Verantwoordelike rolprentvervaardiging: ’n onderhoud

  • 0

Dian Weys

Geluk met die publikasie van jou artikel, Dian. Ek sien jy skryf al vir ’n geruime tyd oor verantwoordelike rolprentvervaardiging. Aan die breër kykerspubliek is jy bekend vir jou briljante kortfilm, Versnel. Hoe beïnvloed jou akademiese werk jou eie benadering tot die praktyk van vervaardiging?

Baie dankie, Jaco! My akademiese werk vorm sonder twyfel die grondslag van my benadering tot die praktyk. Ek is van kleintyd af lief vir fliek kyk en het veral van “skop, skiet en donder”-flieks gehou. My liefde vir die medium is egter op die proef gestel toe ek ’n onderhoud met Michael Haneke gekyk het waarin hy films gekritiseer het wat vermaak uit ander mense se werklike pyn en lyding put. Dit het my oor my eie kykgewoontes laat besin en die tipe materiaal wat my vermaak het. Ek het Haneke se idees oor ’n filmmaker se verantwoordelikheid nagevors en ontwikkel, en nadat ek my meestersgraad in filmstudies voltooi het, wou ek die teorieë en argumente van verantwoordelike rolprentvervaardiging op ’n praktiese wyse toepas. Dit is waar Versnel vandaan gekom het.

In die artikel gaan dit nie bloot oor verantwoordelike rolprentvervaardiging nie, maar ook om verantwoordelike toeskouerskap. Wil jy ons kortliks meer hieroor vertel?

Ek dink die verantwoordelikheid lê heel eerste by die filmmaker. Abbas Kiarostami het in sy toespraak getitel “An unfinished cinema” by die Centenary of Cinema in Parys (in 1993) gesê dat die eerste 100 jaar van film aan die filmmakers behoort het, omdat hulle kon besluit hoe hulle iets wou uitbeeld en die medium so ontwikkel het, maar dat in die volgende 100 jaar, filmmakers die gehoor moet betrek. Ek stem saam met hom en dink filmmakers moet van hul troontjies afklim en eerder ’n film skep wat die gehoor betrek en ’n rol gee in die film se betekenisskeppingsproses.

Jou antwoord impliseer egter die idee van ’n ontvanklike en deelnemende toeskouer en dit laat my wonder oor die breë konsensus wat vandag besig is om in kultuurkritiek te ontwikkel dat die koördinate van kapitalistiese interpellasie verskuif het van ’n teksgebaseerde oriëntasie na ’n beeldgebaseerde oriëntasie. Wat is jou gedagtes oor die invloed hiervan op die toeskouer?

Ek stem saam. Ek dink ’n teksgebaseerde oriëntasie bied die leser ’n beter kans om haar verbeelding in te span en moedig dus groter deelname aan. Haneke het na die Tweede Wêreldoorlog grootgeword en gesê dat, in teenstelling met vandag, hy sonder die voortdurende teenwoordigheid van televisie grootgeword het en daarom die wêreld sonder media as middelman ervaar.

Vandag leer ons merendeels deur media van die werklikheid. Die probleem hiermee is dat ons idees van ons medemens georiënteer en bepaal word deur middel van verskeie media. In terme van film beskou ek filmmakers wat vir hul gehore voorskryf wat om te dink oor geloof, geweld, ras, geslag, seksuele oriëntasie, en, dus, my medemens, as arrogant. Ek herinner myself gedurig aan wat Haneke vir sy studente leer: hulle kyk na Leni Riefenstahl se Triumph of the will (1935), Sergei Eisenstein se Battleship Potemkin (1925) en Wolfgang Peterson se Air Force One (1997). Al verskil hierdie films van mekaar wat betref hul politiese agenda, is hulle tog dieselfde in die wyses waarop hulle die gehoor manipuleer. Haneke wys daarop dat wat Air Force One wel so problematies maak, is dat dit as vermaak voorgestel word. Film kan as ’n propagandamedium gebruik word, soms eksplisiet en soms implisiet.

Afgesien van die feit dat media ’n oorvereenvoudigde, opgeknapte, utopiese, eensydige of pseudowerklikheid voorstel, kry ons ook die kans om ongesiens en, soos Stanley Cavell verduidelik, onsigbaar na hierdie wêreld te kyk. ’n Voorbeeld: die kind wat in Sirië uit ’n wrak gered word, kan nie sien hoe ek na die videogreep kyk waarin hy gered word nie. Wanneer ek na ’n nuusflits kyk en met ’n vee van my duim aangaan na die volgende interessante brokkie nuus, word my verantwoordelikheid teenoor daardie persoon ook van die hand gewys. Die videogreep maak my bewus van die probleem; ek mag dalk ontsteld wees of selfs (hopelik) aangespoor word om iets daaromtrent te doen, maar in die konstante stroom van media is daar baie ander tragiese nuus, vermaak, advertensies, suggestiewe foto’s en Buzzfeed-vasvrae wat om my aandag meeding.

