Suid-Afrika se diversity is altyd motivation om niewe cultures te visit op heilige dae, soes Diwali wat in November 2023 plaasvind. Watter bietere way is daa ommie Heritage-maand (September) en Diwali te vier op LitNet as met ’n dialoog mettie creative director van Taare, Ahneesh Valodia!

Ahneesh Valodia
Taare is ’n 11 jaar oue Bollywood-dansgroep in Kaapstad wat uit 30 dansers bestaan – ammal van hulle is voltydse wêkers en studente. Sommige van Taare se doelwitte sluit in om die Indiese kunste te bewaar deur die promotion van dans, performance en community enrichment. Hulle range van showcases wissel van solo’s tot groot group productions, met events wat wissel van klein private functions tot groter theatre productions. Vandat hulle gebore is, is Taare op baie verhoë te sien: Artscape en Baxter Theatres, verskynings in films en op TV soos Bhai's Café en Around the world in 80 days, asoek performances vi company events en government entities. Taare is oek trots daa’op om by te dra tot community events en fundraising initiatives vi baie causes. Taare gloe dat dans ’n kragtige medium is om communities te uplift en audience development te promote, en dis hoekom hulle oek in public en private workshops engage om Indiese dans te deel met verskillinde communities.
Ahneesh Valodia is ’n self-taught Bollywood-danser en -choreographer en is opgelei innie Indian classical dans style van Kathak, ’n klas dans wat uit Noord-Indië kom. Ahneesh het regoo die land perform, maa is toe gediagnoseer met spierdistrofie, ’n degenerative muscle condition wat hom aan ’n rolstoel gebind’t en hom prevent’t om sy performance career te continue. Ten spyte van hierdie health challenges het Ahneesh se liefde en passie vir dans gelei tot die stigting van Taare in 2012, wat hom toegelaat het om die medium van dans deur choreography te pursue.
Met albei die Bollywood- en K-pop-industries taking the world by storm is daa iets cool om te sê vi die invloed van film en entertainment industries wat uit die Ooste kom. Baie groot name in die Indiese kunste woon in Gauteng en KwaZulu-Natal, maa vandag is ons excited om Bollywood-stemme in die Kaapse district deur die oë van Ahneesh te lee ken. Kom ons kyk wat hy te sê het!

Vier Diwali – the festival of light!
Ve’tel ôs mee oo Diwali. Wat is die betekenis van Diwali? Hoe lyk ’n Diwali-fees in Kaapstad, en hoe vier djy dié fees saam met jou familie en commuity?
Diwali staan bekend as die “fees van ligte” en is ’n jaarlikse godsdienstige vakansiedag op die Hindu calendar. Volgens ons scriptures is dit die tyd waar Lord Ram (Hindoe-god simbolies van moed en krag) terug huis toe gekom het nadat hy 14 jaar lank deur sy stiefma verban is. Hierdie aankoms was ’n rede vir feesviering, en rye (wali) van ligte (diyas) is aangesteek om sy pad te verlig, wat aanleiding gegee het tot die naam Diwali vir die fees. Die fees is dus ’n viering van lig bo duisternis (donkerheid) en die goeie oor die bose.
In vandag se tye word Diwali gevier met ’n besoek aan die tempel vir ’n diens in die oggend, gevolg deur familiebesoeke wat die deel van ’n maaltyd insluit, of dit nou middagete of aandete is. Tradisioneel word nuwe klere ook op hierdie dag gedra en ’n verskeidenheid sweetmeats (nageregte), byvoorbeeld burfee, word tussen familie en vriende uitgeruil as heilige aanbiedings. Huise word versier en lampe begin brand in die dae wat tot Diwali lei. Dit is ’n tyd van vreugde en feestelikheid sowel as ’n tyd om ’n nuwe begin te verwelkom. Diwali is ook ’n herinnering dat “bygones will be bygones” as ons die verjongde tydperk binnegaan – een gevul met lig, positiwiteit en goeie dade.
Diwali word oor die hele wêreld gevier met events wat voor en na die werklike fees plaasvind: liefdadigheidsuitstappies, aandete en concerts van musiek en dans. Kaapstad spog jaarliks met trots met die Festival of Lights by die V&A Waterfront Amphitheatre wat deur die Hindu Association of the Western Cape (HAWC) aangebied word. Dit is ’n middag van sang en dans deur verskeie kultuurgroepe wat almal bymekaar kom om die fees as ’n gemeenskap te vier. Om die verhoog as een eenheid te deel, eggo verder ’n beduidende waarde van Diwali en dit is van eenheid en samesyn.

