Tyd dat Willie Jonker se boodskap opnuut gehoor word

  • 3

Die teoloog Willie Jonker se Rustenburg-skuldbelydenis van 7 November 1990, waarin hy namens homself, Afrikaners en die NG Kerk skuld vir apartheid bely het, het destyds ’n groot opskudding veroorsaak. Gert Duursema se navorsingsartikel in LitNet Akademies se Godsdienswetenskappe-afdeling, “Willie Jonker en die Rustenburg-skuldbelydenis – ’n skuif na links?”, ondersoek dié gebeurtenis van meer as 30 jaar gelede. Danie Veldsman het Duursema oor die artikel en Jonker se natalenskap uitgevra.

.....

Gert Duursema, redakteur van die Willie Jonker Digitale Argief (links) en Willie Jonker. (Foto’s: Gert Duursema en die Willie Jonker Digitale Argief)

Gert, jou artikel oor die Stellenbosse teoloog Willie Jonker is ’n goeie en insiggewende leeservaring – aan die einde selfs aangrypend. Dankie daarvoor. Wie het jy in die oog gehad toe jy hierdie artikel geskryf het?

Baie dankie vir die kompliment. Dit is ’n voorreg om met die teologiese nalatenskap van Willie Jonker besig te mag wees.

Die Rustenburg-skuldbelydenis is onteenseglik een van die belangrikste momente in die kerkgeskiedenis van die vorige eeu – nie net vir die NG Kerk nie, maar vir al die Afrikaanse kerke. Die doel van die kerkeberaad was – so het president FW de Klerk versoek – om ’n strategie te ontwikkel wat bevorderlik sou wees vir onderhandeling, verandering en versoening in die land. Hoewel die invloed van die skuldbelydenis op die breër Suid-Afrikaanse samelewing nog nagevors moet word, is dit my opinie dat dit alleen reeds ’n klimaat geskep het wat bevorderlik was vir verandering in Suid-Afrika.

Vir sommige was dit egter, en is dit steeds, tekenend van ’n sogenaamde links-liberale teologie wat die Afrikaanse gereformeerde kerke deur die eeue heen, van vroeg af tot in die tagtigerjare van die vorige eeu, met hand en tand beveg het. Kritiek teen Jonker het uit dié geledere gekom.

Vreemd genoeg het sommiges wat Jonker toegejuig het, nie regtig begryp wat hom gemotiveer het nie. Sommige van hulle het gereken dat hy dit vanweë links-liberale politieke oorwegings gedoen het. Ek het egter nie in my artikel daarop ingegaan nie.

Ek het dus nie ’n spesifieke groep of individue met die artikel in die oog gehad nie.

Metodologies gaan dit vir my om goeie, verantwoorde historiografie. Dit wil sê, kerkgeskiedskrywing wat primêre bronne ondersoek en krities ondervra. Ek het in die artikel nie probeer om ’n hagiografie vir Jonker te skryf of om ’n lansie vir hom te breek nie, maar om die essensie van sy teologie – soos dit na vore kom in sy pennevrugte – krities te ondersoek.

Eerder as om iemand in die oog te hê, wou ek die sáák, die leitmotiv in Jonker se teologie uit die verf laat kom. Sy teologie moet die antwoord verskaf of hy teologies na links geskuif het.

Willie Jonker voor die Kweekskool in Stellenbosch. (Foto: Willie Jonker Digitale Argief)

Die fokus van jou artikel is Jonker se Rustenburg-skuldbelydenis van 7 November 1990 – nou meer as 30 jaar gelede – wat hy destyds namens homself, die kerk en die Afrikanervolk afgelê het. Is dit nou nog regtig aktueel en relevant?

Die datum van die Rustenburgse skuldbelydenis kan maklik in die vergetelheid raak. Die doel van die artikel was nie bloot om dit uit die vergetelheid te ontruk nie, hoewel dit jammer sal wees as dit wel vergeet sou word. Dieselfde is waar van byvoorbeeld die Cottesloe-beraad wat, terloops, 30 jaar vóór Rustenburg plaasgevind het. Dieselfde kan van Cottesloe gevra word: Is dit steeds aktueel en relevant?

