Uitnodiging na AW Groenewald se kunsuitstalling – en ’n skrywe oor sy wêreld van verbeelding en rus

  • 0

’n Skrywe uit die pen van ’n kunskurator:
 
In 2021 het ek, kunskurator en galery-eienaar van Hugo Modern & Kontemporêr in Welgemoed, op ’n handvol skilderye in ’n privaat versameling afgekom. Ek was onmiddellik betower deur die werk: ’n onmiskenbare tegniese vaardigheid, ’n unieke kleurpalet, en ’n stil, droomagtige wêreld wat soos ’n geheime Suid-Afrikaanse visioen voel. Ná verdere navorsing het ek tot my verbasing ontdek dat die kunstenaar, André Wilhelm Groenewald (gebore 1941), nie net nog leef nie — maar slegs enkele blokke van my eie huis af woon.
 

Jeanne van der Merwe vertoon een van AW Groenewald se werk (foto: verskaf)

Groenewald het reeds op 17-jarige ouderdom ’n solo-uitstalling in Longstraat gehou en later aan die Michaelis Skool vir Beeldende Kunste studeer (1959), waar hy onder kunstenaars soos Lippy Lipshitz, Carl Büchner en Maurice van Essche gevorm is. Hy was vir meer as ’n dekade die hoof van die Parow Kunssentrum en het ook by die PJ Olivier Kunsskool in Stellenbosch klasgegee. Tog het sy oeuvre oor dekades grotendeels buite die publieke oog gebly.

In Januarie 2023 het ek reeds ’n soloaanbieding van meer as 60 van sy werke by Hugo Modern aangebied, waarvan die oorgrote meerderheid verkoop is. Die belangstelling het bevestig dat hierdie nie net ’n nostalgiese ontdekking is nie, maar ’n betekenisvolle herwaardering van ’n kunstenaar met ware historiese en estetiese gewig.

André het onlangs ’n beroerte gehad, en dit is bittersoet dat ek onlangs genooi is om ’n nuwe groep van meer as 40 oorspronklike werke te kom sien — die meeste van hulle is nog nooit voorheen uitgestal of selfs gesien nie en is tussen 1960–2000 gemaak. As gevolg van André se broos toestand het ons besluit ons open ’n nuwe uitstalling op Donderdag 12 Februarie, met ’n volledige digitale katalogus wat dieselfde aand bekendgestel is.

Die uitstalling is steeds aan die gang. Kom besigtig gerus sy kuns of kom besoek doodgewoon ons kunsgalery hier!

Lees ook:

André Wilhelm Groenewald

Impossible skies – life with my brother, the artist Walter Meyer deur Frans Meyer: ’n boekresensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top