Wat is ’n huis? by Vrystaat Kunstefees 2026: ’n onderhoud met Anthony Dalton

  • 0

Foto deur die Vrystaatkunstefees

In sy 1984-baanbrekerroman The unbearable lightness of being beskryf Milan Kundera “kitsch” as iets wat nie bloot kommin of tranetrekkerig is nie, maar eerder as ’n doelbewuste ontkenning van ’n morsige realiteit: die uitruiling van menslikheid vir ’n gepoleerde fantasie. Hy skryf: “Kitsch is die onomwonde ontkenning van kak, in beide die letterlike en figuurlike sin van die woord: kitsch vermy alles wat onaanvaarbaar tot die menslike bestaan is.”

En nee, ek het nie soos ’n kamma-intellektuele die boek self gaan opdiep nie – die aanhaling doen ná vier dekades weer die ronde omdat dit Trump se eie Nkandla-restourasies so raak beskryf.

Anthony Dalton (Selfportret, verskaf)

Vir die Johannesburgse kunstenaar Anthony Dalton begin sy fassinasie met kitsch nie by die Ovaalkantoor nie, maar by afdrukke wat in sy ouma en oupa se sitkamer gehang het. Hy vertel via Zoom vanuit sy huis in Westdene, met Giovanni Bragolin se Crying boy sigbaar in die agtergrond: “Ek weet nie of jy dit Afrikana sou kon noem nie, maar die prints het werklike kitsch elemente gehad: perde wat hardloop op die strand, ’n uitsig oor die see, Afrikaanse religious boodskappe, ’Wat is ’n huis sonder ’n moeder?’ … en daarmee saam imagine ek ’n ou huis wat na stof ruik, ou meubels, miskien hondepie in die hoek. Die mense is tradisioneel, konserwatief.”

Kitsch sê vir jou op die goedkoopste manier hoe oulik jy is. Kuns, daarenteen, noop jou om oor jouself en jou verhouding tot ander na te dink. Vir Dalton is dit die kernvraagstuk nadat hy ná ’n loopbaan in grafiese ontwerp weer begin kuns maak: “As jy as ’n kunstenaar gebore is, kom daar ’n punt in jou lewe waar jy voel jy móét iets sê. Vir my was dit die vertrekpunt: Wat beteken dit om as wit Afrikaanse man in Suid-Afrika gay te wees?”

In die ’90’s, vertel hy, was daar rede om vir gayregte te veg, ’n beweging. Al word dit vandag in die Grondwet beskerm, is dit steeds belangrik om aan die gesprek deel te neem, want “idees moet altyd gechallenge word.” Daar is nog te veel gays wat, nadat hulle uit die kas klim, nie weer huis toe kan gaan nie, of wat in ontkenning moet leef. “You can’t live the double life. Dis harde werk, fok, wie het krag daarvoor!”

.......
In die ’90’s, vertel hy, was daar rede om vir gayregte te veg, ’n beweging. Al word dit vandag in die Grondwet beskerm, is dit steeds belangrik om aan die gesprek deel te neem, want “idees moet altyd gechallenge word.” Daar is nog te veel gays wat, nadat hulle uit die kas klim, nie weer huis toe kan gaan nie, of wat in ontkenning moet leef. “You can’t live the double life. Dis harde werk, fok, wie het krag daarvoor!”
..........

Wat kan hy vandag tot die gesprek bydra? “Ek wou nie noodwendig ’n sterk standpunt maak nie, maar ’n tong-in-die-kies boodskap oordra.”

Met sy werke Wat is ’n huis sonder ’n daddy, Wat is ’n huis sonder ’n puppy, Wat is ’n huis sonder ’n Twink gee Dalton die oorspronklike konteks van die afdruk ’n witwarm raps op die boud. “Mense wat nie met hierdie subkultuur bekend is nie, kan dit heeltemal misverstaan. Ek hou daarvan om mense só om te krap. As my ma nog gelewe het, sou ek aan haar moes verduidelik wat ’n daddy is. Dit is ’n manier om mense dalk te skok, maar ook uit te nooi om dieper te delf, om uit te vind wat werklik aan die gang is.”

Die oorspronklike 1960-werke (’n herinnering van die onderhoudvoerder plaas dit geposisioneer langs swaar gordyne, potpourri en ’n kruissteek van die Voortrekkermonument) het ’n gas in ’n aanvaarbare, kuise setlaarskultuur verwelkom.

Wat is ’n huis is ’n fantastiese manier om met die oorspronklike konteks rond te neuk en om gaykultuur in Afrikaans te explore. Dis amper soos om ’n tweede keer uit die kas uit te klim, in jou eie huis. Dit sê iets vir gaste oor wat hulle van die mense wat daar woon, kan verwag. Wat is ’n huis sonder ’n puppy gaan nie oor ’n soet klein meisietjie wat haar eerste hondjie grootmaak nie, maar ’n gaysubkultuur waar mense opdress en allerhande submissive games speel. Dis ’n manier om lig op hierdie fetisj te plaas wat die average wit Afrikaanse outjie nie noodwendig sal ken nie.”

As sy ontpopping as kunstenaar is soos om die tweede keer uit die kas te klim, hoe onthou hy sy eerste? Hy het wel in die konserwatiewe Verwoerdburg grootgeword, maar hy sou nou nie sê dat sy storie “moerse dramaties” was nie. “Uitkom is soos goeie wyn drink – jy moet dit ’n kans gee om asem te haal. Seksualiteit is ’n proses van ’in wording’: jy moet eers uitkom, dan het jy jou eerste boyfriend. Daarna moet jy nog uitvind waarvan jy hou, wie jy is, en waar jy in verhouding tot die geskiedenis van gay-wees staan.”

In die Afrikaanse konteks, vertel hy, staan hy steeds in verhouding tot die Susterskerke waarin hy grootgeword het, want “onlangse artikels in Rapport bewys dat daar stééds ’n vraagstuk oor my seksualiteit is. Hel, dis 2026! As jy wil kerk toe gaan, moet hulle jou mos kan aanvaar, ongeag wie of wat jy is.”

Wat is volgende? Hy leun terug in sy stoel, haal diep asem. “As jy die tradisionele gees van daai tyd kan ontleed, kan jy die trauma van daai tyd ook uitbeeld. Dalk is dit my manier om perspektief te kry, om daai mense te vergewe. My pa was in die lugmag. Ek dink die meeste mans van daai generasie het ’n vorm van selfhaat met hulle saamgedra. Hulle wou hulself skade aandoen, bloot omdat sielkundige terapie ontoeganklik was. My generasie moes daarmee deal, maar ons het óók survive.”

Hoe beeld ’n mens dan die teenstrydighede van feilbaarheid en onwrikbaarheid van hierdie mense uit? vra ek. Om my te antwoord, vra Dalton twee vrae: “Wat is ’n huis sonder ’n alkoholis? Wat is ’n huis sonder ’n onderdanige vrou?”

Dalton se Wat is ’n huis-werke kan van 7 tot 11 Julie 2026 by die Vrystaatse Kunstefees besigtig word. Meer inligting hier: vrystaatkunstefees.co.za/produksies/wat-is-n-huis.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top