
Titel: Kanniedood
Skrywer: Irna van Zyl
ISBN: 9780798186025
EPUB ISBN: 9780798186032
Uitgewer: Human & Rousseau, April 2026

Foto: Brenda Veldtman
Irna van Zyl se sesde krimi, Kanniedood, het onlangs verskyn. Speuradjudant Storm van der Merwe en kollega Shirien Niemandt vind vroegoggend die lyk van die bejaarde Gerty Jonas in ’n eenkamerhuis in Zwelihle, Hermanus. Op die oog af lyk die afsterwe natuurlik, maar haar seun Kai se verdwyning veroorsaak raaisels.
Kolonel Mier Ritchie beskuldig Storm egter van onetiese optrede vanweë skinderpraatjies en sy word tydelik ontslaan.
Om tot verhaal te kom neem Storm ’n blaaskans by die omgewingsaktivis Jane English se wildplaas buite Barrydale. Maar Jane het ’n verskuilde agenda met haar gul uitnodiging: ’n Sindikaat het die vorige week bitter skaars vetplantjies van haar plaas gestroop en sy smeek Storm om die smokkelnetwerk oop te vlek.
Dan verskyn Kai Jonas onverwags weer.
Kanniedood is ’n lekker krimi oor omgewingsdiefstal en speel tussen Hermanus en die Klein Karoo af.
Francois Bekker kom op Netwerk24 (“‘Kanniedood’ ’n krimi met tydige groen boodskap”) tot die gevolgtrekking dat Kanniedood nie net as ’n opwindende misdaadroman geposisioneer is nie, maas as belangrike sosiopolitieke kommentaar. Deur Irna se vermoë om tradisionele krimi-elemente met ’n dringende ekologiese boodskap te vervleg, wys sy dat die genre kan dien as ’n spieël vir kontemporêre krisisse soos klimaatsverandering en omgewingsverwoesting. Bekker sê Kanniedood is méér as bloot ontvlugtingslektuur; dit is ’n relevante en tydige waarskuwing wat die leser lank ná die laaste bladsy sal bybly.
Om te verstaan waarom sy met soveel gesag oor kwessies kan skryf, kan jy na haar CV loer. Irna behaal haar honneursgraad in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit Stellenbosch in 1978, waar sy in haar derde jaar ook deel was van DJ Opperman se bekende letterkundige laboratorium. In 1979 voltooi sy haar honneurs in joernalistiek onder Piet Cillié, waarna sy in Desember van daardie jaar as verslaggewer by Die Burger in Kaapstad begin werk.
In 1981 word sy bekroon met die Stellenbosch Farmers Winery se prys vir ondernemende joernalistiek vir haar dekking van die vloedrampe in Laingsburg en Montagu. Sy maak in 1985 geskiedenis as Die Burger se eerste vroulike hoofsubredakteur.
Sy verhuis in 1988 na Johannesburg om redakteur van De Kat te word. In 1996 keer sy terug Kaapstad toe en stig in 1998 die uitgewersmaatskappy New Media Publishing saam met kollegas John Psillos, Naomi Herselman en Sheldon Cohen. Kort daarna word sy ook die redakteur van Insig, en tussen 2007 en 2009 was sy aan die stuur van Boeke-Insig.
In April 2015 tree sy uit as redaksionele direkteur van New Media om haar voltyds op haar eie kreatiewe skryfwerk toe te spits. Vir haar reuse bydraes tot die bedryf word sy in 2015 vereer met Media24 se Piet Cillié-prys vir joernalistiek, sowel as Naspers se Orde van Tafelberg vir haar sakebydrae tot die groep.
Hoewel haar kortverhaalbundel Grootmensspeletjies reeds in 1995 verskyn het, fokus sy sedert 2015 voltyds op fiksie. Sy is bekend vir haar misdaadromans en rillers: Moordvis (Julie 2016 – haar debuutmisdaadroman), Gifbeker (2018), Bloedsteen (2020), Op ’n mooi dag (2021 – haar eerste sielkundige riller) en Kwaaiwater (2023).
Vrae aan Irna
Kanniedood fokus sterk op die smokkelary van bitter skaars vetplante in die Klein Karoo. Wat het jou spesifiek laat besluit om omgewingsdiefstal en hierdie unieke florakrisis as die spilpunt van jou sesde misdaadroman te gebruik?
Ek het na ’n podsending geluister met die titel “Bad seeds” waarin onder meer die geskiedenis van die diefstal van plante die wêreld oor bespreek word. Kort daarna het ek ’n artikel gelees oor hoe kosbare miniatuurvetplantjies van die Conophytum-spesies in die Richtersveld teen ’n hang waar dit gegroei het, weens stropery byna heeltemal verdwyn het. Dit het my so aan die dink gesit dat ek met navorsing begin het. Ek het agtergekom dat Suid-Afrika se vetplantjies, spesifiek uit die Karoo-bioom, sedert Covid deur sindikate uit die Ooste geteiken word en dat miljoene rande se vetplantjies met die hulp van plaaslike inwoners jaarliks landuit gaan.