Taare niem oek deel aan gewyde dans by temple ceremonies.
Deel met ôs lesers mee’ oorie Hindoe-Indiese community in Kaapstad. Waa innie Kaap woon die Hindoe-Indiese community? Locals maa oek expats?
Histories is Indiese gemeenskappe in southern suburb-gebiede soos Rylands en Cravenby gebaseer, maar vandag woon baie van Indiese oorsprong oral rondom The Mother City, insluitend in die northern suburbs – gebiede soos Tygervallei en Milnerton byvoorbeeld. Die plaaslike Indiese gemeenskap het gegroei met baie wat ook van Durban en Johannesburg hierheen verhuis het. Hierdie toename in Indiese bevolking het nie net ons gemeenskap versterk nie, maar het ook geleenthede geskep vir kleinsake-eienaars om ’n groter bevolking te bereik, met die behoefte aan Indiese produkte, dienste en geleenthede wat altyd toeneem. Jou daaglikse huishoudelike Indiese items byvoorbeeld is nou nie net beperk tot Rylands nie, maar strek tot gebiede soos Houtbaai. Dit is wonderlik om beide die ekonomiese en kulturele ontwikkeling die afgelope jare te sien.
Besides jou stage performances, niem Taare oek deel aan gewyde dans by temple ceremonies. Niem ons deur’ie medium van Indiese dans, die verskillende styles (tradisioneel, modern), en sy plek in tradisionele en entertainment spaces.
Indiese dans het styl-oorspronge in Indiese klassieke en Indiese volksdansstyle (folk dance). Beide hierdie antieke vorme van dans is uitgevoer as ’n middel van toewyding en viering. Terwyl Indiese klassieke dansvorme ’n rigiede struktuur en sillabus volg, is Indiese volksdansstyle meer spontaan van aard en kan dit deur enigiemand uitgevoer word. Vandag word tempeldanstradisies steeds lewend gehou, ten spyte van die invloed van Bollywood. Ons bied steeds ons toewyding deur dans in tempels, veral by spesiale geleenthede soos Diwali of Janmasthami (die geboorte van Lord Krishna). In moderne tye het ’n derde genre van Indiese dans ontwikkel en dit word Bollywood genoem.
Bollywood-dans is hoofsaaklik gebaseer op elemente van Indiese klassieke en Indiese volksdanse, maar dit is ’n vorm van dans wat ’n meer kontemporêre aantrekkingskrag aanneem, aangesien dit ook inspirasie put uit internasionale dansstyle soos hip-hop, modern, ballet, ens. Bollywood-dans is dus ’n genre wat absolute kreatiwiteit en diversiteit toelaat in wat dit kan vertoon. Die konsep van ’n spesifieke Bollywood-dans word dan aan die visie van die choreographer oorgelaat – hierdie skeppings is op hul beurt fassinerend en inspirerend om te aanskou.
Indiese dans is vandag dus ook ’n vorm van mainstream entertainment deur middel van film music. Terwyl Indiese dans eeue gelede in tempels begin het, word dit nou ook in groot lokale soos theatres en stadiums opgevoer, en bereik massas deur live concerts en productions en natuurlik deur die infinite aantal rolprente uit Indiese film industries soos Bollywood, Kollywood en Tollywood, om ’n paar te noem.

