Vroulike karaktersubjektiwiteit: die strategiese gebruik van nomadiese skryf deur Eleanor Baker

  • 0

Vroulike karaktersubjektiwiteit: die strategiese gebruik van nomadiese skryf deur Eleanor Baker

H.P. (Hennie) van Coller en Marian Human-Nel, Departement Afrikaans en Nederlands, Frans en Duits, Universiteit van die Vrystaat

LitNet Akademies Jaargang 17(2)
ISSN 1995-5928

 

Opsomming

Hierdie artikel dien as ’n herwaardering van Eleanor Baker, ’n enigsins miskende vroueskrywer binne die Afrikaanse literatuursisteem. Baker het liefdesverhale onder verskeie skuilname geskryf, maar het ook, met 15 “ernstiger” tekste wat onder haar eie naam verskyn het, erkenning in die Afrikaanse literêre kanon nagestreef. Die feit dat sy oor die lewe van vroue, en haar siening daaromtrent, geskryf het, het die resepsie van haar werk waarskynlik negatief beïnvloed. Die doel van hierdie artikel is om binne die teoretiese raamwerk van Braidotti (2014) se begrip nomadiese skryf Baker se veranderende uitbeelding van die vrou en vrouwees deur ’n resepsieondersoek te volg en te bespreek. Die onderliggende hipotese is dat Baker hardnekkig haar eie weg ingeslaan en bly skryf het oor vroue se strewe na ’n ander identiteit as dié van die onderdanige vrou, en die gestereotipeerde voorstelling daarvan. Ondanks die feit dat haar werk in botsing was met die literatuuropvattings van hoofsaaklik manlike hekwagters, het sy haarself as nomadiese skrywer daarteen verset en voortgegaan om vroue as onafhanklike individue uit te beeld. 

Trefwoorde: kanonisering; karaktersubjektiwiteit; literatuuropvattings; marginalisering; nomadiese skryf; patriargale bestel vs. feministiese sienings

 

Abstract

Female character subjectivity: the strategic use of nomadic writing by Eleanor Baker

This article serves as a re-evaluation of Eleanor Baker, a somewhat undervalued author within the Afrikaans literary system. Baker wrote love stories under various pseudonyms, but also 15 “serious” literary texts under her own name, striving for literary recognition and inclusion in the literary canon. All her novels dealt with women in crises, often in precarious personal relationships. It is possible, even probable, that this subject matter negatively impacted on the literary reception of her work. In this article Braidotti’s (2014) concept of nomadic writing is used as a theoretical framework to analyse Baker’s evolutionary representation of women and womanhood, with the focus on the reception of her work. The underlying hypothesis is that Baker stubbornly represented women as striving for new identities, scorning the traditional stereotyped feminine position of subordination to men. Notwithstanding the fact that the traditional literary “gatekeepers” were men, Baker embraced nomadic writing in her uncompromising representation of the Afrikaner woman and wife.

Keywords: canonisation processes; character subjectivity; concepts of literature; marginalisation; nomadic writing; patriarchy vs feministic approaches

 

1. Inleiding 

“Ek skryf omdat skryf amper al is wat ek wil doen.” (Uit Baker se “sêgoed”)1

Eleanor Baker (1944–2002) publiseer oor ’n tydperk van drie dekades – van die begin van die 1970’s tot haar dood in 2002. Gedurende hierdie tydperk word die Afrikaanse literêre sisteem deur veranderende literatuuropvattings gekenmerk. Binne die Afrikaanse literêre sisteem het literatuuropvattings gedurende hierdie sowat 30 jaar dikwels ook die ideologieë van sekere sosiale groeperinge soos dit in die samelewing voorgekom het, verteenwoordig (Human-Nel 2009:119–228).

Patriargale sienings ten opsigte van geslag – “geslagspolitiek” (Van Niekerk 1999:308, Human-Nel 2009:4 en 105–4) – was onderliggend deel van literatuuropvattings van hekwagters wat gedurende die periode 1972–2002 oorwegend manlik (en wit) was. Die patriargale bestel soos wat dit as deel van Afrikanerskap binne die Suid-Afrikaanse samelewing voorgekom het, was weens veranderende politieke omstandighede onder druk en het ook verandering binne die literêre sisteem meegebring. Veranderende magsposisies in die samelewing is ook in literatuuropvattings weerspieël: 

The story of Afrikaans literature is one of changing values. The combination of religion, patriarchy and nationalism, so boldly proclaimed in the earliest Afrikaans writing, was tested, nuanced and adapted through the years; and ultimately discarded. (Van der Merwe 1994:8) 

Baker was maar alte bewus van dié literatuuropvattings of poëtikale verwagtinge binne die Afrikaanse literatuursisteem. Sy het dus, voorkomend, strategies opgetree deur self onderskeid te tref tussen haar lae en hoë literatuur: ’n Groot hoeveelheid van haar gewilde ontspanningsliteratuur het onder skuilname verskyn, terwyl sy self die 15 ernstige tekste wat onder haar eie naam, Eleanor Baker, verskyn het, as haar hoë literatuur geklassifiseer het. Baker se ernstige oeuvre strek van 1972 tot 2002. Dit was dié ernstige werke wat debatte uitgelok het. Human-Nel (2009) kom in haar proefskrif “Die impak van sosiopolitieke verandering op die plek van vroueskrywers in die Afrikaanse literêre kanon” tot die gevolgtrekking dat Baker se vroulike tematiek, haar toeganklikheid en haar warsheid van politieke betrokkenheid grootliks tot haar marginalisering bygedra het. Dit was ook dié ernstige skryfwerk van Baker wat haar plek in die Afrikaanse literêre kanon negatief beïnvloed het (Human-Nel 2009:289–342).

Human-Nel en Van Coller (2016a) sluit hul vorige artikel, “Literêre prestige – die geval Eleanor Baker” af deur te vra of “die vroulike ervaring wat voorop staan” in haar skryfwerk “saam met die tipiese ‘vroulike’ tematiek van huis en haard en verhoudings, nie die oorsaak van negatiewe beoordeling deur veral manlike resensente was nie”. Alhoewel Baker se literêre prestige in die vorige artikel deur die navorsers gestel en beredeneer is, is daar nog nooit gekyk na haar keuse om spesifiek oor die lewe van vroue en vrouwees te skryf nie. Vroeg reeds in haar skrywersloopbaan verklaar sy – ondanks die feit dat literatore en resensente as hekwagters se verwagtinge juis politieke betrokkenheid was – dat sy nie oor die “groot probleem van ons tyd – die wit-swart-verhouding” wil/wou skryf nie, maar eerder oor “maatskaplike en menslike probleme” (Scholtz 1974:4). Ondanks negatiewe kommentaar op en beoordeling van haar “ernstige” skryfwerk en spesifiek die vroulike tematiek daarvan, maak sy ’n bewustelike keuse om in haar daaropvolgende skryfwerk, in ’n nuwe publikasie/publikasies eerder betrokke te wees by die wese van die vrou as mens en nie by die politiek van die dag nie.

Inderwaarheid het Baker dus teen die Afrikaanse literêre kanon reageer. Sodanige skrywersoptrede word in onder andere Deleuze en Guattari (2003) se filosofie van nomadisme vervat: “Nomadism […] involves refusing to be tied down by set categories and definitions. It is driven by a desire to experiment and explore, to learn, grow, and boldly venture forth on creative lines of flight” (Rayner 2013). “Skryf as nomadiese subjek” is derhalwe ook ’n sterk verset teen vaste kategorisering en geykte verwagtings; in die geval van Baker wat betref die “plek van die vrou” of die aard van “vroulike skryfwerk”.

Daarom word met die huidige artikel van die hipotese uitgegaan: 

  • dat Baker ondanks poëtikale besware en heersende literatuuropvattings alreeds in die 1970’s patriargale grense oorskry het
  • dat Baker deur haar verskillende vrouekarakters wou illustreer dat daar geen vaste kategorie van “vrouwees” bestaan nie
  • dat sy vroulike hoofkarakters aan die woord gestel het om haar eie standpunt oor die vrou se posisie in die samelewing oor te dra
  • dat veranderende literatuuropvattings daartoe bygedra het dat Baker strategies op die resepsie van haar werk en dus ook teen die Afrikaanse literêre kanon reageer het.

 

2. Nomadiese skryf – ’n teoretiese benadering

“’n Goeie skrywer is een waarin jy jouself herken, wat jou waarneming bevestig en by jou die gevoel wek: só sou ek dit ook wou doen.” (Uit Baker se “sêgoed”)

Deleuze en Guattari (2003:xxviii) gaan uit van die standpunt dat “writing lies not only in what he says, or even in how what he says reveals a psychology of the author, but in the effects that the writing establishes in being written-in.” Nomadiese subjektiwiteit as filosofiese benadering word binne die Afrikaanse literatuursisteem deur Anker (2007) gesien as “’n skisoanalitiese beskouing oor karaktersubjektiwiteit”: Wat die skrywer “sê”, of dit waaroor daar geskryf word, vertel veel van die skrywer as konkrete outeur. Verder beskou Anker (2007:31–2) “Deleuze/Guattari se konseptualisering van die letterkunde” as “’n kwessie van styl”. Anker haal Deleuze en Guattari uit Anti-Oedipus (2003a:133) soos volg aan:

This is what style is, or rather the absence of style – asyntactic, agrammatical: the moment when language is no longer defined by what is says, even less by what makes it a signifying thing, but by what causes it to move, to flow, and to explode – desire. For literature is like schizophrenia: a process and not a goal, a production and not an expression.

Tydens die navorsing vir hierdie artikel se teoretiese begronding het dit duidelik geword dat die begrip nomadiese subjektiwiteit binne die poststrukturalisme in verskeie teorieë, studies en deur verskeie navorsers beredeneer is. Dit is ook Anker (2007:1) wat noem dat “Rosi Braidotti se werk Nomadic subjects (1994) [...] miskien een van die bekendste voorbeelde” hiervan is. Sedertdien het Braidotti dié geformuleerde teorie verskeie keer herskryf, onder andere in Nomadic theory: The portable Braidotti (Braidotti 2012), waarin ’n teoretiese raamwerk daargestel word om (ook) geskrewe tekste in perspektief te stel. Braidotti se nomadiese teorie beskryf ’n volhoubare moderne subjektiwiteit. ’n Alternatiewe teoretiese benadering vir die bestudering van menslike gedrag asook kulturele en sosiale kritiek word daargestel. Braidotti (2011:4) dui aan dat 

[t]he central concern for my nomadic subject is that there is a noticeable gap between how we live – in emancipated or postfeminist, multi-ethnic globalized societies – and how we represent to ourselves this lived existence in theoretical terms and discourses. 

Braidotti se herskrywing van haar nomadiese teorie gedurende 2014 bevestig

the need for more creativity or new figurations rests on the awareness that there is a noticeable gap between how we live – in emancipated or post-feminist, multi-ethnic globalized societies, with advanced technologies and high-speed telecommunication, allegedly free borders and increased border controls and security measures – and how we represent to ourselves this lived existence in theoretical terms and discourses. The systems of theoretical representation we have inherited from critical theory in the past are simply inadequate to the task. (Braidotti 2014:176) 

Dus ontwikkel Braidotti ’n positiewe, kritiese teorie wat genealogiese politieke wetenskap vernuwe:

Political theorists have addressed this pseudo-nomadism as a feature of advanced capitalism, notably Hardt and Negri, Virno and the group gathered round the journal Multitudes.2 My nomadic subject is part of the same theoretical tradition, though genealogically it plunges its roots in feminist theory and anti-racist politics. (Braidotti 2014:177)

Wanneer daar aanvaar word dat Baker se posisie in die Afrikaanse literêre kanon in ’n groot mate bepaal is deur “geslagspolitiek” (Van Niekerk 1999:308), dien teoretiese uitgangspunte rondom “skryf as nomadiese subjek”, of dan ook deur Braidotti (2014) “nomadiese skryf” genoem, as een van die mees gepaste navorsingsinstrumente. (’n Ander een sou “selfvoorstelling” kon wees en wel deur die gebruikmaking van onder meer die begrip postuur [Erasmus-Alt 2019:75–133].) Die navorsers se keuse om Braidotti se teorie oor “nomadiese skryf” te gebruik, word ook gemotiveer deur die feit dat Braidotti geïnspireer word deur die Deleuziaanse vitalisme.3 ’n Verdere aanknopingspunt vir hierdie artikel word hiermee geaktiveer, want Baker se skryfwerk word, soos Deleuze en Guattari (2003b:19) in Kafka. Toward a minor literature dit beskryf, ’n verfyning van haar eie natuur. Baker die konkrete outeur dui telkens in haar tekste deur haar vroulike karakters aan die woord te stel aan dat

  • die ongewone deel is van die gewone alledaagse bestaan
  • die ongewenste alledaagse bestaan noodsaaklik is
  • die grens tussen die werklike en onwerklike en dié tussen die normale en die abnormale moeilik onderskeibaar is.

Voorts word beklemtoon dat die mens (en dus ook die vrou as mens) altyd in verhouding met ander (en spesifiek ’n man of mans) staan, maar veral dat ’n man en ’n vrou se uitkyk of lewensbeskouing oor al hierdie bogenoemde aspekte, verskil. Hieruit kan egter ook afgelei word dat Baker geen ingrypende verset soos dié van aggressiewe feminisme gebruik het nie – en wel omdat sy deeglik bewus was van die normatiwiteit van die literêre sisteem van haar tyd, veral ten opsigte van dit wat op daardie stadium nié gesê moet/mag word nie – “negatief-georiënteerde poëtika” soos De Geest (1996:179) daarna verwys.

