Vir Eleanor Baker het dit oor menslike verhoudinge gegaan – ’n onderhoud met Marian Human-Nel

  • 1

Cliffordene Norton gesels met Marian Human-Nel oor die LitNet Akademies-artikel “Vroulike karaktersubjektiwiteit: die strategiese gebruik van nomadiese skryf deur Eleanor Baker”.

Baie geluk met jou en Hennie van Coller se LitNet Akademies-artikel.

Dankie. Prof Hennie was my studieleier met my 2009-PhD, “Die impak van sosiopolitieke verandering op die plek van vroueskrywers in die Afrikaanse literêre kanon”. Hierin het ek Eleanor Baker as gevallestudie gebruik, en ’n hoofstuk van my proefskrif is daaraan afgestaan.

Hierdie is jou tweede LitNet Akademies-artikel oor Eleanor Baker. Van waar jou belangstelling in dié skrywer?

Eintlik heel toevallig ... As jong meisie in die sewentigerjare het ek altyd resensies van Baker gesien en, ek moet bieg, nie noodwendig gelees nie. En moenie lag nie – sy was vir my ’n baie mooi vrou en haar kleur lipstiffie het altyd my aandag getrek, want daar was altyd so ’n klein foto’tjie van Eleanor by.

Eers jare later, 2003, het haar laaste ernstige werk my aandag getrek toe ek in ’n boekwinkel op die heel onderste rak van die Afrikaans-afdeling die voorblad van Die ander Marta (2002), wat ná Baker se dood verskyn het, gesien – die vrou wat haar arms vir die lewe “oopgooi” het my aandag getrek!

Dieselfde dag het ek ook Olive Schreiner se The story of an African farm (1883; die eerste keer onder skuilnaam Ralph Iron gepubliseer) aangekoop en in dieselfde week die twee romans gelees. Ek het onmiddellik die ooreenkoms van die twee vroueskrywers se denke en dit wat hulle deur hulle skryfwerk wou “sê”, raakgesien.

Alhoewel daar feitlik ’n 100 jaar verskil tussen hul tyd van lewe en skryf was, het die vraag by my opgekom: Hoekom ervaar die Suid-Afrikaanse vroue binne ’n demokratiese bestel steeds soortgelyke stereotipering, minagting en selfs verdrukking (binne die huwelik) aan dié van vroue wat 100 plus jaar gelede geleef het?

As deel van my PhD het ek verskeie Afrikaanse vroueskrywers se literêre posisie in die Afrikaanse literêre kanon (wat lank deur wit manlike spilfigure oorheers is) in ’n hoofstuk kortliks bespreek, maar Baker se 15 ernstige werke en die duidelike marginalisering van haar as skrywer en die moontlikheid dat die vroulike tematiek van haar werk daartoe kon bygedra het, het vir my ’n uitdaging om na te vors geword.

Na aanleiding van jou navorsing, is jy van mening dat Eleanor Baker doelbewus die patriargale grense van die 1970’s oorskry het, of het sy slegs haar werklikheid reflekteer en uitgedaag?

Nee, definitief nie. Ek het nooit die gevoel gekry dat Baker feministies aanvallend teenoor die patriargale bestel geskryf het nie. Vir haar het dit oor menslike verhoudinge gegaan en haar werklikheid is in ’n groot mate bepaal deur haar man se werk as diplomaat. Sy self was, soos baie (selfs werkende) vroue, verbind tot haar posisie in die huwelik en die patriargale verwagtinge wat (vandag waarskynlik steeds) as vanselfsprekend aanvaar is (of moontlik steeds word).

