Wanneer kry Suid-Afrika sy Arabiese Lente?

  • 8

Foto: http://sites.davidson.edu/anthro/global/2013/02/20/anonymous-the-arab-spring/

Hoekom oorleef Suid-Afrika nog te midde van die revolusionêre potensiaal in die land en waarom is ’n Arabiese Lente nie ons voorland nie? Na aanleiding van 'n onlangse LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)-artikel, weeg Piet Croucamp die verskillende scenario’s op as deel van ’n LitNet Akademies-webseminaar oor die moontlikheid van ’n Arabiese Lente in eietydse Suid-Afrika.

Die aansprake dat Suid-Afrika op ’n Arabiese Lente afstuur, is waarskynlik – wat analitiese of akademiese waarde betref – soortgelyk aan die vrese dat die Zimbabwe-scenario vir ons skaterlag by die agterdeur.

Een van die mees mitiese aksiomas is dat die Arabiese lente ’n voedingsaar raak geboor het in die sosiale media en dat die sosiologiese weefsel wat tot die geweld teen die staat gelei het, ’n logiese ekstrapolasie sou wees vanaf ’n veronderstelde konsensus gebore uit ’n informele diskoers in die kuberruimte. Die kopsprong wat gegee moet word om by hierdie populêre, leunstoelkonklusies uit te kom, word beslis nie geboekstaaf deur geldige navorsing nie.

Dalk is die mees logiese teenargument dat Arabiese state tipies teokraties is, outoritêre verhoudings handhaaf tussen die burgery en die instellings van orde, selde oor ’n kritiese media beskik, nie mededingende politieke stelsels duld nie en die ekonomieë grootliks gefundeer is op energie – of dan olie – en dus oor uiters ongediversifiseerde, oligopolitiese ekonomieë beskik. Dit is waarskynlik alreeds analities riskant om noodwendige ooreenkomste te formuleer tussen Jemen, Egipte, Tunisië en Sirië wat betref die raison d’être vir die sosiale en politieke konflik in Noord-Afrika; om dit dan parallel te stel aan ’n diep-donker scenario in Suider-Afrika klink en is redelik vergesog.

Histories gesproke het teokratiese politieke ekonomieë selde die bemiddelingsmeganismes om relatiewe deprivasie te bestuur, en die militarisering van orde is uiteindelik die gesentraliseerde slagordes se enkele grootste swakheid wanneer die legitimiteit van die staat uitgedaag word.

Eweneens kan scenario’s vir Suid-Afrika se politieke of ekonomiese uiteinde net in ’n angsbevange oomblik van die wanordelike Zimbabwiese konundrum afgelei word. Zimbabwe is merendeels steeds landelik en het die BNP van Bloemfontein. Die staat is swak, die media is finansieel ondervoed en die middelklas verarmd.

Dit is egter steeds ’n geldige vraag tot watter mate die Suid-Afrikaanse politieke ekonomie lamgelê kan word deur ideologiese teenstrydighede, beleidsonsekerheid, die uitvloei van kapitaal, werkloosheid, ongelykheid en uiteindelik langdurige konflik tussen die staat en die samelewing. Op ’n bepaalde wyse is byna al hierdie veranderlikes alreeds teenwoordig in die plaaslike politieke ekonomie.

Misdaad verteenwoordig ’n lae-intensiteit-konflik gerig teen die argitektuur van sosiale en ekonomiese orde. Die moordsyfer in Suid-Afrika is ongeveer 46 sterftes per dag, wat byna 16 800 lewens per jaar beteken. Die mees moorddadige oorlogsugtiges in die Midde-Ooste en sentraal-Afrika sou die misdadige bloedvergieters in Suider-Afrika sonder ironie beny vir hul vernietigende impak.

