Winter saam met die ANC?

  • 2

’n Suid-Afrikaanse winter is ’n groter moontlikheid as ’n Arabiese lente. Laasgenoemde is in wese ’n opstand van ’n onderdrukte massa teen ’n onderdrukkende regering omdat dit al uitweg vir verandering is, skryf Harald Pakendorf as deel van ’n LitNet Akademies-webseminaar oor die moontlikheid van ’n Arabiese Lente in eietydse Suid-Afrika.

Die sogenaamde Arabiese lente is is in wese ’n opstand van ’n onderdrukte massa teen ’n onderdrukkende regering omdat dit al uitweg vir verandering is. In Suid-Afrika is dit nie die geval nie: niemand word onderdruk nie; die regering is nie outoritêr nie, maar net onbekwaam; en daar is wettige maniere om te protesteer en verandering teweeg te bring.

Wat nie beteken dat regimeverandering nie moontlik is nie. Dit is, en nie soos te veel mense aanneem, noodwendig gelei deur die DA nie. Dalk, maar moenie daarop wed nie.

Die agtergrond vir die opper van ’n moontlikheid van ’n algemene opstand teen die party wat tans – en tydelik – regeer, is die bekende: werkloosheid wat net nie minder word nie, toenemende werkloosheid onder die jeug, werkloosheid wat hoofsaaklik ’n swart voorkoms het, swak skole wat net nie beter word nie en kinders oplei vir werksgeleenthede wat óf nie bestaan nie óf heeltemal anders is as waarop die skoolonderrig gemik is.

Die uiterlike tekens van dit alles is te sien in die byna daaglikse opstand teen plaaslike regering en gebrekkige dienslewering, weiering om e-tol te aanvaar, skeuring op plaaslike en provinsiale vlak in die ANC, die wankelrige bestaan van die party se Jeugliga en Vroueliga, die skeuring in Cosatu, woede oor beurtkrag en die verslag oor Nkandla.

Voeg daarby ’n regering wat ’n hofbevel ignoreer om sy Afrikagenote ter wille te wees, die chaos wat ons vroeër die parlement genoem het, die sokkerskandaal – waarvan ons nog baie gaan hoor.

Wat is dan ons voorland?

Stadig maar seker is die ANC besig om sy houvas op die kiesers te verloor, van ’n hoogtepunt van 70% steun in die 2004-verkiesing tot sowat 62% met die vorige een. Die politieke aanwysers dui almal op agteruitgang. Nog meer so op plaaslike vlak.

Ja, sê baie mense, die regering kan so droogmaak as wat hy tans doen, maar op stemdag bly die kiesers tog maar by die ANC.

Nie meer nie: op die Fort Hare-kampus, die intellektuele hart van die ANC, het die DA die studenteraadsverkiesing gewen deur op dienslewering te fokus terwyl die ANC die ideologiese voorgehou het. Die bevrydingsimboliek was klaarblyklik net nie meer genoeg nie. Dit het die ANC geskud.

En Nkandla – ja, die deel waarin die huidige president se woning gebou is en nog verdere besteding benodig – is in ’n tussenverkiesing deur die IVP van die ANC afgeneem. Ook dit het die ANC geskud.

Die Gauteng-premier se ondersoek na e-tol het gekom omdat die party self sê dat die stelsel die ANC 11% aan steun gekos het. Maar e-tol het gebly en is steeds ’n meulsteen om die ANC se nek.

Volgende jaar met die plaaslike verkiesings sal die ANC se agteruitgang bevestig word en die begin van ’n nuwe bedeling inlui. Hy sal nog vele dorpe verloor en moontlik met net een metropool sit, naamlik Durban/eTekwini.

Natuurlik bly die ANC steeds die sterkste party, maar wat hom veral wondbaar maak, is dat hy na regs én links stemme afstaan – na die DA en die EFF. Dan kom daar moontlik ’n werklike sosialistiese party by, gebore uit Numsa met Zwelinzima Vavi as groot rolspeler. Dit kan die gort behoorlik gaar maak.

Moontlik kom die EFF en die nuwe party tot ’n ooreenkoms om saam te werk, smelt dalk selfs saam – Malema en Vavi as vennote sal behoorlik die politieke vure aan die brand steek.

Onthou dat ons kiesstelsel neig om ’n veelheid van partye te akkommodeer en bitter selde een groot party toelaat om te oorheers. Dit beteken uiteraard dat koalisievorming aan die orde van die dag sal wees – soos reeds in talle dorpe die geval is.

Dit is dan wanneer die politiek interessant word – wie gaan met wie koalisie vorm?

Byvoorbeeld: Dit is baie moontlik dat nóg die ANC nóg die DA ’n meerderheid in Port Elizabeth sal behaal. Wie gaan dan met wie ’n koalisie vorm om die stad te regeer? En die vraag sal op talle kleiner dorpe ook na vore kom.

Die aanvaarding tans is dat indien die ANC ’n vennoot nodig het, hy eerder na links as na regs sal kyk – wat kan beteken dat die heethoofde in die EFF ’n baie belangriker rol as tans sal speel.

Natuurlik kan die te stigte sosialistiese groepering ook ’n vennoot word.

Hoe ook al, dit lyk of die ANC na links geruk kan word.

Nie noodwendig nie, maar dit is ’n groot moontlikheid. Behalwe dat in die stedelike gebiede mense meer gesofistikeerd dink oor die politiek. Kyk maar na Gauteng, waar die ANC sterk agteruitboer.

Is ’n koalisie tussen die DA en dele van die gematigde ANC hier ’n moontlikheid? Die tyd sal leer.

’n Nuwe bedeling lê voor. Hoe gaan die ANC reageer? Sal die moontlike draai na links hom nog meer populisties maak? Sal hy die land in ’n winter inneem?

Wat vas staan: hier kom ’n ding.

  • Harald Pakendorf is 'n Suid-Afrikaanse politieke ontleder, skrywer en voormalige redakteur van drie koerante

Lees ook die LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)-artikel deur Wynand Greffrath en André Duvenhage wat hierdie gesprek laat ontstaan het: 'n Arabiese Lente in eietydse Suid-Afrika? en ook Piet Croucamp en Anne-Marie Mischke se menings hieroor.

 

  • 2

Kommentaar

  • Soos Pakendorf self sê, die gematigdes en intellektueles verlaat die ANC. Groei berus dus by die ongeletterde 14 miljoen wat nie in die vorige verkiesing gestem het nie asook die EFF, waarskynlik 'n ANC-skepping. So 'n sterk swaai na links is ons voorland. Ons is uitgelewer aan die massas met al die nadele wat gaan volg, veral tov ras. Tragies dat FW de Klerk se wigte-en-teenwigte en vele ander beloftes omtrent nie een gerealiseer het nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top