US Woordfees 2013: Die einde van die wêreld ...

  • 0

Die skrywer en joernalis Johannes Bertus de Villiers sal by die US Woordfees in gesprek wees met Sandra Troskie oor die einde van die wêreld, na aanleiding van sy boek oor die onderwerp wat in 2012 bekendgestel is. Hy vertel meer oor wat verwag kan word.

Goeiedag, Johannes Bertus. Hoe gaan dit?

Wel ons is darem nog hier en die hemele het nog nie op ons kop geval nie. (Dit sal waarskynlik eers gebeur op 16 Maart 2880 wanneer 1950AD, ’n asteroïde waarvan die pad dan met die aarde s’n gaan kruis, ons na raming gaan tref.)

Jou jongste boek, Die einde van die wêreld en hoe om dit te oorleef, is verlede jaar bekendgestel. Hoe is die reaksie daarop in die algemeen sover en hoe voel jy in hierdie stadium oor die boek?

Die boek het begin as ’n ondersoek na die eindtydvrese wat verlede jaar hoog geloop het – spesifiek rondom die Maja-kalender se einde op 21 Desember 2012. Maar dit het uiteindelik ’n veel wyer ondersoek geword na maniere waarop die aarde eendag sy spreekwoordelike alie kan sien – ruimterotse, supervulkane, ekologiese rampe, ensovoorts. So die boek het mense nog aan die praat, genadiglik. Die feit dat ons verlede jaar ’n ramp ontduik het, beteken nie ons kan nou maar heeltemal rustig wees nie. Ek verwag die groot einde iewers in die volgende twee of drie eeue.

Die wêreld het toe nou nié op 21 Desember geëindig nie. Was jy teleurgesteld?

Nee, ek dink nie enigiemand het teen 21 Desember regtig meer gedink dit sal gebeur nie. Die voorspellings wat aan daardie datum gekoppel is (oor reuse-sonstorms, planete wat lynstaan, die aarde wat in die teenoorgestelde rigting begin draai), was almal op redelik swak wetenskap gebaseer – dié dinge was nie juis ooit regtig ’n bedreiging nie. Die goeie wetenskap wys ons op ’n paar veel ernstiger bedreigings wat nog, onafhanklik van enige datum, anderkant die horison wag. Dinge soortgelyk aan die groot katastrofe wat die dinosourusse uitgewis het. So mense moenie dink net omdat die wolf dié keer weggebly het, is al die doemprofete mal as hulle wolf skree nie.

Jy is op die oomblik die Rykie van Reenen-genoot by die Universiteit Stellenbosch se joernalistiekdepartement. Hoe het dit gebeur? Hoe beleef jy die ervaring sover?

Dis wonderlik. Ek werk vernaamlik met die BPhil-studente, nagraadse studente wat deur die loop van die jaar die praktiese joernalistiek begin betree. Dis ’n wonderlike groep studente wat mens weer hoop vir die joernalistiek gee.

By die US Woordfees sal jy in gesprek wees met Sandra Troskie oor "voorspellings van waarsêers, wetenskaplikes, sterrekykers en oorlewingskenners". Vertel bietjie meer oor die gesprek – wat dink jy sal daaruit vloei en waarmee hoop jy sal mense wat dit bywoon, huis toe gaan waarmee hulle nie gekom het nie?

Sandra is ’n goeie gespreksgenoot. Ons ken mekaar omdat ons akademies albei by die sosiologie van godsdienste betrokke was en ’n sterk belangstelling daarin het – vrae oor hoe mense sin maak uit hul plek in die kosmos en die toekoms van hul wêreld. Sandra het ook ’n insiggewende resensie van my boek vir LitNet gedoen wat mense gerus kan lees. Ons speel eintlik albei met die vraag: As mens eers besef hoe broos ons bestaan hier op aarde is, hoe klein ons spesie is en aan watter enorme magte ons op aarde en in die kosmos uitgelewer is, wat gebeur dan? Hoe reageer mens op daardie besef van jou eie nietigheid? Dis eintlik ’n geestelike ervaring , die besef dat ons op ’n brose rots deur ’n groot heelal geslinger word en net op genade voortleef.

Op die Woordfeesprogram word die gesprek geadverteer met die woorde: "Wat sal jy doen as jy hoor die wêreld eindig binnekort?". Wat is jóú antwoord op hierdie vraag?

Dit hang natuurlik af hoe die wêreld gaan eindig. My eie vermoede is daar sal ’n groot ruimterots of ’n supervulkaan wees. Maar dit kan ook stadiger gebeur as die voedselketting ineenstort weens ons voortgesette verwoesting van die natuurlike omgewing. In my boek is ’n hele paar wenke wat mens moet doen as een van dié rampe tref en ek sal seker maar my eie raad volg. Pak ’n klein rugsakkie, kom so gou moontlik uit die stad, leer veldkos ken. Ek het my oog op ’n lieflike grot in die Oos-Kaap waarvan die ligging ’n streng geheim bly.

Klik hier om Die einde van die wêreld en hoe om dit te oorleef te koop by Kalahari.com.

9 Maart 11:00 | Erfurthuis | 50min | R50

Lees nog inligting oor Die einde van die wêreld.

Klik hier vir volledige inligting oor Woordfees 2013.

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top