Omgewingsmisdaad en die werking van vetplantsindikate is baie spesifiek. Watter soort navorsing moes jy doen om Jane English se wildplaas en die smokkelnetwerk outentiek in die boek uit te beeld?
Van gesprekke en besoeke aan kenners soos Ernst van Jaarsveld, bekende botanis en oudhoof van Kirstenbosch (deesdae by Babylonstoren) tot mense in townships wat bendebase ken, ’n besoek aan ’n ekovriendelike omgewingsplaas naby Ladismith, ’n kwekery met vetplantjies waar ek wettiglik ’n paar van die soorte wat op die gevaarlys is of gewild by stropers is, kon bekom. Ek het onder meer ook drie keer op fynbostoere gegaan, talle wildplase in die Karoo besoek en talle en talle artikels oor vetplantstropery en broodboomdiefstal gelees. Asook boeke oor vetplantsoorte en die diefstal van alle soorte natuurlike hulpbronne. Jane English en haar wildplaas kom reeds uit my vorige boek, Kwaaiwater, wat in 2023 verskyn het.
In sy resensie op Netwerk24 noem Francois Bekker dat die boek dien as ’n spieël vir eietydse krisisse soos klimaatsverandering. Was dit van die begin af jou doel om belangrike sosiopolitieke en ekologiese kommentaar te lewer, of het dit organies uit die storie ontwikkel?
Ek is baie lief vir die natuur en het ook in Moordvis, Kwaaiwater en Bloedsteen omgewingskwessies aangespreek soos onderskeidelik die stroop van haaivinne en perlemoen, die kwessie van skaliegas in die Karoo en breking, en die verdwyning van ’n rooi diamant (die wêreld se waardevolste kleur diamant – daar is omtrent net twintig in die wêreld). Dit beteken nie dat ek doelbewus op ’n seepkis gaan staan en preek het nie, veel eerder dat ek hierdie onderwerpe interessant genoeg vind om ’n storie van 100 000 woorde aan te pak met raaisels of met ’n misdaad waarby hierdie onderwerpe betrek word. Ek sou sê dis meer organies en ontwikkel rondom ’n idee vir ’n storie as doelbewus.
Die boek speel af teen die agtergrond van die kusdorpie Hermanus (Zwelihle) en die droë Klein Karoo (Barrydale). Hoe help hierdie geografiese kontras om die spanning en die temas van die storie te versterk?
Die omgewing help my op ’n lekker manier met die inkleding van die storie en plaas die karakters in die boek in ’n wêreld waar jy hulle beter kan leer ken, hulle ook in humoristiese situasies kan plaas, en jy meer oor hulle te wete wil kom. Terselfdertyd verskaf dit leidrade vir die karakters se dialoog, kleredrag, gebrek aan geld al dan nie. Jy rol ook klippe in die pad wat dinge vir die karakters in hulle omgewing bemoeilik.
Jou bekende speurder, Storm van der Merwe, word in hierdie boek tydelik ontslaan weens skinderpraatjies en beskuldigings van onetiese optrede. Waarom was dit vir jou belangrik om haar hierdie keer in so ’n emosionele en professionele krisis te plaas?
Ek probeer skep vir Storm met elke boek ’n geloofwaardige krisis wat haar op die een of ander manier bedreig, hetsy persoonlik, professioneel of emosioneel. As ek dit alles in een gebeurtenis kan regkry, word die “stakes” nog hoër (soos ons in die krimiwêreld daarna verwys). En daardeur word die spanning wat jy in ’n blitsblaaier probeer skep, nóg meer verhoog.
Kai se skielike verdwyning ná sy bejaarde ma se dood, en sy onverwagse terugkeer later, skep baie raaisels. Sonder om te veel te verklap, hoe skakel sy persoonlike storie in by die groter tema van die vetplantsindikaat?
Kai is een van die sleutelkarakters in Kanniedood, en as leser weet jy nie of hy een van die slegte of die goeie ouens is nie. Dit is een van die dryfvere wat jou laat aanhou lees.
Jy was in jou derde jaar op Stellenbosch deel van DJ Opperman se bekende letterkundige laboratorium. Hoe het daardie vroeë ervaring jou benadering tot die teks en die strukturering van ’n storie oor die jare gevorm?
Ons werk in die letterkundige laboratorium was hoofsaaklik toegespits op poësie. Ek was baie bevoorreg om onder meer saam met Etienne van Heerden en Joan Hambidge in die klas te wees. Dis waar mens geleer het om die waarde en betekenis van woorde te waardeer en het sekerlik ’n rol gespeel om my liefde vir lees en letterkunde verder te ontwikkel.
Jy het ’n indrukwekkende joernalistieke loopbaan gehad. Hoe help daardie agtergrond en jou “neus vir nuus” jou vandag wanneer jy die intriges vir jou misdaadromans uitdink? En wat is die gevaar van joernalistieke insig versus fiksie skryf?