Beskou deur die lense van die twee verantwoordelikhede wat jy in jou artikel bespreek, wat is jou geheelindruk van die Suid-Afrikaanse rolprent sedert 1994? 

Die meeste Suid-Afrikaanse films is nog hewig beïnvloed deur die styl afkomstig van Hollywood se dominante vermaaklikheidsfilms. Hierdie geslote romantiese filmstyl bied ’n maklike uitweg, omdat sulke films ’n wêreld aan gehore voorstel wat eenvoudig en verklaarbaar is. Sodoende word die gehoor in ’n posisie van alwetendheid en almagtigheid geplaas en word dus ontvlugting van die kompleksiteit van die wêreld gebied.

Verder is daar min Suid-Afrikaanse films wat aktuele of hedendaagse kwessies aanspreek, en wanneer hulle dit wel doen, word dit gewoonlik deur die lens van Hollywood-genres weergegee. Dit gebruik generiese filmtaal om ’n spannende of vermaaklike storie te vertel wat, byna per toeval, ’n historiese referent besit. Hierdie films neem ’n komplekse situasie en maak dit verstaanbaar deur oorvereenvoudiging of deur dit as vermaak aan te wend wat gehore dus nie net van deelname ontneem nie, maar ook hul verantwoordelikheid teenoor hul medemens ignoreer. Daar is wel Suid-Afrikaanse films wat ’n Europese estetika gebruik of modernistiese styl toepas, maar sulke films dra gewoonlik ’n sekere ideologiese of politiese oortuiging aan gehore oor. Hulle vertel ’n hedendaagse of historiese verhaal deur ’n revisionistiese lens, en al kom hierdie films as verantwoordelik voor, gee dit nie gehoorlid die geleentheid om sy of haar eie gevolgtrekking te maak nie. 

Wil jy ons kortliks vertel van die maniere waarop, of strategieë waardeur, Haneke in Amour te werk gaan om verantwoordelikheid te bewerkstellig? 

Haneke glo dat die vorm en die inhoud van ’n film in harmonie moet wees. Dit beteken dat beide die vorm en die inhoud van Amour verantwoordelik is. Die narratief (inhoud) gaan oor ’n man wat verantwoordelikheid vir sy vrou moet neem nadat sy ’n beroerte gekry het. Die eerste toneel verklap ook die einde aan die gehoor deur te wys dat Anne gaan sterf. Haneke vermy dus om spanning aangaande Anne se lot te kweek, sodat die gehoor se fokus verskuif van “wát gaan met Anne gebeur” na “hóé gebeur dit met haar?”. Wat die tegniese strategieë (vorm) betref, verfilm Haneke talle tonele deur lang skote sodat kritiese afstand vir die gehoor geskep kan word, asook om te verhoed dat redigeringstegnieke subtiel kommentaar oor die toneel lewer. Die skote word ook min of meer natuurlik belig sodat wanneer Haneke die banale roetine van die egpaar en Anne se swaarkry voorstel, dit nie esteties mooi of met onnatuurlike beligting versier is nie. Verder gebruik Haneke selde diëgetiese musiek (musiek wat nét die gehoor kan hoor; nie die karakters nie). Die tonele van swaarkry word júis nie met musiek verhoog nie, omdat musiek ook tonele namens gehore kan interpreteer. Al hierdie strategieë help Haneke om sentimentaliteit en die ontlok van oppervlakkige emosies op manipulerende wyses te vermy. Sodoende gee hy die gehoor kans om self te besluit wat Anne se swaarkry en Georges se verantwoordelikheid vir hulle beteken.

Amour (Foto: YouTube)

Dian, as jy ’n film van enige boek kon maak, watter boek sou dit wees en waarom? 

Indien ek ooit só ’n geleentheid kry, sou ek enige boek van JM Coetzee wou doen, veral In the heart of the country of Life and times of Michael K. Coetzee is een van my gunstelingskrywers. Ek is mal oor sy temas, die kompleksiteit van sy “eenvoudige” stories en hoe hy sy leser spasie gee om aan die teks deel te neem. Maar ek sou te bang wees, omdat Coetzee se narratiewe strategieë so subtiel dog ingewikkeld is dat ek dit selde kan raaksien. Ek is eintlik maar net in verwondering oor sy werk!

Lees ook

(On-)Verantwoordelike rolprentvervaardiging: Die voorstelling van plaasmoorde in Darrell Roodt se Treurgrond (2015)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top