
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Titel: Roulette
Skrywer: Sidney Gilroy
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798185127
Laat ek eers verklaar: Ek is ’n Sidney Gilroy-aanhanger. Ek het naarstigtelik sy vorige vier boeke gesoek, nadat ek Vlam uitgeneem het. Ongelukkig het ons biblioteek nie sy ander boeke gehad nie, maar danksy tweedehandse portale, kon ek die ander boeke opspoor, koop, lees en geniet.
Roulette het my spoedlees verbeter; ek het dit gulsig verslind. Ek het driekwart die boek in vir die skrywer ’n boodskap gestuur om te sê ek as tuisonderrig-ma kan nie wag vir pouse om verder te lees nie, ook dat die kinders daardie dag grootliks selfstudie sal moet doen.
Die storie handel oor sersant Sollie Mthembu en sy nuwe “vakleerder”, konstabel Gift Mokitimi, wat ’n reeksmoordenaar moet vang. Die skuldige(s) bly tot aan die einde ’n raaisel. In die boek word dit gou bekend dat iemand ’n appeltjie met iemand te skil het en terugflitse bring insig in die karakters se wêreldbeskouing.
Die hoofstukke is korterig en baie (79!), maar dit voel nie asof ek gesnoep was nie, want die pas was vinnig en die opwinding, of eerder die spanning, hoog.
Interessant is dat die skrywer nie die fokaliseerder in elke hoofstuk pertinent aandui nie, maar dis duidelik in watter karakter se wêreld die hoofstuk afspeel. Hier en daar bestaan ’n enkele hoofstuk slegs uit ’n lysie slagoffers – ’n eerste dat ek dit teëgekom het.
Dwarsdeur die boek loop die titel van die boek (ek het aanvanklik gedink dis omdat die moordlysie nie chronologies uitgevoer word nie), Bloemfontein en winter soos ’n goue draad. Die boek kan in ’n tydkapsule gesit word, omdat dit die huidige landsomstandighede (soos die verval van die platteland, verstedeliking en emigrasie) en psige van haar burgers baie goed verwoord.
Die laaste twee hoofstukke is treffend, omdat dit die leser onkant vang en oop eindes aan die verskeie storielyne in die boek gee (maar nie die leser onbevredig sal laat nie).
Ek sal enigeen wat oorweeg om die boek te koop, aanraai om so te maak en ook om Erla Diedericks se lesersindruk oor die boek te lees.
Ek moet wel bieg: Die moordtonele word visueel baie duidelik omskryf en weens die omvang van die soort vergelding, sal ek nie die boek vir my ma aanbeveel of leen nie.


