
Prent: Greg Bierer op Pixabay
- Bettina Wyngaard skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.
Sondag is daar geel vlak 4-vloedwaarskuwings uitgereik ten opsigte van ’n paar munisipale distrikte, waaronder die distrik waarin ek woon. Ironies, want ons is tans onder waterbeperkings weens drooogtetoestande.
Ons het nie groot skade gehad nie. Om die waarheid te sê, my woonbuurt was onaangeraak. Ander gebiede was minder gelukkig. Ek het berigte gelees van paaie en brûe wat verspoel is en gesluit moes word; ek het foto’s gesien van skade aan die huise van vriende in ander dorpe en omgewings. Ek het self drie weke gelede oor ’n brug gery waar die rivier amper nie water in gehad het nie. Maandag moes Provinsiale Verkeer iemand by daai brug stasioneer, want die riviervlak het so gestyg en die water het so gebruis dat dit gedreig het om oor die brug te spoel.
Hoe ironies dat periodes van droogte feitlik altyd deur periodes van oorstroming gevolg word, asof die natuur oorvergoed vir die tekorte. Die aarde is so droog dat dit nie die skielike oordadige geskenk van water kan hanteer nie.
Moet geen fout maak nie, water is ’n geskenk. Die ervaring van een keer ’n kraan oop te draai en niks anders as ’n droë gesis te hoor nie, is erg. Ek kan my net indink hoe erg dit moet wees vir boere wat van water afhanklik is om hulle landerye mee te besproei, hulle diere te voed en hulle dors te les, en self ook te oorleef. Hoe bitter, dan, wanneer die water waarvoor hulle gebid het, alles verspoel.
Ons almal het al video’s gesien van boere wat in die reën dans van dankbaarheid. Sien ons hoe hulle op hulle kniee neersak van verslaenheid wanneer die water wat moes red, verder vernietig? Dis nie net boere nie. Riviere wat hulle walle oorstroom en alles in hul pad vernietig, word realiteit. In Somerset-Wes, waar ek jare gewerk het, het die plaaslike KFC-tak elke winter probleme met water wat die besigheid binnevloei en hulle noop om hulle deure te sluit omdat dit onveilig is vir klante en werknemers. Elke jaar word die duik onder die brug in Victoriaweg onder water gelaat, wat motoriste dan dwing om omweë te vind of dit te waag om deur die water te probeer ry met die hoop dat dit nie te diep is nie. Ek het elke slag eerder ompaaie gekies. Die spreekwoord “Jou kortste pad kan jou langste pad word” bestaan nie verniet nie.
Hoe hanteer munisipale owerhede hierdie rampe? In ’n jaar waarin plaaslike verkiesings geskied, is dit ’n vraag wat gereeld gevra word. Tydens droogtetoestande, en wanneer waterbeperkings opgelê word, wonder ek hoeveel water verlore gaan omdat die infrastruktuur verouderd is, vir jare nie behoorlik in stand gehou was nie, en water wegsyfer in die grond deur lekkende pype. Inwoners kan maar water bespaar tot hulle nie meer weet hoe nie, maar as die infrastruktuur nie in stand gehou word nie, baat dit hulle bitter min.
Dit kos baie min vir watertekorte om omskep te word in diensleweringproteste, soos wat ons nou weer in Johannesburg sien. Ek wonder net of daai proteste ’n merkbare verskil by die stembus gaan teweeg bring.
Ek wonder verder ook hoeveel die President Donderdag in sy staatsrede oor droogtes en vloede gaan sê.
Droogtes en vloede is baie keer twee kante van dieselfde munt, en daar is net sóveel wat gedoen kan word om natuurrampe te bekamp. Maar hoe voorbereidings getref word, hoe kommunikasie plaasvind en hoe inwoners tydens rampe en agterna te hulp gesnel word, maak die grootste verskil. Soos ons almal weet, word die armstes die swaarste getref. Versekering is daar vir diegene wat dit kan bekostig, maar die mense in informele behuising moet elke keer maar staatmaak op die doeltreffendheid van die owerhede se reaksie. In ons geval het die munisipale owerhede een jaar trots langs Gift of the Givers gestaan toe die organisasie moes ingryp in my tuisdorp. Skande! Daar is allerhande finansiële misbruike, maar inwoners in nood moet staatmaak op privaatorganisasies om hulle te hulp te snel.
Intussen bid ons dat die damme vol sal wees, en die waterbeperkings opgehef kan word. Maar bid alleen is nie genoeg nie. Ons moet ook druk op ons amptenare plaas om seker te maak hulle doen wat hulle moet om infrastruktuur in stand te hou en te verbeter, om te sorg dat daar effektiewe noodplanne is en dat dit suksesvol gekommunikeer word.
Ons kan nie rampe keer nie, maar ons kan verseker dat die skade agterna beperk word.
Lees ook:
Plaaslike munisipale dienslewering daagliks meer dringend vir water en ander dienste
Yes for national dialogue, but don’t forget municipal services