Aan die ander kant, sou dit nie ’n wonderlike geleentheid wees as die kerke in Suid-Afrika ’n datum soos dié kon uitroep tot ’n dag waarop opnuut bestek opgeneem word ten opsigte van die vordering op die pad van versoening wat op skuldbelydenis en vergewing behoort te volg nie?

Ek dink dat so ’n bestekopname die meerderheid tans nog met rooi gesigte sal laat. Trouens, ek is van mening dat daar groter verwydering binne die NG Kerk-familie (as daar enigsins steeds van so ’n familie sprake kan wees) ingetree het.

As ek reg is, moet gevra word of almal by die punt gekom het waar Jonker was, naamlik om aan die een kant opreg skuld vir apartheid te bely; aan die ander kant, of almal wat onder apartheid gely het, al op die punt gekom het waar aartsbiskop Tutu destyds was – om die skuldbelydenis te aanvaar en om te vergewe?

Indien ons op bostaande negatief moet antwoord, het dit hoog tyd geword om die teologie, die Boodskap, wat Jonker verkondig het, te herbesoek en aan te hoor. My artikel wil juis (opnuut) die aandag op hierdie Skrif-gefundeerde teologie vestig.

By Jonker vind mens nie alleen goeie teologie nie, maar die voorbeeld wat hy gestel het van teologie wat prakties uitgeleef word: sy deernis met almal, sy liefde vir die medemens; dat hy – soos in die artikel aangetoon is – selfs trane gestort het oor die situasie in die NG Kerk en in ons land.

Dalk is dit hoog tyd dat Jonker gehóór word.

Vertel asseblief meer van die Jonker-versameling by die argiefbewaarplek van die NG Kerk waarna jy verwys. Wie is hiervoor verantwoordelik en wat is die omvang daarvan?

Ek is ’n student van Jonker. Ek het alles wat ek van hom in die hande kon kry, versamel en uiteindelik tot die besef gekom dat as dit nie digitaal bewaar word nie, dit dalk vir ewig verlore kan gaan. Geweldig baie hét trouens helaas verlore gegaan. Sy skoonseun, Dirkie Smit, het my by geleentheid meegedeel dat Jonker al sy preke wat nie gepubliseer is nie, verbrand het. Jonker het, desjare toe hy met ’n rekenaar begin werk het (hy het baie swaar van sy ou Olivetti-tikmasjien afskeid geneem), sy werk op starskywe (stiffies) gestoor. Na sy dood is die skywe geformateer en wie sal ooit weet wat verlore gegaan het!

Ek het ongeveer met die eeuwisseling begin om alles waarop ek my hande kon lê met ’n klein handskandeerder te skandeer en daarna elke dokument met ’n optiese karaktererkenningsprogram (OCR program) geredigeer. In 2011 was ek op besoek by mev Jonker, die weduwee van prof Willie, en het ons gesels oor die werk waarmee ek besig was. Sy neem my toe na die kelderverdieping van hulle woonstel in die Strand waar, in ’n klam, donker stoorkamertjie, etlike dose waarin alles wat van prof Willie nog oor was, gepak was. Sy sê toe aan my dat sy nie weet wat om daarmee te doen nie en of ek nie sou belangstel om dit deur te werk nie.

Daarin het ek onder andere ’n onvoltooide en ongepubliseerde manuskrip gevind wat ek geredigeer en bygewerk het. Ek het dit in 2017 self gepubliseer en dit is ook as e-boek beskikbaar: Die regering van Christus in Sy kerk: geskiedenis van die ontwikkeling van die Gereformeerde kerkreg.

