
Titel: Waterman (Gedigte)
Digter: Herman Wasserman
Uitgewer: Queillerie, 2025
ISBN: 9 780795 80304 8
Herman Wasserman is ’n professor in joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch en die skrywer en redakteur van talle vakkundige publikasies. Hy het ook twee kortverhaalbundels op sy kerfstok, naamlik Verdwaal (1997) en Aan die ander kant van die stad (2003).
Die bundel se omslag deur John Murray toon ’n aantal prente wat uitgeknip en op ’n skilderdoek geplak is. Die dominante kleure is blou en groen, wat herinner aan beelde uit ’n droom, en in die effe naïewe aanbod aansluit by die herinneringspoësie uit die spreker se jeug. Die doelbewuste en sigbare knip-en-plak van die grafika suggereer ook iets van Wasserman se agtergrond en betrokkenheid by die mediamilieu waarbinne hy werk, en herinnering ook aan die palimpsesagtige aard van poësie, naamlik dat dit net ’n “oorskryf” van vorige teks is. Voorts vestig dié kunsaktiwiteite die aandag op poësie wat in die oorspronklike Grieks beteken “om te maak” (poiein). Die spreker se bemoeienis met digkuns as ars poëtikale aktiwiteit word dus reeds met die omslag geaktiveer.
Die titel op sigself is interessant: Waterman is Wasserman in Duits, maar kan ook dui op “waterdraer”, of as oorspronklike beroepsnaam vir iemand wat met water gewerk het, byvoorbeeld ’n veerman of putgrawer. Wasserman verwys dan ook in die bundel na sy oupa wat ’n waterwyser was (“Waterwyser”, 62), en elders kom ‘n veerman (“Simfoniekonsert”, 41) aan bod.
Binne groter kosmologiese verband kan “waterman” ook simbolies geassosieer word met die uitstorting van kennis, wysheid, inspirasie of poësie: die Waterdraer (Aquarius) word geëien aan die ikoniese beeld van ’n man of eteriese figuur wat water uit ’n kruik of vaas uitgooi. Laasgenoemde idees, vernuwing en kollektiewe bewussyn het ten doel om die samelewing te voed of te vernuwe; of kan gesien word as “lewenswater” of kosmiese energie wat hoop, genesing en ‘n hergeboorte teweegbring.
Die titel is nie net ’n slim woordspeling nie, maar ’n programverklaring: Hier is iemand wat homself toelaat om te vloei en te verander, eerder as om vas te klou aan die stagnasie van ou en uitgediende idees.
.......
Die titel is nie net ’n slim woordspeling nie, maar ’n programverklaring: Hier is iemand wat homself toelaat om te vloei en te verander, eerder as om vas te klou aan die stagnasie van ou en uitgediende idees.
.........
Herman Wasserman, bekend as die skerp, nadenkende stem agter joernalistieke navorsing en mediakritiek, betree nou met Waterman die poësiemilieu.
Die bundel se sentrale metafoor is water, en dit vloei oral: as see, riviere, reën, ’n ysberg, Styx, ’n visdam, vrugwater en trane, en as beeld van die onstuitbare gang van tyd en geheue.
Die gedigte wissel tussen ’n intiem persoonlike register en breër maatskaplike kritiek.
Die bundel volg ’n liniêre, amper narratiewe lyn (die spreker se jeug, oorsese ervarings, vaderskap en die huidige Suid-Afrika), en is ryk aan motiewe soos vloei, verandering, kwesbaarheid, manlikheid en vaderskap, en die kontras tussen persoonlike geluk en maatskaplike/politieke verval. Waar sommige kritici wys op die wit skuldgevoel in die bundel, is die ondertoon ook ’n humanistiese een: Die spreker het geweldige empatie met die lyding van die werkloses, haweloses en gebrokenes in die samelewing.
