Vrystaat Kunstefees 2026: Veelsydige Nico Scheepers bring twee stukke Vrystaat Kunstefees toe

  • 0

Grafika van Leefbaar en Minke Marais van Waterdief is deur die bemarkingspanne van die produksies verskaf en verskyn met toestemming.

Twee toneelstukke van die bekroonde dramaturg en regisseur, Nico Scheepers, debuteer vanjaar by die Vrystaat Kunstefees: Waterbrief en Leefbaar.

Waterbrief is die verhaal van Nina (Minke Marais) wat na haar tragiese verdrinking die sluier lig tussen lewe en dood om na haar familie se rou te kyk. Sy sien hoe hulle ly, baklei, liefhet en wanhopig word sonder haar teenwoordigheid. Maar sy help hulle ook om weer liefdevol, lewendig en vol hoop te wees. Waterbrief is geskryf deur die bekroonde dramaturg Nico Scheepers en met die uiters talentvolle aktrise Minke Marais is dit ’n drama vir almal wat iemand liefhet wat oorlede is. Vir almal wat weet hoe oorweldigend stilte kan wees. Mariki de Villiers-Knop is die regisseur.

Leefbaar ondersoek die brose grense tussen familie, geheue en oorlewing. Wanneer Stefan (Wynand Kotze) onverwags hoor dat sy ouers op pad is – ná jare se halfsinne en ontwykende kontak – word sy noukeurig gekonstrueerde lewe stilweg ontwrig. Dit is ’n skerpsinnige en herkenbare blik op erfenis … nie net van grond of besittings nie, maar van liefde, skuld en verwyt. Met fyn waarneming en donker humor ontbloot Leefbaar die Afrikaner se byna bonatuurlike vermoë om in stilte te oorleef. Ook met Stian Bam, Nicole Holm en Jefferson J. Dirks-Korkee.

  • Waterbrief speel op 9 Julie om 20:00 en 11 Julie om 19:00 in die kykNET AWO-ouditorium. Die vertoning duur 85 minute en geen onder 13’s (Taal en volwasse inhoud) toegelaat nie. Kaartjies kos R160 en kan by Webtickets bespreek word.
  • Leefbaar speel op 9 Julie om 10:00 in die kykNET AWO-ouditorium. Die vertoning duur 90 minute en geen onder 16’s (Taal) toegelaat nie. Kaartjies kos R250 en kan by Webtickets bespreek word.
  • Nog is het einde niet! Nico se nuutste fliek, Landmyn, met onder meer Anna-Mart van der Merwe, Carla Smith en Nicole Holm, is van 4 September in fliekteaters landswyd. Dit premiere by die 14de kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai in Kaapstad. Meer inligting hier: https://silwerskermfees.co.za/digital%20films/kyknet-silwerskermfees-bly-spilpunt-vir-afrikaanse-film-en-tv-bedryf/

Hier onder is ’n gesprek tussen Maryke Roberts en Nico Scheepers.

MR: Waterbrief en Leefbaar hanteer albei swaar, emosionele temas soos rou en familiebande, maar vanuit heeltemal verskillende hoeke. Waar het die aanvanklike vonk of idee vir elkeen van hierdie twee baie spesifieke stories vandaan gekom?

NS: Sjoe, dis nou moeilik om te onthou, omdat die eerste vonkie vir Waterbrief so lank terug was. Wat eintlik gebeur het, is dat Minke Marais nog op hoërskool was toe ek daardie jaar ’n beoordelaar vir die ATKV-Tienertoneel was. Ek dink dit was 2018.

Die huidige regisseur van Waterbrief het my destyds gevra of ek nie vir haar ’n tienertoneelteks sal skryf nie. Ek was so bekoor (enamoured) deur Minke se vertolking daardie jaar, dat ek vir haar gesê het: "Oukei, maar hier is vir julle ’n uitdaging: kom ons doen ’n eenmanvertoning met ’n hoërskoolkind." Dit is natuurlik iets wat baie min gedoen word, want dis een van die moeilikste vorme van teater om suksesvol aan te bied. Maar dit was hulle tipe uitdaging.

Toe skryf ek Waterbrief. Dis altyd baie moeilik om te sê waar idees vandaan kom, maar ek het net verlief geraak op hierdie konsep van ’n meisie wat haar familie aanskou. Sy kan nie ’n ontvlugting van hule rouproses vind nie. Een van die grootste vergunnings van ons eie dood is immers dat ons nie self die rouproses van ons geliefdes hoef te beleef nie, maar sy kan dit nie ontsnap nie. So, dit is waar Waterbrief gebore is.

Hulle was later so liefdevol gewees om jare daarna te besluit om dit in ’n professionele produksie te omskep. Marieke het my gekontak en toe skryf ek teks by – seker amper 20 minute se nuwe materiaal. Dit debuteer dus nou as ’n volwaardige teaterproduksie op die fees.

En dan het Leefbaar gekom. Ek dink ’n mens moenie Leefbaar as bloot "swaar" beskryf nie, want dit is baie snaakser as wat mens dink. Dis ’n regte slice of life-blik op ’n spesifieke familie. Mense is dikwels geneig om stories wat bloot eerlik is, as swaar te beskryf, en ek stem nie altyd daarmee saam nie. Ek dink sodra die spieël vir gehore opgehou word en hulle ongemaklik raak, dan word dit as "swaar" of "diep" bestempel. Maar dit is definitief lig aan die begin en mense gaan lekker lag. Ek is net bang dat as ons in die media te veel klem lê op hoe swaar die produksie is, mense gaan wegbly.

Maar in elk geval, Jean-Wynaand, ons vervaardiger, het na my toe gekom en gesê hy het ’n idee vir ’n produksie. Hy het vir my ’n enkele sinnetjie gegee oor ’n spesifieke storiewending en dit het my dadelik geprikkel. Ek en Wynaand is baie goeie vriende; ek het al voorheen vir hom ’n teks geskryf vir sy karakter Tolla Paarden, maar ek is ook ’n baie groot bewonderaar van hom as drama-akteur.

Die geleentheid om ’n nuwe teks vir ’n hele familie van akteurs te skryf, is die grootste voorreg. Ek het baie vinnig vir hom gesê wie ek in die rolverdeling wil hê en toe begin skryf ek. Sy oorspronklike idee het intussen baie verander (soos dit maar gaan in die skryfproses) en die teks en vertoning is nou ’n unieke kreature op sy eie – net soos dit hoort. Ek is verskriklik trots daarop en kan nie wag dat dit die land vol speel nie.

MR: Jy debuteer vanjaar met albei hierdie stukke by die Vrystaat Kunstefees. Hoe kry jy dit kreatief en geestelik reg om terselfdertyd aan twee so uiteenlopende werke te slyp sonder dat die een die ander beïnvloed?

NS: Ek dink om meer as een produksie op ’n fees te hê, sou vir my moeilik gewees het as dit my eerste keer was. Maar dit is darem nou al 12 jaar, vandat ek professionele teater begin doen het wat ek meer as een produksie op ’n fees het. ’n Mens raak fiks; dis maar soos enige spier. Ek dink dit werk dieselfde as vir ’n akteur wat meer as een produksie op ’n fees doen.

Ek hou daarvan om daaraan te dink asof jou kop ’n buurt is waarin elke storie in ’n ander huis bly. Jy gaan net by die een deurtjie in, of jy maak ’n ander deurtjie toe.

.......
Ek hou daarvan om daaraan te dink asof jou kop ’n buurt is waarin elke storie in ’n ander huis bly. Jy gaan net by die een deurtjie in, of jy maak ’n ander deurtjie toe.
........

Daarby gesê, ek dink deel daarvan om eerlike werk te skep, is om te aanvaar dat die werk uit jóú uit kom. Jy moet as mens na jouself luister – na jou nukke, alles waarvan jy hou, alles wat jy haat, waar jou kop op die oomblik is en hoe jy oor die wêreld voel. Al daardie dinge gaan die "sop" beïnvloed wat jy vir hierdie mense aanmekaarsit.

So, ek dink dit is dalk ’n fout om die produksies heeltemal van mekaar te probeer afsonder. Jy moet weet dat selfs heeltemal uiteenlopende stukke, soos Leefbaar en Eugene, mekaar definitief beïnvloed – al is hulle stilisties en tematies totaal verskillend van mekaar. Jy is steeds dieselfde mens wat dit maak, so omhels (embrace) eerder die ooreenkomste as om daarteen te veg. Sit net elke kreatiewe projek in sy eie huisie in jou kop.

Dit is maar hoe ek dit doen. Ons móét meer as een produksie by ’n fees hê; dit is hoe ons oorleef.

MR: In Waterbrief skryf jy oor ’n karakter wat ná haar verdrinking die sluier lig tussen lewe en dood. Wat het jou aangetrek na hierdie bonatuurlike of magiese element om ’n universele ding soos rou te ondersoek?

NS: Wat Waterbrief se storie betref: ek is nog altyd baie aangetrokke tot magiese realisme, en die maklikste plek om dit uit te beeld, is die verhoog. Magiese realisme pas die teater eintlik soos ’n handskoen, want die teater se klei is verbeelding.

As jy magiese realisme op ’n skerm aanpak – en dit is hoekom ons dit so min in Suid-Afrika doen – kan jy dit amper nie sonder ’n massiewe begroting doen nie. Jy moet immers alles wys en die hele wêreld visueel vir die kyker skep. Teater, daarenteen, is suggestie. As ek ’n servet rondswaai en net een keer sê dit is ’n vlermuis, dan is dit wat almal vir die volgende uur sien. Dit is die toorkrag van teater.

Met iets soos Waterbrief dink ek dit is ongelooflik om die geleentheid te hê om so te kan speel. ’n Mens hoef nie te bekommer dat die gehoor vervreem sal voel of enigiets nie, want dit gaan oor die kwessies wat ons elke dag in die gesig staar.

En wat ’n wonderlike karakter! Sy is amper soos die derdepersoonsvisie – die oog van God in ’n boek. Sy kan enige plek gaan: sy kan bokant die kerk dryf by haar eie begrafnis; sy kan onder haar ma se kraag wees terwyl sy huil; en sy kan in haar boetie se lakens lê as hy in die oggend sukkel om op te staan. Sy is orals. Dit is ’n wonderlike geskenk vir ’n storieverteller, en dit is presies hoekom ek hierdie storie wou vertel.

MR: Leefbaar kyk na die "Afrikaner se byna bonatuurlike vermoë om in stilte te oorleef." Wat beteken hierdie spesifieke tipe oorlewing en stilte vir jou as skrywer, en hoekom wou jy dit juis nou op die planke bring?

NS: Ek dink die hele idee van Leefbaar – en die Afrikaner se bonatuurlike vermoë om in stilte te oorleef – is ietwat van ’n grappie, want hulle praat ongelooflik baie in hierdie toneelstuk. Maar dit is daardie wonderlike ding wat gebeur, wanneer mense só baie praat, net sodat hulle eintlik niks hoef te sê nie. Dit is daardie tipe stilte waarna ek hier verwys. Wanneer daar regtig gepraat moet word, bly die dinge wat regtig gesê moet word, ongesê. Maar ons monde beweeg die hele tyd, want die oomblik as ons ophou praat, gaan ons dalk regtig moet begin praat.

MR: Jy is bekend as ’n baie produktiewe skepper wat gereeld nuwe, bekroonde werk lewer. Wat is jou geheim om aan te hou skryf, en hoe sorg jy dat jou kreatiewe bron nie opdroog te midde van die vinnige tempo van die feeskringloop nie?

NS: Dit is ’n baie moeilike vraag om te antwoord. Aan die een kant, doodeerlik, is die rede hoekom ek so baie tekste skryf en produksies doen bloot omdat ek moet eet! En daar is twee dinge wat jou kreatiewe emmertjie volmaak: tyd saam met geliefdes, tyd met jouself, met jou gunstelingstories en boeke, die wêreld, honde en bome. Aan die ander kant maak ’n leë bankrekening jou kreatiewe emmertjie ook ongelooflik vinnig vol.

Ek meen, ons as mense is aanmekaargesit uit stories. Ons hele lewe is ’n storie; elke dag het ’n begin en ’n einde, en ’n lewe het ’n begin en ’n einde. Ek dink as ’n mens baie spesifiek raak, kan jy oor enige ding skryf.

Ek dink wat my die meeste interesseer – en dit is waarskynlik hoekom film- en TV-tekste langer neem om te skryf – is dat dit ’n samewerkende (collaborative) medium is. Die feit dat jy met mense werk, en die hele tyd met interessante nuwe mense te doen kry, is ongelooflik lekker. Dit is wat teater so maklik maak om so baie te doen.

Dit is egter moeilik om te sê waar die grens lê, want ek sal nie sê ’n mens se emmertjie loop heeltemal leeg nie; jy raak net moeg. Die spinnekoppe begin mettertyd op jou slaap, en dan vat jy maar so ’n week of twee af voor jy weer aangaan.

Hier is die program van die Vrystaat Kunstefees.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top