By Baker, die konkrete outeur, was daar egter ’n intense “will to-know, the desire to say, the desire to speak, it is a founding, primary, vital, necessary and therefore original desire to become” (Fenoulhet 2013:9) – tipiese eienskappe van “skryf as ’n nomadiese subjek”. Fenoulhet (2013:2) bestudeer ook die werk van Braidotti en beskryf hierdie intense skrywersdrang – sodanige mobilisering – as “the basic human mode of being”. Deurdat sy skryf, vind ’n proses van mobilisering tot ’n ander vlak van vrouwees of selfs dan menswees vir Baker self as konkrete outeur plaas. “Skryf” word vir Baker ’n medium waardeur sy haar eie lewensbeskouings – haar “immanensie” – kan mobiliseer: ’n proses van “becoming above states of being” (Fenoulhet 2010:12); dit wat beskryf word as ’n strewe na identiteitsverandering. Baker maak van skryf gebruik om haar siening en standpunt oor die wese van die vrou en die vrou se alledaagse bestaan uit te druk – om te kan “sê”.

Deur hierdie resepsie-ondersoek, asook by die lees van haar werk, word dit duidelik dat Baker as mens (die konkrete outeur) deurentyd streef na ’n ander bestaan as die alledaagse of aanvaarde, of selfs dit wat binne die patriargale bestel van die vrou verwag word. Hierdie strewe na, of dan “becoming”, ’n ander status van vrouwees is ’n belangrike begrip “as it allows for new subject-formations rather than fixed identities” (Fenoulhet 2010:12). Die wyse waarop Baker hierdie nomadiese subjek in haar skryfwerk betrek, behels “an approach that took human mobility as starting point” (Fenoulhet 2010:1). Braidotti se begrip writing-as-a-nomadic-subject word deur Fenoulhet (2013) as funksioneel gesien en wel omdat dit ’n ideale benadering is om feministies-gedrewe sienings – in dié geval vroulike skrywers se skryfwerk of feministies-gedrewe skriftelike tekste – te bestudeer:

[T]he nomadic subject allows conjugate feminist politics with a variety of other powerful political and theoretical concerns and locations. The nomadic subject state has the potential for positive re-naming, for opening up new possibilities for life and thought especially for woman and, even more for female feministic woman. (Fenoulhet 2013:9)

Wanneer Braidotti (2014:1) dan verklaar: “Writing is an intransitive activity, a variation on breathing, an end in itself; it is an affective and geometrically rigorous mode of inscription into life”, sluit dit aan by wat Baker die konkrete outeur ook verklaar, naamlik dat “skryf” al is wat sy “wil” doen. Daarom is dit vir die navorsers ’n uitdaging om Baker en haar skryfwerk te lees “vanuit ’n vereenvoudigde” maar reeds bewese en “bruikbare, kartering van die nomadiese subjek” (Anker 2007:3). Braidotti se siening van “nomadies skryf” sal dus gebruik word as invalshoek tot die ondersoek – “as a lens through which to view novels”. Vanuit hierdie invalshoek sal aangedui word hoe Baker vrouwees as nomadiese subjek in haar skryfwerk hanteer het.

Hierdie artikel sal vervolgens fokus op Baker se gebruik van haar vroulike karakters

  • om te sien hoe hierdie vroulike karakters wat sy telkens in haar opeenvolgende ernstige skryfwerk skep, se subjektiwiteit funksioneer
  • om verder uit te vind hoe hierdie karaktersubjektiwiteite wel as nomadiese subjektiwiteite gelees kan of moet word.

Om hiérdie resepsie-ondersoek te onderneem is:

  • met twee soorte resepsieverslae gewerk, naamlik besprekings en beskouings wat as ’n eerste reaksie ná die publikasie van ’n roman verskyn het, en ander wat vanuit ’n agternaperspektief – hoofsaaklik in literatuurgeskiedenisse – geskryf is
  • op agt van Baker se ernstige romans gefokus, en wel omdat die uitbeelding van die vrou en vrouwees hierin besonder sterk na vore kom.

 

3. Karaktersubjektiwiteit – uitbeelding van die vrou en vrouwees 

“Skryf is vir my ’n baie individuele ervaring. Wanneer ek aan ’n boek werk, voel ek: Dis my eie ding dié.” (Uit Baker se “sêgoed”)

Alreeds gedurende die 1970’s stel Baker vroue as vertellers in haar verhale aan die woord. Die vrou word van die begin van haar oeuvre wat storie (fabula) én verhaal (sujet) betref, vooropgestel. Daar word nie net vanuit ’n vroulike perspektief vertel nie; dit gaan primêr om vroue wat ontvlugting uit emosioneel ontwrigtende situasies soek. Die name wat Baker vir haar hoofkarakters kies4 word metafories deel van “skryf as nomadiese subjek”; die aard van hul vrouwees. ’n Vraag wat telkens by ’n vroulike karakter ontstaan, is of haar alledaagse bestaan haar lot is; of dit die vrou se ware werklikheid is. Vertellings word ’n spel tussen die “saaie werklikheid en ’n amper makabere moontlike werklikheid” (I. van Zyl 1978:2). 

Die navorsing word op twee vlakke ’n studie van vroulike subjektiwiteit: Eerstens skryf Baker oor “die soort lewe wat baie vroue lei” (Grobler 1996:5) en oor die lewe wat sy as konkrete outeur self as vrou leef, beleef en gelewe het. Haar belewing van vrouwees en die neerpen daarvan verteenwoordig nie net haar eie nie, maar ook die lewens van baie vroue as sosiale groepering. Baker gebruik vroulike hoofkarakters om namens haar die lewe wat “hulle” lei te verwoord; om die vroulike geslag se strewe na bevryding – emansipasie – te beskryf. Dus maak sy gebruik van vroulike karakters om as “spreekbuise” op te tree. Dit wat deur Anker (2007:3) as “karaktersubjektiwiteit” benoem word, word deur Baker strategies aangewend om aan te dui dat dit vir haar nie slegs maar gaan om die emansipasie van die vrou nie, maar veral oor die emansipasie van die vrou as mens binne haar alledaagse bestaan.

Tweedens gaan dit vir haar – Baker, die konkrete skrywer – ook oor haar emansipasie as ’n vroulike skrywer in die Afrikaanse literatuursisteem. Vir Baker was dit belangrik om haarself as vroulike skrywer te posisioneer binne ’n literatuursisteem waarvan die sentrum, die Afrikaanse literêre kanon, oorwegend oorheers is deur mans wat bepaalde literatuuropvattings gehuldig het (Human-Nel en Van Coller 2016a:89). Baker het die wese van die vrou en die ware omvang van wat dit is om ’n vrou in ’n huweliksverhouding te wees, “ernstig” genoeg geag as onderwerp/tema/“subjek” om oor te skryf. Haar strewe was dus by uitstek om met haar 15 ernstige tekste wat sy self as hoë literatuur van haar ander skryfwerk onderskei het, emansipasie vir haarself in die Afrikaanse literêre kanon te bewerkstellig. Baker het dié sentrum begin uitdaag, en dit het geskied deur middel van “nomadiese skryf” – om te wees, om te skryf, is om te word (Anker 2007:539).

3.1 Monica (1978)

Dit hou nooit op nie en dit sal nooit ophou nie. Dit sal aanhou van nou af tot in ewigheid, amen. En aan die einde sal daar niks wees om te wys nie en niemand sal ooit weet hoe sy dit gehaat het nie.

Met hierdie uiting dui Monica (betekenis: uniek, raadgewer, non, afgesonder), die hoofkarakter, aan dat sy as ’n onvergenoegde huisvrou vasgevang voel in haar omstandighede binne die huwelik. Vir haar man is dit ’n eer dat sy vrou nie hoef te werk nie. Sy voel dat die feit dat sy nie hóéf te werk nie, haar die geleentheid ontneem om haar intelligensie en uniekheid uit te leef. Sy voel egter nie net vasgevang in haar alledaagse bestaan nie, maar ook weens ’n eksistensiële krisis: ’n buite-egtelike daad. Sy bieg hieroor by ’n ander vrou; dit word later teen haar gebruik. Skuldgevoelens dwing haar om oor haar lewe te herbesin. Sy besef dat die huisopset eintlik vir haar ’n skuiling bied.

Volgens Brink (1978:17) het Baker “in Monica haar doelbewus die veeleisende taak opgelê om met ’n uiters skraal en selfs ‘onbelowende’ gegewe ’n eng raamwerk op te stel waarbinne sy indringend en sekuur die nagmerrie in die hart van die alledaagse kon ontgin – so naarstig en kompromisloos soos enige ontdekkingsreisiger”. Eers sowat tien jaar later verklaar Brink (1988:102) dat Baker veel meer as slegs ’n “sintaktiese neerslag van vroulikheid” in haar skryfwerk betrek. Maar met Monica was Baker se siening oor vrouwees alreeds daar en die begin van ’n nomadiese subjek om haar siening oor die lewe en bestaan van die vrou te verwoord. Hiermee het sy ’n ideologiese grondslag vir die vroulike visie en die vrou se belewenis van vrouwees gelê.

Ten opsigte van die toepassing van haar vroulike perspektief was Baker haar tyd vooruit, want feministiese tekste word eers gedurende die 1990’s werklik ’n neiging binne die Afrikaanse literatuursisteem. Gedurende die 1970’s was skryfwerk vanuit ’n feministiese invalshoek soos dié van Baker wat in Monica aangetref word, nog nie algemeen nie en was “feministiese werke of verhale waarin die feministiese denke eksplisiet uitgedra word, nie ’n algemene verskynsel in Afrikaans nie” (De Jong 1992:127). Baker se betrokkenheid by geslagspolitiek het alreeds gedurende die 1970’s met Monica buite die grense van die Afrikaanse literêre kanon van die periode geval. In daardie stadium het Baker se skryfwerk eerder aangesluit by ’n “Europees-Westerse feministiese oplewing” omdat “daar (waarskynlik tot op daardie stadium) geen Afrikaanse feministiese beweging ten opsigte van die literatuur bestaan het nie en ook geen Afrikaanse feministiese literêre tradisie nie” (De Jong 1992:127).

Human-Nel (2009:227, 294, 304) wys verder daarop dat hierdie vroeë gebruikmaking van geslagspolitiek ook kon wees vanweë Baker (as eggenoot van ’n diplomaat) se konkrete buitelandse blootstelling hieraan. Baker se aanslag was egter nooit ’n uitdagende feminisme nie; en aanvanklik nie aanvallend teenoor die patriargale bestel nie (sien 3.7 en 3.8). Sy het strategies te werk gegaan en het aan die begin van haar skrywersloopbaan wel gepoog om hierdie strewe na ’n ander vrouwees ten gunste van die “positief-georiënteerde poëtika” (De Geest 1996:179) – dit wat op daardie stadium “gesê” kon word – te verwoord. Dat Baker hierdie biografiese aspek deurgaans in onderhoude vermeld het, is ook ’n manier van selfvoorstelling en beklemtoon iets van die “uitsonderlike”. 

Menslike verhoudinge is ’n sentrale tema in Baker se werk. Deur die gebruik van die motto “Humankind cannot bear very much reality” (’n aanhaling uit Four quartets [“Burnt Norton”] van T.S. Eliot) raak Baker ’n lewenswaarde of lewensbeskouing aan wat op haar eie konkrete lewenservarings dui. Met Monica wil Baker iets sê rakende die vrou se rol teenoor haar man in die huwelik; haar spesifieke verantwoordelikheid in hul huweliksverhouding. Die nomadiese subjek waarmee Baker werk – vrouwees – word gedryf deur ’n hele proses: die strewe na ’n ander identiteit as die tradisioneel gestereotipeerde onderdanige vrou in die huweliksverhouding. Met Monica gryp Baker na die werklikheid van die alledaagse sleur van ’n vrou se bestaan. Volgens D. van Zyl (2006:205, 2015:315) “reflekteer die roman die engheid in ’n gemeenskap wat vroue as ‘ontmagtigdes’ opvoed aan die hand van starre konvensies en die Bybel”.

Alreeds met Monica bevraagteken Baker die patriargie en die gestereotipeerde of die tradisionele rol van die vrou in die huwelik, hier spesifiek die beperkinge wat haar rol as huisvrou vir haar as mens inhou: Is die kerk, kinders en kombuis haar enigste huis en vesting? Die hoofkarakter se naam beteken “alleenheid” en hierdie naam is derhalwe simbolies van haar eie toestand as eggenoot én mens. Alhoewel sy ’n unieke persoonlikheid het, in haar samelewing waarskynlik ’n raadgewende rol kon speel, word haar lewe ingeperk tot die huis soos dié van ’n non tot ’n klooster; dit wat sy kan bied – haar lewenswaarde – word ingeperk tot dié van ’n huisvrou. Die strak uitdrukking van die vrou op die voorblad is funksioneel vooruitwysend na dit wat Baker wil “sê”. Eers aan die einde van die leesproses word dit vir die leser duidelik dat die vrou op die voorblad – hiérdie Monica – verteenwoordigend is van baie ander “Monicas” en die vrou se alledaagse (en soms eensame) bestaan. Die teks Monica op sigself word ook vooruitwysend na Baker se siening omtrent “vrouwees”, dus as nomadiese subjek. Elke vroulike karakter wat sy hierna skep se persoonlikheid word betekenisdraend van een of ander bestaanskrisis van dit wat in die naam Monica opgesluit lê. 

