimuleer en Mosambiek sou wegstuur van sy posisie as een van die wêreld se armste state met van die hoogste skuldvlakke in die wêreld. Die ekonomiese potensiaal wat die ontginning van aardgas vir Mosambiek inhou, is inderwaarheid van onskatbare monetêre waarde.
Nadat die SAOG ’n ooreenkoms met die aanvanklik onwillige Mosambiekse regering bereik het, het die SAOG ’n multinasionale mag van meer as 2 200 soldate in die Cabo Delgado-omgewing ontplooi. Die mag is oorheers deur ’n SANW-kontingent van net minder as 1 500 soldate. Ander lande wat soldate bygedra het tot die mag, was Botswana, Tanzanië, Lesotho, Namibië en Angola. Die doel daarvan was basies drieledig:
- die militêre neutralisering van die ekstremiste;
- ondersteuning van die Mosambiekse veiligheidsmagte met beplanning en operasies; en
- opleiding en advies aan die Mosambiekse veiligheidsmagte om verantwoordelikheid te neem vir die onstabiliteit in Cabo Delgado.
Die SAOG-mag het wel vordering gemaak om die ekstremiste se bloedvergieting te beperk, terwyl die SAOG-lidlande ook beplan het om die militêre operasies aan te vul met humanitêre hulp en selfs ontwikkelingsprojekte. ’n Verslag wat in Julie 2023 voor die SAOG-leierskap gedien het, het aangevoer dat die mag daarin geslaag het om die insurgente se militêre vermoëns te verswak en dat waardevolle ondersteuning verleen is aan die Mosambiekse veiligheidsmagte. Voorts kon ongeveer 570 000 ontwortelde mense teen Augustus 2023 terugkeer na hulle huise onder omstandighede van verbeterde veiligheid.
Die bloedvergieting in die noorde van Mosambiek is egter allesbehalwe iets van die verlede en sedert die tweede helfte van 2023 het aanvalle op burgerlikes inderwaarheid toegeneem, wat weer opnuut tot ’n toename van ontwortelde mense gelei het. Wat die SAOG-mag betref, het die multinasionale mag gesukkel om hulle mandaat ten opsigte van die opleiding van die Mosambiekse veiligheidsmagte na te kom en daarbenewens was die SAOG se ontwikkelings- en humanitêre pogings hoogs beperk. Dit het ook geblyk dat die mag gebuk gegaan het onder veral vier knelpunte:
- Die mag was beduidend kleiner as die SAOG se mikpunt van 2 900 soldate en het ’n somtotaal van net meer as 2 200 bereik;
- koördinering met die Rwandese weermag (wat nie deel van die SAOG-mag was nie) en die Mosambiekse veiligheidsmagte was problematies;
- Daar was voorts onvoldoende intelligensie-insameling oor die insurgente, terwyl lekkasies van operasionele inligting na die ekstremiste ook voorgekom het; en
- ’n gebrek aan lugsteun het operasies op die grond bemoeilik en hier het die agteruitgang van die Suid-Afrikaanse Lugmag beslis ’n rol gespeel.
Soos beplan, het die SAOG-mag – met insluiting van die SANW as die grootste komponent – teen middel-2024 aan Mosambiek onttrek en daar is tans sterk aanduidings dat die insurgensie en bloedvergieting in Cabo Delgado sedertdien toegeneem het. Die onttrekking van die SAOG-mag het uiteraard meegebring dat die veiligheidsituasie verswak het, met die vooruitsig dat die ekstremiste hulle vastrapplek na alle waarskynlikheid gaan verstewig, spesifiek omdat die onderliggende sosio-ekonomiese probleme ’n onopgeloste knelpunt bly. Hier moet dit duidelik gemaak word dat die noorde van Mosambiek sosio-ekonomies ’n agterstand toon in vergelyking met die meer welvarende suide en die dele rondom Maputo in die verre suide. Trouens, navorsing oor die afgelope jare het telkens verwys na die noordelike dele as vergete en die armste dele van die land. Dit het politieke lugleegtes gelaat wat gevul is deur Moslem-ekstremiste wat die ideaal van ’n kalifaat of Moslem-staat as alternatief gepropageer het – soortgelyk aan Boko Haram wat sterk ingegrawe is in die noordoostelike dele van Nigerië. Die insurgente het so sterk geword dat die Mosambiekse veiligheidsmagte – wat na baie jare van onderbefondsing verswak daar uitsien – sedert 2017 geen kans gestaan het om die insurgensie te onderdruk nie. Soos sake tans staan, is dit hoogs twyfelagtig of die Mosambiekse veiligheidsmagte in staat gaan wees om volle verantwoordelikheid vir veiligheid in Cabo Delgado te aanvaar en stabiliteit te kan herstel.
Hierdie toedrag van sake bring nie slegs mee dat Cabo Delgado na alle waarskynlikheid steeds ’n hoogs onstabiele provinsie met ’n onseker toekoms gaan bly nie, maar ook dat die Moslem-ekstremiste ’n permanente verskynsel gaan wees wat ’n politieke lugleegte vul vanweë die feit dat die Mosambiekse regering in die suide nie oor die vermoë beskik om sy gesag oor die lengte en breedte van die land uit te oefen nie. Dit sal met ander woorde ’n soortgelyke verskynsel of situasie wees as Boko Haram in Nigerië en Al-Shabaab in Somalië. ’n De facto kalifaat in Cabo Delgado is dus na alle waarskynlikheid ’n realistiese toekomsvooruitsig vir Mosambiek se mees noordelike provinsie. En wat meer is, is dat die ryk gasvelde aan die kus van Mosambiek wat die land potensieel uit sy skuld en armoede kan verlos, waarskynlik grootliks onontgin sal bly omdat energiereuse soos TotalEnergies, ENI en Exxon nie kans gaan sien vir die hoë veiligheidsrisiko’s nie.
Waar Suid-Afrika reeds met ’n enorme politieke uitdaging sit met die verskynsel van onwettige myners (zama zamas), waarvan die meerderheid klaarblyklik uit sy verarmde buurlande, spesifiek Lesotho, Zimbabwe en Mosambiek afkomstig is, is hierdie baie slegte nuus. In geheel gesien sit Suid-Afrika toenemend met Mosambiek as ’n buurland wat oor die afgelope jare ’n buitelandse politieke en veiligheidsrisiko inhou en die eerste staat in Suider-Afrika geword het waar ’n radikale Moslem-insurgensie ’n greep op ’n deel van die land gekry het. Dit is veral ook slegte nuus as gelet word op die kommerwekkende toestand waarin die SANW verkeer, soos dit op 19 November in die parlement aangehoor is. Die DA-LP Nicholas Gotsell het die SANW as ’n “hulpelose mag” beskryf. Dit is ook nou duidelik dat Suid-Afrika in ’n swak posisie verkeer om sy grense te patrolleer of militêre hulp aan te bied waar veiligheidsbedreigings in SAOG-verband multinasionale, militêre samewerking vereis. Die dae waar die SANW Suid-Afrika se buitelandse rol as ’n streeksleier kon ondersteun of bevestig – soos in die dae van oud-pres Thabo Mbeki – is daarmee dan ook nou iets van die verlede.