Joernalistiek maak jou gemaklik met skryf en om jouself en ander se woorde behoorlik te kan uitdruk. Wanneer ek nou onderhoude doen vir navorsing, dink ek baie terug aan my vroeë jare as misdaad- en hofverslaggewer. Joernalistiek gaan oor feite, en om dit te versamel is taamlik liniêr, as mens dit so kan stel (ek praat nou nie van ondersoekende joernalistiek nie). Met fiksie moet jy dieper werk en jouself soms tot die uiterstes van jou vindingrykheid en vaardigheid druk. Die woordvaardigheid en stilistiese tegnieke leen by mekaar en is selfs soms dieselfde, maar die benadering is totaal verskillend. Dis nogal iets om mee rekening te hou wanneer jy die oorgang van joernalistiek na fiksie maak.
Jy het in 2015 afgetree om voltyds te skryf en het sedertdien ’n indrukwekkende tempo gehandhaaf, met ses boeke. Hoe lyk jou daaglikse skryfproses en hoe handhaaf jy hierdie kreatiewe momentum?
Daar is darem baie ander krimiskrywers wat nog meer boeke as ek in ’n korter tyd skryf, maar die geheim bly maar om so gereeld moontlik (verkieslik elke dag) aan jou storie te werk en ’n ritme te ontwikkel vir wanneer in die dag jy hoofsaaklik skryf. My tyd is wat genoem word die “golden hour”, vroeg in die oggend. As ek dit mis, sukkel ek om daardie dag ’n sin geskryf te kry, wat nog te sê van ’n duisend woorde.
Jou boeke wissel tussen tradisionele misdaadromans en sielkundige rillers. Hoe het jou eie stem binne die misdaadgenre ontwikkel sedert jou debuutmisdaadroman, Moordvis, en hoe moeilik was dit om in die krimigenre in te breek?
Ek probeer kennis neem van kritiek (al is dit soms vrek moeilik) en daaruit leer. Ek lees ook baie op oor my vakgebied en doen gereeld oefeninge (soos om mense in restaurante dop te hou en stories oor hulle uit te dink). Ek woon ook graag skryfkursusse by. Daardeur probeer ek meer leer (steeds) sodat ek elke boek beter as die vorige een kan maak. Ek sê altyd ek is ’n “late developer”, maar op ’n manier ook seker ’n “kanniedood” in die sin dat ek myself baie kan dryf om iets beter te doen. Die pad van Moordvis tot by Kanniedood was lank en steil, maar op kreatiewe gebied ook baie bevredigend. Ek was baie gelukkig om etlike wonderlike mentors langs hierdie pad te gehad het. Mense soos my ouduitgewer Fourie Botha, Kerneels Breytenbach en nou my wonderlike uitgewer Nèlleke de Jager van Human & Rousseau en haar span kundige professionele lesers en redakteurs.
Die titel Kanniedood verwys natuurlik na die geharde vetplant, maar dit dra ook ’n dieper simboliese betekenis van oorlewing. Hoe weerspieël hierdie titel die karakters – veral vir Storm van der Merwe in hierdie stadium van haar lewe?
Ou Storm is ’n regte kanniedood. Sy gee nie sommer moed op nie, sy hou aan soek na die ware misdadiger(s). Terselfdertyd moet sy ook veg vir haar lewe.
As lesers die laaste bladsy van Kanniedood toemaak, wat hoop jy is die hoofbesef of -emosie waarmee hulle gelaat word, veral met die oog op resensente soos Francois Bekker se opmerking dat die boek méér as bloot ontvlugtingslektuur is?
Bevrediging en inspirasie.
Watter druk bring ’n gevestigde/geliefde karakter soos Storm na jou skryfproses? Is jy nie bang lesers wat nie by haar aanklank vind nie, sal ophou lees nie?
Dis my werk om seker te maak dat lesers genoeg betrokke raak by Storm of gefassineerd is deur haar dat hulle meer van dit waarmee sy besig is en wie sy is, wil weet en sal aanhou lees. Maar nie alle mense hou van dieselfde dinge of dieselfde soort mense nie. Daaraan kan mens niks doen nie.
Kan ek dit waag om te vra waaraan jy tans werk?
Aan genoeg tyd vir my fiksheid, Pilates, gholf en natuurlik die mense en diere naaste aan my.
Ander bekendstellings
- Die Klein Karoo Klassique op Oudtshoorn op 9 Augustus om 12:00 in die banketsaal, waar Elna van der Merwe met Irna gesels. Toegang is gratis.
- Op 20 Julie gesels sy by die groot en entoesiastiese Kleinmond-leeskring wat wyd en syd bekend is.
- Op 5 Augustus praat sy met Susan Booyens om 8:30 by die Kalfiefees in die Munisipale Ouditorium op Hermanus.
- Op 9 Oktober is sy deel van ’n paneel by die Woordfees op Stellenbosch.
- Op 20 Oktober, “kuier [sy] by Gansbaai se heerlike en ondersteunende boekklub”.