Die ironiese gebeur egter in Monica, die verhaal van die “huisvrou wat uit die sinloosheid van haar bestaan deurbreek tot wat die filosowe outentisiteit sou noem” (Brink 1978:17). Baker sê hier alreeds iets van vrouwees wat teenstrydig is met die tradisionele rol van die vrou in die huwelik. Ondanks hierdie “deurbraak” keer hierdie huisvrou eerder terug na “die veiligheid van haar huis”; sy kom tot die “besef dat sy in die veiligheid van haar huis wil bestaan, haar lot wil aanvaar” (Johl 1978:7). Sodoende bevestig Baker ’n verdere werklikheid: Die huis as ruimte/plek skep ’n milieu waarmee die patriargale behoud van die tradisionele rol van die vrou in die huwelik vereenselwig word. Die huis (wat hier die vrou se verantwoordelikheid ten opsigte van die kombuis, kerk en kinders versinnebeeld) word as die vrou se plek (ruimte/omgewing) beskryf – daar waar sy hoort. Baker gebruik hiérdie metafoor deurgaans in haar skryfwerk: Dit “herinner aan Baker se laaste roman Die ander Marta, waarin Marta uiteindelik losbreek asook aan die situasie van die vroueskrywer Sophia in Verbeelde werklikheid” (D. van Zyl 2015:315). Alreeds by die lees van Monica bring Baker die besef dat die vrou se posisie of plek in die huwelik ’n skuiling (soos ’n klooster vir ’n non) vir die vrou kan bied, by die leser tuis. 

Verder het Baker met hierdie teks alreeds gedurende die 1970’s ’n geleentheid/ruimte geskep vir vroueskrywers soos Winterbach se Karolina Ferreira en Marita van der Vyver se Griet skryf ’n sprokie, wat gedurende die 1990’s eers/ook tot dié slotsom kom, en dit bevestig dat Baker wel haar tyd ten opsigte van hierdie aspek vooruit was (Human-Nel 2009:250–3; 256–71). Van der Vyver sou later inderwaarheid soortgelyke temas as Baker gebruik, maar het weggestuur van die gelukkige eindes wat deurentyd en tot met Baker se laaste roman, Die ander Marta, wel die geval was (Van Coller 2006:485–91). Ondanks die siening dat “verhale wat oor vroue handel; binne familie- en liefdesverhoudings, huwelike en egskeidings; as werkende en alleenlopende vroue, enkelouers; verhale waarin die verhouding met mans dikwels sentraal staan” (Roos 1998:105) as populêr of hoogstens gewilde prosa geklassifiseer was; ondanks die degradering van menslike verhoudinge as kontekstuele materiaal vir die inhoud van haar tekste, word dit Baker se skryfmateriaal, haar boodskap – dit wat sy wou “sê”.

3.2 ’n Geslote boek (1981) 

Mense kan baie onvoorspelbaar wees. Soos wonderboontjies wat uit jou hand spring wanneer jy dit nie verwag nie. 

Mense, wonderboontjies en boeke word vir die vroulike hoofkarakter, Magdaleen, metafories van die onvoorspelbare wat die wêreld vir haar inhou, maar tog ook dat dié onvoorspelbare – die ongewone – eintlik deel is van die gewone. Magdaleen (oorsprong: Bybelverwysingnaam, van ’n klein dorpie, prostituut) is in die buiteland ’n sekretaresse wat namens haar werkgewer moet omsien na sakemanne en hul gades se vervoer van en na die lughawe. Sy moet ook gasvrou wees by hierdie gaste se oornagverblyf. Haar waarneming van hulle verhoudings en optrede laat haar besef dat elke mens ’n geslote boek is; geslote vir mekaar. ’n Vriendin se dood verander egter haar uitkyk op die wêreld. 

In ’n Geslote boek maak Baker weer eens van ’n vroulike (ek-) verteller gebruik, maar dit word volgens die meeste resensente ’n ietwat negatiewe weergawe of dan cliché van die huisvroulike bestaan. Baker sê hier egter veel meer van dit wat vrouwees in die huwelik beteken; iets wat moontlik as gevolg van die patriargale verwysingsraamwerk van manlike hekwagters misgekyk is. Inderwaarheid skep die titel van die teks ’n poëtikale uiting wat sinspeel “op die aard van die mens” (I. van Zyl 1982:2).

Met ’n Geslote boek word die indruk geskep dat die geslotenheid tussen man en vrou ’n normaliteit of algemene verskynsel van die huwelik is. Wanneer die manlike en vroulike karakters (Paul en Magdaleen) na vele misverstande en verhoudingintriges mekaar vind, word in die verhaal voorgegee dat sodanige intriges in werklikheid ook ’n deel van menslike verhoudings of selfs die verbintenis tussen ’n man en ’n vrou in die alledaagse samelewing is. Eintlik is die hoofkarakter Magdaleen ’n sekretaresse, ’n beroep wat veronderstel dat haar normale pligte onder andere kantoorgebonde sal wees. Die werk wat hiérdie Magdaleen vir haar werkgewer moet doen, is sosiaal van aard en word tipiese take wat van vroue verwag word om vir hul mans te doen, soos in die huwelik, en wel ook sonder enige betaling daarvoor. Magdaleen word as werknemer ’n salaris betaal om as sosiale sekretaresse spesiale pligte vir haar werkgewer te verrig. Dit herinner aan ’n prostituut wat vir seks vergoed word; byna soos die huweliksplig waarvoor ’n getroude vrou egter geen vergoeding ontvang nie.

Baker se keuse van haar hoofkarakter se naam lewer inderwaarheid kommentaar op die negatiewe stereotipering van vroue. Sodoende “sê” Baker ook dat ongegronde vooroordeel vanselfsprekend as deel van vrouwees aanvaar word. ’n Verdere betekenis wat uit die keuse van die naam Magdaleen afgelei kan word, is dat jong meisies hulle met onskuld en onkunde in die huwelik begewe en nie weet waarvoor hulle hul inlaat nie. Magdaleen se weggaan van ’n klein omgewing, Suid-Afrika, na die groot wêreld (die buiteland) daar buite word dus metafories aangewend: Vir jong meisies is die huwelik soos “’n geslote boek” en word die werklikheid daarvan ontbloot eers wanneer hulle in die huwelik tree en hulle dan eers besef wat vrouwees werklik behels. Uiteraard stel dié gegewe reeds ’n ooreenkoms met die biografiese gegewens van die skrywer, Baker die konkrete outeur, se eie lewe. Eers met haar blootstelling aan ’n ruimer wêreld kom sy tot bepaalde insigte oor aspekte van vrouwees wat vroeër vir haar ’n “geslote boek” was. Baker het by verskeie geleenthede gesê dat sy as skrywer veel eerder belangstel in mense se denke en motivering vir bepaalde optredes as in hulle handelinge self. 

Baker se eie lewenservaring maak dit vir haar moontlik om deur die gebruik van haar hoofkarakter Magdaleen die onvoorspelbaarheid van die man-vrou-verhoudings te ontbloot as ’n diepgewortelde werklikheid van dit wat die huwelik ís. Baker bied dit egter met ’n humoristiese aanslag aan. Vanuit ’n agternaperspektief op die oeuvre van Baker word hierdie “koersverandering” deur D. van Zyl (2015:316) aangedui as “blywend”; ook dat “beide die intrige en die skryfstyl” gesinjaleer word deur die humoristiese inslag waarmee ’n Geslote boek in “’n doelbewuste ligter, meer toeganklike” trant geskryf is: 

[A]l dra die teks, in aansluiting by die titel, die ernstige boodskap oor dat mense wesenlik vir mekaar geslote boeke bly, word humoristiese strategieë soos ironie, sarkasme, innuendo, die absurde, sinisme en kontras vir die eerste keer ingespan ter karakterisering en in die satiriese ontbloting van diskrepansies en misverstande.

Alhoewel dit met hiérdie teks wil voorkom of Baker die soeke na ’n ander of selfs ’n nuwe identiteit van vrouwees heroorweeg, is die teenwoordigheid van “ironie, sarkasme, innuendo, die absurde, sinisme” eerder ’n aanduiding dat Baker se “skryf as nomadiese subjek” verdiep. Hierna bly die swaarwigtige tema van ’n Geslote boek, naamlik dat mense selfs binne ’n huweliksverhouding – man tot vrou – geslote of selfs onbekend vir mekaar is, ’n blywende faset van Baker se oeuvre. Maar ook die teenwoordigheid van humor word vanaf ’n Geslote boek – hierin en hierna – gereeld in Baker se ernstige werke aangetref. 

3.3 Weerkaatsings – ’n Sprokie (1984) 

And they lived happily ever after – as hulle lewe op daardie punt van oorgawe gevries kan word, was hulle ongetwyfeld na aan die ideaal.

Die vroulike hoofkarakter Lize (betekenis: om God te eer, perfeksie), ’n joernalis, is in België vir die behandeling van ’n bloedkwaal. Sy tree in die huwelik met ’n kluisenaar wat hom oor haar ontferm. Probleme om te kommunikeer as gevolg van haar afhanklikheid van hom, iets wat vir haar ’n verleentheid is, staan voorop. Hy weer sukkel met gebeure uit sy jeug, wat toon dat hulle beide vasgevang (opgesluit) is in die spreekwoordelike kasteel uit feeverhale/sprokies waarmee hierdie werk baie gemeen het. In elkeen se gedagtes is hul huwelik iets van ’n sprokie. Selfontdekking dra by tot hul ontdekking van mekaar as ware huwelikmaats. 

Mobiliteit, een van die tipiese kenmerke van nomadiese skryf, neem met hierdie teks van Baker ’n aanvang. In die verhaalgebeure kom die stremmende uitwerking van huwelikmaats (hier Lize en haar man) se onvermoë om met mekaar te kommunikeer sterk na vore. In Baker se daaropvolgende tekste word hierdie kenmerk van menslike verhoudings in die huwelik telkens aangespreek en al hoe sterker verwoord. Met Die ander Marta (2002) word Baker die konkrete outeur se siening dat kommunikasie tussen die man en vrou uiters noodsaaklik is, bevestig (sien 3.8). 

Verder word Baker se strewe om as ernstige skrywer erken te word met die skryf van Weerkaatsings binne die Afrikaanse literatuursisteem as ’t ware weerkaats. Gedurende 1985 word dié boek bekroon met die Kaaplandse-FAK-prys vir ontspanningsleesstof – dus teen haar eie verwagting in, omdat sy met hierdie teks, wat sy self as een van haar ernstige werke klassifiseer, eerder literêre erkenning sou wou bereik het of wou ontvang het. Hierdie teks is ’n bewys van daardie bepaalde tekste wat “weerspieëlings van bepaalde literatuuropvattings” in die oeuvre van Baker is (Van Coller en Odendaal 2005a:4). Tot dusver het Baker probeer om te skryf volgens sekere literatuuropvattings of poëtikale verwagtings, veral soos daargestel deur mans as hekwagters in die Afrikaanse literêre sisteem, maar is afgeskiet as onder andere té laat, té modegieragtig (sien Human-Nel en Van Coller 2016a:95).

Baker verklaar dat sy met hierdie teks “die liefdesverhaal [wou] legitimiseer, die stigma dat ’n roman nie noodwendig goeie letterkunde is nie, die nek inslaan” (I. van Zyl 1985:14). Hiermee word bevestig dat Baker deeglik bewus was van die daargestelde norme ten opsigte van wat as literêr en wat nie as literêr beskou is nie, maar inderwaarheid skryf sy met hierdie teks bewustelik daartéén. Die skryfmateriaal wat sy gebruik om hiérmee haar “sê te sê”, sluit aan by die filosofie van nomadisme “waar enige vooropgestelde strukture waarbinne analises van tekste plaasvind, enige voorafvervaardigde standaardvorms waarin tekste gegiet word”, vermy word (Anker 2007:17).

Met hierdie teks word dit dus duidelik dat Baker haar as vroulike skrywer bewustelik verset teen die Afrikaanse literêre kanon en wel op ’n wyse wat deur Braidotti die nomadiese subjek genoem word.

Deur Weerkaatsings te skryf skep Baker haar eie weergawe van ’n postmodernistiese teks. Die vroulike tematiek word binne die vorm van die tipiese kenmerke van die postmodernisme as ’t ware “oop” geskryf, omdat ’n vermenging van hoë en lae, ontspanningsliteratuur en ernstige letterkunde, en boonop op die stramien van die liefdesverhaal en sprokie, deel van Weerkaatsings die storie is. Die verhouding tussen die manlike en vroulike karakters word soos ’n beplande transaksie beskryf – hiér word ’n geleentheidshuwelik ’n sprokiesagtige weergawe van die huwelik. In elkeen se gedagtes (reeds ’n vorm van weerkaatsing) skep hulle ’n sprokieshuwelik van en met mekaar – ’n huwelik wat is soos dit waarna die hoofkarakter se naam Lize verwys: om God te eer, of selfs ’n huwelik gekenmerk deur perfeksie. Hiermee wil Baker dus sê dat hiérdie sprokie die soort huwelik is wat mense graag wil hê. A. van Zyl (1984:6) beskryf hierdie teks as nie net ’n intrigeverhaal nie, maar eerder “’n onpretensieuse gestaltegewing aan ’n moontlike werklikheid waarin unieke, maar oortuigende karakters figureer. Die waarhede van menslike verhoudings word laag vir laag onthul met ’n besondere trefsekerheid.”

