By die Woordfees is daar aanbiedings wat jy eenvoudig móét proe.
Agri-Expo Landbouproe-reeks
Lekkernye so reg uit ’n plaaskombuis is waarvoor hierdie gewilde reeks bekend geword het. Van skaapvleis, kaas en wyn in enige denkbare weergawe word hier geniet en kundig belig.
Merino-lamsboudproe. Sjef Bertus Basson van die Overture- en Spice Route-restaurante, bied ’n proe-sessie van merino-lam uit verskillende streke aan. Geen geurmiddels, kruie of speserye sal bygevoeg word nie en hier kan gaste self proe of Karoolam werklik beter is as skaapvleis uit die Vrystaat. Die vleis word voorgesit met passende, bekroonde Veritas-rooiwyne, aangebied deur Bennie Howard, ondervoorsitter van Veritas en ’n Kaapse wynmeester.

Merino-lamsboudproe.
Shiraz en wildsvleis. Shiraz is een van die belangrikste boustene van ons wynbedryf en plaaslike shiraz-wyne wen jaarliks nasionale én internasionale toekennings. Edmund Terblanche, voorsitter van Shiraz Suid-Afrika en keldermeester en bekroonde wynmaker van La Motte-wynlandgoed, gesels oor die belangrikste plaaslike shiraz-style, terwyl sjef Bertus Basson verskillende wildsnitte voorberei.
Ontdek die oorsprong van jou kos. Wat is die storie agter die kos wat jy elke dag eet? Kom leer proe-proe saam met sjef Bertus Basson en die Veldvleis-vereniging van Suid-Afrika hoe die verskillende maniere waarop ons kos produseer en verwerk, unieke smake skep. Die aanbieders fokus op sowel die konvensionele lendesnit of kruisskyf as veldgrasvleis.
Wit & rooi : versnitte eie aan die Kaap. Wit- en rooiwyne in die Franse Bordeaux-styl is meestal versnitte van verskillende kultivars wat mekaar komplementeer. Kom proe saam met Kanonkop en Vergelegen se wynmakers hoe die beginsel ook op eie bodem toegepas word. Die proe word aangebied in samewerking met Cape Vintner Classification, wat eiesoortige, terrein-spesifieke Kaapse wyne bevorder.
Proe toptien- Sauvignon Blanc-wyne en Qualite-kaas. Kom woon ’n eerste in Suid-Afrika by: proe FNB Top10 Sauvignon Blanc-wyne tesame met kase wat by Agri-Expo se SA Suiwelkampioenskap met die Qualite-gehaltemerk bekroon is. Net 13 kase uit 563 het in 2018 dié toekenning ontvang. Dit is soos die Oscars, net met meer kultuur!
Konsortium Merino hou lamsproe. Konsortium-Merino bied ’n merino-lamsproe uit vyf streke aan: Boesmanland, die Hoëveld, Overberg, Karoo én Oos-Kaap. Die lamsvleis is ewe lank verouder en word deur glanssjef Bertus Basson op dieselfde wyse gaargemaak – met geen geurmiddels nie. Veritas-bekroonde rooiwyne word as pasmaats geskink.
Kaas- en wynproe. Nuwe kaas- en wynstyle, geskep en aangebied deur die bekroonde Charles Back van Fairview.
Sondag-skaapbraai: Gordon Wright. Kom geniet ’n Sondagmiddagete met die “Koning van die Karoo”, Gordon Wright, en proe skaapvleis van die Hardemanskaroo tot in die Kamdeboo. Gordon, skrywer van Farm to Fork en Karoo Food, sal gesels oor hoe Suid-Afrikaanse skaapvleis deel is van die internasionale slow food-beweging.
Die Dylan Lewis-beeldhoutuin
Woordfeesgangers word weer vanjaar na die pragtige Dylan Lewis-beeldhou-tuin genooi. Staan in die tuin en ervaar die manjifieke Stellenboschberg aan jou linkerkant, die prentjiemooi wynlande regs van jou en die silhoeëtte van Tafelberg op die kim.
In hierdie ses hektaar tuin het die beeldhouer Dylan Lewis oor meer as ’n dekade sy eie klein paradys geskep. Van sy vroeëre werke tot die bekende groot katte en ander Afrika-diere waarmee hy internasionale erkenning gekry het, is die tuin ’n spel tussen kuns en natuur. Aan die hart van die tuin lê juis die moderne mens se verhouding met die omgewing.
Spesiaal vir die Woordfees bied dié kunstenaar self drie vroegoggend-toere aan (2, 3 en 8 Maart). Hanlé Hill, wat sedert die tuin se ontstaan daarby betrokke is, bied vier begeleide toere aan (1, 5, 7 en 9 Maart).

