2013 Feesprogram: Stories agter stories

  • 0

Stories agter stories

Tweegesprekke met skrywers

Brümilda – 50, vurig en fabulous
Brümilda van Rensburg vertel aan Piet Croucamp van die boek wat pas verskyn het oor haar opwindende, vol lewe as een van die gewildste en bedrywigste aktrises in die land. Hoe bly sy op 50 plus steeds ’n rolmodel vir twentysomething aktrises? Waar steek sy haar mojo-resep weg? Hoe sien sy enkelingskap?
1 Maart 15:00 | J.S. Gericke-biblioteek: Ouditorium | 50min | R50

’n Handvol hoop
Aangebied deur CUM-uitgewers
Lizette Murray, skrywer van ’n Handvol hoop, se een seun is in ’n haai-aanval oorlede. Sy weet hoe swaarkry skaduwees oor jou lewe kan gooi. Lizette inspireer elkeen wat ’n skerfie son nodig het om hoop en hemelse vreugde te vind in énige situasie. Sua du Plessis stel die vrae.
4 Maart 10:00 | Erfurthuis | 50min | R40

Op soek na Abraham
Aangebied deur Griffel Uitgewery
Willie McLoud vind die oorspronge van die Bybel in antieke Sumerië en toon aan dat Abraham werklik geleef het. Johannes de Villiers vra hom uit oor konsepte soos ‘Seuns van God’ en ‘Satan’, die ‘drieverdiepingkosmos’, die ‘hemel’ en die ‘doderyk’. Stimulerende stof tot nadenke.
4 Maart 11:00 | Boektent | 50min | R40

Hambidge onbeperk

Die immergewilde Joan Hambidge is een van die kleurrykste en veelsydigste figure op die Afrikaanse literêre toneel. Uitgewer Etienne Bloemhof probeer vasstel hoe dié skrywer, akademikus en kritikus daarin slaag om hoede te verwissel sonder dat ’n veer op die grond val. Verwelkoming: Dorothea van Zyl.
4 Maart 12:00 | Boektent | 50min | R50

Wat die hart van vol is
Evette Weyers se Wat die hart van vol is, ’n woordbeelding van haar werk en lewe saam met akteur Marius Weyers, is ‘’n labirint van skeppende, speelse en koddige glipgange tussen feit en fiksie, mitologie, teater, letterkunde, musiek en die oorsprong van woorde’. Petrovna Metelerkamp gesels met dié uiters suksesvolle, fassinerende beeldhouer oor haar pragboek. Evette Weyers se werk dien vanjaar ook as inspirasie vir die Woordfeesplakkaat en programboek se uitleg. Verwelkoming: Dorothea van Zyl.
4 Maart 14:00 | Boektent | 50min | R50

Ingrid Winterbach
Ingrid Winterbach word beskou as een van Afrikaans se grootse romansiers. Haar nuutste roman, Die aanspraak van lewende wesens, is onlangs aangewys as wenner van NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd. Louise Viljoen tree in gesprek met die skrywer om die kompleksiteit en gelaagdheid van dié roman te ontrafel.
5 Maart 10:00 | Boektent | 50min | R50

Vol draadwerk
Fourie Botha gesels met Marius Crous oor sy jongste digbundel Vol draadwerk. Hulle bespreek die tongknopertitel (-werk en nie -trek nie), die temas en inhoud – en hoe dit by Crous se vorige werk aansluit.
5 Maart 11:00 | Erfurthuis | 50min | R40

Kleinboer: Werfsonde
Met sy omstrede debuut Kontrei het Kleinboer so te sê kultusstatus verwerf. Werfsonde (Umuzi), die tweede deel van ’n trilogie, sit die joernaal oor die wel en wee van die enigste wit Afrikaner in Yeoville voort. Tinus Horn gesels met die skrywer oor dié roman wat tegelyk ’n belangrike tydsdokument is.
5 Maart 12:00 | Boektent | 50min | R40

Kahlil’s Journey
Ashraf Kagee, winner of the seventh annual European Union Literary Award, talks to Desmond Painter about Kahlil’s Journey. The novel portrays the richly-textured beauty of everyday life of the last century’s Cape Malay and Indian cultures, and deftly captures the lyrical resonance of voices long forgotten by history.
5 March 15:00 | Erfurthuis | 50min | R40

 

In die sin al om
René Bohnen se In die niks al om en Susan Smith se debuutbundel In die afwesigheid van sin toon sterk ooreenkomste. Die twee digters delf albei speels in die oorsprong van hul woorde, soek sin en sinne, en vind uit waar hemel en aarde in hul woorde lê. Kom luister wat twee fassinerende nuwe Afrikaanse digters oor hul nuwe bundels sê.
6 Maart 10:00 | Erfurthuis | 50min | R40

Trekkerkinders
Aangebied deur Kraal Uitgewers
Met die oog op die 175ste herdenking van die Groot Trek verskyn Trekkerkinders uit die pen van Danie Langner. Hermann Giliomee praat met die skrywer oor dié versameling verhale oor kinders, prominente figure en gebeure uit die Groot Trek.
6 Maart 11:00 | Erfurthuis | 50min | R40

Skaduwee
Martie Retief-Meiring gesels met die bekroonde Carel van der Merwe oor sy jongste roman, Skaduwee, en die raakpunte met sy voriges, Nasleep en Geldwolf. Die skrywer wei uit oor sy hoofkarakter, ’n uitgeweke Suid-Afrikaner in Londen, wat onverwags in ’n web van korrupsie en duister geldmagte in hedendaagse Suid-Afrika verstrengel raak.
7 Maart 12:00 | Erfurthuis | 50min | R40

