
Skets deur Augusto Ordóñez van Pixabay
Slegs drie maande bly op die kalender oor voordat Suid-Afrikaners op 4 November hul kruisies gaan trek in die land se plaaslikeregeringsverkiesings van 2026. Terwyl sommige partye volstoom aan die gang is met hul veldtogte, stoei ander nog in die spreekwoordelike modderbad rond oor byvoorbeeld die samestelling van kandidatelyste en wie as die betrokke party se burgemeesterskandidaat aangewys behoort te word.
Om die vrede te (probeer) bewaar, het ’n party soos die ANC in die verlede verkies om nie die gebruik in ander partye na te volg deur die bekendstelling van burgemeesterskandidate nie. Selfs dié party kom egter nou voor asof hulle, soos die DA, glo dat die gesig op die burgemeestersplakkaat ’n wesentlike verskil aan die aantal stemme vir die party sal maak.
Dit is nie hoe dit behoort te wees nie, meen die politieke kommentator Tessa Dooms, direkteur van die denkesentrum Rivonia Circle. “Hierdie obsessie met burgemeesterskandidate is ’n probleem,” sê sy. “Ja, jy moet weet wie wie dit gaan wees, maar dit is nie asof dit die kiesers is wat gaan bepaal wie uiteindelik die pos beklee nie.”
Die kernrol van ’n burgemeester is, volgens Dooms, om as “politeke kampioen” of drywer van die munisipaliteit se politieke program op te tree. Haar gespreksgenoot in ’n Wyngaard Weekliks-gesprek oor die onderwerp, Christo van der Rheede, voeg hierby die drie “eksplisiete boustene” vir die burgemeestersamp. Dit is verantwoordbaarheid; om responsief te reageer op probleme wat mag opduik; en deursigtigheid.
Maar Van der Rheede, wat as uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting dien, sê dat die huidige stelsel van plaaslike regering ongelukkig ruimte laat vir partybelange om in te meng in die grondwetlik bepaalde verantwoordelikhede van burgemeesters, soos in die vorige paragraaf deur hom uitgespel word.
Dooms wys daarop dat dit wel moontlik is om nie deur die genade van ’n politieke party ’n burgemeester te word nie – jy kan ook as onafhanklike kandidaat tot dié amp verkies word, spesifiek waar jy jou as “koningmaker” binne ’n munisipaliteit bevind. Wat selfs beter sal wees, glo Van der Rheede, is om die kiesstelsel op plaaslike vlak so te verander dat kiesers direk vir ’n burgemeesterskandidaat kan stem.
Wat egter nie buite rekening gelaat moet word nie, benadruk Dooms regdeur die gesprek, is dat énigiemand wat tot ’n metro- of munisipale raad verkies word, ’n kans staan om tot burgemeester verkies te kan word. Haar argument is dat die aanwys van elke kandidaat – in ’n wyk of op ’n proporsionele lys – en nié slegs vir die burgemeesterspos nie, met dieselfde erns deur kiesers bejeën moet word. Die vraag moet met elkeen van hulle gevra word: Is hierdie die soort persoon wat jy as burgemeester van jou dorp of stad sou wou sien?
Waarom dit ’n belangrike oorweging is, is dat dit bepaal hoe ingelig, ernstig, bekwaam of gekwalifiseerd ’n kandidaat is om uiteindelik die kritieke rol van drywer van die munisipaliteit se visie te vervul. Aansluitend hierby, om Van der Rheede weer te betrek, is die invloed wat sodanige persoon op die werk van die munisipale bestuurder as rekenpligtige beampte van die munisipaliteit en ander amptenare uitoefen.
Soms swig die munisipale bestuurder en amptenare en doen enigiets wat deur die politieke ampsdraers geëis word. Soms, sê Van der Rheede, word ’n “uitstekende munisipale bestuurder” – hy noem Johan Mettler in Tshwane as ’n voorbeeld – ook deur die politici “uitgewerk”. Hy sê dit lei tot die soort inploffing wat sigbaar is in Johannesburg in terme van sakebedrywighede, toerisme en dienslewering.
Hieraan wil Helen Zille, voormalige burgemeester van Kaapstad, premier van die Wes-Kaap en nasionale leier van die DA, ’n verskil maak – of dit is hoe sy haar skuif Johannesburg toe motiveer. Gegee haar vorige rolle – in die algemeen aanvaar as suksesvol uitgevoer – word haar “ervaring” derhalwe voorgehou as waarborg dat sy weet hoe om die stad se verval om te keer.
Dooms eet dié aanname nie vir soetkoek op nie. “Age matters,” is die afleiding wat sy uit die Zille-verskynsel maak, maar eweneens is daar Herman Mashaba, leier van ActionSA en voorheen DA-burgemeester in Johannesburg, wat homself nou as burgemeesterskandidaat in die Goudstad beskikbaar stel. “Die kwessie van ervaring gaan bepalend wees, maar nie alle ervaring is goeie ervaring nie,” sê Dooms. Belangriker, in elk geval, is die kandidaat se “sigbaarheid en vermoë om met die kiesers te kan konnekteer,” voeg sy by.
Ander oorwegings kom terselfdertyd ter sprake, waaronder die EFF se skynbaar doelbewuste vryery na die swart middelklas met hul keuse as burgemeesterskandidaat vir Johannesburg, Tlaleng Mofokeng, wat tot onlangs nog VN-rapporteur oor gesondheidsregte was. Wat ook deur Dooms geopper word, is ’n geografiese verskynsel, synde dat Zille die Kaap agtergelaat het om as kandidaat in Johannesburg te staan en dat Rise Mzansi se (jonger) kandidaat, Lukhona Mnguni, nie in Johannesburg grootgeword het nie.
Onder in die suide van die land gebeur dieselfde ding: Minstens twee burgemeesterskandidate in die Stad Kaapstad, Dereleen James van Action SA en (waarskynlik) ook Larry Varrie vir die PAC, is burgers van Johannesburgse buurte wat nou in die Moederstad ’n ampsketting wil kom dra. Wat hiertoe aanleiding gee, is die toenemende fragmentasie wat Van der Rheede bespeur – spesifiek noem hy as voorbeeld die slegsê van mekaar onder bruin kandidate of partye. Die fokus is dus nie op die vraag of die kandidate ervare genoeg is om die rade te lei of oor die vereiste bestuurs- of praktiese kundigheid daarvoor beskik nie, sê hy.
In watter mate moontlike koalisies die speelveld ná die komende verkiesings gaan verander, is onseker, maar menige kommentator het reeds voorspel dat daar meer koalisies gaan wees as met die vorige plaaslike verkiesings in 2021. “Niks om oor bang te wees nie,” sê Dooms. “Dit moet net goed bestuur word.”
Die rol van burgerlikes of kiesers word belangrik in hierdie konteks, glo Van der Rheede – en die eerste stap moet wees dat mense wegdoen met die wanindruk dat die demokrasie slegs een keer elke vyf jaar geld. “Nee, jy moet elke dag jou insette gee,” sê hy, “om toe te sien dat inisiatiewe soos die geïntegreerde ontwikkelingsplan en die plaaslike ekonomiese ontwikkelingsplan uitgevoer word” – ongeag wie uiteindelik as die burgemeester aangewys word.
Lees en kyk ook:
Operasie 2026 Munisipale Verkiesing: Nasionale tesourie gryp in om goeie bestuur aan te spoor