Boonop het Thabo Mbeki se vigsbeleid, aldus ’n Harvard-studie, ten gevolge gehad dat meer as 340 000 babas onnodig gesterf het weens die weerhouding van ’n mediese regime wat steeds beskikbaar was aan die gegoedes onder ons. Voeg daarby die feit dat ongeveer 64% van alle kinders in hierdie land nie in ’n huishouding grootword met twee biologiese ouers nie en die veranderlikes wat die gekwantifiseerde en strukturele geweld voorafgaan, staan in ’n bloedige verhouding tot mekaar.

Ons is nie ’n land wat lewe na waarde ag nie. Die vraag is dus: Hoekom oorleef ons nog? En: Hoekom is die revolusionêre potensiaal vir ons nie noodwendig op die punt om die drukkoker te laat ontplof nie? En as jy steeds vasklou aan die Arabiese-lente-scenario, of selfs die Zimbabwiese spook koester, is die vraag of ons afstuur op ’n burgeroorlog – of ’n staat wat ineenstort – seker steeds geldige analitiese proposisies.

Die belangrikste vertrekpunt in beantwoording van die vraag is waarskynlik dat die ANC, of dan die regering, nie effektief genoeg is om die land tot op ’n positiewe groeitrajek van 5–6% te bestuur nie, maar gelukkig ook nie die destruktiewe vermoë het om die politieke ekonomie op ons om te trek nie.

As ’n politieke party is die ANC deurspek van inherente teenstrydigheide en daar is kommuniste in die party soos wat daar voorstanders van ’n vryemark-ekonomie is. Daar is effektiewe politieke bestuurders binne die party op dieselfde skaal as wat daar opportunistiese tenderpreneurs is. Die president is ’n hoofman, maar sy adjunk is ’n gerekende entrepreneur. Die demokratiese impulse binne die party is legendaries – vra maar vir die outoritêre Thabo Mbeki – maar die patronaatskapstelsel is ook die primêre sosiologiese weefsel tussen die staat en die party, en selfs ook die staat en dele van die ekonomie.

’n Ander belangrike veranderlike wat Suid-Afrika nie alleen staande hou nie, maar wat inderdaad vir die institusionele swakhede van die demokratiese staat vergoed, is ’n politieke en ekonomiese entrepreneurskap buite die reikwydte van die staat. Die burgerlike samelewing neem toenemend eie verantwoordelikheid vir onderwys en opleiding en maatskaplike dienste.

Die landbougemeenskap is besig om op groot skaal te belê in energiebronne en die mynbedryf skep infrastruktuur wat hulle toenemend beheer gee oor die logistiek van hul aktiwiteite. Op ’n ironiese wyse skep die verswakkende staat die leefruimte vir die samelewing en die ekonomie om ’n terrein op te eis wat die laaste 20 jaar deur die ideologiese blokkruiping van die burokrasie vervreem is.

Uiteindelik eindig ons met die onbevredigende scenario van onbestendig maar vreedsaam wees. Die ekonomie het nie meer die vermoë om van ons ’n welvarende land te maak nie, maar die besteebare inkomste van die hoër middelklas groei steeds en die sosiaal-politieke mobiliteit van die meer gegoedes laat steeds ruimte vir ’n benydenswaardige lewensgehalte.

Die armes word relatief gesproke armer en diegene met ’n opportunistiese of entrepreneursgees vind geleenthede vir persoonlike welvaart. Die staat is permanent in ’n lae-intensiteit-konflik met verstedelikte gemeenskappe wat aandring op verantwoordbaarheid, maar daar is genoeg uitlaatkleppe om volskaalse geweld te temper.

Die “Arabiese lente” sal afgeweer word in Suid-Afrika, nie deur die staat nie, maar deur ’n geesdriftige burgery wat gereeld die staat suksesvol terugdruk deur demokratiese regte op te eis en voorspoed te maak uit teëspoed. Dis ’n onrustige buurt hierdie – was nog altyd so; van eens af.