Carel van der Merwe


The 18th Variation
Aangebied deur Griffel Uitgewery
Die onderwerp van John van den Berg se riller is seksuele geweld – tans baie aktueel met skurke soos die Modimolle-monster en Sondag-verkragter. Evert Buurman vra die skrywer uit oor sy navorsing in die sielkunde en klassieke musiek met die oog op die skryf van dié spannende roman.
7 Maart 14:00 | Erfurthuis | 50min | R40

Seks – die eintlike storie?
Aangebied deur Naledi
Christina Landman praat met Nicki Spies oor haar jarelange navorsing oor seksualiteit en geloofkonstruksies. Opvattings oor seks, seksualiteit en gender word sonder vrees verken. Eeue-oue sienings word getakel, asook hoe sulke konstruksies ons intieme verhoudings raak. Verfrissend en stimulerend.
7 Maart 15:00 | Boektent | 50min | R50

Anderkant duskant
Aangebied deur Griffel Uitgewery
Die welbekende radioman en skrywer Pienkes du Plessis praat met Martie Retief-Meiring oor sy aangrypende, hoogs-omstrede en polities nie-korrekte roman. Die verhaal speel af in die veertigerjare in die ongenaakbare omgewing van die Noord-Kaap, waar wit en swart veg om oorlewing.
7 Maart 15:00 | Erfurthuis | 50min | R40

 

Hennie Aucamp

Briewe van Hennie Aucamp
Briewe van Hennie Aucampmet aantekeninge deur die skrywer bevat persoonlike briewe wat tussen 1958 en 2012 geskryf is. Dit sluit fassinerende briewe in aan ’n twintigtal van die bekendste skrywers in Afrikaans, met uitgebreide notas wat die kulturele omgewing dokumenteer. Daniel Hugo lei die gesprek met Hennie. Verwelkoming: Dorothea van Zyl
8 Maart 10:00 | Erfurthuis | 50min | R40

Jeanne Goosen
As plat-op-die-aarde digter, dramaturg, rubriekskrywer en prosaïs het Jeanne Goosen diep in lesersharte gekruip. Liza Albrecht vra dié geliefde skrywer uit oor haar interessante lewe en die vele afdraaipaaie in haar kleurryke loopbaan.
8 Maart 11:00 | Boektent | 50min | R50

Marita van der Vyver
Murray La Vita vra Marita van der Vyver uit oor haar roman Die blou van onthou. Sy vertel meer oor die swaarkry en lekkerkry agter die klaarkry van die roman wat oor geslagte heen in Suid-Afrika en in Portugal afspeel. Marita verklap ook geheime oor haar nuutste skryfprojek.
8 Maart 12:00 | Boektent | 50min | R50

TT Cloete: Die ander een is ek
Aangebied deur Pooka-Uitgewers
Cloete se jongste prosawerk met ’n literêr-filosofiese inslag is geïnspireer deur kennismaking met die dood. Dit het gelei tot ’n besinning oor ons menslike bestaan. Heilna du Plooy praat met die gevierde Cloete oor dié belangrike sleutel tot sy oeuvre. Verwelkoming: Dorothea van Zyl.
8 Maart 14:00 | Boektent | 50min | R50

 
FAK Sangbundel II
Aangebied deur die FAK
Die FAK-sangbundel trek ’n splinternuwe baadjie aan. Dié skatkis van Afrikaanse volksmusiek is nuut gemaak om liedjies wat die afgelope 40 jaar in Afrikaanse musiek geblom het, te laat voortleef vir nog ’n generasie of wat. Danie Langner en Jannie du Toit deel gedagtes oor die interessante maniere waarop liedjiekeuses gemaak is.
8 Maart 15:00 | Boektent | 50min | R40
Saskia de Coster
Ingrid Glorie in gesprek met die veelsydige Belgiese skrywer, Saskia de Coster. Nadat De Coster in 2009 as een van die uitsonderlikste Vlaamse vroue aangewys is, het haar prestasies as skrywer, video- en visuele kunstenaar sterstatus gebring.
8 Maart 16:00 | Erfurthuis | 50min | R20 by die deur

Karin Brynard

Onse Vaders
Hanlie Retief ondervra Karin Brynard, oud-joernalis en skrywer van misdaadromans, oor haar jongste boek Onse Vaders. Allerlei interessante kwessies kom ter sprake, soos ware misdaad teenoor fiktiewe misdaad en die vraag waarom, in ’n land deurdrenk van bloed, mense net meer en meer soek.
9 Maart 10:00 | Boektent |50min | R50

Die einde van die wêreld
Asteroïdes, supervulkane, marsmannetjies, mega-tsoenami’s of sonstorms – hoe gaan die wêreld eindig? Sandra Troskie pols skrywer Johannes Bertus de Villiers oor voorspellings van waarsêers, wetenskaplikes, sterrekykers en oorlewingskenners. Wat sal jý doen as jy hoor die wêreld eindig binnekort?
9 Maart 11:00 | Erfurthuis | 50min | R50

Die vloek
Aangebied deur LAPA
Die vloek – sondes van die vaders van Johan Kruger was op die kortlys van die 2010/2011 LAPA Romankompetisie. Riana Scheepers beskryf dit as ’n ‘verbysterende roman (...) wat een keer in ’n dekade homself aanmeld. Groots, ambisieus, geskakeerd en aangrypend’. Joernalis Jan-Jan Joubert stel die skrywer voor en gesels met hom.
9 Maart 13:00 | Erfurthuis | 50min | R30 by die deur

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top