Daar is by ons nie naastenby die algehele magteloosheid en uitsigloosheid wat daar in die Arabiese lande was en steeds is nie, skryf Anne-Marie Mischke as deel van ’n LitNet Akademies-webseminaar oor die moontlikheid van ’n Arabiese Lente in eietydse Suid-Afrika.
In die noordelike winter van 2010 is die golf van protesbewegings, gewelddadige revolusionêre opstande en uiteindelik burgeroorloë in Arabiese lande in die Midde-Ooste en Noord-Afrika met groot afwagting dopgehou. Dis gou die Arabiese Lente gedoop, maar, soos in die geval van die Praagse Lente van meer as 40 jaar tevore, het dit nie die nuwe lewe gebring wat “lente” impliseer nie.
Ja, dit het dit die einde van ʼn paar korrupte diktators en regimes beteken, maar met die uitsondering van Tunisië, waar die eerste sprietjies van ʼn demokratiese lente hul verskyning gemaak het, duur die ellende grotendeels voort. So is Suid-Afrika se nuwe beste vriend, die wreedaardige en korrupte Omar al-Basjir, steeds aan bewind in Soedan; dit lyk of daar geen einde is aan die vernietigende burgeroorlog in Sirië nie; Egipte lyk in sommige opsigte net so slegs soos onder Moebarak; en Jemen en Irak is steeds in ʼn warboel. Dit alles het bowendien die onbedoelde gevolg gehad dat die Islamitiese Staat (IS) sy kans gesien en benut het, ook nou met terreuraanvalle in Tunisië.
Dié dat sommige nou verkies om van die Arabiese Winter te praat.
Tog word daar gereeld van die moontlikheid van ʼn “Arabiese Lente in Suid-Afrika” gepraat – hoopvol, beangs of waarskuwend, afhangend van wie die spreker is – as die oomblik wanneer die mense in opstand gaan kom om die bewind of die sosiale orde omver te gooi en te gaan gryp wat hulle meen hulle toekom. ʼn Revolusie, met ander woorde.
Die argument loop min of meer só: die grootskaalse en wydverspreide armoede (50% van Suid-Afrikaners leef onder die broodlyn; minstens 26% is werkloos) saam met die opsigtelike welvaartsgaping (volgens die Gini-indeks die vierde grootste ter wêreld) het onbetwisbare revolusionêre potensiaal. Dis dus moontlik dat wat Antjie Krog die “blinde woede van vernietiging” noem, eendag in ʼn volskaalse “Arabiese Lente” kan ontplof, om dan maar die gewilde cliché te gebruik.
Lees dit saam met die swak dienslewering, wat juis die armes die ergste aan die lyf voel, en waarteen die plaaslike gemeenskappe se “blinde woede van vernietiging” reeds gereeld gemik is. Lees dit saam met die wydverspreide korrupsie en die opsigtelike grypsug van hulle wat die mag het en gou en met gemak rykdom verwerf het, en daardie revolusionêre potensiaal kan nie eenvoudig net weggepraat word nie.
ʼn Diktator, die gemene deler van baie van die Arabiese opstande, het ons nog nie, maar ʼn toenemende neiging tot outokratiese optrede deur die regering het ons wel, reeds tot op ʼn punt waar hofbevele verontagsaam word en ministers verkondig dat die howe saamsweer teen die regering.
Voeg daarby dat ʼn argument onder linkse intellektuele en selfs denkers nader aan die sentrum plek-plek na die massas begin deursyfer: dat die swart mense deur Nelson Mandela en sy onderhandelaars “uitverkoop” is en dat die revolusie teen die apartheidsregime liewer op die spits gedryf moes gewees het. Dit geld ook die hernude oproepe dat die Grondwet herbedink moet word met die (skeefgetrekte, wanvertolkte?) herverdelingsaspekte van die Vryheidsmanifes as grondslag, asook die EFF se oproepe om die nasionalisering van alles van banke tot myne en daardie party se – tot dusver beperkte – aanstigting tot grondbesetting.
Ook borrel daar net onder die oppervlak ʼn siedende woede teen korporatiewe Suid-Afrika wat nie altyd sy maatskaplike verpligtinge teenoor sy werkers nakom nie. Lonmin ná Marikana word as voorbeeld daarvan voorgehou.