Lees ook die LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)-artikel deur Wynand Greffrath en André Duvenhage wat hierdie gesprek laat ontstaan het: 'n Arabiese Lente in eietydse Suid-Afrika? en ook Harald Pakendorf en Anne-Marie Mischke se mening hieroor.

  • 8

Kommentaar

  • "Die armes word relatief gesproke armer en diegene met ’n opportunistiese of entrepreneursgees vind geleenthede vir persoonlike welvaart."

    Dit is belangrik om te onthou dat relatiewe armoede anders is as absolute armoede. In SA het die absolute lewenspeil van die armstes wel verbeter onder die ANC ... maar dié van die ryker middel- en hoër inkomstegroepe selfs nog meer.

    https://www.litnet.co.za/Article/vryheid-gelykheid-en-broederskap

  • Moenie worrie nie Pietman, die Afrikaner-lente is aan die gebeur. Jy's net 'n bietjie te blind om dit raak te sien ...

  • lucas viljoen

    Die realisme in ons land word baie goed beskryf
    Ek sal egter graag die onderwys wil uitlig tov die disfunksionaliteit van 1000e skole, die afskaal van die standaard van onderrig en die demoniese rewolusionêre mag van Sadu wat vooruitgang in die onderwys boikot.

  • Cobus van Zyl

    Duidelik baie goed nagevors - moet bieg dat ek heeltemal saamstem met die analise. In die SA-omgewing gaan party mense die gapings sien as geleenthede en 'n entrepreneursvergoeding verdien terwyl ander net met klaagliedere na die verlede kan verlang wat, deur die rooskleurige bril van herinneringe beter lyk as wat dit werklik was. Your dreams must always exceed your memories.

  • George van Biljon

    In ons land word baie probleme of dan uitdagings veroorsaak deur bevolkingsaanwas. Die regering van die dag, om sy stembasis te beskerm, gee aansporingsbonusse om meer kinders te verwek. Tien teen een word die meeste van die bonusse spandeer op alkohol en nikotien.

  • Piet Croucamp

    Chris, breindood opmerkings maak geen verskil aan die debat nie.

    Bevolkingsaanwas in SA word gereken ongeveer 2.5% (ek tap nou sommer uit my geheue). Indien ons 'n indeks saamstel van politieke en ekonomiese risikos, sal bevolkingsaanwas redelik laag af gerangeer word. Maar, ja; teen die bestaande werkloosheid en lae ekonomiese groei, is enige syfer bo 1.4% bevolkingsgroei waarskynlik 'n risiko.

    Lucas, ja; onderwys en opleiding is besig om ons tot geweldige nadeel te wees. Ek kry nie die indruk dat die staat binnekort die destruktiewe neiging gaan aanspreek nie. En, Sadtu is 'n geldige probleem. Ons sal onderwys en opleiding moet wegskuif van die staatsfunksies en die produk maak van 'n entrepreneursprojek (neem kennis dat ek doelbewus nie die woord privatisering gebruik nie).

    Theo, ja, jy is reg. Beide verskynsels kom voor in ons ekonomie, maar absolute verarming het ook ingetree op groot skaal, veral sedert die Zuma-administrasie. Toelaes het inderdaad die gini vernou, maar nie alle inkomstes laat die ontvanger uit die bracket van absolute armoede beweeg na relatiewe armoede. Anycase ...

  • Mauritz Moolman

    Is daar nie ook 'n intellektuele faktor aan 'n Arabiese lente te koppel nie? Na my mening was die lente ten dele aan 'n volgehoude olieprysgedrewe ekonomiese welvaart toe te skryf en 'n spontane reaksie. Die intellektuele stem in ons regeringskringe is besonders stil. Die EFF se intellektuele standaard wys nie enige potensiaal om so 'n lente te inisieer en vol te hou nie. Die DA mbv die regbank is te besig om ANC se rommelstrooiery rondom die die NVG, Thuli M en munispaliteite op te ruim om so iets te oorweeg. Dit pas ook nie by hul modus operandi nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top