Tog ontbloot Baker in die teks die werklikheid van dit wat sy eintlik wil “sê”; eers aan die einde “gee sy haar oor aan hom” (Baker 1984:189) “wanneer die vrou daarop aandring om haar verantwoordelikheid as vrou ook in die huis na te kom”; nou eers is daar sprake van ’n huwelik en verkry hulle saam ’n “vreemde dubbele weerkaatsing” (Baker 1984:190). Deur die verhaal so af te sluit, word sodanige einde veelbetekenend, want die “happily ever after” sál nooit durend wees in die werklikheid nie. Baker se gebruik van die sprokie bevestig dat sy as konkrete outeur self deur ’n veranderende siening van die huwelik as instelling gaan en dat dit in haar skryfwerk weerkaats word. Baker gebruik haar vroulike hoofkarakter, Lize, om namens haar as konkrete outeur haar eie ervaring te verwoord; dus binne die raamwerk van “nomadiese skryf” – dit waarna Anker (2007:3) verwys as karaktersubjektiwiteit. 

Baker se skryfwerk word ’n “intransitive activity” (Fenoulhet 2013:2) – deel van ’n veranderingsproses. Met Weerkaatsings bevraagteken Baker nie meer die plek van vroue in die samelewing nie, maar bevestig sy haar siening dat die status van die vrou in die samelewing verander móét word. Hierdie benadering tot haar skryfwerk, “as a vision of critical and feminist subjectivity in a nomadic mode” (Fenoulhet 2013:9), was egter op daardie stadium nog nie deel van Afrikaanse literatuuropvattings nie en dus was sy eerder te vroeg vir ’n neiging wat eers gedurende die 1990’s werklik posgevat het. (Human-Nel 2009:218–34; 289–342)

3.4 Die kwart-voor-sewe-lelie (1988) 

Niemand wou nog ooit na my luister nie.

Die hoofkarakter Iris (irisse is lelies wat elke aand op dieselfde tyd oopgaan; mitologiese verbinding met reënboog) is ’n Suid-Afrikaner wat haar in Amerika bevind. Sy is vasgevang in ’n alledaagse middelklasbestaan. Haar twee susters Elsa en Kara leef in uiteenlopende wêrelde; ook haar ma en pa en die huishoudster lewer ’n bydrae tot haar lewe. Sy begeef haar in ’n onromantiese huwelik, maar klou vas aan die hoop om eendag te “blom” en om wel so tot haar reg te kom. Haar optrede word deurgaans gerig op dít wat in die toekoms vir haar wag.

Wanneer hiérdie vroulike hoofkarakter in Baker se teks Die kwart-voor-sewe-lelie (1988:1) sê dat “niemand nog ooit na haar wou luister nie”, word miskenning uitgedruk. Alhoewel Baker in ’n onderhoud met Beyers (2000) van die standpunt uitgaan dat “niks en niemand nog ooit tussen [haar] en [haar] skryfwerk gekom het nie” (Baker in Beyers 2000:61), het sy maar alte dikwels aanduidings gegee dat sy sélf miskenning ervaar het en dat dit ook belemmerend op haar skryfwerk ingewerk het. Baker se man Walter wys ná haar dood daarop dat sy “heilig [was] op haar reputasie as ernstige skrywer” en dat dit haar “ontstel het dat byna elke roman onder die naam Eleanor Baker deur baie resensente gemeet of beskou is as middelmoot. En ja, by tye het sy haarself as misken beskou” (W. Baker 2004a; 2004b).

Die kwart-voor-sewe-lelie word op grond van uitsluitlik twee komponente beoordeel of selfs veroordeel: eerstens ten opsigte van die manier waarop Baker die Suid-Afrikaanse politieke omstandighede van die 1980’s betrek en tweedens op grond van die besonder sterk humoristiese aanslag wat in die teks aangetref word. Vroeg in haar skrywersloopbaan wys sy daarop dat sy “êrens gelees [het] dat iemand sê dat dit vandag die Afrikaanse skrywer se plig is om aandag te gee aan die groot probleem van die tyd – die wit-swart-verhouding. Maar al gee ek dit toe, kan ek nie daaroor skryf nie. Ek voel aangetrokke om oor maatskaplike en menslike probleme te skryf” (Baker in Scholtz 1974:4). Dit wil egter voorkom asof Baker sowel die politieke as die humoristiese aanslag juis aangewend het om maatskaplike en menslike probleme rondom vrouwees te ondersoek. 

Eerstens wys A. van Zyl (1989:15) daarop dat Die kwart-voor-sewe-lelie “die dissektering van die huwelik as instelling” is. Die lewe van Iris se twee susters word as teenoorgestelde pole teenoor mekaar gestel. Daarmee word twee karakters, twee lewens en twee ideologieë teenoor mekaar geplaas, naamlik dié van Elsa en dié van Kara. Elsa (ironies verwys haar naam ook daarna om God te eer) leef binne die beperkinge van die patriargale bestel en verteenwoordig die deursnee-Afrikanervrou, terwyl Kara (wie se naam “geliefde” beteken) “met die eksotiese naam wat haar nie deur haar Afrikaanse herkoms en Suid-Afrikaanse indoktrinasie op politieke vlak [laat] beïnvloed wanneer sy Claude (’n bruin man) in die vreemde (Frankryk) ontmoet” nie (Grobler 1989:2). Sy is ook die een wat “kinders van al die kleure van die reënboog wil hê” (Grobler 1989:2). Sodoende gebeur dit dat Baker vrouwees volgens die patriargale bestel teenoor vrouwees volgens feministiese sienings plaas. Baker was deeglik bewus van die Suid-Afrikaanse vrou se agterstand ten opsigte van feministiese neigings elders in die wêreld; asook haar konkrete belewenis en kennis van die ou Suid-Afrika én die Afrikanerkonteks. Dit is egter haar eie buitelandse ervaring as konkrete outeur wat dit vir haar moontlik maak om sodanige vergelyking te kan tref. Hiermee word Die kwart-voor-sewe-lelie duidelik deur Baker as nomadiese subjek gebruik om mobilisering van een status van vrouwees na ’n ander status van vrouwees deur “skryf” te láát gebeur.

As deel van Fenoulhet (2010:12) se bespreking van Braidotti se teorie word aangedui dat hierdie strewe – “becoming” – ’n belangrike begrip is, “as it allows for new subject-formations rather than fixed identities”. Die wyse waarop Baker hiér die nomadiese subjek met die teks in haar skryfwerk inweef, is nie staties nie “but an approach that took human mobility as starting point” (Fenoulhet 2010:1). Nomadiese skryf, die wyse waarop Baker die karakter Johanna as deel van die teks “inskryf”, dui op “immanensie” – identiteitsverandering (kyk afdeling 2). Johanna (betekenis: God se genade), die niewit huishoudster, word buite die Afrikakonteks in Amerika as gewaardeerde vriendin deel van die gesin (ironies is die gesin buite Suid-Afrika reeds verteenwoordigend van die reënboognasie wat in Suid-Afrika in die vooruitsig gestel was). Alhoewel dit die drie susters se ma is wat haar nie aan die kleurverskille steur nie, is Johanna vir Iris “genadiglik” ook daar om vas te klou aan haar hoop om eendag soos die iris te blom. Johanna is ook die een wat Iris laat besef “dat alles nie regtig so lelieblank is as wat mens vertel word nie” (Hambidge 1989:10). Karaktersubjektiwiteit maak dit vir Baker as konkrete outeur moontlik om háár “sê te kan sê” en wel met die hoop dat daar na haar standpunt geluister sal word. Hiermee word ook aangesluit by die strategiese gebruik van karaktersubjektiwiteit as deel van die politieke betrokkenheid wat Baker aanvanklik aangedui het as die soort betrokkenheid waaroor sy nié wou skryf nie, naamlik die “wit-swart”-betrokkenheid. 

Tweedens dui D. van Zyl (2006:209) aan dat die “apartheidsproblematiek” in Die kwart-voor-sewe-lelie “lig aangepak word”. Baker vermeld egter op ’n stadium dat sy doelbewus van humor gebruik gemaak het “om haar landsgenote te laat ontspan en as daar resensente was wat ander dinge in die boek wou raaksien, het dit haar nie gepla nie” (Terblanche 2016). Humor word in Die kwart-voor-sewe-lelie ’n funksionele struktuurelement wat bydra tot die uitwys van die ironie as “jukstaposisie van teenstrydighede” in Baker se oeuvre (Pretorius 1992:190). Hiermee kom ’n deurlopende “leitmotief in haar werk” tot stand, naamlik die “onwaarskynlikheid van wat kan gebeur” (Pelser 2002:6), maar ook die “onkenbaarheid van die werklikheid en die onvoorspelbaarheid van die toekoms” (D. van Zyl 2006:209). De Vries (1975:19) bevestig dat “Baker se romanwêreld inderwaarheid ’n romanwêreld [is]”; dat dit nie bloot net ’n “kopie van die daaglikse lewe is nie”, maar dat haar lesers te doen het met die dikwels onwerklike van die werklikheid. Sodanige roman ontstaan deurdat Baker “kontras en konflik tussen die nugtere realisme en ’n droomwerklikheid” skep (D. van Zyl 2006:209). Ondanks die humor word haar lesers telkens herinner dat dit wat hulle lees, ’n “roman is en nie die realiteit wat dit voorgee om weer te gee nie” (Pretorius 1992:2). Met ’n deurlopend humoristiese aanslag veroorsaak Baker ’n “konstante wisselwerking […] tussen die skyn van die lewe en die realiteit van die kuns” (Pretorius 1992:2). In Die kwart-voor-sewe-lelie is daar dus veel meer verskuil agter die humor en ironie as bloot net nog ’n ligte “damesromannetjie”. Hambidge (1989:10) wys daarop dat “Baker […] bedrewe [goël] met konvensies” en verklaar dat Baker se “damesroman met ironiese sousie imponeer”. Baker het haar lewensbeskouing – dit wat sy oor vrouwees wou “sê” binne ironie en veral humor as struktuurelement (veral) met hierdie teks verskuil. Wanneer Baker dan G.K. Chesterton aanhaal: “Angels can fly because they take themselves lightly” en as motto van Die kwart-voor-sewe-lelie gebruik, staan sy waarskynlik ook as “kunstenaar apart van [haar] werk”, maar probeer sy ook “terselfdertyd om [haar] bewustheid van [haar] ironiese posisie in die werk te inkorporeer” (Pretorius 1992:190). Opvallend gebruik Van der Vyver in haar bekroonde Griet skryf ’n sprokie (1992) ’n paar jaar na die verskyning van Die kwart-voor-sewe-lelie (1988) – ook met ’n humoristiese verteltrant – ’n verwysing na engele. Anders as Van der Vyver met Griet, kon Baker gedurende die 1980’s nie met Die kwart-voor-sewe-lelie (1988) slaag om ’n normdeurbrekende teks te lewer nie.

Die uitroep van die hoofkarakter Iris: “[N]iemand wil ooit na my luister nie”, en die hoofkarakter se naam word metafories van Baker se pogings om waarskynlik bewustelik vir die hekwagters van daardie periode te vra “om met nuwe oë” – met die periode se veranderende literatuuropvattings wat veronderstel is om polifonies te wees; wat veronderstel was om weg te doen met patriargale sienings – na haar “ernstige” skryfwerk te kyk. Ironies word hiérdie ernstige teks van Baker al vir langer as die afgelope dekade landwyd in Suid-Afrika as voorgeskrewe werk vir Afrikaans (Huistaal) vir Graad 12-leerders voorgeskryf.

3.5 Verbeelde werklikheid (1996)

As ek my eie naam gebruik sal ek anders skryf [...]. My eie naam sal ek gebruik om te vertel hoe dit is. 

So sê Sophia (betekenis: wysheid) die hoofkarakter, ’n vroueskrywer. Sy skryf ’n liefdesverhaal terwyl sy haar daaglikse pligte van kinders grootmaak, huishou en om ’n huweliksmaat te wees, nakom. Maar tussendeur sonder sy haar af om te skryf. Haar man, Gert, vra uiteindelik vir ’n egskeiding. Sy besef dat dié werklikheid nie in haar fiksie inpas nie en waarsku Gert dat sy buite-egtelike verhouding nie die einde kan hê waarvan hy droom nie. Háár werklikheid skryf sy dan in haar droomstorie – ’n sprokieshuwelik – in.

Hierdie teks, wat deur Viljoen (1996:38) as ’n “ontvlugtingsroman” beskryf word, verskyn bykans ’n dekade na Weerkaatsings (1984). Verbeelde werklikheid word soos ’n verlengstuk van Weerkaatsings, asof Baker die noodsaak van ’n slot vir Weerkaatsings wil bevestig. Met Verbeelde werklikheid slaag sy daarin om ’n “boeiende verhouding tussen fiksie en werklikheid” te skep (Kannemeyer 1996:31). Volgens Viljoen (1996:38) vind die “metafiksionele tematiek” in hierdie verhaal “gestalte”, en wel “in die onderhoudend-vertelde verhaal van Sophia wat die rol van huisvrou kombineer met dié van skrywer van populêre ontspanningsromans”. “Die ideale wêreld” vir die vrou soos daargestel deur ’n fiktiewe vroueskrywer word die “weerkaatsing” van die “prosaïese werklikheid” van die vrou se alledaagse bestaan. Sophia is, soos haar naam aandui, ’n wyse vrou wat verteenwoordigend is van die vroue wat Baker telkens as hoofkarakters skep: “’n intelligente en gegradueerde vrou” (D. van Zyl 2015:325). Sy is ’n ma en skrywer wat van haar daaglikse bestaan ontvlug deur die lewe van Elizabeth (’n naamkeuse wat terugverwys na Baker se hoofkarakter Lize (betekenis: die perfekte) in Weerkaatsings), die hoofkarakter in die roman wat sy, Sophia, besig is om te skryf.