Dylan Lewis-beeldhoutuin
Film-etes vir fynproewers
Hoe meer sintuie betrek kan word, hoe meer volrond die ervaring. Die vyf film-etes, wat gedurende die week aangebied word, het gegroei uit verlede jaar se baie suksesvolle eksperiment: ’n fliek met kos as sentrale tema, gevolg deur ’n heerlike ete, geïnspireer deur wat op die grootskerm te sien was.
Kom geniet The Hundred-Foot Journey, die klassieke Babette’s Feast, die romantiese komedie Mostly Martha, hartverwarmende Big Night en die smullekker Chocolat en laat jou sintuie verlei deur goeie toneelspel en heerlike kos.
Elke film-ete skop af met canapés en welkomdrankies. Voor die vertoning word ‘n hoofmaaltyd bedien, geïnspireer deur die spesifieke fliek. Gedurende die vertoning sal gaste spesiale fliekhappies geniet. Elke gas sal ’n wegneemnagereg as ’n soet herinnering aan die aand se feestelikhede ontvang.
Die kos word gemaak deur die Debut-opleidingsrestaurant van The Private Hotel School.
Vrydag 8 Maart se film – Chocolat – word voorafgegaan deur ’n sjokolade-meesterklas, aangebied deur Katelyn Williams. Hierdie geleentheid is nie deel van die film-ete nie.

Waterford Wynproe-safari
Waterford Wynproe-safari
Die wynproe-safari is ’n unieke drie uur lange rit in ’n safarivoertuig deur dié 120 hektaar-landgoed teen die pragtige hange van Helderberg. Hierdie ervaring gee jou die geleentheid om Waterford se bekroonde wyne in die wingerde waar hulle vandaan kom te proe. Die kundige gids sal meer vertel van die aspekte wat dié gebied so biologies divers en vitikultureel uniek maak. Verskeie ligte versnaperinge wat die spesifieke wyne uitstekend komplementeer, sal saam met die wynproe bedien word. Die ervaring sluit op ’n hoogtepunt af met ’n wyn-en-sjokolade-proe by die kelder. Bespreek ’n week voor die tyd.

Bertus Basson met Net Bertus
Sit aan met nuwe kookboeke en glanskokke
Vanjaar se leefstylprogram oorvleuel in verskeie aanbiedings baie smaaklik met die boekprogram. Feesgangers kan kosboekgeleenthede bywoon met Marlene van der Westhuizen (haar nuwe boek se titel is Bord) en Armand Aucamp, wat pas sy eerste resepteboek, Armand kook kaal, die lig laat sien het. Die tweelingsusters Fatima Sydow en Gadija Sydow Noordien wat met hul kosprogam op VIA bekend geraak het, vier hul nuwe kookboek, Kaaps, kerrie en koesisters met ’n gesellige kuiergeleentheid. Die biker-sjef Lesego Semenya praat oor sy nuwe kookboek, Dijo, met Reuben Riffel (Reuben at Home). Ook op die kok-en-kookboekspyskaart is Isabella Niehaus met Duinhuis; Karen Dudley, wat al vir Michelle Obama gekook het, met Set a Table; Bertus Basson met Net Bertus; Aletta Lintvelt, WEG! se kosredakteur, met Kuier om die kole; Martjie Malan van Koekedoor-faam met Bakgeheime; bistro-sjef en bakker Liezie Mulder met Anytime, en Katelyn Williams met haar soet bederf van ’n boek, Chocolat.

Lesego Semenya

Karen Dudley
Liefhebbers van goeie kos en woorde kan ook aansit vir die Skrywerslangtafel in De Volkskombuis Restaurant met, onder andere, Zakes Mda, Dana Snyman, Ronelda S Kamfer en Melusi Tshabalala.
Lees meer oor die leefstyl-aanbiedings by 2019 se US Woordfees of kry die volledige program.

