US Woordfees 2014: Sanlam | LitNet-tydskrifverhaalslypskool (Deel III)

  • 0

Elize Parker (Foto: Naomi Bruwer)

Tydens die US Woordfees 2014 is die suksesvolle Sanlam | LitNet-tydskrifverhaalslypskool aangebied. So groot was die belangstelling in dié geleentheid dat heelwat voornemende deelnemers weggewys moes word.

Daar is nou goeie nuus vir almal wat nie die geleentheid kon meemaak nie. LitNet gaan vir die volgende paar weke 'n tydskrifverhaalslypskool-reeks plaas: aantekeninge van die aanbieders, asook verhale wat deur deelnemers voorgelê is.

Hier onder is tien maniere om jou tydskrifstorie tussen artikels en advertensies te laat uitstaan deur Elize Parker.

1. Omdat tydskrifverhale in ’n visuele medium aangebied word, moet jou verhaal se beskrywings sterk en amper filmies wees. Tog, jy het min woorde. Weeg elkeen. ’n Byvoeglike naamwoord moet verdien om in jou verhaal te wees: laat hom daarvoor werk en vir jou werk. Kry die balans tussen byvoeglike naamwoorde en bywoorde reg. Hoe meer werkwoorde, hoe meer beweeg jou storie. Hoe meer bywoorde hoe harder werk jou werkwoorde. Gebruik een sterk, toepaslike vergelyking eerder as ’n Smartieboks vol kleurvolle en geurige vergelykings wat geen enkele beeld by jou leser laat nie.

2. ’n Storielyn met 3 tot 5 karakters en ’n stewige storieknoop sowel as ’n verrassende ontknoping en knalslot werk vir tydskrifverhale, want dit waak teen voorspelbaarheid, die gebruik van die noodlot en toeval as storiemanipuleerders en te veel bepeinsings en selfondersoek. Oorweeg gedigte en essays as jy reflekterende skryfwerk wil doen. Tydskrifverhale is selde die plek daarvoor. 

3. Miena Moo is ’n Afrikaanse animasiekarakter op televisie en haar slagspreuk is: “Dinge moet beweeg! Beweeg!” Hou dit ook jou leuse as jy tydskrifverhale skryf. Laat dinge gebeur. Kom uit jou karakter se kop en in die storie in. Moenie jou leser dwing om ná die lees van die verhaal te sê “Whatever!” nie.

4. ’n Lig-metafoor om by die skryf van verskillende soorte verhale te onthou: ’n Roman: die sportstadiumligte skyn helder op die sportveld vol karakters. ’n Novelle of kort roman: die straatligte skyn op die mense (jou karakters) wat daar stap. ’n Kunsverhaal of kortverhaal: die kamerlig is aan in ’n huis (en soms ’n ganglig) op die bewoners. ’n Tydskrifverhaal: jy het ’n flits in jou hand en skyn dit op ’n paar mense se lewens vir ’n oomblik of twee.

5. Gebruik aksiewoorde as werkwoorde: dit skep ritme en gee rigting.

6. Emosionele toon en stemming laat jou verhaal uitstaan bo artikels wat saaklik en feitelik is: skryf só dat ’n illustreerder emosie in ’n skets kan aanbring met kleur en vorm.

7. Omskryf eerder as beskryf: gee byvoorbeeld ’n plantnaam – nie net sommer “blomme” nie.

8. Dialoog versnel die pas van jou verhaal. Tussenteks (wat nie tussen aanhalings is nie) verstadig die gang van jou verhaal. ’n Gesonde balans is nodig. Kleurkodeer jou dialoog as ’n oefening (tik dit byvoorbeeld in blou), dan kan jy makliker sien as die balans verkeerd is. Hou jou tydskrifverhaal se pas soos iemand op ’n gesonde drafstap op pad om ’n storie gaan vertel wat sy nie langer vir haarself kan hou nie.

9. Sterk temas onderskei middelmatige verhale van ander.  Onthou jou verhaal kompeteer met artikels wat elkeen ’n invalshoek het. Skryf die prikkel van jou verhaal as ’n oefening (die teks by die verhaal wat lesers moet lok om dit te lees). As jy dit nie geskryf kry nie, het jou verhaal nie ’n sterk sentrale kern of hart nie.  

10. In wie se kop of hart is jy? Oftewel, deur wie se oë kyk jou leser na jou storie? Watter perspektief bied jy aan jou leser? Die eerste verteller (ek-stories) bied ’n nou perspektief en is dikwels te bepeinsend vir tydskrifverhale. Die alomteenwoordige verteller (wat soos ’n arend oor die landskap van jou storie vlieg en waarneem) verg dikwels te veel woorde vir ’n tydskrifverhaal. Die derde verteller (hy/sy) werk die beste. Genoeg insig, uitsig en beheer oor aantal woorde.

Lees ook Alta Cloete se wenke.

Lees ook Corlia Fourie se wenke.
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top