LitNet het in samewerking met Sanlam 'n tydskrifverhaalslypskool by die US Woordfees aangebied.
Só het die feesprogram die geleentheid beskryf:
Hoe betower jy met jou verhaal vir ’n tydskrif sodat lesers dit wil lees, verhaleredakteurs dit wil publiseer en jy geld daarmee kan verdien? Kom leer die towerformules van tydskrifverhaal-skryf by die meesters: Corlia Fourie, Elize Parker, Alta Cloete en Madri Victor.
Naomi Meyer was bevoorreg om groot gedeeltes van die geleentheid by te woon.
Naomi Bruwer het foto's geneem.

Madri Victor het die geleentheid met kundigheid gelei. Sy het die vrae gevra wat lesers en potensiële tydskrifverhaalskrywers beantwoord wil hê: Waar kan mense hul verhale voorlê? (Antwoord: rooi rose, Sarie, Vrouekeur.) Beteken "nee" iemand kan nie skryf nie? (Antwoord: Dalk. Maar dit kan ook beteken: skryf nog baie meer, oefen, probeer oor en oor en oor. Moenie moed opgee nie.) Waar kan mense leiding en terugvoer kry wat in die algemeen wil skryf? (Antwoord, en nie haar eie nie: by haar – sy is 'n manuskrip-ontwikkelaar. En hier is haar besonderhede op haar webwerf: Madri Victor se webwerf).

Wanneer jy 'n tydskrifverhaal skryf, dink aan 'n moeë ma. In die week lees sy aan die einde van haar werksdag as sy aan die slaap wil raak. Die res van die tyd lees sy as die kos wil aanbrand. Op vakansie lees sy dalk terwyl die kinders sand op die tydskrif strooi. Sy het nie tyd of krag om te mors nie. As jy vir haar skryf, respekteer haar tyd. Laat haar ontvlug. Skryf toeganklik. Dink hieraan as jy 'n tydskrifverhaal skryf, stel Alta Cloete voor.

Elize Parker meen daar is drie verskillende soorte kunswerke waarmee jy verhale kan vergelyk: vir haar is die onderskeid tussen 'n kortverhaal en 'n literêre kortverhaal soos dié van 'n prent wat jy in 'n kunsmark gaan koop in vergelyking met een wat jy in 'n galery kan bekyk. Daar is 'n plek vir albei. Daar is 'n koper vir albei. Maar die kopers verskil. Sy meen wat tydskrifverhale betref moet mens dink oor die tydskrif waarvoor jy skryf. As dit 'n Christelike tydskrif is, wil die lesers nie moreel bevraagteken nie. Dink oor wat jy die karakters in jou verhaal toelaat om te doen.

Corlia Fourie sê daar is praktiese aspekte om in ag te neem as mens verhale keur. 'n "Nee (jou verhaal word afgekeur)” beteken nie noodwendig die verhaal is nie goed genoeg nie. Dit kan beteken: vir hierdie uitgawe is daar nie plek vir 'n verhaal van soveel woorde nie. Dit kan ook beteken die verhaal werk nie. Maar 'n "nee" is nie 'n verwerping nie. Byna enige onderwerp kan deug, solank die aanbieding geskik is. En die verhaal goed is. As dit deel is van die leser se leefwêreld en sy kan daarmee identifiseer, kan die meeste onderwerpe aangedurf word.

Na die geleentheid kon almal smul aan seekos by De Vette Mossel. Baie om agterna te herkou, baie om te verteer.
“Begin vanaand nog, moenie uitstel nie” is die woorde waarmee Alta Cloete die kursusgangers laat ...


Kommentaar
Baie dankie! Ek het die slypskool baie interessant en leersaam gevind. Goeie raad gekry, en ook ons verhale se krit gekry - ouch - sommige van dit 🙂
Dankie ook aan die Naomi's vir hulle vriendelikheid en moeite sowel as Madri Victor vir al die reëlings. Ek sal graag weer slypskole bywoon.
Dankie aan die skryfsters wat hulle dag opgeoffer het om raad en inligting te deel. Groot waardering.
Tina Cloete
Toets2015.07.08