Impossible skies – life with my brother, the artist Walter Meyer deur Frans Meyer: ’n boekresensie

  • 1

https://www.nb.co.za/en/view-book/?id=9781990973666

Impossible skies – life with my brother, the artist Walter Meyer
Frans Meyer
Melinda Ferguson Books
ISBN: 9781990973666 

  • Jeanne Hugo van der Merwe is ’n kunstenaar en kunskonsultant.
............
Hierdie memoir van Frans Meyer sal jou laat tuis voel – veral as jy die afgelope vyf dekades in Suid-Afrika gebly het; en  as jy nie hier gebly het nie, sal jy terugverlang na alles wat hy beskryf: die nimmereindigende skoonheid van die Karoo, Mpumalanga, Somerset-Oos en Pretoria. Selfs Upington begin aantreklik lyk.
.................

Hierdie memoir van Frans Meyer sal jou laat tuis voel – veral as jy die afgelope vyf dekades in Suid-Afrika gebly het; en  as jy nie hier gebly het nie, sal jy terugverlang na alles wat hy beskryf: die nimmereindigende skoonheid van die Karoo, Mpumalanga, Somerset-Oos en Pretoria. Selfs Upington begin aantreklik lyk. Miskien moet mens gaan kyk? 

Die titel Impossible skies is gepas vir beide broers se ervaring van die hemelruim: Frans wat dit in sy vlugte dwarsoor Afrika verken het, en Walter wat die bykans onmoontlike reggekry het – om die lug op ’n skilderdoek vas te vang. 

..............
Die titel Impossible skies is gepas vir beide broers se ervaring van die hemelruim: Frans wat dit in sy vlugte dwarsoor Afrika verken het, en Walter wat die bykans onmoontlike reggekry het – om die lug op ’n skilderdoek vas te vang. 
..............

Ons lees daagliks huldeblyke aan ontslape popsterre of koninklikes. Die woorde is vleiend en die boodskappies is nooit baie lank nie. ’n Huldeblyk van ongeveer 220 bladsye aan ’n broer is dus prysenswaardig, en terselfdertyd hartseer om te lees. 

Iets oor die jonger broer, Frans, die skrywer, wat sy ouboet Walter op verskillende vlakke en tydperke beskryf: Frans self is ’n imposante man met velerlei vaardighede – een daarvan is skryf. Maar hy het al op die grens in die Bosoorlog geveg, met skape en bokke in die Oos-Kaap geboer en as vlieënier alle uithoeke van die vasteland verken en besoek. Iemand behoort eendag ook vir hom ’n gloeiende huldeblyk te skryf. 

Walter, Frans se oudste en enigste broer, is in die sestigerjare gebore. Hulle ouers is van Duitse en Nederlandse oorsprong, en soos by vele Afrikaners is die vier kinders in die gesin met baie liefde, begrip en toewyding grootgemaak. Deurgaans kry mens die indruk dat hulle ’n welgestelde gesin is en dat die pa se invloed op hulle almal soos ’n warm kombers in die winter omvou. 

Walter is egter van die begin af ’n bietjie anders. Hy is stil. Hy is sensitief en hy is begaafd. Hy is intens lief vir die natuur en teken voëls en landskappe vandat hy bitter jonk is. Sy hoërskooljare by Affies is nogal ’n beproewing vir almal; Walter se ma moes ook vir hom in die bres tree by die hoof. Ten spyte van streng ouers kry Walter dit tog reg om hulle te oortuig dat hy ná twee jaar op Tuks in Duitsland moet gaan studeer. Hy vind dat hy met mense kan gesels as hy ’n paar biere in het, en drank word geleidelik sy grootste liefde. Hy gaan agt keer na rehabilitasiesentrums, maar hy kry dit nooit reg om van sy drankverslawing weg te kom nie. Die vrou vir wie hy die heel liefste was, skei van hom, want sy drankverslawing lei tot haar en haar kinders se intense swaarkry. Hy koop plase en huise met geld wat hy met sy kunsverkope maak, maar hy verloor alles en leef soos ’n boemelaar in Upington saam met die ma van nog drie kinders. Sy is  ook sy nemesis en steek hom met ’n kombuismes dood. 

Alhoewel die boek in Engels geskryf is, is daar dieselfde gevoel wat mens kry met die lees van Herman Charles Bosman se boeke – dis eintlik Afrikaans met Engelse woorde. Frans se heldeverering van sy broer is aandoenlik en sy gevoel van magteloosheid om hom van alkoholverslawing te bevry is tasbaar. Wanneer Frans van sy lewe as boer in die Oos-Kaap vertel en van Walter se intense genot wat hy in die natuur ervaar, beskryf hy die basiese verskille tussen skape en (Angora-) bokke. Hy vertel dat Angorabokmoeders so hooggeteel is vir die kwaliteit van hulle hare dat hulle hulle moedersinstink verloor. Behalwe dit is die bokke moedswillig en doen net wat hulle wil. Die skape is heeltemal anders. As ek dink aan die twee seuns Walter en Frans, sou Walter as die Angorabok beskryf kon word en Frans weer die een wat weet wat hom te doen staan. Albei het dieselfde liefde en aandag van twee betrokke ouers gehad, maar meer verskillend kan hulle eintlik nie wees nie.

Deesdae sal mens dalk hoor dat Walter "op die spektrum" is. Al wat hy wou doen, was om te skilder, maar sy eie persoonlikheid het hom in die steek gelaat. Sy agteruitgang en uiteindelike dood deur die messteek van ’n jong vrou kan beskryf word as ’n Griekse tragedie – sonder enige Grieke.

Wat het van Walter Meyer oorgebly? Talle skilderye - veral skilderye waarin verlies en eensaamheid verbeeld word.

Lees ook:

André Wilhelm Groenewald

Yonder: buite haar eie innerlike lewensgrense

Kuns as belegging en avontuur

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top