Die roman funksioneer op twee vlakke: die sosiale werklikhede waarmee vroue te doen kry enersyds, en andersyds die onderskeid tussen werklikheid en fiksie as deel van die skryfproses. Fiksie en werklikheid word nie net weerkaatsings van mekaar nie, maar “die skepper van die geskepte teks” maak ook “inbreuk op die werklikheid”. Met hierdie teks bevestig Baker dat “dit wat in die roman as fiksie aangebied word dikwels trekke van die realiteit” vertoon (D. van Zyl 2006:212 en kyk ook Kannemeyer 1996:31). Die “ineenstrengeling tussen Baker-as-skrywer en haar karakter Sophia die skrywer” (D. van Zyl 2015:323) is ’n dualiteit wat kenmerkend van Baker se skrywersloopbaan word: “As ek my eie naam gebruik, sal ek anders skryf” (Baker 1996:180). Hierdie uitspraak kon net sowel dié van Baker self gewees het wat, naas werke onder ’n skuilnaam, ook ernstige tekste onder haar eie naam, Eleanor Baker gepubliseer het. Die gebruik van pseudonieme is ’n belangrike aspek van selfvoorstelling. In ’n poging om ’n onderskeibare, herkenbare openbare beeld te bekom, maak skrywers soms van ’n pseudoniem gebruik (Meizoz 2010:84). Vir Meizoz verwys ’n pseudoniem na die openbare selfbeeld van ’n skrywer wat, volgens Viljoen (2019, s.bl.), vergelykbaar is met ’n bepaalde persona, “’n term wat oorspronklik verwys het na die masker wat akteurs op die verhoog gedra het en wat etimologies verband hou met die nosie ‘van waar/waardeur ’n mens spreek’”. In die spel genaamd “[p]ubliseer, publisiteit, publiek” (De Jager 1993b:4) maak skrywers dus dikwels van sodanige “maskers” gebruik (Erasmus-Alt 2019:67): 

Etienne Leroux se eenrigtingsonbril; die smetlose gesig van Garbo. Die groot Portugese digter Pessoa het dié effek geantisipeer, en deel van hom gemaak deur hierdie naam aan te neem wat persona of masker beteken, en natuurlik persoon: ’n Gesig vir elke figuur wat hy slaan.

Dit word duidelik dat die woorde van Sophia in hierdie teks, “[M]y eie naam sal ek gebruik om te vertel hoe dit is” (Baker 1996:180), ’n intertekstuele poëtikale uitspraak van Baker die konkrete outeur self is; dus inderwaarheid ’n bekendmaking of selfs verklaring van Baker die skrywer self. Baker se hoofkarakter se naam Sophia word metafories van die konkrete outeur se “wysheid”, want Verbeelde werklikheid sluit af “wanneer die mees sprokiesagtige moment bereik word – die happily ever after by die see” (Brink 1984:17) en Sophia die skryfster, die vroulike karakter (en ek-verteller) ter wille van die sprokie die “verdeling tussen werklikheid en verbeelding” beëindig (Viljoen 1996:38). Een van Baker se “sêgoed” was: “Op ’n manier ‘word’ ek die hoofkarakter in die meeste van my boeke, of ten minste die kanaal waardeur die hoofkarakter sy/haar storie vertel en wanneer dit eers gebeur weet ek eenvoudig hoe hulle sal optree, dis nie nodig om na te vors nie.”

Met hierdie teks word bevestig dat Baker haar skryfwerk gebruik om ’n spesifieke standpunt ten opsigte van die wese van vrouwees te maak en dat dit by uitstek ’n openbaring van haar persoonlike identiteit is. Eie aan die nomadiese teorie beweeg Baker met hierdie teks “between communicating states or experiences as if some experiences were evocative of and resonated with others. This ability to flow from one set of experiences to another is a quality of inter-connectedness” (Fenoulhet 2003:8).

Deur die gebruik van ’n metateks kom twee stories in Verbeelde werklikheid tot stand. Beide stories – fiksie en werklikheid – word op die een of ander vlak ’n weergawe van vroue se alledaagse bestaan: ’n spel tussen fiksie en werklikheid. Binne die raamwerk van Baker se oeuvre as geheel kan Verbeelde werklikheid gesien word as ’n versnellingspunt van die nomadiese subjek – haar strewe na ’n ander vorm van vrouwees binne die huwelik. Deur die gebruik van die metateks – ’n metanarratiewe procédé – sluit sy uiteindelik aan by die literêre gebeure/neiging van die dekade. Ontbloting van die waarheid, die werklikheid ook van die vrou se bestaan – iets waarmee Baker eintlik sedert haar debuut in die 1970’s besig was – word nou ook deel van wat ander Afrikaanse vroueskrywers wil “sê” ; ’n algemene “tematiek” waaroor daar (nou) geskryf word. Tekste deur vroue waarin die strewe na emansipasie van die vrou voorop staan, word eers gedurende die 1990’s ’n algemene verskynsel in die Afrikaanse literatuursisteem. Noudat ander vroueskrywers ook aktief oor vrouwees skryf en dit as ’n algemene neiging binne die literatuursisteem aanvaar word, verkry “skryf as nomadiese subjek” vir Baker ’n momentum wat hierna duidelik in haar skryfwerk bespeur word.

3.6 Groot duiwels dood (1998)

Julle het van my vereis om sterk te wees, nou kan jy my nie weer verswak nie!

Cornelia (betekenis: om sterk te wees), ’n boervrou, bevind haar in ’n konsentrasiekamp terwyl haar man in die Anglo-Boereoorlog veg. Die lyding en ontberinge wat sy hier ervaar, noodsaak haar om sterk en wys te wees. Die skryf van briewe laat haar besef dat sy deur hierdie ervarings mans se verantwoordelikhede oorgeneem het. Sy begeer erkenning daarvoor en besluit om nooit weer onderdanig aan enige iemand te wees nie. 

Aanvanklik wil dit voorkom of Baker, soos Scholtz (1999:26) dit in ’n onderhoud met haar dit stel, “saamry op die Anglo-Boereoorlog herdenkingswa”. Alhoewel W. van Zyl (1999:18) verklaar dat Baker aansluit “by die hedendaagse vroue-literatuur”, wil dit eerder voorkom of ánder vroueskrywers aansluit by Baker se nomadiese subjek van vrouwees. Weer eens word “die wesenlike onbegrip tussen manlike en vroulike belewing van die werklikheid” in die roman verwoord (Lategan 1999:8). Die oorsprong van hierdie onbegrip spruit voort uit die posisionering van mans teenoor vroue en vroue teenoor mans – stereotipering op grond van geslag. Baker maak doelbewus seker dat haar lesers kennis neem van die geslagsongelykheid tussen mans en vroue. Haar eie lewenservaring maak dit vir Baker, die konkrete outeur, moontlik om behendig met “skryf as nomadiese subjek” te kan sê wat sy “wil” sê. Hierdie skrywersaanslag dui volgens Fenoulhet (2003:6) op “the beginning of nomadic wisdom” – ’n teken van wysheid ten opsigte van vrouwees wat nou duidelik in Baker se werk reflekteer word. 

Met Groot duiwels dood val dit op “dat die meeste voorstellings van mans verband hou met die onreg wat mans vroue aangedoen het” (Coetzer 2001:4). Baker spreek haar sterk uit teen die verontregting van vroue deur mans; sodanig dat die teks openlik én ooglopend feministiese uitsprake bevat. Die uitwerking van veranderde sosiopolitieke magstrukture teen die einde van die eeu word hiermee duidelik in Baker se werk weerspieël. In die onderhoud met Scholtz verklaar Baker: “Oorlog was in 1899 inderdaad iets wat net mans gedoen (sic) het, maar Milner en Kitchener – twee ongetroude mans, die een ’n geboekstaafde vrouehater – het die reëls verander en vir die eerste keer ’n reeds oneerlike oorlog (vraatsug na goud) geswaai (sic) tot ’n immorele een wat teen vroue en kinders gevoer is in ’n poging om die mans tot oorgawe te dwing” (Scholtz 1999:26).

Hierdie is nie ’n verhaal wat handel oor wat op “die groot (manlike) arenas van die wêreldpolitiek of slagvelde gebeur het nie”, maar vertel “eerder van die ontberings wat die vroue te beurt geval het as gevolg van hul mans se besluite om oorlog toe te gaan” (Wasserman 1998:14). Verder bied die postmodernistiese literatuuropvattings van die 1990’s aan Baker die geleentheid om feministiese uitsprake te kan maak. Daarom kan met reg gesê word dat die verhaal “op ’n feministies getinte slot” (W. van Zyl 1999:18) afstuur. Aan die einde van Groot duiwels dood dring Cornelia – wat hier eintlik die hele volk se vroulike geslag verteenwoordig – op ’n mate van geslagsgelykheid aan: “Julle het van my vereis om sterk te wees, nou mag jy my nie weer verswak nie!” (Baker 1998:360).

3.7 ’n Ou begin (2001)

[...] mans is varke. 

Judith (oorsprong: Bybelverwysing, vrouekrag), ’n kombuisargitek (’n beroepskeuse vir haar vroulike karakter wat eintlik meer betekenisdraend is as wat aanvanklik besef is: Is die vrou se plek steeds net in die kombuis?) ontvang ’n boks briewe van haar ma voor haar vertrek om haarself êrens te gaan vind. Die briewe behoort aan haar voormoeder Hannie, briewe uit die 19de eeu. Weens probleme met haar motor beland sy op ’n Karoodorpie. Sy raak betrokke by die gemeenskap en die lees van die briewe maak haar bewus van verskille en ooreenkomste tussen die dorpsmense (die hede) en die lewe van Hannie (die verlede).

Die wese van die vrou as dié van ’n gewone mens word met ’n Ou begin ontbloot. Om begrip vir die vrou as gewone mens by die leser te skep, maak Baker gebruik van ’n hedendaagse vrou – die hoofkarakter Judith. Die naam Judith verkry in hierdie teks duidelik ’n metaforiese betekenis as verwysing na die krag van vroue of hoe sterk vroue kan wees (soos Judith wat verantwoordelik was vir die onthoofding van Holofernes). Die vroulike karakter Judith word in hierdie teks verteenwoordigend van die vroulike geslag. Wanneer Judith gedwing word om langer as wat sy beplan het op die Karoodorpie te vertoef, word beelde van die dominante magsposisie van mans (nou binne ’n demokratiese bestel) weer opgeroep en sien sy “die neigings van sommige mans om onbedagsaam en terselfdertyd veeleisend in ’n verhouding met ’n vrou op te tree” (Britz 2001:7) onder die gemeenskap van die Karoodorpie raak. As deel van ’n wegbreek van huis en haard – die alledaagse, maar ook van ’n gebroke huwelik – leer sy ook ander mense ken, veral vroue. Die fokus word geplaas op die hedendaagse vrou. Aspekte van vrouwees wat Baker deurentyd bevraagteken het, word deur die doen en late van karakters – vroue én mans en die verhouding wat daar tussen hulle bestaan, bevestig. In hierdie teks kry die werklikheid van die alledaagse bestaan weer betekenis vir Judith wanneer sy wil wegkom om te kyk wie sy is as sy nie ma en vrou is nie, maar die “verantwoordelikhede waarvan sy wou wegkom, raak egter gou weer deel van Judith se lewe, sy besef dit is die moedergeen: sy moet altyd versorg. Sy besef dat natuurlike, eenvoudige en noodsaaklike dinge soos skottelgoedwas, ook belangrik is” (McKnight 2003:16–7). Om lewenswaarhede soos hierdie aan die leser oor te dra, benut Baker van die (narratiewe) kenmerke van ’n spesifieke subgenre, naamlik die briefroman.

Briewe verkry ’n betekenisbepalende rol in ’n Ou begin: Vroue se lewenswyse van 100 jaar gelede word deur middel van briewe deur die karakter van tant Hannie beskryf. Die inskryf van briewe as deel van die vertelling word deur Baker aangebied as ’n weerspieëling van die invloed van patriargale magstrukture op die samelewing. Ook verleen dit meerstemmigheid aan hierdie teks. Die uitwerking van verandering van magstrukture soos dit deur ’n verskeidenheid vroue vanaf die vroegste tye tot by die hedendaagse vrou ervaar is, word refleksies of weerkaatsings van mekaar. Sodoende word die briewe ’n “pronominale relatiwiteit” waar die hede teen die verlede afgespeel word (Botha 1992:49). Judith lees hierdie briewe van tant Hannie, en eie aan die briefroman help hierdie briewe die hedendaagse vrou (hier Judith) om perspektief op haar eie lewe te kry (vergelyk 18-44 van Etienne Leroux (1967) en Maritha van der Vyver se Dis koue kos, skat (2016)). 