Bewende man
ek sien hom as ek opkyk van my bord
skrams links van my eenstoeltafel
sy regterarm hang pap en nutteloos
die ander een skud en ritteltit
dalk het ’n beroerte hom ingehaal
van agter soos ’n skrumskakel
of ’n motorongeluk, ’n fratsvoetglip op ’n krans
iets, een oggend, wat hy nie bestel het nie (76; strofes 1 en 2)
Media-invloede is inderdaad teenwoordig in die bundel (COVID-19, die grendeltyd en ander nuus en aktualiteite). Wasserman dig voorts selfrefleksief oor die taal se ontoereikendheid om uitdrukking aan poësie te gee, en lewer ’n hegte eenheidsbundel waarin belewenisse “vertaal” word in watermetafore. Op stilistiese vlak beïndruk die digter met die gebruik van korter, naas langer, golwende reëls om die saamtrek van getye te simuleer.
In die breër poësietradisie is water immers een van die oudste en mees universele simbole: van die Bybelse Sondvloed tot die Griekse mitologie se oseane, van Pablo Neruda se see tot Ingrid Jonker se selfdoodbranders.
Neruda het water (en veral die see) as een van die sentrale, mees dinamiese simbole in sy poësie gebruik, naamlik dat water nie net ’n natuurelement is nie, maar ’n lewende, orakelagtige, sensuele en soms vernietigende krag wat die mens se verhouding met tyd, liefde en die onbekende weerspieël.
In Jonker se poësie word water oorwegend as ’n graf voorgestel, terwyl Louis Esterhuizen (met Wat die water onthou) en Marlise Joubert (Grondwater) die ryk simboliese lading van water, geassosieer met poësie, verder belig.
Waterman se rubrisering geskied in vyf dele, te wete: “I Vertrekke”; “II Aanlandings”; “III Kajuit”; “IV Kus” en “V Horison”. (In die inhoudsopgawe is daar ongelukkig ’n fout – die laaste twee afdelings word beide as “IV” aangebied.)
Deel I bevat onder meer poësie oor jeugherinneringe (“Toe jy nog matroos was”, 14).
Deel II, “Aanlandings” (in stede van “aankomste”) verwys pertinent daarna dat daar aan land gegaan word, en die verse betrek die grendeltyd (“Grendelhospitaal”, 33), asook verse oor musiek en die Afrikanermentaliteit.
In die onderstaande selfironiserende en bittersoet gedig beskryf die digter die wit skuld van wit mans. Let op die heerlike idiomatiese spel en die dubbelduidigheid van die woord “opdrifsels” (vir die Europese setlaars).
Opdrifsels
vir Willem B
ons sit op die seilboot
in Simonstad en proe
aan die woorde wat ons
uit hierdie hawe sal vat:
waggel van bak- na stuurboord
buk onder die takelwerk
maak die kombuis skoon
werk ons oor ’n boeg
skeep niks af nie sodat
ons die seile na die wind kan span
die mas kan opkom die loef kan afsteek
hier het ons aangeland:
weerlose wit opdrifsels
gepantser met SPF30
in die woedende sonlig
ek neem nie diegene kwalik
wat gatvol van eeue se ja-baas nee-baas
ons soort wil terugjaag die see in
ons noordwaarts wil sien verkas
want hoeveel ek ook protesteer
kan ek nie ontken dat daar
onder my tong ’n hele see klots
dat daar nog seewind waai deur my strot
maar soos ons weggly van die kaai
weet ek – ’n riem onder my hart –
ons het ook saamgevat uit die kombuis:
bredie en bobotie en piesangs vir die reis (31)
Bobotie as gereg dateer terug na die 17de-eeuse Kaap de Goede Hoop. Dit het ontwikkel uit invloede van die Kaapse Maleise gemeenskap – mense wat hoofsaaklik uit Indonesië (soos Java), Maleisië en ander dele van Suidoos-Asië as slawe en politieke ballinge deur die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie (VOC) na die Kaap gebring is. Die “kombuis” verwys spelenderwys na die VOC se verversingspos.