Tydens my studie in Nederland het ek ook al Jonker se publikasies oor die vak wat hy daar doseer het, diakoniologie (tans meestal praktiese teologie genoem), opgespoor en op die webwerf geplaas. Al die dagstukkies wat hy oor die jare op Saterdae in Die Burger gepubliseer het, is ook op die webwerf.

Gesamentlik is daar tans reeds 1 304 items op die webwerf. Items word bygevoeg soos en wanneer dit onder my aandag kom.

Willie Jonker in sy kantoor. (Foto: Willie Jonker Digitale Argief)

Jou vertelling oor waar Jonker vandaan kom en sy besonder nederige agtergrond is aangrypend. Wat het jou as navorser hiervan die meeste geboei?

Ek het in my artikel net bolangs aan Jonker se agtergrond geraak. Die helfte is nog nie vertel nie! In my boek Deurdagte koerswysiging. ’n Biografiese bibliografie van Willem Daniel Jonker 1929–1954 wy ek ’n hele hoofstuk aan sy lewensverhaal tot en met sy matriekjaar. Dit is ’n aangrypende verhaal van Willie Jonker wat as kind van armblanke, maar diep gelowige ouers grootgeword het.

Willie Jonker se ouers kom oorspronklik uit die Langkloof, waar Jonker senior ’n gedeelte van die plaas Grootrivier naby Uniondale geërf het. Die plaas is tussen die kinders verdeel, maar was te klein om op ’n bestaan te voer. Hulle moes noodgedwonge hul stukkie plaas verlaat met die hoop dat hulle by een van mevrou Jonker se ooms, wat ’n paar plase in die Vrystaat en Transvaal besit het, ’n heenkome sou kon vind. Uiteindelik kom hulle as bywoners tereg op die plaas Kinkelspruit naby Biesiesvlei, ’n plaas van ’n neef van mevrou Jonker.

Bywoners het geen arbeidsekerheid geniet nie. Hulle het stukwerk gedoen en Jonker senior het (onder andere) by ’n huisbouprojek werk gekry – maar is uiteraard net vir die duur van so ’n projek in diens geneem. Die Jonkers was brandarm.

Só word Willem Daniel Jonker op 1 Maart 1929 in ’n eenvoudige bywonershuisie as die sesde van agt kinders van ’n gesin armblankes in die distrik Biesiesvlei gebore. Daar is hy gedoop en lê hy belydenis van geloof af. Op laerskool het hy oor twee klasse “gespring”. Vir hoërskool is hy Lichtenburg toe. Sy skoolhoof, meneer PJ Conradie, skryf in sy getuigskrif dat Jonker geniale eienskappe besit het en “eenvoudig skitterend” was. Hy het altyd die hoogste punte in sy klas behaal.

Ten spyte van hul armoede is die jonge Willie in sy ouerhuis kultureel gestimuleer. Sy moeder was baie musikaal en het vroeg-vroeg die gesin geleer om van solfanotering (tonika-solfa) af meerstemmig te sing, en sy musiekonderwyser, die bekende meneer Tersteegen van Huyssteen (later medestigter van die Vrystaatse Jeugkoor), het dikwels by hulle aan huis gekom en vir hulle sy langspeelplate gespeel. Jonker het ’n sodanige musiekkennis opgedoen dat hy as eerstejaar by Tukkies Sondagaande ná kerk ’n plateprogram van klassieke musiek aangebied het. Op hoërskool was hy reeds ’n kenner van NP Van Wyk Louw en het meneer Van Huyssteen hom gevra om ’n operette in Afrikaans te vertaal. In dié opvoering het sy klasmaat, Murray Janson, ook ’n rol gesing!

Oor sy “genialiteit” kan boekdele geskryf word. Aan Tukkies het hy bykans dubbel soveel vakke vir BA geneem as wat vereis is, en almal met onderskeiding geslaag. Aan die teologiese fakulteit behaal hy ook sy graad met onderskeiding – terwyl hy deeltyds in Afrikaans en Nederlands klas gee én sy meestersgraad – ook met onderskeiding – daarin voltooi.

