US Woordfees 2018: 100% Stellenbosch — een indruk van honderd stories

  • 0

Foto: Menán van Heerden

Ek bevind my in die HB Thom-teater saam met ’n uitgelese geselskap, want vanaand is die vooraf opening van die US Woordfees en dis ook die eeufees van die US: die rektor is hier, dekane, borge, kanaalhoofde, voorsitters van belangrike rade.

Soos almal hier, is ek ook in die teater saam met my eie vooropgestelde idees.

Saartjie Botha het my van vanaand se produksie vertel, en so ook Helga Haug vir Menán van Heerden.

Ek weet vooraf: die produksie 100% Stellenbosch beeld statistieke in menslike gedaante uit. Gaan sekere brandende kwessies op die voorgrond geplaas word?

Hoe werk dit?

Die 100%-teaterstuk werk só: ’n Honderd deelnemers word gekies wat 1% van die Stellenbosse bevolking en demografie verteenwoordig. Byvoorbeeld, volgens die 2011-sensus is 51% van Stellenbosch se inwoners vroulik en 49% manlik. Dus sal 51 van die deelnemers vroulik wees en 49 manlik.

Tydens die vertoning kom die 100 deelnemers op ’n ronde verhoog byeen – dit stel ’n sirkelgrafiek voor. Die verhoog word met beligting in segmente verdeel.

Vrae oor ’n groot verskeidenheid kwessies word dan gestel en die deelnemers beweeg telkens na die deel van die verhoog wat by hul siening pas. Vrae wissel van 'n mening oor die herinstel van die doodstraf tot wanneer jy die toilet spoel te midde van die groot droogte wat ons ervaar.

’n Video van die verhoog word gedurende die vertoning van bo geneem en op ’n muur geprojekteer sodat die gehoor kan sien hoe die “sirkelgrafiek” verander. Die resultaat is ’n fassinerende blik in Stellenbosch se vele koppe en harte. (Uit Saartjie Botha se onderhoud.)

Ek weet daar is teenstrydighede en ongelykheid in die dorp, en ek het my idees van wat al die verskillende mense in die dorp dink, voel en hoop. Ek het persepsies oor of mense in ’n Opperwese sal glo, en of hulle liewers sal wil Engels praat. (Lees ook die beskrywing van hierdie produksie in die US Woordfeesprogram.)

En toe stap ’n Vikinghoed die verhoog op, onder die arm van ’n blonde vrou wat haar aan ons voorstel. Sy praat in haar eie taal (dis Engels) en verskaf statistiese agtergrond van die dorp. Daar woon 155 733 mense in Stellenbosch, en elkeen van die mense op die verhoog verteenwoordig 1% van die demografie, ingedeel volgens geslag, ouderdom, etniese groep. Sy nomineer ’n volgende persoon, ’n werkskollega, om iets van hom te vertel. Hy stel weer iemand anders aan die woord. En so gaan dit voort, totdat daar 100 mense op die verhoog is. Hulle praat Xhosa, Afrikaans en Engels. (Daar is tolkapparate aan almal in die gehoor uitgedeel sodat mens die tale kan volg wat jy nie verstaan nie.)

Gevoelsobjekte

Hoe stel elkeen hom bekend?

Deur ’n gevoelsobjek, ’n warm simbool.

’n Man op die verhoog wys ’n wildebeeshoring wat hy op sy wittebrood gekoop het; ’n ander vertoon ’n gesangeboek want hy is lief vir sing; nog iemand wys ’n lyfgordel wat sy herinnering is aan 30 jaar se diens aan Golden Arrow. ’n Voëlkyker wys haar boek, ’n dogtertjie haar lappop, iemand die Koran. Daar is ’n motorfietsvalhelm, ’n koppie, ’n boek om gedigte in neer te skryf, ’n krieketbal, naaldwerkskeppings, babaklere, Bybels, ’n leeutjiespeelding, ’n regte hond! Soveel mense, soveel hartsverhale.

Om gehoor en raakgesien te word. Die sielkundige ekwivalent van suurstof. Dit staan in Psychology Today. Dit staan in The 7 Habits of Highly Effective People.

En dit staan nou geskryf op die gesigte van die 100 mense op die verhoog van die HB Thom-teater in Stellenbosch.

Ek dink nie meer aan my stereotiepe idees van wie ek gedink het die mense sou wees nie, my vooropgestelde idees van wat in die produksie voorgestel sou word, en hoe die mense hul (sélf) sou uitbeeld nie.

Elkeen van hulle het ’n binnewêreld en deur dit met my te deel, het hulle my gegroefde idees op die kop gekeer.

Wat word gevra?

Toe almal op die verhoog is, begin die vrae.

Soms moet die mense op die verhoog stap na ’n duim-in-die-lug om “ja” te antwoord, of ’n onderstebo duim vir “nee”. Ander kere moet hulle gekleurde kaarte in die lug hou om hulle antwoord aan te dui.