Deel III handel oor vaderskap – “Kajuit” as afdelingstitel suggereer iets van ’n kaptein, stuurman, of metafories die vader.
Deel IV betrek erotiek (“Doldrums”, 71), en maatskaplike ellende (“Alles val uitmekaar”, 74). ’n Kus(lyn) is ook ’n uitgebreide metafoor vir oorgang en liminaliteit: ’n grens tussen land (die bekende, bewuste) en die see (die onbekende, onderbewuste). As ’n ruimte van onderhandeling tussen land en see word dié gedigte met identiteit en selfondersoek verbind.
In deel V, na die voorafgaande katarsisse, breek die hoop weer deur in “Horison”, byvoorbeeld “Die berg na die brand”, 87. Nuwe hoop, die toekoms en transformasie word in die laaste afdeling geaktiveer.
Dit is veral die sangerige en metriese kwaliteit van deel V wat opval, en vir my kom die aangrypendste gedigte hier voor, wat die bundel op ’n hoogtepunt afsluit.
Die berg na die brand
want dit weet ek van die silwerboom
wat, na die golf van vlamme,
op ’n dag groen vingers uitsteek
en versigtig voel-voel hoe stoot
die suidoos weer op teen die hang
dit weet ek van die agtdaegeneesbos
wat dwarsdeur die doodstil winter
verbete vasklou aan die grys grond
en dan een oggend uitbars
in ’n skelpers kreet
en van die stroom wat na die storm
van doer bo in die geheime krans
weer vars die afgrond inkletter
holderstebolder op soek na
die hart van die see
van die kappertjies wat goudgeel rank
bo-oor die beendere van die dooie hond
van die duiwe op die krans
wat elke oggend die son uitlok
uit die diepste krake van die nag
dit weet ek van berg, van boom
van wilde voëls en waterstroom:
winter kry nooit die laaste woord
geen vuur maak vir altyd dood (87)
In die erkennings agterin die bundel wys die digter op die intertekstuele spel wat hy aanknoop met DJ Opperman, Willem Kloos, Gerrit Komrij en Breyten Breytenbach, om enkeles te noem.
In Herman Wasserman se debuutbundel, Waterman, funksioneer water as ’n veelvlakkige simbool wat die digter se persoonlike en kollektiewe ervarings verenig. Die W/waterdraer-motief – daardie antieke Aquarius-beeld van vloei en uitstorting – word nie bloot dekoratief aangewend nie, maar word ook ’n metafoor vir die konstante beweging van herinnering, skuld en verlossing. In die gedigte oor die spreker se jeug vloei water wat die spore uitwis, dog alles saamneem; in die vaderskapgedigte word die water ’n bron van sorg en oordrag, ’n lewensvloeistof wat van geslag tot geslag aangegee word. Tog is dit veral in die gedigte wat wit skuld by wit mans in Suid-Afrika betrek waar die simbool op vernuwende wyse ingespan word: water as moontlike reiniging wat nooit volledig slaag nie, maar eerder aangebied word as ’n see waarin geskiedenis en bloed saamspoel. Wasserman se seegedigte getuig insgelyks van ’n onstuimige, onversoenbare element – tegelyk tuiste en bedreiging; wieg én graf.
Uiteindelik verteenwoordig die water emosionele dieptes, transformasie en verskillende fasette van die onderbewuste. Wasserman slaag daarin om hierdie argetipe ook te veranker in die Suid-Afrikaanse kuslyn, asook die innerlike landskap van ’n generasie wat nog sukkel om hul eie vloeibaarheid te aanvaar.
Waterman is ’n prikkelende debuut wat bewys dat joernalistieke helderheid en poëtiese diepgang mekaar nie uitsluit nie, maar inderdaad aanvul.
Lees ook:

