Vlooi en die storieboek: ’n onderhoud met Margit-Rödenbeck

  • 0

Elanza Swart vertolk die rol van Vlooi en Ilana Cilliers speeldie rol van die heks (foto’s Marinda Engelbrecht)

Margit Meyer-Rödenbeck praat met Naomi Meyer oor vanjaar se Vlooi-produksie in die Kunstekaap.

Margit, Afrikaanssprekende ouers van kinders in die grondslagfase weet dis weer die Vlooi-tyd van die jaar in die Kunstekaap. Waar het dit begin dat jy en jou span die Vlooi-reeks elke jaar in toneelgedaante aanbied? Vertel asseblief die geskiedenis en agtergrond van die produksie. 

Daar is ook ’n Engelse week – vanjaar s’n is Kipper and the Storybook. Negentien jaar gelede het my vennoot Marinda Engelbrecht met Oxford University Press gaan praat om die verhoogregte van die voorgeskrewe boekies te kry. Aanvanklik het ek die rol van Vlooi vertolk vir drie jaar. Na die eerste jaar se sukses het Kunstekaap gevra dat ons dit weer doen en nou is dit 19 jaar later. Vlooi het ook al in Pretoria en Bloemfontein gedraai en selfs in Doha, Katar.

Vanjaar is die produksie se naam Vlooi en die storieboek. Dalk kan jy iets sê van die storie wat julle vanjaar aanbied? En sommer ook hoogtepunte noem van vorige produksies.

Vlooi kan nie verstaan hoekom Biebie nie saam met hom wil sokker speel nie – en dit oor iets so simpel soos ’n storieboek! Hulle gestryery laat die towersleutel gloei en hulle beland in die magiese wêreld waar alle Stories gebore word. As hy weer by die huis wil kom, sal Vlooi moet leer hoekom Stories so belangrik is, en wat gebeur met kinders wat nie lees nie ... Vlooi en die storieboek is ’n opwindende nuwe avontuur vir Vlooi en sy maats tot in die hart van ’n storie. Waar kom stories vandaan? Hoe maak ek prentjies in my kop?

Nico Scheepers het ’n pragtige storie geskryf, juis oor lees en verbeelding. Moeilik om een Vlooi-show bo die ander te plaas; elkeen het sy eie bekoring. Die eerste Vlooi was Vlooi gaan Maan toe. Vlooi en die Koninginby was vir my visueel baie sterk. Vlooi en die sirkus was hope pret met geen “baddie” in sig nie. So baie bekendes was al deel van die produksie: Neels van Jaarsveld, Susanne Beyers, Joanie Combrinck, June van Merch, Pedro Kruger, Leon Kruger, Natalia da Rocha, De Klerk Oelofse, Kyle Secona, en ander.

Verlede jaar is julle bekroon met ’n Fleur du Cap-toekenning vir julle Vlooi-produksie. Wat het dit vir jou en jou span beteken? Bied dit inspirasie vir die volgende paar jaar se vertonings? 

Baie dankbaar, en ja, dit bly lekker om erkenning vir jou werk te kry. Vir jare was daar nie ’n kinderteater-kategorie nie en ons vra al vir jare hoekom nie. Kinderteater word dikwels misgekyk en bly van die belangrikste werk in die teater. Dikwels is ’n Vlooi-vertoning die kind se eerste kennismaking met die teater en probeer ons die standaard op alle vlakke hoog hou: spel, teks, regie, musiek, dekor, koreografie. Ons het ook al gesien dat gevestigde akteurs met groot name nie altyd “goeie” kinderteaterakteurs is nie. Jy moet ’n aanslag en chutzpah met die kids hê. En hulle moet in jou glo. Kinders is slim – jy kan hulle nie sommer ’n rat voor die oë draai nie.

Bied julle die produksie aan vir kinders dwarsoor die Wes-Kaap? Weet jy dalk van hoe ver af kinders kom om na julle opvoerings te kom kyk? 

Kinders kom van heinde en verre: Swellendam, Heidelberg, De Doorns, Worcester, Saldanha, Vredenburg, Hermanus …

Jy wat self kinders het: Dink jy teater maak stories anders lewendig as stories in boeke? Wat is verskillend en wat is eenders? Dalk kan jy ook kinders se terugvoer deel, of van jou akteurs s’n?

Lees kry altyd die eerste plek by my, want dis prentjies in jou kop en voed die verbeelding, en lees ontsluit ’n hele wonderwêreld van kennis.

Maar ek dink om ’n voorgeskrewe karakter te verlewendig is belangrik om kinders juis lus te maak om te lees. Die Vlooi-stories in die boekies is redelik eenvoudig, so ons vat sentrale temas en bou dit dan uit en voeg karakters by om die spanning en avontuur te verhoog. Natuurlik het die teater die voordeel dat ons die “magic” van die boek kan verhoog met kleur en spel.

Venue: Kunstekaap
Tyd: 9.30 en 11.00 vm elke weeksdag
Datums: 12–30 Augustus (Afrikaans: 12–16, 28–30 Augustus, 2 September; Engels: 19–23, 26 en 27 Augustus)
Produksiehuis: Krazy Katz
Vervaardigers: Marinda Engelbrecht en Margit Meyer-Rödenbeck in samewerking met Kunstekaap en Oxford University Press
Regisseur: Margit Meyer-Rödenbeck
Teks: Nico Scheepers
Stel/Kostuums/Beligting: Juanita Ferreira
Musiek: Emile Minnie
Koreografie: Kyle Seconna
Akteurs: Elanza Swart, Karli Heine, Ilana Cilliers, Kelly Jeffery en Byron McKeith

Besprekings

Louise Engelbrecht, 071 688 3033 of e-pos na marinda.vlooi@gmail.com
(Kaartjies R75; Blokbesprekings R60) 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top