US Woordfees 2019: Visuele kuns

  • 0

Die 2019 Visuele Kuns-program onder kuratorskap van die ervare Theo Kleynhans bied ’n wye tematiese en stilistiese verskeidenheid. 

Young, free and single deur Selvin November

Daar is twee feeskunstenaars by die 2019 US Woordfees: Selvin November, wat sosio-politiese vraagstukke rondom slawerny en vryheid aanspreek met groot abstrakte skilderye, en Penny George, wie se drukkuns wentel rondom vroue in die gemeenskap se skoonmaakroetines en praktyke.

Hennie Meyer se uitstalling getiteld X

Veral twee uitstallings is gemoeid met die 2019-verkiesing. Hennie Meyer se uitstalling getiteld X  met honderde handgemaakte stembussies van klei, en die groepsuitstalling I see you I am here / Ek sien jou, ek is hier waar deelnemende kunstenaars gevra was om ’n portret te skilder van iemand uit ’n ander kleurgroep as hulle eie.

Die feestema “Jonk”  word verbeeld in die uitstalling Sub 30, wat kunstenaars jonger as dertig se werke wys. Hierdie uitstalling is die ideale geleentheid om ontluikende kunstenaars raak te sien en bekostigbare werk aan te skaf.

Ek praat nou-nou deur Paul Birchall

Die Koppesneller skattejag

Op ’n ligter noot is daar die reeks vermaaklike videobeelde getiteld Ek praat nou-nou deur Paul Birchall. Kom neem ook deel aan die skattejag getiteld Koppesneller. In dié uitstalling deur Alessandro Pappada word klein handgemaakte keramiekkoppe van strokiesprentkarakters oral weggesteek. Leidrade word daagliks op sosiale media gedeel. As jy een opspoor, kan jy dit hou en kom jy ook in aanmerking vir die spesiale feesuitgawe van goue koppe.

Lees meer oor die visuele kuns te sien by die Woordfees of kry die volledige program.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top