Hy is die enigste Suid-Afrikaanse teoloog wat die unieke prestasie behaal het om deur ’n Nederlandse universiteit gevra te word om daar professor in die teologie (diakoniologie) te word – en het daarbenewens ook ’n leerstoel aan Unisa in kerkreg en dogmageskiedenis beklee.

Wat my veral boei in die verhaal, is dat ’n jong man ver bo sy omstandighede uitgestyg en ook internasionaal erkenning geniet het.

Waaraan kan mens dit toeskryf? Sy diep gelowige ouers het hom ’n besonderse opvoeding gegee en dit speel sonder twyfel ’n groot rol. Daarbenewens was Jonker baie begaafd – selfs geniaal (soos sy skoolhoof hom beskryf het). Maar sou ’n mens hom vra waaraan dit toe te skryf is, sal hy sê: Dit is alles net genade. Hy sal dit aan die roeping waarmee die Here hom geroep het, toeskryf. Want Hy roep mens nie alleen nie, maar maak jou ook bekwaam vir die taak.

Meer as vier jaar voor hierdie belydenis van Jonker het die NG Kerk-sinode van 1986 apartheid as sonde verklaar. Dit het destyds groot onmin en verdeeldheid van allerlei aard teweeggebring, waarvan een uitloop die afskeiding was van die Afrikaanse Protestantse Kerk vanaf die NG Kerk. Was dit nie toe al genoeg nie – of het die NG Kerk nog Jonker se skuldbelydenis daarná nodig gehad?

Die vraag of die besluite van die Algemene Sinode van 1986 nie genoeg was nie, is ’n baie belangrike vraag – veral omdat dit dikwels gevra word. ’n Mens sou op dié vraag bevestigend kon antwoord slegs indien die NG Kerk werklik en ten volle afskeid van apartheid geneem het. Na my mening was dit nie die geval nie.

’n Mens sien dat ’n aansienlike deel van die NG Kerk in 1990 nog nie die bult oorgesteek het nie in die feit dat daar steeds soveel negatiewe reaksie op Jonker se skuldbelydenis was. Daar was verwarring, verontwaardiging, onrustigheid, selfs woede wat op ’n behoorlike gemaal, gesnuif en rondtrap van die NG Kerk-kudde gelyk het. Opvallend is dat daar ook “amptelik” deur die moderature van die Transvaalse sinodes ’n gesamentlike verklaring uitgereik is waarin hulle hul ontevredenheid met die skuldbelydenis uitgespreek het. Boonop het die uittredende moderator van die Algemene Sinode, dominee JE (Kobus) Potgieter – wat juis by die sitting van 1986 die openingsrede gelewer het – ’n konferensie vir “konserwatiewe lidmate” op 1 Desember 1990 gereël met AP Treurnicht as hoofspreker.

Belangriker as bogenoemde negatiewe reaksies is die vraag of die besluite van die Algemene Sinode werklik jou vraag regverdig. Jy is reg dat die Algemene Sinode apartheid as sonde verklaar het, maar in alle eerlikheid moet gevra word of dit regtig opreg bedoel was as hulle dit in dieselfde asem probeer vergoeilik of verdedig. Ek verwys na byvoorbeeld Kerk en samelewing, paragrawe 279 en 280:

Die Ned Geref Kerk is daarvan bewus dat die ideaal en beleid van apartheid oor ’n lang periode in ons geskiedenis vorm en beslag gekry het. Daar was ook eerlike en opregte bedoelings by betrokke ten opsigte van die optimale ontwikkeling van alle bevolkingsgroepe binne hulle eie kulturele tradisie.

Dit sou ook onbillik wees om alles wat binne die politieke bestel van apartheid plaasgevind het, as verkeerd en sleg te bestempel en die positiewe ontwikkelinge wat daar wel op verskeie terreine was, te ontken.