Dus, ja – ten opsigte van die vroulike tematiek van haar skryfwerk het sy haar werklikheid reflekteer, maar dit was in ieder geval die situasie waarin die meeste (Suid-Afrikaanse/Afrikaner-) vroue hulself binne die huwelik bevind het (en vandag waarskynlik steeds bevind – daarom is haar werk vandag stééds relevant). En ander Afrikaanse vroulike skrywers het (waarskynlik agv die sosiopolitieke omstandighede van die ’90’s – waarskynlik onbewustelik) eintlik by Baker as vroueskrywer binne die Afrikaanse literatuursisteem aangesluit: Vryheid van spraak het vir meer vroue ’n “stem” gegee en “deur te skryf” kon ook hulle hul stem laat hoor. Veranderende literatuuropvattings binne die Afrikaanse literêre kanon het dit natuurlik ook moontlik gemaak.

Waarom fokus die artikel op agt van Baker se ernstige romans? Aan watter vereistes moes die romans voldoen vir jou navorsing?

Eintlik kon al 15 haar ernstige werke ingesluit gewees het, maar dit sou die artikel hopeloos te lank gemaak het. Hierdie agt tekste het inderwaarheid self uitgestaan omdat die ontwikkelingsgang ten opsigte van dit wat Baker wou “sê”, duidelik na vore gekom het.

Maar ook omdat daar deurentyd kruisverwysings was/is – asof die agt tekste voortdurend met mekaar in gesprek was. Dit was asof vrae rondom die wese van “vrouwees” wat alreeds met Monica (1978) gevra is, met elkeen van haar opeenvolgende tekste of daaropvolgende teks aandag gekry het en dat Die ander Marta (2002) afsluitend uitsluitsel oor al hierdie sake gegee het. Kommunikasie – veral in die huwelik, is die behoud van elkeen (die vrou én die man) se menswees op alle vlakke van menslike verhoudings! 

Hoe het Eleanor Baker se skryfwerk die Afrikaanse feministiese beweging in literatuur beïnvloed?

Binne die Afrikaanse literatuursisteem – geensins nie. En juis dit is dit wat die herwaardering van haar werk vir my as navorser noodsaaklik en so uitdagend gemaak het. Die aandeel wat sy kon gehad het, is misgekyk, en in die proses ook haar aandeel as skrywer binne die Afrikaanse literêre sisteem (ek het dikwels trane moes afvee en nou ook).

In jou vorige artikel vra jy: “Het die vroulike perspektief en tematiek in Eleanor Baker se werk haar plek in die kanon negatief geraak?” Ervaar skrywers met vroulike perspektief en tematiek in hul werk steeds dat dit hul plek in die kanon negatief beïnvloed?

Met my PhD het ek vroue se skryfwerk (en wel dié wat geskryf het om as “skrywers” gesien te word) vanaf die vroegste tye tot aan die einde van die vorige eeu, nagevors. Ek het verskeie kon raaklees (as deel van ’n resepsieondersoek) wat uitsluiting ervaar het.

Tog was daar ’n paar (’n handjievol) wat wel erkenning binne die Afrikaanse literatuursisteem gekry het. Die situasie het egter gedurende die negentigerjare verander. Sosiopolitieke verandering word in veranderende literatuuropvattings weerspieël en dit sou waarskynlik die rede hiervoor wees. Of die vroulike perspektief en tematiek vandag steeds vroueskrywers se plek in die literêre kanon beïnvloed, kan ek nie beaam nie.

Dit vra om in die toekoms nagevors te word. Die uitwerking van gebeure in die Suid-Afrikaanse samelewing, die wedersydse beïnvloeding tussen dié “werklikheid” en dit wat deur skrywers daaroor geskryf word (en dit wat as “literêr” beskou word), sal altyd ’n bron vir toekomstige navorsing wees.

Lees ook

Literêre prestige: Die geval Eleanor Baker

Eleanor Baker (1944–2002)

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Antoinette le Roux

    Eleanor is my suster en ek vind die artikel en navorsing en gevolgtrekking baie interessant. Ekself het Afrikaans gedoseer en 2 van haar boeke vir die IEB-skoolkurrikulum gedoen. Groot duiwels dood vir graad 12 en Weerkaatsings vir graad 10. Ekself het verlede jaar my PhD in geskiedenis deur Unisa gedoen. Dankie!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top