
Erkenning: Janosch Lino op Unsplash
“We must choose either champagne for a few or safe drinking water for all.” – Thomas Sankara
Die afgelope paar dae was Hammanskraal in die nuus oor hul watersituasie, en die cholera-uitbraak wat dit tot gevolg het. Maar wat van Yeoville wat ook reeds geruime tyd sonder lopende water is? Wat van Warrenton in die Noord-Kaap? Wat van soveel ander plekke wat geraak word deur swak watervoorsiening, vererger deur beurtkrag wat pompstelsels onder druk plaas?
Cholera word in die Vrystaat, Gauteng, Noordwes en die Oos-Kaap gediagnoseer. Een van die eerste berigte oor die cholera-uitbraak in Hammanskraal wat ek gelees het, maak die xenofobiese stelling dat die siekte op een of ander manier oor die landsgrense die land binnegekom het. Maar cholera is endemies aan Suid-Afrika. Buitelanders hoef dit nie in te bring nie; dis reeds hier teenwoordig. Om buitelanders die skuld te gee is politieke oëverblindery en ’n siniese poging om gemoedere te laat opvlam en aandag af te lei van die werklike probleem.
Cholera is endemies in ons land, maar daar is nie elke dag uitbrekings nie. Hoekom nie? As daar voldoende sanitasie is, skoon lopende water, effektiewe suiwering van riool, persoonlike higiëne en veilige voedselhantering, dan kan die verspreiding van vibrio cholerae O1 beperk word. Daar kan maar hóéveel Groendruppel- en Bloudruppelverslae uitgebring word; die eenvoudige realiteit is dat cholera nie kan versprei as water behoorlik gesuiwer word nie.
Wat beteken dit in leketaal? Selfs al was mens jou hande vir twintig sekondes, selfs al was jy jou kos en groente af voor jy dit gebruik, selfs al gebruik jy kookwater om jou skottelgoed mee skoon te maak, baat dit niks as die water uit jou kraan nie behoorlik gesuiwer is nie. Al die higiëniese wenke in die wêreld is nutteloos as jou waterbron besmet is. Dan kan jy maar jou eie groente kweek – dit sal besmet wees, want die water waarmee jy jou tuin natmaak, is nie gesuiwer nie.
Jy kan jou kind se bababottel hóéveel keer in die mikrogolf sit om te ontsmet; die water waarmee jy sy formule aanmaak, is nie suiwer nie. Dis water wat deur die plaaslike munisipaliteit en oorhoofs deur die nasionale Departement van Water en Sanitasie voorsien word.
..........
Jy kan jou kind se bababottel hóéveel keer in die mikrogolf sit om te ontsmet; die water waarmee jy sy formule aanmaak, is nie suiwer nie. Dis water wat deur die plaaslike munisipaliteit en oorhoofs deur die nasionale Departement van Water en Sanitasie voorsien word.
..............
Skoon water is ’n basiese mensereg. Gesonde, suiwer drinkwater is ’n mensereg. Wanneer die regering op plaaslike, provinsiale en nasionale vlak versuim om dit te voorsien, word dit ’n politieke kwessie. Dit beteken onder meer dat mense nie behoort te betaal vir drinkwater nie. Wanneer mense blootgestel word aan waterbronne wat nie behoorlik gesuiwer is nie, is dit ’n menseregtekwessie. Dis nie toevallig dat uitbrekings van siektes wat teruggespeur kan word na onsuiwer waterbronne, meesal in armer gebiede of in informele nedersettings hul oorsprong het nie. Arm mense – en in Suid-Afrika beteken dit noodwendig swart en bruin mense – se behoeftes word net nie op dieselfde wyse eerbiedig as meer welaf mense s’n nie.
Korrupsie vererger die situasie. In Hammanskraal en elders word gebruik gemaak van watertrokke om water aan geaffekteerde gemeenskappe te voorsien, maar voorkeur word aan sommige gemeenskappe en persone gegee. Ander, die mense sonder politieke kapitaal of konneksies op die regte plekke, moet vir hul “gratis” water betaal of daarsonder klaarkom.
Omgewingskonsultant en waterkenner Carin Bosman van Carin Bosman Sustainable Solutions bk (CBSS) het reeds so lank terug as 2002 ’n gids geskryf vir die Departement van Water en Sanitasie presies oor hoe om ’n cholera-uitbreking te hanteer. Sy skryf op Twitter, onder die Twitternaam @watershare, sy weet nie eens of hulle nog weet hulle het so ’n handleiding ná die Zumafikasie van die departement nie. Bosman doen aan die hand dat dit moontlik is om modulêre watersuiweringsaanlegte binne ’n week geïnstalleer te kry wat op kort termyn alle watersuiweringsprobleme enige plek in die land kan oplos. In Hammanskraal spesifiek stel sy voor dat rehidrasiesentrums dadelik tot stand gebring moet word, dat voldoende skoon water voorsiening en sanitasie by skole, hospitale en klinieke as ’n minimum verseker moet word.
Hoekom word dit nie gedoen nie? Hoekom word mense nog steeds blootgestel aan water uit onseker bronne wat deur watertenks voorsien word? Hierdie situasie duur al jare voort. Babas sterf omdat daar nie voldoende skoon water beskikbaar is nie.
...........
Die kort antwoord is, soos altyd, dat daar nie politieke wil is om oplossings te vind nie. Dis veel meer gerieflik vir die politieke partye om mekaar oor en weer te beskuldig as om die probleem op te los.
.............
Die kort antwoord is, soos altyd, dat daar nie politieke wil is om oplossings te vind nie. Dis veel meer gerieflik vir die politieke partye om mekaar oor en weer te beskuldig as om die probleem op te los.
Elke keer trek die publiek aan die kortste ent. Dit maak nie saak hoeveel briewe die President skryf om ons gerus te stel oor die watersituasie in Hammanskraal en die res van die land nie; die feit bly staan dat elke sterfte in Hammanskraal voorkom kon gewees het. As een kenner alreeds sedert 2002 geïgnoreer word, hoeveel ander het nie sedertdien luidkeels geprotesteer en is net stilgemaak of geïgnoreer nie? Hoeveel voorkombare sterftes was daar nie?
Die onvermydelike gevolgtrekking is dat ons regering nie omgee nie. Solank as wat hulle kan wegkom daarmee om substandaarddienste te verskaf, sal hulle dit doen. Dan word daar te koop geloop daarmee dat privaatmaatskappye ingespring het om die regering se werk vir hulle te doen deur skoon drinkwater te verskaf.
Dis nie iets om op trots te wees nie. Dis ’n skreiende skande dat iets so eenvoudig en basies soos om skoon water te voorsien, bo die regering se vuurmaakplek is.
Ek het hierdie artikel begin met ’n aanhaling, en dit word al meer duidelik dat die keuse gemaak is om eerder vonkelwyn vir ’n paar te kies.
Sies.
Lees ook:

