Uit 'n klaskamer op die Kaapse Vlakte 3 | Diary of a teacher 3

  • 0

Lees nog oor Ms January en die eerste rubriek.

Lees ook die vorige rubriek van "Diary of a teacher".


Dag 10

Vandag is daar ʼn swarigheid wat op my rus. Daar is ’n stryd tussen my liefde vir die onderwys en die angs wat ek ervaar wanneer ek besef dat ek as onderwyser min verskil kan maak in ʼn skool soos hierdie.

Nathan[i] is een van daardie leerlinge wat elke onderwyser se taak net ʼn klein bietjie moeiliker maak. Die “nagmerriekind”. Die soort leerling wat altyd in die kantoor beland; wat nooit sy huiswerk doen nie (niemand weet of hy ʼn skryfboek besit nie); wie se broek altyd te laag om sy onderlyf hang. Die soort vir wie almal op die skoolgrond bang is – die grootprater, vol beloftes en vreeslik arrogant. Elkeen het ʼn storie oor hom te vertel. Party sê hy kom uit ʼn ryk familie en dat hy ʼn enigste kind is – heeltemal te bederf! Ander dink hy word dalk by die huis mishandel. Nathan praat nooit oor sy persoonlike lewe of familie nie, maar by die skool weet almal hy is baas.

Hulle sê hy smokkel met sigarette en selfs met dwelms op die skoolterrein, maar niemand het ooit bewyse nie. As ʼn mens wel vir Nathan mooi dophou, lyk dit tog asof hy iets wegsteek. Wanneer hy in jou teenwoordigheid is, kan mens nie anders as om die gevoel te kry dat hy met iets onderduims besig is nie. Al het hy ʼn aangename gesig, het ek al gehoor hoe hy ʼn kleiner leerling se gesig hard teen ʼn pal gekap het en ek het al met my eie oë gesien hoedat hy een van sy klasmaats deur die gesig slaan en rondpluk. Dus bly ek as onderwyser versigtig en op my hoede vir hom.

ʼn Paar weke terug het Nathan in my klaskamer gesit met ʼn angstige uitdrukking op sy gesig. Na ʼn rukkie staan hy haastig op en vra of hy die klaskamer mag verlaat. Dis vreemd dat hy vir toestemming vra; gewoonlik hardloop hy uit sodra ek my rug draai. Ek kyk na hom en vra waarheen hy wil gaan, en vir die eerste keer lyk hy vir my soos ʼn jong kind, want daar is, tot my verbasing, vrees in sy oë. Hy was bang. Toe ek hom eenkant neem, verduidelik hy vinnig dat “hulle” geld uit sy sak gesteel het, ‘n klomp geld – geld wat nie aan hom behoort nie, maar wat hy vir iemand moet gee. Hy sal nie veilig by die huis kom as hy nie die geld terugkry nie. Hy wil dringend met die onderhoof gaan praat en ook gaan vra of daar iemand is wat hom ná skool veilig by die huis kan gaan aflaai. Iets sê vir my dat ek nie vrae moet vra nie, maar hom moet laat gaan. Na skool kom hy haastig na my klaskamer om baie vinnig en met ʼn swaar Kaapse aksent dankie te sê dat ek hom laat gaan het. Hy kon nie die geld terugkry nie, maar die onderhoof het ʼn plan gemaak om hom veilig by die huis te kry.

Die volgende dag sit Nathan in my klas, maar hierdie keer het iets verander. Daar is ʼn oop boek op sy tafel en hy wag heel aandagtig vir die les om te begin. Ek probeer so hard as moontlik om my verbasing weg te steek en gaan voort met die les. Terwyl ek praat, maak hy notas in sy boek. Sy handskrif is netjies en hy skryf versigtig. Ek sien dat sy lip effens stukkend en geswel is en dat daar ʼn blou kol rondom sy een oog is, maar ek wys nie my nuuskierigheid nie.

Vir ʼn tyd lank kom Nathan klas toe met die doel om skoolwerk te doen en ek besef ook dat hy meer respekvol teenoor my optree. Hy sê nie veel in die klas nie en neem ook nie aktief deel in die lesse nie, maar hy luister en hy skryf.

Twee of drie weke later sit ek met Nathan se vraestel op my lessenaar. Ek is ʼn klein bietjie senuweeagtig om dit na te sien. ʼn Dag of twee later kyk ek met nuwe oë na hom. Ek hoor nog steeds stories oor hom en hy raak nou en dan by stoeiery op die skoolgrond betrokke, maar in my klaskamer het hy my respek gewen.

Dit is amper weer tyd vir die skole om te sluit en baie van die leerlinge sal die kwartaal druip. Ek lees die leerlinge se punte vir hulle uit in die klas en wanneer ek by Nathan se naam kom, lees ek sy punt stadig en hardop. Ek hoor hoe die leerlinge almal stil word en sien hoe Nathan skrik en soos blits by die klaskamerdeur uithardloop. Ek los hom en gaan voort om die res van die punte vir die leerlinge te lees. Na ʼn rukkie is Nathan terug by sy bank en ʼn mens kan nog die trane sien wat in sy oë sit. Hy het die derde hoogste punt in die klas gekry (amper 70%), iets wat hy waarskynlik nog nooit gekry het nie. Na die les kom hy na my lessenaar en steek sy hand uit om my hand te skud, en met sy swaar Kaapse aksent is die enigste woorde wat hy kan uitkry, “Dankie, Juffrou.”


 

[i] Nie sy regte naam nie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top