’n Mens kan die skeptisisme van opregte broers en susters in die Here wat aan die ontvangkant van apartheid gestaan het, verstaan. Veral ook omdat die verklaring van die Algemene Sinodale Kommissie wat uitgereik is na die vergadering van 4 Desember 1990 (wat gehou is vanweë “die ongelukkigheid by ’n aantal lidmate en kerkrade oor bepaalde besluite van die Algemene Sinode in Oktober, en veral oor gebeure by die Kerkeberaad te Rustenburg in November”), paragrawe 279 en 280 van Kerk en samelewing herhaal. Daarmee word gepoog om die beswaardes en ongelukkiges te paai.

Sonde, as sonde, kan nooit verklaar of verdedig word nie. Dit kan alleen bely word. ’n Mens moet in alle eerlikheid vra watter soort christenskap gedemonstreer word met so ’n “voorwaardelike” erkenning wat Kerk en samelewing aangee? Só word geloof getrivialiseer.

’n Mens roep onwillekeurig die storm op wat rondom voormalige president FW de Klerk se kop losgebars het, toe hy soortgelyke geluide in ’n onderhoud met die SAUK op 2 Februarie 2020 gemaak het. Hy is gevra of hy met die Verenigde Nasies se verklaring in 1973 saamstem dat apartheid ’n misdaad teen die mensdom is. Hy het toe gesê hy stem nie heeltemal daarmee saam nie.

Jonker, daarenteen, het in enkele sinnetjies, onvoorwaardelik en sonder om enigsins te probeer om apartheid te verdedig, sy eie sonde, skuld en verantwoordelikheid vir al die onregte waaronder anderskleuriges gely het, bely. Hy het dit boonop gewaag om dit ook namens die NG Kerk en die Afrikaner te doen. En wat meer is, hy het hom op die besluite van die Algemene Sinode beroep.

Ten spyte daarvan dat ek krities – selfs skerp krities – staan teenoor Kerk en samelewing en die besluite van die Algemene Sinode in dié verband, is ek nogtans van harte daarvan oortuig dat die NG Kerk ’n geweldig belangrike rol gespeel het in die afbreek van apartheid en die oorgang na ’n nuwe bedeling. Ek sal selfs so ver gaan om te beweer dat sonder hierdie nuwe standpunte wat die NG Kerk ingeneem het, ’n vreedsame oorgang na die nuwe bedeling baie, baie moeiliker sou gewees het. Dit is nog te vroeg om daaroor ’n finale oordeel te vel. Die geskiedenis sal dit egter nog doen.

Willie Jonker en sy vrou. (Foto: Willie Jonker Digitale Argief)

Jou kernvraag wat jy aanspreek en waaraan jy omvattend aandag gee, is die sogenaamde skuif na links deur Jonker in sy denke oor die kerk. Hoor asseblief my vraag teen die agtergrond van die bekende humoristiese verwysing destyds deur die fotograaf wat ’n groepfoto van AWB-lede moes neem en vir hulle gesê het toe hulle hulle plekke moet inneem: Menere, sit asseblief van regs tot ver regs …” My vraag aan jou is of dit regtig oorweeg moet word as ’n “skuif na links”, en nie dalk eerder maar net “’n skuif na minder regs” nie?

In die artikel wou ek juis aandui dat Jonker hoegenaamd nie geskuif het nie – nie na links nie en ook nie van regs na minder regs nie.

Die titel van my artikel eindig juis met ’n vraagteken: “Willie Jonker en die Rustenburg Skuldbelydenis – ’n skuif na links?” (kursivering aangebring).

Jou vraag hier bo, by my antwoord op die vorige vraag, sou meer gepas wees: Het die Algemene Sinode van die NG Kerk met haar Kerk en samelewing regtig ’n volledige teologiese paradigmaskuif gemaak of was dit bloot “’n skuif na minder regs”?

Die terme links en regs pas nie regtig by die teologie nie. Dit is eerder politieke terme. Helaas is dit in die vorige eeu by die teologie ingesleep. In die vorige eeu is die term links in die NG Kerk en haar teologiese kringe gebruik vir almal wat nie die beleid van afsonderlike kerke vir die afsonderlike bevolkingsgroepe voorgestaan het nie. Daarnaas is liberaal ook gebruik. Rooms en kommunisties is ook sommer in dieselfde pot geroer. Jonker is deur mense soos JD (Koot) Vorster, AP Treurnicht, TN (Tobie) Hanekom, Kosie Gericke en andere links, liberaal en Rooms genoem.

In die teologie beteken die term liberaal “teologies vrysinnig”. Dit word gesê van iemand wat hulleself nie (of baie minder) aan die regsinnige tradisies gebonde ag nie. “Vrysinnigheid” dui met name op iemand wat in meerdere of mindere mate afsydig teenoor die kerk se belydenisskrifte staan.

Só is die term liberaal of links egter nie gedurende die vorige eeu in die NG Kerk en NG-teologie gebruik nie. Dit was met name nie wat bogenoemde individue in die vroeë sestigerjare én diegene wat Jonker ná Rustenburg verdink het van ’n “skuif na links” in die oog gehad het nie. Desjare is almal wat teenstanders van (die Bybelse regverdiging van) apartheid was, ’n etiket van “liberalisme” om die nek gehang.

Die “ou” teologiese uitgangspunt van die NG Kerk sou, volgens die vraag hier bo, as regs bestempel moet word. Dit is egter nie ’n gebruiklike term nie. Self sou teoloë uit dié periode hul teologie nie so beskryf nie. Hulle sou hulself eerder gereformeerd of (neo)calvinisties noem – hoewel dié benaminge heeltemal nie klop nie. Laasgenoemde blyk duidelik uit die skerp kritiek wat vanuit die internasionale gereformeerde wêreld op die teologie in die NG Kerk uitgespreek is.

Die NG Kerk (met die uitsondering van enkeles, onder wie Jonker, BB Keet, Ben Marais) het ’n vorm van natuurlike teologie beoefen (en doen dit steeds – maar dis ’n gesprek vir ’n ander dag). Dit is duidelik te sien in die kerk se publikasie Ras, volk en nasie wat as ’n verslag voor die Algemene Sinode van 1974 gedien het en in 1975 gepubliseer is. Daarin word die volkeverskeidenheid tot ’n sogenaamde skeppingsbeginsel gemaak; word dit ’n opdrag wat nagevolg moet word; en word dit die hermeneutiese sleutel waarmee die Skrif benader word. Laasgenoemde geld met name Genesis 10 (die sogenaamde volkeretafel) en 11 (die spraakverwarring by Babel).

Die Elektroniese Christelike Kernensiklopedie (lemma: natuurlike teologie) beskryf natuurlike teologie raak: “Feitlik alle vorms van natuurlike teologie fokus op die feit dat God geken kan word deur God se skeppingswerke in die natuur en dus veral deur natuurwette en die menslike gewete.” Dit stem volledig ooreen met Jonker se standpunt. Hy verstaan onder natuurlike teologie ’n soort teologie “wat nie op die openbaring van God in die Skrif gebaseer is nie, maar op die mens se eie nadenke oor wat van God en sy wil uit die algemene openbaring in die natuur en geskiedenis afgelei kan word”.

’n Sprekende voorbeeld hiervan sien mens in Geloof en protes: ’n antwoord namens beswaarde lidmate op sekere aspekte van Kerk en samelewing, ’n publikasie wat onder die leiding van WJG Lubbe ontstaan het en volledig op die standpunte van Ras, volk en nasie staan. Die grondliggende dwaling van die NG Kerk is volgens Geloof en protes dat Kerk en samelewing “God se skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld as kenbron”, soos verwoord in artikel 2 van die Nederlandse Geloofsbelydenis en Romeine 1:20, misken. Die algemene openbaring word ’n ekstra of tweede bron van openbaring gemaak waaruit allerlei dinge geleer kan word wat nié in die Skrif geleer word nie.