Hierdie “briewe van voormoeder Hannie” speel vir Judith ’n belangrike rol in haar “reis na selfontdekking” (McKnight 2003:16), want tydens haar besoek aan hierdie Karoodorpie kom Judith gou agter dat “almal ’n storie het om te vertel” (McKnight 2003:16, 17). Deur ook na ander se stories te luister, word aangesluit “by Baker se bekende dictum dat ’n mens deur die interaksie met ander mense tot ’n volledige menslikheid kan groei” (Kannemeyer 2005:447). Die gebruik van briewe, enersyds as struktuurelement maar andersyds as ’n verdere vorm van nomadiese skryf, maak dit vir Baker moontlik om uitsluitsel te kry oor lewenswaarhede waarmee sy as konkrete outeur self, sowel as die hedendaagse vrou wroeg. Judith se selfontdekking word ’n metafoor van Baker se eie selfontdekking – deur “skryf as nomadiese subjek” word dit dus vir Baker moontlik om te “sê” dat die strewe na ’n ander identiteit van vrouwees nog altyd daar was – dat dit van geslag tot geslag oorgedra word; dat dit iets is waarna vroue as ’n sosiale groepering nog altyd gestreef het; andersyds dat vroue se “menswees” (nou) erken moet word. ’n Geleidelike proses van ontwikkeling tot volledige menswees is besig om plaas te vind. So word “[d]ie herbesoek aan gebeure van die verlede” deur Baker “intens verweef […] met die belewenis van die hede” (Roos 2006:57).

Waar Baker in die verlede veral deur middel van vroulike karakters lewenswaarhede omtrent vrouwees openbaar het, word aspekte van “manwees” ook as deel van haar “skryf as nomadiese subjek” ingespan. In ’n Ou begin word ook die wese van die man as ’n gewone mens ontbloot. Deur die teks posisioneer Baker die vrou “in die onderskrywing van houdings en waardes oor die huwelik, gesin en gemeenskap” (Coetzer 2001:4). Die dominante magsposisie van die man in die huwelik en in die gemeenskap soos wat dit in die verlede voorgekom het, word in hierdie teks uitermatig sterk gekritiseer. Veranderende sienings ten opsigte die vroeëre ideologies daargestelde patriargale grense bied nou aan vroue onder andere vryheid van spraak wat dit vir Judith moontlik maak om te “mans is varke”. As deel van die vertelling word die uitwerking van veranderde magstrukture ook in die verhoudings tussen mans en vroue verbeeld en weerspieël. Deur mans se dominante posisie in die huwelik met ’n sweempie oordrewenheid te beskryf, slaag Baker daarin om “die wesenlike onbegrip tussen manlike en vroulike belewing van die werklikheid” (Lategan 1999:8) te bevestig. 

Die titel, ’n Ou begin, word ’n oksimoron van die hoofkarakter se ervaring. Alhoewel Judith probeer wegkom van haar omstandighede by die huis, ’n nuwe “begin” wil maak, tref dit haar dat die “ou” gewoontes van mans steeds nog bestaan. Waar die fokus in Baker se vorige tekste slegs op die ontbloting van haar vroulike karakters was, sien ons met hierdie teks hoe daar as ’t ware ’n geleidelike proses van verandering van Baker se skrywersoptrede plaasvind en sy nie meer daarvan wegskram om feministiese uitsprake te maak nie – ’n tipiese kenmerk van nomadiese skryf.

3.8 Die ander Marta (2002)

Ek is nou ’n ander Marta. Nie meer ’n dienende een nie, verstaan jy? ’n Ander een. Ek laat my nie meer voorsê of vertrap nie; as daar nou voete gewas word, is dit myne.

Marta (betekenis: om te dien) is ’n middeljarige boervrou. Sy voel afgemat, verneder en minderwaardig. Vir haar huisvroulewe en al die pligte wat daarmee gepaard gaan, én om vrou van ’n ware boer in murg en been – Hendrik – te wees, sien Marta nie meer kans nie. Sy besluit om haar alledaagse bestaan te beëindig. Sy vat haar man se motor en ry na die Weskus, waar haar selfdoodpoging misluk. ’n Vissersgemeenskap bied vir haar werk, nuwe vriendskappe en lewenshoop. Op die plaas besef Hendrik met die hulp van ’n susterskind, Dead Ice (alles behalwe die tradisionele gestereotipeerde Afrikanervrou), wat Marta as vrou vir hom beteken. Die tydelike skeiding bring vir beide Marta en Hendrik nuwe insigte omtrent die huwelik.

Asof sy “verskillende skakerings van menslike verhoudings” binne die huwelik as patriargale instelling wil uitklaar, skep Baker Die ander Marta. Hier word skynwaarhede oor die sprokiesagtige einde van “soetsappige liefdesverhale – dit wat van ’n sprokie ’n sprokie maak; die valsheid van ‘and they lived happily ever after’” en “die storie van die held en heldin meer as dertig jaar na die troudag” – deur Baker ontrafel, onthul (Lategan 2003:4) én ondermyn. Baker lewer hiermee metafiksionele kommentaar op haar eie oeuvre en die sentrale plek van die liefdesverhaal daarin. Binne die raamwerk van Baker se laaste ernstige roman word bevestig hoe die minderwaardige posisie van die vrou binne die huwelik nog altyd as vanselfsprekend aanvaar is. Die “kwade gevolg van chauvinistiese mans se gestereotipeerde perspektief op vroue” word hiér egter uitgeklaar (D. van Zyl 2006:214). Baker, die konkrete outeur, gebruik karaktersubjektiwiteit om te verduidelik wat nog altyd binne die patriargale bestel van die Afrikanervrou verwag is. Met haar laaste ernstige teks gebruik Baker haar (laaste) vroulike hoofkarakter Marta as spreekbuis om as ’t ware namens geslagte Afrikanervroue te “sê” wat sy, Baker, deur nomadiese skryf wou “sê”:

“Mans hou nie van beterweterige meisies nie. ’n Wysneus. Jy moet altyd die mindere wees, hom goed laat voel.”
“Hoekom?”
“Jy is die een wat baat. As hy goed voel, hanteer hy jou mooi.” (22)

“Jy het ’n goeie brein aan jou,” het haar ma voortgegaan. “Dis belangriker as ’n wulpse lyf.”
“Ek dog Ma sê nou net ek moet my brein wegsteek,” het sy liggies spottend gesê.
Haar ma was onthuts. “Nee, dis nie ... ja, wel, ek het net gesê jy moenie daarmee te koop loop nie. Mans wil nie minderwaardig voel nie. Jy moet hom te alle tye laat dink dat hy die sterkste en slimste is.” (23)

“Martie,” het haar ma gesug. “Wat is dit vanaand met jou? Ek probeer jou raad gee. Dis nodig vir jou toekomstige geluk dat jy verstaan hoe dit werk. As jy eendag geluk wil vind, moet jy nou al leer om die mindere te wees.” Die gesprek het Marta verwar en frustreer. Haar ma het geïmpliseer dat seuns en mans op die een of ander wyse gestremd is. Hulle het spesiale behandeling nodig; die erkenning van iets so basies, so eenvoudigs as dat ’n vrou ook ’n brein het, kan hulle van balans afgooi. (24)

Anker (2007:26–27) wys daarop dat die skrywer eie aan nomadiese skryf ander “bestaansmoontlikhede” ondersoek; dat nomadiese denke “’n lewe buite die grense van ’n moderne identiteitsbesef” moontlik maak. In hierdie laaste ernstige roman van Baker word die uitbeelding van die vrou as die “dienende” Marta in die tipiese Afrikaanse tradisionele plaasroman (Van Coller 1995:29 en Human-Nel 2009:148) geleidelik vervang met ’n “ander” Marta. Binne die Afrikaanse literatuursisteem was die leitmotief van die dienende Marta baie lank gebruik om liefde as bindingsmiddel van die huwelik gelyk te stel aan dienslewering deur die vrou aan haar man, kinders, huis en die kerk. Die al wordende “ander” Marta is nie die tradisioneel dienende vrou nie; dié Marta daag die tradisionele een uit en val haar aan. Aanvanklik word aangedui dat Marta ook deel van ’n geslag vroue was “wat deur sekere organisasies en die kerk gebreinspoel is om hul plek te ken” (Jansen 2003:9). In ’n “opheffende praatjie van die VLV leer sy die deugde van ’n goeie vrou: selfontkennend, altyd die mindere wat nie argumenteer of rusie maak of haar laat geld nie. Die vrou leer dat mans voor in die motor sit en die vrou agter. Mans mag maar op hulle vroue skreeu en met hulle praat asof hulle dom is. Dit is die vrou se plig om dit maar af te lag” (Jansen 2003:9). Die leser word binne die raamwerk van dié roman funksioneel daaraan herinner hoe die minderwaardige posisie van die vrou binne die huwelik nog altyd as vanselfsprekend aanvaar is. Hierdie Marta poog om haarself te versoen met waarhede wat ’n huwelik van 30 jaar met haar man (Hendrik) vir haar inhou. Maar na 30 jaar se huwelik is die enigste wegkomkans uit hierdie menslike verhouding vir Marta selfdood – ’n daadwerklike poging om van die tradisionele en gestereotipeerde Afrikanervrou weg te breek. Dit is egter nie deur ’n onsuksesvolle verdrinking as selfdoodpoging alleen dat Marta ’n tweede geleentheid op die lewe kry nie. Marta loop letterlik weg van die plaas en beland by ’n bruin gemeenskap aan die Weskus waar haar “perspektief op verhoudings verruim” (D. van Zyl 2015:325). In hierdie stadium van die vertelling kom die leser tot die insig dat hier sprake van ’n “ander” Marta is – hiérdie Marta weier om net maar altyd te dien. 

In vroeëre tekste van Baker was daar wel duidelike aanduidings dat vroulike karakters wou wegbreek van hul tradisionele rol as dienende Martas. Pogings om daargestelde grense van die patriargale bestel te oorskry, was egter nie altyd suksesvol nie: Alreeds in Monica (1978) word pogings om weg te beweeg van stabiele identiteite aangetref. Johl (1978:7) dui aan dat “die verhaal dié van ’n eensame huisvrou” is wat “vasgevang is tussen die verveeldheid van haar daaglikse bestaan” en “byna obsessionele vrees vir ledigheid, vir die moontlikheid dat haar ma se geskiedenis in haar herhaal kan word”.

Gedurende ’n onderhoud met Krüger (1986) verklaar Baker dat die vrou se mindere posisie in Suid-Afrika dikwels haar eie skuld is: Sy “klou aan haar tradisionele rol” en kan nie “verby haar grense [...] kyk” nie (leesgids in Baker 2008:253–4). Eers met Die ander Marta word daar inderdaad weggebreek van die tradisionele konvensies van die huwelik. Om “nuutgebore” (Baker 2002:249) te word, is dit volgens Marta ook nodig om vryheid van spraak te kan hê, want “aan die wortel van hierdie verhoudinge lê die onvermoë om genoegsaam en toereikend te kommunikeer” (Lategan 2003:4): “Marta se keelseer word simbolies van wat met vroue gebeur wat swyg: die liggaam rebelleer” (Jansen 2003:9). Marta sê: “Ek weet ek moes gepraat het. Teruggepraat het. My sê gesê het in plaas daarvan om my mond toe te stop met kos. Ek het gedink ’n goeie vrou doen dit nie en ek was verkeerd. Jy moet verstaan dat ek kan dink en besluit, ek is nie net aan jou sy om altyd die minste te wees nie” (248).

Ontwikkeling rondom vryheid van spraak en die werklikheid van wat vrouwees werklik vir die vrou inhou, word deel van ’n kousaliteitsverskynsel. Met Die ander Marta dui Baker aan dat veranderende sienings ten opsigte van vrouwees dit vir die vrou van die 21ste eeu moontlik maak om nie net te droom van ’n ander lewe buite die huis nie, maar bevry te raak om as ’n veranderde Marta terug te keer na haar huis, maar nou waar Marta en Hendrik – man en vrou as gelykes in die huwelik – skuiling kan vind. Die slotsom is dat die bevryding van die individu binne ’n bevryde gemeenskap moontlik is. Baker bevestig vanuit haar eie lewensbeskouing met Die ander Marta dat indien die waarheid rondom menslike verhoudinge nie ontbloot word deur daaroor te kommunikeer nie, dit vir individue moeilik is om met die werklikhede van die lewe saam te leef.

Met Die ander Marta word dit waarna die nomadiese subjek – ’n ander vorm van vrouwees – gestreef het, bereik. Die wordingsproses – “becoming” – word as ’t ware voltooi. Die feministiese ingesteldheid wat aanvanklik nie aanwesig was in Baker se tekste nie, ontwikkel geleidelik deur haar gebruik van karaktersubjektiwiteit; vanaf die aanvanklike afwysing van feministiese sienings ten gunste van die aanvaarding van die tradisionele patriargale oorheersing van die man oor die vrou, na die uiteindelike vind van ’n selfstandige identiteit wat die “ander” Marta (nou) vir haar opeis; selfs die vind van ’n balans waar sy binne die huwelik tot haar reg kom.

Dit is asof Baker berusting vind – iets wat egter binne die nomadiese teorie van Braidotti nie aanvaarbaar sou wees nie. Deur haar bemoeienis met die onderdrukte posisie waarin die vrou in die algemeen haar steeds gedurende veral die laaste drie dekades van die 20ste eeu bevind het (Du Plooy en Viljoen 1992:34), het Baker saam met baie ander vroueskrywers aangesluit by ’n veranderende perspektief op feminisme. Sedert die negentigerjare het die fokus begin val op ’n ander/nuwe vrou waar daar nie meer slegs ’n “enkele betekenis” aan vrouwees geheg is nie (Van Niekerk 1999:422; Human-Nel 2009:273). Beukes en Gouws (1998/1999:90) sluit ook aan by Braidotti se siening van genealogie deur aan te dui dat “[d]ie nuwe vrou se menswees [...] ervaar [word] in terme van haar vrouwees, want ’n voltooidheid bestaan sonder die noodwendige aanwesigheid van die man. Ginogenese behels nie verabsolutering van seksualiteit as eenheidsvormer nie, maar ’n integrasie daarvan met alle fasette van menswees.”

