Lees nog oor Ms January en die eerste rubriek.
Lees ook die eerste rubriek van "Diary of a teacher".
Elke keer as ek by die skoolhek instap, verby die voorportaal loop, by die trappe opkom na my klaskamer en uiteindelik my klaskamerdeur oopsluit, is daar ʼn spanning wat ek nie in woorde kan beskryf nie. Ek wonder soms of ander onderwysers dieselfde gevoel ervaar. Leerlinge is onvoorspelbaar en elke skooldag is vol onsekerheid.
Vandag het ʼn graad 8-leerling tydens ʼn les ʼn gefrommelde papier in my gesig gegooi. Ek het waarskynlik iets gesê waarvan hy nie gehou het nie. Die res van die leerlinge het gedink dit is snaaks en het daaroor gelag. Ek het probeer kalm bly, maar wat die leerling gedoen het, het my laat skrik. Ek was verneder.
Ek dink terug aan ʼn berig wat ek gelees het oor ʼn jong onderwyseres wie se hare deur ʼn graad 8-leerling aan die brand gesteek is. Die vlamme het ʼn gedeelte van haar gesig verskroei. Haar lewe sal nooit weer dieselfde wees nie. ʼn Ander berig vertel van ʼn 16-jarige skoolmeisie wat ʼn paar kere deur skoolseuns in ʼn klaskamer gesteek is. Almal wil weet waarom die onderwyser nie meer gedoen het om die insident te verhoed nie.
As onderwyser is ek altyd bewus van die feit dat leerlinge die geweld en mishandeling wat hulle buite die skool aanskou, en selfs ervaar, na die klaskamer toe kan bring. Dit is veral vroue-onderwysers wat dikwels blootgestel word aan gevaarlike situasies binne die klaskamer en dit laat hulle kwesbaar. Ek self is al deur leerlinge gedreig, gevloek, en op twee geleenthede het leerlinge handgemeen met my geraak. Ek is ook al ʼn paar keer hardhandig uit die pad gestamp toe ek gevegte tussen leerders wou opbreek.
Onderwysers kan nie altyd verhoed dat leerlinge buite die klaskamer seerkry of selfs kwaad aanvang nie, maar binne die klaskamer is dit ons plig om leerlinge teen gevaar te beskerm. Partymaal is dit wel die onderwyser wat beskerming nodig het. Die woede wat sommige leerlinge ervaar weens omstandighede by die huis, of binne die skool, word dikwels teen hul onderwyser gerig omdat leerlinge so ʼn groot gedeelte van hulle dag in die klaskamer deurbring. Dit raak al hoe moeiliker om dissipline in die klas toe te pas. Elke onderwyser het al stories gehoor van leerlinge wat wraak neem teen ander onderwysers, of hulle het dit dalk eerstehands ondervind.
ʼn Paar leerlinge moes eenkeer ná skool bly omdat hulle onmanierlik was en ek moes toesig hou. Die leerlinge was woedend en een van hulle het besluit om wraak te neem deur op die handvatsel van my klaskamerdeur te spuug. Die groen slym het vir dae aan die handvatsel gekleef totdat die handvatsel uiteindelik verwyder en deur ʼn ander een vervang is.
ʼn Kollega van my vertel gereeld hoe sy in haar klaskamer toegesluit is deur leerders wat gedink het sy is te streng. Hulle het besluit om vir haar ʼn les te leer en terwyl sy daarna berading moes kry, was dit vir die leerlinge ʼn maar net grap. ‘n Ander kollega se kar is deur ‘n leerling gegooi met bakstene omdat hy die leerling gestraf het vir huiswerk wat nie gedoen was nie.
Soos die tyd verloop, het ek begin besef hoe belangrik dit is vir my as onderwyser om voorsorg te tref sodat ek veiliger kan voel wanneer ek by die skool is. Ek maak byvoorbeeld seker dat ek nooit na skoolure alleen in my klaskamer werk nie. Dit het al gebeur dat ʼn onderwyser in die klas deur leerlinge aangeval is of deur mense wat van buite die skool kom. Tydens elke pouse maak ek ook seker my klaskamerdeur is gesluit wanneer ek na die personeelkamer toe gaan of selfs wanneer ek besluit om in my klas te bly. Dit is die veiligste. Daarby maak ek seker dat ek gedurende die skooldag al my waardevolle besittings binne ʼn kas in die klaskamer toesluit.
