US Woordfees 2014: Sanlam | LitNet-tydskrifverhaalslypskool (Deel I)

  • 0

Tydens die US Woordfees 2014 is die suksesvolle Sanlam | LitNet-tydskrifverhaalslypskool aangebied. So groot was die belangstelling in dié geleentheid dat heelwat voornemende deelnemers weggewys moes word.

 

Daar is nou goeie nuus vir almal wat nie die geleentheid kon meemaak nie. LitNet gaan vir die volgende paar weke 'n tydskrifverhaalslypskool-reeks plaas: aantekeninge van die aanbieders, asook verhale wat deur deelnemers voorgelê is.

Hier onder is 'n paar wenke vir die skryf van 'n suksesvolle tydskrifverhaal van Corlia Fourie, verhaalredakteur by rooi rose.

Probeer om elke verhaal so boeiend as moontlik te maak deur met ’n sin te begin wat die aandag sal trek.

Skryf goeie dialoog. Sê die dialoog hardop sodat jy seker kan maak dis soos mense praat. (En dialoog in ’n storie is nie soos dialoog in die werklike lewe nie. Dialoog in ’n verhaal is vir ’n spesifieke doel daar – om die storie vorentoe te stuur. En dis in elk geval ’n goeie idee om jou storie hardop vir jouself – of vir ’n skryfvriendin/-vriend voor te lees. As dit goed klink as jy dit hardop lees, is die kanse baie goed dat dit ook ’n leser sal boei.)

Wissel lang en kort sinne af.

Probeer om die interne spanning tot die heel einde te behou. Ek is nooit so streng oor die reël dat jy ’n omkeer in jou slot moet bewerkstellig nie. Sommige stories loop na ’n natuurlike einde, of vra vir ironie. ’n Sikliese slot kan ook werk. (Ek verkies stories wat geloofwaardig klink.)

As jy wil skryf om ryk te word, doen liefs iets anders, soos om stofsuiers of motors te verkoop. Die kanse dat jy uit laasgenoemde twee ryk gaan word, is baie meer as dat jy uit skryf ryk gaan word. Skryf dus omdat dit vir jou lekker is.

Een van die eerste dinge wat ’n voornemende skrywer moet aanvaar, is dat hy/sy dikwels “nee” gaan hoor. En wat my betref, behóórt elke skrywer wél soms “nee” te hoor, want ’n nee beteken dat jy iets buite jou gemaksone probeer skryf het. Dit beteken jy wil groei, iets nuuts probeer, anders word skryf ’n bloot meganiese proses.

Ek kry baie meer publiseerbare stories by rooi rose as wat ek vir publikasie aanvaar. Die rede hiervoor is dat daar op die oomblik net een verhaal (soms twee) per uitgawe is en twee pretboekies met vier verhale elk een of twee keer per jaar.

Omdat ons ’n groot verskeidenheid verhale publiseer – liefdesverhale, kontreiverhale, spanningsverhale, komiese verhale, verhoudingsverhale, selfs literêre verhale – het ek ’n groot keuse. (Ek kry elke dag van die week – selfs Saterdae en Sondae – verhale. As ek moet skat, sou ek sê ek aanvaar so een verhaal uit dertig, of veertig, vir publikasie.) Indien ek drie of vier liefdesverhale in my verhaallêer het, sal ek dus eerder ’n ander soort verhaal aanvaar as nog ’n liefdesverhaal. As ek ’n verhaal vir publikasie afkeur, moet dus nie sonder meer aangeneem word dat ek dink dis nie publiseerbaar nie. Ek sê gewoonlik vir die betrokke skrywer om die verhaal vir ’n ander tydskrif te stuur as ek dink dis wel publiseerbaar.

My nommer een raad vir skrywers is om nie snobisties te wees oor die tydskrif waarin jou verhaal verskyn nie. ’n Tydskrif soos Vrouekeur is byvoorbeeld lankal nie meer die ou Keur nie.

As ek sê ’n verhaal is nie “boeiend” genoeg of nie “geloofbaar” nie, is dit net ’n mening. Dit dien geen doel om my in ’n korrespondensie oor die meriete van die verhaal te probeer betrek nie, want ek gaan jou nie antwoord nie. Stuur dit gerus eerder aan ’n ander tydskrif (hoe meer menings jy daaroor inwin, hoe beter).

Asseblief, moenie van my verwag om (gratis) skryflesse te gee nie – daarvoor is skryfskole en manuskripontwikkelaars daar. As ek dink jy het baie talent, of jy skryf iets wat my aandag trek en hou, sal ek wel vir jou (gratis) raad gee. Maar moet my nie onder so ’n verpligting probeer plaas nie.

Moenie dieselfde storie herskryf (tot soveel as vier, vyf keer) en dit weer en weer vir my stuur om te lees nie. Vra eers of ek sou belang stel om die storie weer te lees voordat jy dit stuur. Ek werk soms baie vinnig en sal vir jou sê dat ek (op die oomblik) ’n oormaat van kort kortverhale het en dit nie vir publikasie kan aanvaar nie. As jy dan die storie langer maak, kan ek dalk weer eens vir jou sê dat ek dit nie kan aanvaar nie, om heeltemal ’n ander rede, soos dat ek te veel van daardie tipe stories het.

Vir nog inligting betreffende die voorlê van verhale by rooi rose, volg hierdie skakel.

Lees ook Alta Cloete se wenke.

Lees ook Elize Parker se wenke.  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top