Tydens ‘n Taare rehearsal byrie Artscape
’n Klein voëltjie het ôs ve’tel dat Madhuri Dixit, die koningin van dans, een van jou favourite mense in Bollywood is! Deel mee’ oo wie sy is, jou gunstelingfilms van haa oorie jare en hoe sy jou dans career inspire het.
Ag, Madhuri Dixit Nene is inderdaad een van my gunstelingmense in Bollywood. Sy is ’n aktrise en ’n danser met meer as 70 flieks agter haar naam. Vir my lê haar aanloklikheid nie net in haar acting skills nie, maar beslis ook haar dansvaardighede en die veelsydigheid wat sy daarvan het. Veral haar gesigsuitdrukkings is van die bestes wat ek gesien het since ek op Bollywood verlief geraak het. Aaja Nachle (vertaal na “Kom dans”) sal in die top 10 van my gunstelingflieks van haar van alle tye verskyn. Ander sluit in Devdas, Hum Aapke Hain Kaun en Dil To Paagal Hain. Sy word natuurlik in al hierdie gesien dans!
Madhuri, wat self in Kathak opgelei het, het ’n sekere vlak van grasie en selfbeheersing wat nie altyd by alle aktrises gesien word nie. Omdat sy self in beide Kathak- en Bollywood-dans belê is, gaan sy so naatloos tussen die twee kunsvorme oor en dit is ongelooflik mooi om te kyk.
Op die ouderdom van 56 maak sy steeds golwe deur beide toneelspel en dans, en was nog altyd ’n inspirasie vir dansers regoor die wêreld. Ek kan nie aan ’n vroulike danser dink wat nie op ’n stadium in hul dansloopbaan deur Madhuri se tegniek en grasie geïnspireer is nie!
Time magazine het Shah Rukh Khan as een van die “100 most influential people” van 2023 gelys. Ashwariya Rai was oek die gesig van Lo'real en baie global brands. Wat is jou opinion van hoe Bollywood figures die conversation skep tussen Oos en Wes, en hoe hulle Indiese kuns narrie res vannie wêreld bring?
Dit is absoluut awesome. Met elke jaar wat verbygaan, is meer en meer Bollywood-ikone betrokke by die Weste en dit is wonderlik om te weet dat hulle wêreldwye erkenning kry, nie net vir hul werk as Indiese akteurs en dansers nie, maar ook vir hul vaardighede in ander tale en film industries. Ek hoop dat hierdie gesprekke tussen die Weste en Ooste deur hierdie kunstenaars die weg sal baan vir verdere collaborations – kuns is immers deur en vir almal, ongeag enige spesifieke artistieke agtergrond of kultuurerfenis.

Kathak, ‘n klas dans wat uit Noord-India kom
Anjali in Wonderland, ’n original Taare production, het in Julie 2023 3 sold-out shows byrie Artscape gehad. Baie geluk! Deel nog feel-good Taare moments met ôs en die highlights om saam met Suidoosterfees en Artscape oorie jare te wêk. Wanneer sien ôsie volgende Taare production?
Dankie! Anjali in Wonderland is inderdaad ons grootste hoogtepunt tot nog toe. Ons het die mees ondersteunende gehoor gehad en ’n wonderlike rolverdeling en span wat die visie na nuwe hoogtes geneem het.
Jaarliks sou die grootste gebeurtenis op ons kalender ons eie production wees. Soms neem dit die vorm aan van ’n theatrical spectacular, byvoorbeeld Bollywood Enchanted (2018), ’n Cinderella story, en soms is dit ’n showcase van suiwer dans en sy veelvuldige genres, byvoorbeeld When dancers unite (2022), ’n collaborative dance production van 10 different styles! Ons is geseënd om geassosieer te wees met beide Artscape en Suidoosterfees wat gasheer speel vir hierdie herinneringmakers. Nie net kan ons die werklike kuns van ons dansvorme deur hierdie geleenthede ten toon stel nie, maar ons is ook gelukkig om dit op te voer met artistic flare wat resoneer met wat Bollywood-dans vandag is – ’n genre gevul met kleur, glans en opvallende visuele vertoon. Albei organisasies het nog altyd die mees gesonde kreatiewe en logistieke ondersteuning verskaf en ons is so dankbaar.
Tydens Covid was nog ’n hoogtepunt van ons reis The Taare Express. Weens ’n beperkte aantal besoekers wat destyds in ’n theatre toegelaat is, het ons gekies om eerder ’n production by Artscape te verfilm wat toe dit vrygestel is, ’n wyer gehoor aanlyn bereik het. Dit het ons nie net toegelaat om voort te gaan met ons missie tydens die moeilike pandemie nie, maar ons was in staat om iets artistiek uniek uit ’n film perspective te produce waaraan ons nie andersins sou gedink het nie.
Ons hoop om terug te keer met iets nuuts en vars in 2024! Hou ons social media dop!
Bronne
> Alle foto's verskaf deur Ahneesh Valodia van Taare