Die voorbladillustrasie van Die ander Marta dui aan dat Marta “iemand is wat uiteindelik haar arms oopgooi vir die lewe” (Lategan 2003:4). Hierdie illustrasie dra by tot dit wat Baker deur die teks by die voornemende leser wil tuisbring, naamlik die wegbreek van hierdie vrou uit haar tradisionele patriargale omstandighede. Dit is ’n poging tot bevryding – emansipasie – van haarself, die konkrete outeur in haar persoonlike verhoudings, maar ook as vroueskrywer in die Afrikaanse literatuursisteem. Met Die ander Marta word lewenswaarhede nie meer onder die deklaag van ironie verskuil nie en word die waarheid oor werklikhede binne die huwelik nie meer agter ’n sprokie versteek nie. Hierdie ontbloting word aangebied met ’n humoristiese aanslag wat bevestig dat “angels can fly because they take themselves lightly”. Daarom word dit vir Marta – as verteenwoordiger van die vroulike geslag as sosiale groepering – moontlik om deur ander mense (wat soos engele in haar lewe inkom) genees te word en terug te keer na haar man, haar huis en die huwelik as die moreel korrekte waardesisteem. Uiteindelik word ’n stadium in Baker se “skryf as nomadiese subjek” bereik waar die grens van vrouwees deur haar menswees bepaal word. 

Baker dui aan dat hierdie bevryde Marta daarin slaag om wel die grense wat deur die patriargie daargestel is, te oorskry. Deur die gebruik van haar altyd teenwoordige humor, en soveel te meer in Die ander Marta, kry Baker dit nou reg om die (Suid-) Afrikaanse vrou te oortuig om na haar “te luister”; om te besef dat “dié vrou se mindere posisie in Suid-Afrika dikwels haar eie skuld is” omdat sy “klou aan haar tradisionele rol” en daarom “nie verby haar grense [kon] kyk nie” (Krüger 1986:80). Binne ’n Afrikaanse literatuursisteem wat nou “polifonies van aard” is (Van Coller 2006:x) word dit vir Baker moontlik om met Die ander Marta einde ten laaste te “skryf wat sy wou, hoe sy wou en wanneer sy wou” (Baker in ’n onderhoud met Scholtz 1999:26).

 

4. Ten slotte

“Ek kan net skryf as ek betrokke is – as ek vere voel vir ’n ding, moet ek maar laat staan. Ek voel ook dat ek ’n hekel daaraan het om doelbewus modern te wees, […]. Ek gaan nie meedoen aan enige mode nie. Natuurlik moet ’n mens getrou wees; jy moet sê wat jy moet sê.” (Baker in Kruger 1974)

Vroeg reeds in haar skrywersloopbaan kies Baker om oor haar eie alledaagse lewe as vrou te skryf. Dié gebruik van “vroulike tematiek” het daartoe bygedra dat Baker ondanks poëtikale besware en heersende literatuuropvattings alreeds in die 1970’s patriargale grense oorskry het. Sodoende het sy inderdaad die sentrum van die Afrikaanse literatuursisteem, die literêre kanon, uitgedaag. Sy het goed geweet dat haar temas nie sommer sito-sito binne die Afrikaanse literatuursisteem aanvaar gaan word nie. Aanvanklik het sy tog strategies te werk gegaan deur haar ernstige literêre werk te skryf op wyses wat vir hekwagters aanvaarbaar sou wees: meer eksperimenteel, meer betrokke, meer “feministies” (vol kritiek op mans), meer humoristies en al hoe meer deurbrekend ten opsigte van sosiale en literêre grense. 

Deur die gebruik van karaktersubjektiwiteit as deel van nomadiese skryf stel Baker haar vroulike hoofkarakters aan die woord om haar eie standpunt oor die vrou se posisie in die samelewing oor te dra. Van Coller (2001:135) beklemtoon “dat ‘spreek en skryf altyd persoonlik is’” en dat die skrywer, in dié geval Baker, haar “belangstelling” en “kyk op sake ‘verraai’”. Deur die begrip nomadiese skryf as teoretiese invalshoek te gebruik, was dit moontlik om met nuwe denkwyses en nuwe bestaansmoontlikhede (kyk Anker 2007:29–31) Baker se veranderende sienings ten opsigte van vrouwees te bespreek en te volg. Vroulike subjektiwiteit maak dit eerstens vir Baker die konkrete outeur moontlik om haarself te ontdek. Een van Baker se “sêgoed” was: “As ek nie skryf nie, is die werklikheid nie vir my vreeslik aanvaarbaar nie, maar as ek besig is met ’n nuwe boek, het alles wat ek doen sin.”

Deur te doen wat sy graag doen, naamlik skryf, kan Baker wat sy graag wil “sê”. Die gebruik van vroulike hoofkarakters maak dit vir haar moontlik om self as konkrete persoon deur verskillende fases van verandering te gaan: “‘Becoming’ is never just reproduction or imitation. Becoming entails movements, vibrations, and threshold-crossings” (Fenoulhet 2010:12–3). Ook word aangesluit by die teorie van Van Gennep (1908) waarvolgens “’n soeke na die sin van die lewe en die ontdekking van die self” ook veronderstel om “’n grensoorskrydende, transformerende losmakingsproses” te wees (soos na verwys in Erasmus-Alt 2016:xv). Baker verwoord hierdie wordingsproses wat sy as konkrete outeur as deel van haar ernstige tekste beskryf onder die dekmantel van ’n humoristiese aanslag. Dit lewer ’n noodsaaklike bydrae tot Baker se eie soeke na ’n nuwe identiteit. 

In As ’n pou kon vlieg. ’n Verblyfboek oor Teheran (1980) beskryf Baker hoe sy by die lessenaar in die een hoek van die kombuis aan Monica (1978) gesit en skryf het. Na sodanige onttrekking of afsondering – hier om sonder enige steurnis te kan skryf – word dikwels verwys as liminaliteit, ’n fase wat die begin van ’n proses van verandering aandui. Verdere pogings om grense te oorskry kom ook duidelik na vore in Baker se ontvlugtingsroman Verbeelde werklikheid (1996). Baker erken in ’n stadium in ’n onderhoud dat sy self nie van “haar werklikheid” hou nie en so ook nie die karakter Sophia (wat ook skryf) nie; dat die literatuur gebruik word om ’n ander werklikheid in fiksie te skep. Botha (1996:12) wys daarop dat dit “Baker self is wat haar deur die gekose motto lewensbeskoulik verbind aan T.S. Eliot se ‘[…] humankind / Cannot bear very much reality’ – Burnt Norton”. Aansluitend by Nomadic theory. The portable Rosi Braidotti (2012) se teoretiese benadering van die nomadiese subjek – “becoming” – word bevestig dat Baker uit eie lewenservaring haar boodskap aan waarskynlike lesers stuur. Dit wat sy sê of gesê het, was gegrond op haar eie bestaan as “nomade” in haar strewe na ’n ander identiteit van vrouwees. As interessante geval van marginalisering word haar eie skrywersloopbaan die voedingsbron vir haar sentraal stel van die nomadiese posisie van die vrou. Verbeelde werklikheid word ’n “geheime kykie” (Grobler 1996:29), nie net na hoe Sophia as skryfster te werk gaan nie, maar ook hoe Baker die konkrete skrywer haar skryfwerk benader; tot ’n mate van grensoorskryding en wel om in die verbeelding ’n ander vorm van vrouwees te ervaar – om net maar ’n gevoel te kry van hoe dit sal wees om bevry van die alledaagse bestaan te wees. Deur van die metaroman gebruik te maak, maak Baker haar lesers as ‘t ware ’n deel van haar skryfproses – ook van haar eie lewensbeskouing as konkrete outeur. Metafiksie, “naamlik die skryf oor die aard van die skryfproses” (Viljoen 1996:38), lei die lesers “in ’n kamer van spieëls” (Hambidge 1992:294) sodat “die vrou se lewe in ’n spieël gesien” word (Van Biljon 1996:11).

Vroulike subjektiwiteit in haar 15 ernstige tekste was egter ook bepalend ten opsigte van haar plek in die Afrikaanse literatuursisteem. Die uitwerking van veranderende literatuuropvattings gedurende die 30 jaar van haar skrywersloopbaan was dat die konkrete outeur daarop uit was om ernstige lesers en die sogenaamde hekwagters (literêre kritici) te manipuleer ten einde vir haar ’n plek in die literêre kanon te probeer verwerf. Baker was deeglik bewus daarvan dat sy uitgelewer was aan hekwagters; dat dit wat en waaroor sy geskryf het – die alledaagse sleur van die vrou se lewe asook die romantisering dáárvan – nie (altyd) binne die raamwerk van literatuuropvattings van die hekwagters van die tyd/periode geval het nie. As deel van ’n agternaperspektief op die werk én lewe van Baker haal Terblanche (2016) een van haar “sêgoed” aan: “Om ’n boek te skryf, beteken jy stel jou bloot en lok ander mense se opinies uit.”

Dit word duidelik dat Baker die daargestelde norme (soms of dikwels) bloot oorgesien of verontagsaam het. Baker was openlik oor haar opinie omtrent dit waaroor sy geskryf het. Ondanks die feit dat sy deeglik daarvan bewus was dat haar insluiting by of uitsluiting van die Afrikaanse literêre kanon onder andere van sekere norme en/of literatuuropvattings afgehang het, het sy aangehou om te skryf soos sy wou en oor wat sy wou. Hoewel Baker vanweë haar man se werk as diplomaat dikwels rondbeweeg het, is dit nie beweging as sodanig wat die kern van “skryf as nomadiese subjek” is nie; soos afgelei kan word uit Rayner (2013) se samevatting van Deleuze en Guattari (2003) se begrip nomadisme: “[I]t doesn’t require moving around. You can sit still and be a nomad.” “Skryf as ’n nomadiese subjek” is in wese ’n verset teen (vaste) kategorisering deur ’n bewuste keuse vir verandering en beweging. Vanselfsprekend is dit ook ’n dekonstruering van manlike sienings van “vroulikheid” en vroulike onderhorigheid.

Laastens word met hierdie artikel bekragtig dat Eleanor Baker deur haar eie kop te volg, daarin slaag om ’n toeganklike kanaal vir die gewone leser te skep waarmee ook hiérdie leser die Afrikaanse literêre kanon kon en steeds kan betree. ’n Herwaardering van dié gemarginaliseerde vroueskrywer was dus noodsaaklik, want daardeur word die krag van haar geskrewe woord bevestig – dat dit wat sy deur skryf gesê het, nie net die gewone leser nie, maar ook die literêr-georiënteerde leser aangegryp het: “Nomadism is a cultural norm. While plenty of people want to ‘fit in’, the best and the brightest want to break out and head for the horizon” (Rayner 2013).

 

Bibliografie

Anker, W.P.P. 2007. Die nomadiese self: Skisoanalitiese beskouing oor karaktersubjektiwiteit in die prosawerk van Alexander Strachan en Breyten Breytenbach. PhD-proefskrif, Universiteit Stellenbosch.

Baker, E. 1972. Wêreld sonder einde. Johannesburg: Perskor.

—. 1973. Splinterspel. Johannesburg: Perskor.

—. 1975. Mørketiden. Johannesburg: Perskor.

—. 1978. Monica. Kaapstad: Tafelberg.

—. 1980. As ’n pou kon vlieg. ’n Verblyfboek oor Teheran. Kaapstad: Tafelberg. 

—. 1981. ’n Geslote boek. Kaapstad: Tafelberg. 

—. 1984. Weerkaatsings: ’n sprokie. Kaapstad: Human & Rousseau.

—. 1985. Dossier van ’n gyseling. Kaapstad: Human & Rousseau.

—. 1988. Die kwart-voor-sewe-lelie. Kaapstad: Human & Rousseau.

—. 1991. In die middel van die Karoo. Kaapstad: Human & Rousseau.

—. 1996. Verbeelde werklikheid. Kaapstad: Human & Rousseau. 

—. 1998. Groot duiwels dood. Kaapstad: Human & Rousseau.

—. 2001. ’n Ou begin. Kaapstad: Human & Rousseau.

—. 2002. Die ander Marta. Kaapstad: Human & Rousseau. 

—. 2008. Die kwart-voor-sewe-lelie. Skooluitgawe met leesgids. Kaapstad: Human & Rousseau.

Baker, W. 2002. Ongepubliseerde toespraak oor Eleanor Baker. NALN se vierde Nasionale Leeskring-indaba. Woordfees 2002, Stellenbosch. 13 Maart. 

—. 2004a. E-pos-briefwisseling, 28 en 29 Februarie.

—. 2004b. E-pos-briefwisseling, 2 en 3 Maart.

Beukes, M. en T. Gouws. 1998/1999. Ginogenese as diskoers van mag – gestaltegewing van die Nuwe Vrou in Griet skryf ’n sprokie (Marita van der Vyver). Tydskrif vir Letterkunde, 36(4)/37(1):85–94. 

Beyers, S. 2000. Eleanor kom huis toe. Sarie, 28 Junie, ble. 60–1.

Botha, E. 1992. Briefroman. In Cloete (red.) 1992. 

—. 1996. Baker voer leser mee met humor, verfynde vaardigheid. Beeld, 26 Augustus, bl. 12.

—. 2002. Agterblad. Die ander Marta. Kaapstad: Human & Rousseau. 

Braidotti, R. 1994. Nomadic subjects. Embodiment and sexual difference in contemporary feminist theory. New York: Columbia University Press.