Die skoolhoof het onlangs besluit dit is tyd dat elke klaskamer ʼn veiligheidshek moet kry. Ek dink dit het te doen met die feit dat daar in die laaste tyd meer insidente van geweld en misdaad op die skoolterrein plaasvind. Onderwysers sowel as leerlinge voel nie meer veilig by die skool nie.
Wanneer die klok aan die einde van die dag lui en dit tyd word vir die leerlinge om huis toe te gaan, luister ek aandagtig na die gelag en geskree van opgewonde kinders en in die agtergrond hoor ek die geskraap en gekap teen metaal en ek sien hoe werkers die nuwe veiligheidshekke voor elke klaskamerdeur sit. Dit lyk soos tralies en ek dink by myself dat dit nie lank is voordat ons skole soos tronke begin lyk en voel nie.



Kommentaar
Beste Ms January
My innigste simpatie. Ek weet presies waardeur jy gaan. Vroulief het na 39 jaar in Model 'C' skole met hoofsaaklik wit kinders besluit genoeg is genoeg. Dit is na die diefstal van twee duur selfone waarin een knaap van die oordragfasiliteit gebruik gemaak het om bykans R500 na sy pa se selfoon oor te plaas.
Die diefstalsaak met alle bewyse het net mooi op niks uitgeloop nie en het die knaap
sy skoolloopbaan as 'Untouchable' voltooi. Die pa het die stasiebevelvoerder laat weet dat hy nou te dronk is om polisiestasie toe te kom!
Die kersie op die koek was 'n ernstige aanranding in die klaskamer deur 'n ontstoke ouer (ma) wat haar rebelse kind se liegstories geglo het. In die hofsaak daarna is my vrou R60 000 skadevergoeding toegestaan.
Die oortreder het egter nooit aan die pen gery nie omdat sy nooit opgespoor kon word nie want sy het van die een plek na die ander gevlug om beslaglegging van bates te onderduik.
Die skade aan my vrou sy rug was egter groter as wat aanvanklik vermoed is en sy ly vandag nog aan die gevolge van 'n beskadigde rugwerwel wat 'n senuwee by tye so vasknyp dat sy met moeite opstaan (Sciatica).
Ek het ophou tel aan die aantal klaskamerdeurslotte wat ons uit eie sak vervang het,( en later terug geëis het) want sien as sommige van die lot die dag nie lus vir klas was nie het hul of die handvatsel afgebreek of die slot so beskadig dat ons nie die deur kon oopsluit nie.
Jy het net 'n paar vrot appels nodig om die hele sakkie aan te steek. So word die leerders wat werklik ernstig wil leer van kosbare onderrigtyd beroof.
Ons was almal jonk en ook stout maar die groot verskil was en nou gaan al wat 'n 'bleeding heart' is weer op hul agterpote spring, dat 'n paar goedgemikte houe op die agterstewe genoeg was om ons op die regte pad te hou.
Sterkte vorentoe - oudword is nie vir sissies nie- maar skoolhou nog minder.
Beste Ms January
As jy dalk wonder of die aanrander van my vrou vervolg is, dan is die antwoord 'nee'.
Nadat 'n klag by die plaaslike polisiestasie ingedien is en 'n saak geopen is, is dit gesluit want volgens die ondersoekbeampte het hulle nie oor die nodige 'resources' beskik nie (voertuie en petrol).
Dus kon hul nie na die buurdorp ry om die saak te ondersoek nie en 'n inhegtenisneming uitvoer nie. Dit is nadat hulle van al die verklarings en mediese bewyse en haar adres voorsien is.
Ook is die saak by die distrikskantoor van die Onderwysdepartement deur my persoonlik aangemeld. Dit het ook op niks uitgeloop nie.
Dit is dus geen wonder dat jy jouself nou in 'n posisie bevind dat jy nou tot die gevolgtrekking kom dat "Dit lyk soos tralies en ek dink by myself dat dit nie lank is voordat ons skole soos tronke begin lyk en voel nie."
Dit is werklik 'n skande dat 'n mens onder sulke omstandighede jou werk moet verrig
en 'n aanklag teen die gemeenskap van Suid-Afrika wat toelaat dat dinge tot op die vlak verval.
Sterkte - jy gaan dit nodig hê.