Ras, volk en nasie en hierdie identiese tweeling van hom, Geloof en protes, gebruik ’n soort natuurlike teologie wat met die Bybel in die hand bedryf word. Daar word met Bybelse gegewens – soos die verskeidenheid in die skepping – los van die openbaring in Christus op ’n rasionele wyse, eie aan die skolastiek, gewerk. Die skolastiek is op sy beurt gebou op en geheel en al deurdrenk van natuurlike teologie. Die kerk, wat ’n grootheid van die herskepping in Christus is, word vanuit die skepping beoordeel soos enige ander vereniging eie aan hierdie wêreld. Al sou mens in die Skrif van die geskape verskeidenheid leer, leer die Nuwe Testament juis dat vroeëre vyande – as jy wil, vyandige volkere of nasies – in Christus met mekaar versoen is, die middelmuur van skeiding afgebreek is, en word klem gelê op die noodsaak van eenheid en eensgesindheid. ’n Mens word nie lid van die kerk van Christus soos by ’n vereniging omdat jy dit wil nie. Christus en Hy alleen maak jou ’n lid van sy Liggaam, die kerk.

Ek het ook daarop gewys dat spore van hierdie soort natuurlike teologie steeds in Kerk en samelewing te vinde is.

Jy verwys juis na ’n studie oor ’n klasmaat en latere kollega van Jonker, Johan Heyns, waarin aangevoer word dat Heyns – ten spyte van sy openbare veroordeling van apartheid as sonde – nie “heeltemal daarin geslaag het om apartheid ongekwalifiseerd te verwerp nie”. Stem jy hiermee saam? Meen jy dat Jonker dit wel juis gedoen het?

Die klasmaats van Jonker het byna almal groot hoogtes in die Suid-Afrikaanse teologie en in die NG Kerk bereik. Bo en behalwe Heyns en Jonker het Carel Boshoff, Dion de Villiers, Andrew Hofmeyr, Murray Janson, Nico Smith en Frans van Staden almal leerstoele aan teologiese inrigtings beklee. Hulle het aansienlike invloed in die NG Kerk uitgeoefen. Nog vier ander, GJ Erasmus, HS Theron, JHP van Rooyen en GC Wolhuter, het almal gepromoveer. Nie sleg vir ’n klas van 17 voornemende dominees nie!

Die studie van Henry Williams waarna ek verwys, is ’n ongepubliseerde DTh-proefskrif wat hy aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi het, met PJ Strauss as promotor, getiteld “JA Heyns en die Nederduitse Gereformeerde Kerk en apartheid” (Strauss het self ook aan Heyns se voete gesit en groot waardering vir hom gehad). In ’n slothoofstuk, “Gevolgtrekkings”, wy Williams ’n afdeling aan “Heyns en apartheid”. Dááruit (bl 398) het ek aangehaal:

Uiteindelik het Heyns nie heeltemal daarin geslaag om apartheid ongekwalifiseerd te verwerp nie en moet sy worsteling met die definiëring van apartheid en die vashou aan die aanvanklike goeie bedoelings daarmee toegeskryf word aan sy ingesteldheid van kritiese identifikasie met die Afrikanervolk.

Die “definiëring van apartheid” waarna Williams verwys, vind hy in Heyns se Teologiese Etiek, deel 2/2 van 1988. Hy haal daaruit aan:

Apartheid is ’n wetlik gereglementeerde politieke en maatskaplike model van denke en handelinge, wat deur ’n gedwonge skeiding van groepe en mense, inderdaad die welsyn van al die betrokkenes beoog het, maar in die proses van die implementering daarvan, die aanvanklike oogmerke nie tot volle realisering kon bring nie; inteendeel, dit het nie alleen die een bevolkingsgroep bo die ander bevoordeel nie, dog ook individue veronreg.