Het jy al iets gedoen wat niemand ooit mag uitvind nie? Het jy al selfdood oorweeg? Glo jy in ’n Opperwese? Gaan jy gereeld na ’n plek van aanbidding? Glo jy aan lewe na die dood? Het jy ’n huis met ’n swembad? Dink jy dat mans en vroue op dieselfde manier in die werksplek behandel word? Verdien jy meer as R200 000 per jaar? Het jy al ’n kind verloor? Dink jy dat daar minder korrupsie onder die nuwe president sal wees? Besit jy grond? Glo jy dat daar te min Afrikaans in Stellenbosch gepraat word? Dink jy dat jy oor tien jaar nog sal lewe? Is jy al in die skool geboelie? Soek jy ’n lewensmaat? Is jy verlief op iemand op die verhoog? Glo jy iemand anders op die verhoog is ’n rassis? Is jy al amper gekaap? Is jy al met ’n mes aangeval? Het jy ’n beste vriend met ’n ander velkleur?  Het jy ’n elektriese heining om jou huis? Voel jy veilig as jy in die aand stap? Sou jy dagga wettig? Het jy in die eerste demokratiese verkiesing gestem? Was jy al in die tronk? Was jy al ooit sonder ’n huis? Het jy sonder ’n pa grootgeword? Het jy sonder ’n ma grootgeword? Sal jy vir altyd in Stellenbosch wil bly?

Soms moet die mense op die verhoog na ’n deel van die verhoog stap om die antwoord te demonstreer: Wie het kinders? Wie was al by iemand wat sterf?

Die meeste vrae word in die lig gevra. Enkeles, vir vertroulikheid, in die donker. Vrae oor belastingontduiking, oor seks, oor ander delikate kwessies.

Het jy al jou partner verkul?

Daar is ’n uurlikse tydlyn van Stellenbosch en die mense op die verhoog moet uitbeeld wat hulle elke uur van die dag doen. Hoe laat gaan hul slaap, hoe laat staan hul op, wie bestuur met hul eie motor, wie wag vir ’n taxi?

Daar is ook ’n geleentheid vir mense om hul eie geheime te kom deel.

Ek swem kaal. Ek hou van koeskoes. Ek sweet maklik.

Gaandeweg raak mens betrokke by die mense op die verhoog.

Daar is mense wat jou hart steel: die bejaarde vrou wat hou van dans; die kind wat, toe die stem vra om in die etniese groep in te deel, telkens na elke groep stap wat genoem word. Dalk verstaan sy nie die vraag nie, maar dalk sien sy nie die verskille nie.

Tussendeur wonder ek: Is daar ’n ja/nee-antwoord op elke vraag? Ek besef: ja, daar is, as die regte vraag gevra word. Wie doen nou die werk wat jy as kind gedroom het om te doen? Dis emosionele vrae met emosionele antwoorde. En daarom raak dit die gehoor.

Foto: Menán van Heerden

Watse vrae word nie gevra nie?

Het jy universiteitsopleiding? Is jy die hoof van ’n maatskappy? Beoefen jy ’n beroep waarvoor jy nagraadse kwalifikasies benodig? Is daar mense wat vir jou werk? Het jy ’n A-gemiddeld op skool gehad? Het jy skool klaargemaak? Het jy eerste gestaan in jou klas? Het jy al die bekers van die verhoog afgedra met elke prysuitdeling? Was jy die Victor Ludorum? Was jy die A-span se rugbykaptein? Kon jy lees voordat jy skool toe is?

’n Blywende herinnering, ’n gelykmaker

Die stem op die verhoog vra: Wie op die verhoog dink dat hy nie meer oor tien jaar sal lewe nie? ’n Paar van die ouer mense stap na die antwoord om te weerspieël dis wat hulle dink. Die volgende vraag is: Wie op die verhoog dink dat hy nie meer oor twintig jaar sal lewe nie? Nog mense volg. Die vrae hou nie op nie. Wie dink hy sal nie meer oor dertig jaar lewe nie? Veertig? Vyftig? Sestig? Sewentig? Tagtig? Negentig?

Ten slotte staan almal daar. Oor ’n honderd jaar gaan ons nie meer die stories hoor nie. Oor ’n honderd jaar is niemand van ons meer hier nie.

Statistieke en vooropgestelde idees

Toe die gehoor geleentheid kry om vrae te stel, vra ’n vrou: Wie op die verhoog is gay? Net een man steek sy hand op. (En een van die musikante, wat met hul musiek die oorgange tussen vrae met mekaar verbind. Hy vorm nie deel van die verhoog se statistiek nie.)

Ek wonder: Is mense eerlik oor alles? Dalk moes daardie vraag in die donker gevra gewees het. En tog kon hierdie antwoord inderdaad 'n getroue weerspieëling wees van die dorp Stellenbosch se statistieke. Hierdie produksie konfronteer my telkens met my eie idees van wat ek dink die antwoord sal wees en hoe mense dan inderdaad optree. Dis 'n projek wat mens laat selfondersoek doen. 

’n Verhoog vol trots

Ek het die saal betree met die woorde van Helga Haug, ten nouste betrokke by die produksie, in my ore: “During the casting process and the rehearsals, we also discovered that there is a lot of shame on all sides – shame about the history and the past; it almost seems impossible to form one unity that might be called a nation …”

Maar vanaand het ek gehoor hoe mense hul drome en ambisies deel. In hul eie tale. Die woorde het maklik gekom. Niemand het lomp gestruikel oor woorde van ’n taal wat hulle nie eintlik kon praat nie. Ek het meer raakpunte as verskille tussen mense gesien.

Dis met ’n gevoel van trots dat elkeen sy storie vertel. Hierdie produksie gee 100% aandag aan elkeen van die honderd stories. Hierdie produksie behoort in elke stad in Suid-Afrika uitgebeeld te word, en almal moet dit sien.

Niemand op die verhoog se skoolprestasies tel vanaand veel punte nie want net hul stories maak saak, maar ek ken nou ’n punt toe en gee hierdie projek ’n volle 100%.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top