Wat sê Bettina? Hoe beïnvloed Steenhuisen se persoonlike finansies die DA?

  • 2

Foto: Michal Jarmoluk, Pixabay

  • Bettina Wyngaard skryf ’n gereelde rubriek op LitNet.
...
In Mei 2025 is daar teen Steenhuisen in sy persoonlike hoedanigheid verstekvonnis gekry in die Kaapstadse Landdroshof vir onbetaalde kredietkaartskuld van byna R150 000,00
...

Die eerste vrae is gevra nadat Dion George van sy pos onthef is kort voor die Klimaatsberaad in alle erns sou begin. Hoekom het Steenhuisen gevra dat hy op daardie stadium die trekpas gegee word, en meer belangrik, hoekom sou president Ramaphosa instem? Dit het Suid-Afrika effektiewelik sonder behoorlike politieke verteenwoordiging by die beraad gelaat.

Die land se beroepsamptenare was natuurlik vinnig om die versekering te gee dat hulle mandaat onveranderd is, en dat hulle oor ervare onderhandelaars beskik wat steeds, sonder ministeriële oorsig, in staat sal wees om ons belange te bevorder. Dit word geensins betwyfel nie, maar daar was steeds vraagtekens oor die tydsberekening vir George se verwydering.

Toe berig die Daily Maverick se Rebecca Davis hierdie week dat Steenhuisen se DA-kredietkaart van hom weggeneem is deur die federale finansiële voorsitter, Dion George. Wat dalk voorheen net na ’n onlogiese politieke besluit gelyk het, begin nou ’n persoonlike geurtjie aanneem. Het Steenhuisen George uit sy pos onthef as kleinlike terugbetaling oor die kredietkaart?

Dit sou tog nog steeds nie sin maak nie, maar Davis maak toe ’n selfs groter ontdekking. In Mei 2025 is daar teen Steenhuisen in sy persoonlike hoedanigheid verstekvonnis gekry in die Kaapstadse Landdroshof vir onbetaalde kredietkaartskuld van byna R150 000,00. Steenhuisen ontken nie die vonnis nie, maar reken dat dit geen effek op sy werk as minister of politieke leier het nie.

Baie Suid-Afrikaners het vonnisse teen hulle vir een of ander vorm van skuld wat hulle nie kan betaal nie. Dit op sigself kan nie teen Steenhuisen gehou word nie. Hoe gebeur dit egter dat ’n senior politikus wat ’n jaarlikse salaris van R2,69 miljoen as minister verdien, nie in staat is om ’n relatief klein bedrag af te betaal of selfs eenmalig te delg nie? Kan dit wees dat sy finansiële probleme so groot is dat hy nie uit hierdie klein skuld kan loskom nie? Boonop, is die vraag voorop in my gedagtes, hoe kon hy dinge so ver laat gaan dat hy nie die vonnis probeer stop het nie? Hy kon reëlings tref om af te betaal; hy kon sekerlik onderhandel vir ’n vermindering van die verskuldigde bedrag. Enige skuldeiser sal eerder minder geld aanvaar as om ’n vonnis wat hy dalk nie kan uitvoer nie, te bekom.

...
Daar is geen bewyse dat Steenhuisen korrupsie gepleeg het nie, maar die bestuur van sy persoonlike finansies laat vraagtekens ontstaan oor sy bestuur van die party.
...

Ons bly boonop in ’n land waar politici finansieel blootgestel word aan korrupte invloede wat gretig is om ’n helpende hand uit te reik, net om later een of ander vorm van terugbetaling te eis. Ons het dit op die hoogste vlak gesien met Zuma en die Guptas.

Daar is geen bewyse dat Steenhuisen korrupsie gepleeg het nie, maar die bestuur van sy persoonlike finansies laat vraagtekens ontstaan oor sy bestuur van die party. Sonder twyfel plaas hy hom ook in ’n posisie waar hy blootgestel word aan die versoeking om uit sy skuld te kom deur net een of twee besluite te maak wat iemand iewers bevoordeel.

En kan ons regtig die bestuur van die land toevertrou aan ’n persoon wat nie sy eie finansies kan bestuur nie? Ons het harde lesse geleer met Zuma.

Dit laat natuurlik nou die vraag ontstaan oor hoe die DA die situasie gaan hanteer. Na wat berig word, is Steenhuisen se finansiële probleme ’n ope geheim binne die party. Tot nou toe het dit nie sy politieke opgang gestuit nie. Maar noudat dit aan die groot klok gehang word, kan die DA steeds bekostig om hul oë te sluit? Dit kan hulle by die stembus duur te staan kom, veral gegewe die ander probleme waarmee hulle alreeds te kampe het.

Dis verstommend dat daar nog geen amptelike reaksie van die DA se kant was sedert die nuus gebreek het nie. Ek kan nie anders nie as om te dink dat Mmusi Maimane lankal die trekpas sou gekry het, indien soortgelyke onthullings oor hom die lig gesien het.

Ongeag van hoe die DA hierdie situasie hanteer, hulle het alreeds ’n knou aan die reputasie weg wat slegs met baie moeite en harde werk herstel kan word. Of hulle die politieke wil het om dit te doen, is ’n ope vraag, maar niksdoen sal, om Julius Malema se uitdrukking te gebruik, “scoring an own goal” wees.

In ieder geval, ek vermoed dat R150 000,00 die DA as politieke speler in ons land kan kelder.

Lees ook:

Wat sê Bettina? Is korrupsie-ontbloting doodsake?

Wat sê Bettina? Myburgh, Malaka en die Dior-sak met R60 000 kontant

  • 2

Kommentaar

  • Ek twyfel baie sterk of hierdie nuwe onthullinge oor Steenhuisen enige effek sal hê op kiesers. Suid-Afrika se verkiesings is maar net een groot rassesensus. Die plaaslike verkiesings wat volgende voorle, is bekend vir 'n baie lae opkoms van kiesers. In plaaslike verkiesings speel politieke partye 'n kleiner rol. In baie wyke staan slegs twee partye se verteenwoordigers, sê maar, die ANC en DA se kandidate. Mense stem dikwels vir 'n gewilde kandidaat, ongeag die party waaraan die persoon verbonde is. Teen 2029, wanneer die volgende algemene verkiesing gehou gaan word, is die klein petalje rondom Steenhuisen lank reeds vergete. Volgens Frans Cronje dui die nuutste navorsing daarop dat die DA besig is om te groei, ten koste van die ANC. Daar is selfs reusesteun vir DA leiers soos Helen Zille binne die ANC. Die RNE is ook uiters gewild onder kiesers van oor die spektrum. Die DA het 'n wenresep wat werk, deur potensieele kiesers bang te praat en met vrees oor te wen, onder meer dat klein partye die opposisie verdeel en ander 'swart gevaar' taktieke. Dieselfde is waar van die ANC, wat op hulle beurt vir hulle stembasis bangpraat met beweringe dat die DA 'apartheid sal terugbring' en sosiale toelae sal wegneem, hoewel al minder mense hiervoor val. Die DA en die ANC is beslis albei baie korrup, en kan maar netsowel nou een party word. Vervolgens, 'n skakel na Cronje se bespreking:

    https://www.youtube.com/watch?v=4gmCGhZsSWE

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top