US Woordfees 2018: 100% Stellenbosch

  • 0

Foto: Menán van Heerden

Ek is seker jy het al gehoor dat Stellenbossers nogals in ’n “bubble” woon. Ek het tot ’n sekere mate ook so gedink met dié dat studente dikwels as die middelpunt van die dorp gesien word.

En toe kom 100% Stellenbosch en gee vir my die gedagteskuif wat nodig is om met ’n breër konteks in daaglikse interaksies om te gaan. Daarmee bedoel ek nie almal in die dorp is eng in hul handelinge nie; al wat ek bedoel is dat die werklikheid van die dorp oopgevlek word en jy hoor dit so uit die perd se bek uit – uit die monde van die mense wat in en om die dorp woon.

In die produksie word 1% van die Stellenbosse bevolking op die verhoog verteenwoordig. Daar is altesaam ongeveer 155 733 mense in Stellenbosch, van wie 52% bruin, 28% swart, 18% wit, en minder as 2% as ander geklassifeer word. Niemand op die verhoog is akteurs nie, met die uitsondering van een deelnemer en ’n paar hier en daar wat al aan teatergroepe deelgeneem het. Die deelnemers word ’n reeks vrae gevra, en daar word van hulle verwag om 100% eerlik te wees …

Die jongste deelnemer is een jaar oud en die oudste is 96 en die gaping tussen hulle twee word gevul met deelnemers van alle ouderdomme en demografieë, wat sorg vir ’n teaterervaring waarin jy moontlik jouself sal herken. Almal kom van Stellenbosch en omliggende gebiede (met ’n klein persentasie uitsonderings) en elke deelnemer moes ander deelnemers nomineer om deel van die produksie te wees. Daar was selfs visse én ’n hond op die verhoog! Deelnemers kon ook ’n item saambring, en so was daar onder andere ’n mini-oond, familieportrette, ’n pampoen en balle op die planke.

Van die vrae wat in die produksie gevra word, is: Wie spoel die toilet wanneer dit geel is? Wie is bang vir die polisie? Wie ontduik belasting? Deur ’n reeks vrae leer ken die gehoor van die deelnemers; verwagtinge en voorafopgestelde idees word geskud en stories wat nog nie gehoor is nie, ontluik.

Om die omvang van hierdie produksie te beskryf, is vir seker nie ’n maklike taak nie, want dit wat voor jou op die verhoog uitspeel, is iets wat Stellenbosch (en seker maar Suid-Afrika ook) nog nooit beleef het nie. Dit het gevoel asof ek uitgenooi is na ’n partytjie by iemand belangrik se huis, met die deelnemers as die gaste, en hulle het almal iets gemeen.

Dit is ’n ongelooflik belangrike stuk teater, een wat spreek tot die omstandighede waarin mense hulle bevind, hul ervaringe wat gelei het tot waar hulle vandag is, asook hul hoop vir die toekoms. Die stuk skep ’n bewusmaking vir mense se geleefde ervaringe en ek twyfel of iemand onaangeraak uit die teater sal kan stap.

Een van die hoogtepunte van hierdie produksie was dat dit gebruik gemaak het van die drie hoof demografiese tale van die Wes-Kaap: Afrikaans, Engels en Xhosa. Dit sorg vir ’n inklusiewe teaterervaring, veral in ’n taalsensitiewe gemeenskap soos Stellenbosch.

Die produksie is op die planke gebring deur die US Woordfees in samewerking met Rimini Protokoll, ’n Duitste teatergroep. Dit sorg vir interessante gesprekke en dit weerspieël menslike gedrag en menslike ervaringe, wat die eindproduk ’n relevante teaterstuk maak, teater wat perspektiewe kan verander en teater wat lig in donker tye skyn.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top