—. 2002. Difference, diversity and nomadic subjectivity. http://women.ped.kun.nl/cbt/rosilecture.html (15 Julie 2016 geraadpleeg).

—. 2006. Transpositions. Cambridge: Polity Press. 

—. 2011a. Embodiment, sexual difference, and the nomadic subject. Hypatia, 8(1):1–13.

—. 2011b. Nomadic theory. The portable Rosi Braidotti. New York: Columbia University Press.

—. 2014. Writing as a nomadic subject. Comparative Critical Studies, 11(2/3):163–84.

Brink, A.P. 1978. ’n Bevestiging van die reg om te droom. Rapport, 18 Junie, bl. 17.

—. 1984. Só trap resensent darem nie modder op goeie, lekker boek nie! Rapport, 11 November, bl. 17.

—. 1988. Populêre en hogere literatuur. De Kat, Oktober, bl. 102. 

Britz, E. 1991. Wagtend op Geelgert. Rapport, 17 Maart, bl. 16.

—. 2001. Onder leesbaarheid lê diepte. Die Burger, 2 April, bl. 7.

Cloete, T.T. (red.). 1992. Literêre terme en teorieë. Pretoria: HAUM-Literêr.

Coetzer, J. 2001. Met ’n vaardige hand beskryf. Beeld, 28 Mei, bl. 4. 

De Geest, D. 1996. Literatuur als systeem, literatuur als vertoog. Bouwstenen voor een functionalistische benadering van literaire verschijnselen. Leuven: Uitgeverij Peeters. 

—. 1997. System theory and discursivity. Canadian Review of Comparative Literature, 24(1):161–75. 

De Jong, M. 1992. Feminisme. In Cloete (red.) 1992.

Deleuze, G. 2006. Two regimes of madness. Texts and interviews 1975–1995. Vertaal deur A. Hodges en M. Taormina. New York: Semiotext(e). 

Deleuze, G. en F. Guattari. 2003a. Anti-Oedipus. Capitalism and schizophrenia. Vertaal deur R. Hurley, M. Seem en H.R. Lane. Minneapolis: University of Minnesota Press. 

—. 2003b. Kafka: Towards a minor literature. Vertaal deur D. Polan. Theory and History of Literature, 30:xxviii.

De Vries, A.H. 1975. ’n Gemengde dis. Die Burger, 13 November, bl. 19.

Du Plooy, H. en H. Viljoen. 1992. Benaderingswyses in die literatuurwetenskap. In Cloete (red.) 1992.

Eco, U. 2005. On literature. Vertaal deur M. McLaughlin. Londen: Secker & Warburg. 

Eksteen, L.C. 1982. Geslote boek te ligtelik opgeneem. Oggendblad, 29 Januarie, bl. 13. 

Erasmus-Alt, J. 2016. Grensoorskryding in Alfabet van die voëls deur S.J. Naudé en Sondag op ’n voëlplaas deur Johann Nell. PhD-proefskrif, Universiteit van die Vrystaat.

—. 2019. Die bydrae van nie-artistieke praktyke tot die literêre sukses van eksemplariese Afrikaanse tekste. ’n Ondersoek na beeldvorming. PhD-proefskrif, Universiteit van die Vrystaat.

Fenoulhet, J. 2010. Nomadic literature. The novels of Cees Nooteboom. Ongepubliseerde intreerede, University College London.

—. 2013. Nomadic literature. Cees Nooteboom and his writing. New York: Peter Lang International Academic Publishers.

Grobler, H. 1978. Monica: Uitvloeisel van stroming wat wêreld op loop het. Hoofstad, 24 Augustus, bl. 20.

—. 1989. Méér as ’n leesbare, ligte roman ... Transvaler, 17 April, bl. 2.

—. 1996. Verbeelde werklikheid is heerlike boek. Vrydag, 19 Julie, bl. 5. 

Hambidge, J. 1989. Baker goël bedrewe met konvensies. Beeld, 24 Februarie, bl. 10. 

—. 1992. Metaroman. In Cloete (red.) 1992.

Human-Nel, M. en H. van Coller. 2016a. Literêre prestige – Die geval Eleanor Baker. LitNet Akademies, 13(1):86–111. http://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2016/05/LitNet_Akademies_13-1_HumanNelVanColler_86-111.pdf.

—. 2016b. Schreiner vs. Joubert: Hul vernuwende rol in die Suid-Afrikaanse literatuursisteem. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 56(1):169–87.

Human-Nel, M.J. 2009. Die impak van sosiopolitieke verandering op die plek van vroueskrywers in die Afrikaanse literêre kanon. PhD-proefskrif, Universiteit van die Vrystaat.

Jakobson, R. 1960. Linguistics and poetics. In Sebeok (red.) 1960. 

Jansen, V. 2003. Lewe is ’n voortdurende reddingspoging. Die Burger, 14 April, bl. 9.

Johl, R. 1978. Monica ’n “oop” leesavontuur vir lekelees. Transvaler, 1 Julie, bl. 7.

Kannemeyer, J.C. 1996. Dié roman is ragfyn beplan. Rapport, 30 Junie, bl. 31. 

—. 2005. Die Afrikaanse literatuur. 1652–2004. Kaapstad en Pretoria: Human & Rousseau. 

Kruger, J. 1974. Onderhoud met Eleanor Baker. Die Vaderland, Maart.

Krüger, L. 1986. ’n Kop vol boeke. De Kat, Augustus, bl. 80. 

Lategan, L. 1999. Duiwelse oorlog waaroor Baker oopkop skryf. Volksblad, 15 Februarie, bl. 8.

—. 2003. Baker se laaste roman staan kop en skouers bo haar ander werk. Volksblad, 6 Januarie, bl. 4. 

Lombaard, S. 2002. Baker was ons “cantadora”. Die Burger, 18 Julie, bl. 4. 

Malan, C. 1992. Kultuurkritiek. In Cloete (red.) 1992. 

McKnight, R. 2003. ’n Ou begin. Boekewêreld, Kaapse Bibliotekaris, 47(1):16–7.

Pakendorf, G. 1988. Blomtyd, maar Iris wil nie blom nie. Die Burger, 30 Maart, bl. 6.

Pelser, W. 2002. Talle verslae oor Eleanor Baker se dood. Volksblad, 3 Julie, bl. 6.

Pereira, E. 1992. Romantiek. In Cloete (red.) 1992.

Posman, S. 2017. This Deleuzian century. Resensie. Die Leesclub van alles. https://hopla.deleesclubvanalles.nl/recensie/this-deleuzian-century (23 Maart 2020 geraadpleeg). 

Pretorius, W. 1992. Uitdagend erotiese roman kafoefel lekker met Afrikaans. Beeld, 16 April, bl. 2. 

Rayner, T. 2013. Lines of flight: Deleuze and nomadic creativity. https://philosophyforchange.wordpress.com/2013/06/18/lines-of-flight-deleuze-and-nomadic-creativity (4 Desember 2019 geraadpleeg). 

Roos, H. 1998. Perspektief op die Afrikaanse prosa van die twintigste eeu. In Van Coller (red.) 1998.

—. 2006. Die Afrikaanse prosa 1997 tot 2002. In Van Coller (red.) 2006 

Scholtz, H. 1974. Eleanor se kinderdae omgeskryf. Transvaler, 4 Februarie, bl. 4. 

—. 1999. Dit reën groot duiwels dood. De Kat, Februarie, ble. 26–7.

Scholtz, M.G. 1992. Roman. In Cloete (red.) 1992. 

Schoonees, P.C. 1950.Tien jaar prosa. Johannesburg: Afrikaanse Pers Boekhandel. 

Sebeok, T.A. (red.). 1960. Style in language. New York: MIT Press.

Spies, L. 1996. Die bydrae van die Afrikaanse digteres: ’n Eie literatuurgeskiedenis? Stilet, 9(2):50–7.

Steenberg, D.H. 1992. Literatuur en lewensbeskouing. In Cloete (red.) 1992. 

Terblanche, E. 2016. Eleanor Baker (1944–2002). ATKV/LitNet-Skrywersalbum. 23 Februarie. https://www.litnet.co.za/eleanor-baker-1944-2002 (2 Desember 2019 geraadpleeg).

Van Biljon, M. 1996. Die vrou se lewe in ’n spieël gesien. Die Burger, 7 Julie, bl. 11.

Van Coller, H.P. 1995. Die Afrikaanse plaasroman as ideologiese refleksie van die politieke en sosiale werklikheid in Suid-Afrika. Stilet, 7(2):22–31.

—. 1996. Canonization and standardization in the New South Africa. Frame. Tijdschrift voor Literatuurwetenschap. Themanummer Interculturele Literatuurwetenschap, 11(3):4–8. 

—. 2001. N.P. Van Wyk Louw as kanoniseerder. Deel 2. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 41(2):133–46.

—. 2006. Profiel: Marita van der Vyver (1958–). In Van Coller (red.) 2006. 

—. 2009. Tussenstand: Letterkundige opstelle. Pretoria: Van Schaik.

Van Coller, H.P. (red.). 1998. Perspektief en profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 1. 1ste uitgawe. Pretoria: J.L. van Schaik.

—. 1999. Perspektief en profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 2. 1ste uitgawe. Pretoria: J.L. van Schaik.

—. 2006. Perspektief en profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 3. 1ste uitgawe. Pretoria: Van Schaik. 

—. 2015. Perspektief en profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 1. 2de uitgawe. Pretoria: Van Schaik. 

Van Coller, H.P. en B. Odendaal. 2005a. Die verhouding tussen die Afrikaanse en Nederlandse literêre sisteme. Deel 1: Oorweging vir ’n beskrywende model. Stilet, 17(3): 1–17. 

—. 2005b. Die verhouding tussen die Afrikaanse en Nederlandse literêre sisteme. Deel 2: ’n Chronologiese oorsig. Stilet, 17(3):18–46.

Van der Merwe, C.N. 1994. Breaking barriers. Stereotypes and the changing of values in Afrikaans writing. 1875–1990. Amsterdam en Atlanta, GA: Rodopi.

Van Gennep, A. 1960 [1908]. The rites of passage. Chicago: The University Press.

Van Niekerk, A. 1994. Vrouevertellers 1843–1993. Kaapstad: Tafelberg.

—. 1999. Die Afrikaanse vroueskrywer – van egotekste tot postmodernisme (18de eeu – 1996). In Van Coller (red.) 1999. 

Van Zyl, A. 1984. Tradisionele tema in sprokie prikkelend verdiep. Volksblad, 27 Oktober, bl. 6.

—. 1989. Dié werk pak jou beet en voer jou mee. Volksblad, 11 Februarie, bl.15.

Van Zyl, D. 2006. Profiel: Eleanor Baker (1944–2002). In Van Coller (red.) 2006. 

—. 2015. Profiel: Eleanor Baker (1944–2002). In Van Coller (red.) 2015. 

Van Zyl, I. 1978. Monica: Vol waarde vir romanliteratuur. Die Suidwester, 10 Julie, bl. 2.

—. 1982. Baker stel teleur. Die Suidwester, 15 Februarie, bl. 2.

—. 1985. Ander boeke: Weerkaatsings. Die Suidwester, 22 Februarie, bl. 14.

Van Zyl, W. 1999. Knap oorlogsroman vir die breë leserspubliek. Rapport, 28 Februarie, bl. 18. 

Viljoen, H. 1992. Verandering. In Cloete (red.) 1992. 

Viljoen, L. 1996. Baker trek ’n deur toe. Insig, Augustus, bl. 38.

Wasserman, H. 1998. Vaardige roman nie krities genoeg. Die Burger, 2 Desember, bl.14. 

Willemse, H. 1999. ’n Inleiding tot buite-kanonieke Afrikaanse kulturele praktyke. In Van Coller (red.) 1999.

 

Eindnotas 

1 Baker se “sêgoed” word vervat in ’n LitNet-skrywersprofiel deur Erika Terblanche: https://www.litnet.co.za/eleanor-baker-1944-2002.

2 Braidotti (2014:177) gebruik hier ’n voetnoot (29): Michael Hardt and Antonio Negri, Empire (Cambridge, MA: Harvard University Press, 2000); Paolo Virno, A grammar of the multitude (New York: Semiotext(e), 2000).

3 Deleuziaanse vitalisme:

Hoe moeten we Deleuzes vitalistische leven dan begrijpen? De laatste tekst die Deleuze schreef, “Immanence: une vie”, [...]: ‘een zuiver asubjectieve bewustzijns-stroom, een onpersoonlijk prereflexief bewustzijn, als kwalitatieve duur van een bewustzijn zonder ik’ (Deleuze 2006:16). Het leven dat centraal staat in Deleuzes denken is niet iemands leven. Hij gebruikt het onbepaald lidwoord – ‘une’ vie – om aan te geven dat het ontsnapt aan representatie. Een leven is de werkelijkheid als immanent veld. Zo’n immanent veld is niet vlak of puur: je kunt het zien als een netwerk of als een verzameling plateaus met dynamische verbanden, tussen de dingen, en tussen de dingen en ons denken. (Posman 2017)

4 Inligting omtrent die betekenis van name van hoofkarakters, byvoorbeeld as Bybelverwysings of verskillende mitologiese verbintenisse, varieer. Dit word by die aanvang van elke kort samevatting van die boek en boekomslag by die naam van elke hoofkarakter slegs genoem. Omdat die herkoms van name en naambetekenisse geredelik allesomvattend hanteer word by http://www.thinkbabynames.com, is dié webtuiste vir die doeleindes van die navorsing gebruik.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top