Armoedeverligting en die verbetering van dienste word nie net deur flagrante onbekwaamheid vererger nie, maar ook deur die ekonomie wat afdraand loop.
Dit alles stel ʼn vrugbare aarde vir die saad van revolusie daar.
Die munt het nietemin twee kante, en dis geen uitgemaakte saak met watter kant na bo hy gaan val nie – en of hy dalk nog vir lank op sy smal riffelkant gaan draai nie. Daar is beduidende verskille tussen Suid-Afrika se situasie en dié van die lande waar die destydse Arabiese opstande plaasgevind het.
Eerstens was die grootste van daardie lang lys opstande, in elk geval dié wat in die Suid-Afrikaanse psige vasgeslaan het, gemik teen wreedaardige en korrupte diktators van wie op geen ander wyse as bloedige revolusie ontslae geraak kon word nie. Jacob Zuma mag slegte nuus vir die land wees, maar met geen verbeeldingsvlug kan hy in een asem genoem word met Egipte se Moebarak, Libië se Ghaddafi (die Mandela-regering se groot vriend!), Sirië se al-Assad en diesulkes nie.
Hoe daar ook al hier getorring en daar geplooi word aan ons demokrasie, dit staan nog en daar is steeds die stembus wat wag. In die kookpot van die partypolitiek weeg kiesers reeds die Malemas en die Vavi’s, die Maimane’s, die Mantashe’s en die Ramaphosas teen mekaar op in die vaste geloof dat ʼn bewindsverandering nuwe lewe (lente?) sal bring. Daar is nog keuses, daar is nog kanse. Die ANC gaan dalk sowaar nie “tot die Wederkoms” regeer nie, en voor dit met hom klaarpraat is, is dit hopelik die laaste sien van president Zuma.
Ook die pilare van die demokrasie – die howe, die openbare beskermer, die vrye media, die parlement – staan nog, hoe daar ook al weggebeitel word aan hul fondamente – en al begin die beitel soms na ʼn byl lyk.
Dus, daar is by ons nie naastenby die algehele magteloosheid en uitsigloosheid wat daar in die Arabiese lande was en steeds is nie. In dié opsig moet die rol van die burgerlike gemeenskap hoog aangeslaan word.
Nou moet ʼn mens egter fyn trap wanneer jy dit sê. Daar is deesdae ʼn neiging om die veldtog teen die e-tol in Gauteng as die uitnemendste voorbeeld van openbare opstand teen ʼn regeringsbesluit te noem. En inderdaad het dit getoon dat mense oor ʼn breë spektrum rondom ʼn bepaalde saak saamgesnoer kan word. Maar uiteindelik was die resultaat beperk en die beweging het reeds aansienlik versand.
Veel belangriker en meer standhoudend, reeds oor baie jare, is die dienstebetogings van die woedende arm massas, juis dit wat die kiem van revolusie dra. Hulle is óók deel van die burgerlike gemeenskap. Hulle rol kan nie onderskat word nie. Die positiewe sy van hierdie betogings is dat dit ten minste ʼn gevoel van mag aan die magteloses gee, dat dit dikwels die massas se enigste manier is om hulleself hoorbaar te maak en dat hulle wel in ʼn beperkte mate resultate afdwing. Veral noudat die plaaslike verkiesings nader kom ...
Die betogings het dus ʼn positiewe en negatiewe sy, maar op hierdie pakket staan geskrywe: “Plofbaar. Hanteer versigtig.”
En ja, daar kan wel eendag ʼn vonk in die kruitvat beland, soos die selfverbranding van die desperate groentesmous Mohamed Bouazi in Tunisië die Arabiese Lente aan die gang gesit het, maar tot dusver is ons nog ʼn landwye rimpeleffek – of skokeffek – gespaar van gebeure soos die dood aan die hand van die polisie van die aktivis Andries Tatane in Ficksburg en die Marikana-slagting.
