Die US Woordfees se 2019 Filmfeesprogram sal jou opgewonde laat oor die verskeidenheid en gehalte van Suid-Afrikaanse filmkuns.
Rolprente
Die Afrikaanse aanbod is besonder sterk en veelsydig. Deur die lense van Ellen: Die storie van Ellen Pakkies, Nommer 37 en die Christiaan Olwagan-trilogie (Johnny is nie dood nie, Kanarie en Die seemeeu) word pakkende, belangrike stories vertel vanaf die kontemporêre Kaapse Vlakte tot by die Grensoorlog en Voëlvry-beweging van die 80’s.

Ellen
Die regisseur van Ellen, Daryne Joshua , wat ook die regie van Noem my Skollie behartig het, sal saam met die vervaardigers ná twee vertonings ’n V&A oor dié prent aanbied. Hulle sal gesels oor die merkwaardige spanpoging wat dit geverg het, om in samewerking met die ware Ellen Pakkies, haar traumatiese lewensverhaal in ’n aangrypende werklikheidsgetroue fliek te omskep. Ellen is in Pakkies se regte huis in Lavender Hill verfilm met Jill Levenberg in die hoofrol. Pakkies het in 2007 uit ’n absolute desperaatheid haar 20-jarige tikverslaafde seun, Abie, om die lewe gebring en dié moord en daaropvolgende hofsaak het dwarsoor die wêreld opslae gemaak.

Christiaan Olwagen se drieluik
Die veelbekroonde Olwagen-trilogie sal in ’n lesing deur die digter-sanger-liedjieskrywer en sosioloog Andries Bezuidenhout bespreek word. Kanarie, met Schalk Bezuidenhout in die hoofrol, het vanjaar ses Silwerskermfeestoekennings ontvang, onder meer, vir beste speelfilm en regie. Dit vertel die ware verhaal van Johan Niemand wat in 1984 sy militêre diensplig in die Suid-Afrikaanse Weermag se Kerkkoor en Konsertgroep, die “Kanaries”, verrig. In dié tyd worstel hy met sy gewete en seksualiteit. Olwagen se Johnny is nie dood nie het ook sy wortels in die troebel 80’s en die Voëlvry-era wat Andries Bezuidenhout self deurleef het. Die derde deel van Olwagen se drieluik, Die seemeeu, vier sy première by die Woordfees en die gelukkige feesgangers wat eerste aan die verspreiders skryf, sal dié rolprent gratis kan sien. Die seemeeu is Olwagen se satiriese, eietydse hervelbeelding van Anton Tsjechof se klassieke, gelyknamige toneelstuk met, onder andere, Sandra Prinsloo, Marius Weyers, Albert Pretorius en Rolanda Marais in die rolverdeling. Op die laaste Saterdag van die Woordfees sal daar ’n Seemeeu-premièregeselligheid met die vervaardigers en van die akteurs gehou word wat kaartjiehouers kan bywoon.

Sotho-cowboys
En dan is daar die eerste Sotho-western, Five Fingers for Marseilles, wat vyf toekennings by die 2018 Africa Movie Academy Awards opgeraap het, om na uit te sien. Dié prent is al in die buiteland as “ ’n nuwe wending van die Afrika-rolprentkuns” bestempel en selfs al hou jy nie van aksie-prente nie, is dit die moeite werd om hierdie film op die grootdoek te sien vir die skouspelagtige Vrystaatse en Oos-Kaapse landskappe wat daarin vasgevang word.

Dominee Tienie
Diegene wat deur Dana Snyman se gewilde toneelstuk Die klaagliedere van ds. Tienie Benade getref is, sal beslis ook diep geroer word deur die rolprentweergawe met Frank Opperman in die hoofrol – Dominee Tienie.
Beste van die 2018 Durban Internasionale Filmfees (DIFF)
Die Woordfees Filmfees wys ook die pryswenners van die 2018 Durban Internasionale Filmfees (DIFF):
The Reports on Sarah and Saleem vertel die ware verhaal van ’n affair tussen ’n Israeli-vrou en ’n Palestynse man wat tragiese politieke dimensies aanneem. Dié prent het die DIFF-toekennings vir Beste internasionale speelfilm en Beste aktrise (Maisa Abd Elhadi) gewen.
Die hoogaangeskrewe Amerikaanse rolprent The Tale, met Laura Dern in die hoofrol, is gegrond op die ervarings van die skrywer-regisseur van die fliek, Jennifer Fox, wat as 13-jarige seksueel mishandel is. Fox het die DIFF-toekenning vir Beste draaiboek ontvang. Dié film het ook ’n prys vir Beste redigering gekry.

Die prente wat as Beste Suid-Afrikaanse speelfilm (High Fantasy) en Beste Suid-Afrikaanse dokumentêr (Sisters of the Wilderness) by DIFF 2018 aangewys is, sal ook te sien wees.
High Fantasy is ’n satiriese komedie oor ’n jong generasie se ontnugtering met die droom van ’n reënboognasie. ’n Multikurele Suid-Afrikaanse groep jong vriende kampeer in die afgeleë platteland en word een oggend wakker met die besef dat elkeen in ’n ander liggaan beland het. Hul ervaring van hierdie bisarre verwikkeling kan nie meer verskillend wees nie.
Sisters of the Wilderness is ’n ode aan die natuurskoon van die iMfolozi. Dis ook die verhaal van vyf jong Zoeloe-vroue uit minderbevoorregte omstandighede se merkwaardige pelgrimstog.
Dokumentêre wat tot op die been van aktuele sake sny
Twee dokumentêre wat aan die hart van groot Suid-Afrikaanse kwessies raak, is Whispering Truth to Power en The Colour of Wine.
In Whispering Truth to Power volg die filmmaker en menseregte-advokaat Shameela Seedat Suid-Afrika se eerste vroulike Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, in haar laaste ampsjaar. Ná die tweede vertoning van dié dokkie sal Seedat met Madonsela gesels oor die film en oor waar ons nou, ná Zuma, staan.
The Colour of Wine kyk deur die lens van ’n eerste generasie swart wynmakers en
-verkopers na die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Die persoonlike verhale van vier swart wynmakers, wat almal aan die Universiteit Stellenbosch studeer het, word versny met onderhoude met wyndeskundiges van dwarsoor die wêreld. Ná die tweede vertoning van dié dokumentêr sal van die wynmakers wat in die film te sien is, gesels oor hul ervarings in die wynbedryf.
Die twee gesamentlike wenners van die 2018 Encounters-fees vir dokumentêre is ook op die program: The Fun’s Not Over – The James Phillips Story en Not in My Neighbourhood.
The Fun’s Not Over is ’n intieme rock-dokkie oor die veelbewoë lewe van James Phillips, wat as Bernoldus Niemand die vonk van inspirasie vir die latere Voëvry-beweging was. Die film sluit insiggewende bydraes deur Johannes Kerkorrel, Lloyd Ross, Pieter-Dirk Uys, Zapiro, die Radio Rats se Jonathan Handley, Vusi Mahlasela en verskeie ander in.
Die bekroonde filmmaker Kurt Orderson gee met Not in My Neighbourhood insae in die lewens wat deur gentrifikasie, stadsvernuwing en argitektoniese apartheid ontwrig word. Hy fasiliteer ’n internasionale gesprek deur die ooreenkomste in die huidige stedelike ontwikkeling van drie skynbaar heel verskillende metropole te verken: São Paulo, Kaapstad en New York.
Kortfilms gratis
Al die kortfilms wat vir die 2018 Silwerskermfees vervaardig is, word gratis vertoon.
Lees meer oor die filmfees of kry die volledige program.