Dis egter bowenal die georganiseerde burgerlike gemeenskap in die vorm van die groot aantal nieregeringsorganisasies (NRO’s) wat ʼn sterk teenrevolusionêre rol speel, al is dit nie hul primêre doel nie: organisasies soos Treatment Action Campaign, Section 27 (wat twee jaar gelede aangehou en aangehou het totdat Limpopo se leerlinge hul handboeke gekry het), Equal Education, die Southern African Litigation Centre, die Socio-economic Rights Institute en veel, veel meer. Google maar die lys van geregistreerde NRO’s. Hulle word oor die algemeen goed befonds deur donateurs en doen prysenswaardige gespesialiseerde werk op sosiaal-ekonomiese terrein, dikwels met beduidende resultate.
Een organisasie van die burgerlike gemeenskap wat in ʼn kategorie van sy eie is, moet hier uitgesonder word: Abahlali baseMjondolo (AbM), ʼn plakkersbeweging wat in 2005 in KwaZulu-Natal ontstaan het en wat reeds na Kaapstad uitgebrei het. Hy bemoei hom met huisvesting vir die armes, met die belange van plakkerbuurte en met uitsettings, en sê hy het “demokratisering van grondvlak af” ten doel, anders as die klassieke NRO’s, wat as’t ware hulp van buite na gemeenskappe af bring. Hy is, wesenlik, ʼn stem vir die stemloses.
Afgesonder van die praktiese resultate van hierdie organisasies se bemoeienis, laat dit die armes en ellendiges, dié wat andersins magteloos sou staan in die aangesig van swak of geen dienslewering nie, ten minste voel dat hul nood wel raakgesien word en dat daar dikwels weens hierdie bemiddeling uitkoms is.
Aan die kredietkant van die balansstaat moet ook ingevoeg word dat, in vergelyking met die lande van die Arabiese Lente, dit in Suid-Afrika sosiaal-ekonomies nog redelik goed gaan, die sukkelende ekonomie en die armoede ten spyt. Die infrastruktuur is nog die beste in Afrika, daar is nog beduidende opwaartse mobiliteit, die staat se welsynspensioene bring ʼn mate van verligting.
So is die afgrond dalk in sig, maar ons lewe nog – prekêr, toegegee – ʼn paar tree weg daarvan. Dis asof die mengsel van uiteenlopende negatiewe en positiewe faktore ʼn soort spanning veroorsaak wat ons staande hou.
Vir hoe lank?
Dis te vroeg om met soveel stelligheid soos die skrywer en kommentator Moeletsi Mbeki ʼn datum te voorspel wanneer die woede in ʼn bloedige landwye opstand kan oorkook, selfs of dit hoegenaamd sal gebeur. Mbeki praat van 2021, net twee jaar ná die volgende algemene verkiesing.
Daar is nog te veel veranderlikes in die spel. Die mate waarin die armes en ontevredenes gaan voel dat daar uiteindelik na hulle omgesien word en ten minste begin word om hul lot te verbeter; die mate waarin werk gemaak word teen korrupsie en waarin die welvaartsgaping verklein gaan word, sal ʼn groot rol speel om ons steeds weg van die afgrond te hou.
Maar dít is langtermynprojekte wat baie geduld gaan verg – en dié is nie onuitputlik nie. Van deurslaggewende belang kan dan ʼn sterk nuwe leierskap op elke regeringsvlak wees. Daarom is aanstaande jaar se plaaslike verkiesings, die ANC se leierskapsverkiesing in 2017 en die algemene verkiesing van 2019 so belangrik.
Terwyl die volgende geslag leiers die sosiaal-ekonomiese probleme en korrupsie pak, en hopelik die demokrasie handhaaf, sal hulle, terwyl hulle met die langtermynprojek besig is, die mense moet laat voel dat hulle gehoor en gesien word. Dis die droom ...
Die afgrond sal nog lank in sig wees, maar daar is steeds genoeg faktore in ons samelewing is om ons lank genoeg van die rand daarvan weg te hou om ons ʼn omdraaikans te gee.
Uiteindelik is dit dalk juis goed dat daardie afgrond in sig is: dit hou ons waaksaam. Ons durf dit nie ignoreer nie.
- Anne-Marie Mischke is ʼn vryskutvertaler en -redakteur en voormalige adjunkredakteur van Rapport.
Lees ook die LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)-artikel deur Wynand Greffrath en André Duvenhage wat hierdie gesprek laat ontstaan het: 'n Arabiese Lente in eietydse Suid-Afrika? en ook Piet Croucamp en Harald Pakendorf se menings.