Heyns se definisie stem opvallend ooreen met paragrawe 279 en 280 van Kerk en samelewing. Dié dokument is ’n resultaat van die hersiening van Ras, volk en nasie waarop die Algemene Sinode van 1982 besluit het en wat hier bo aangehaal is. Heyns was lid van die hersieningskommissie en het klaarblyklik ’n deurslaggewende rol in die formulering daarvan gespeel. My besware teen paragrawe 279 en 280 geld dus ook ten opsigte van Heyns se definisie. In antwoord op jou vraag hierbo: Ek stem wel met Williams saam.

Maar dat Johan Heyns ’n brugbouer was wat die NG Kerk en die Suid-Afrikaanse samelewing nodig gehad het in ’n periode toe die kerk en die land letterlik aan die brand was, staan soos ’n paal bo water. Die rol wat hy gespeel het sedert hy die eerste tree op weg na die verwerping van apartheid met die Hervormingsdag-getuienis in 1980 gegee het, kan beswaarlik onderskat word. Die invloed wat van Heyns uitgegaan het, word treffend verwoord in die titel van die huldigingsbundel wat op sy 60ste verjaarsdag aan hom oorhandig is en waaraan Jonker meegewerk het: ’n Woord op sy tyd.

Dink jy dat ons in eietydse Gereformeerde strominge van nadenke oor ekklesiologie nog vandag enigsins die problematiese onderbeklemtoning van sogenaamde Natuurlike Teologie vs Openbaring / Skrifteologie kan handhaaf? Dit was volgens jou ’n basiese ononderhandelbare oortuiging van Jonker gewees. Is dit nie al deur verskeie eietydse denkers as onaanvaarbare immuniteitstrategie ontmasker nie?

Dit is heeltemal korrek dat Jonker ononderhandelbaar Skrifteoloog was en dit doelbewus wou wees. Dit kan in bykans elke pennevrug van hom gevind word. Selfs die titels van sommige van sy boeke en artikels spreek daarvan: Die Woord as opdrag (oor die prediking); In diens van die Woord (praktiese teologie); en die artikels “Heilige Skrif en sosiale etiek by Calvyn” en “Die eenheid van die kerk in die lig van Skrif en Belydenis”. En so kan mens voortgaan.

Teologie is volgens hom Skrifteologie, anders is dit nie waarlik teologie nie. Skrifteologie is, in die volle sin van die woord, ’n wetenskap. Hy verwerp egter die siening van die dialektiese teologie wat die rede as waarheidskriterium en hoogste wet vir die wetenskap beskou.

Met passie, deernis en kinderlike piëteit beantwoord hy die vraag oor wat teologie is, só: Die wordingsproses van die teologie in prinsipieel-saaklike sin begin by christen-wees. Want christen-wees beteken ’n besig wees met die Bybel, wat op sy beurt kennis van die Skrif impliseer. Dít gee aan die teologie ’n unieke karakter. Jonker gaan selfs so ver om te sê dat die teologie ’n antwoord in die geloof is, want wie geloof uit die teologie uithaal, het nie meer met christelike teologie te doen nie, eerder met ’n vae religieuse studie. Hy gee ’n veelseggende definisie in Op weg met die teologie – ’n werk wat hy saam met Heyns in 1974 gepubliseer het (bl 137): “[T]eologie is die wetenskaplike en die deur die tyd bepaalde antwoord op die openbaring van God aangaande Homself en Sy direkte verhouding tot die kosmos.”

Skrifteologie is geensins fundamentalisme of biblisisme nie, wat Jonker trouens in die skerpste taal verwerp. ’n Ernstige Skrifteoloog sal nie die Bybel gebruik asof dit ’n wetboek is wat net op die klank af gaan sonder om die verband en die konkrete Sitz im Leben waarin ’n bepaalde teks funksioneer, in ag te neem nie. Vir Jonker is daar niks wat die gesag van die Skrif meer ondermyn as biblisisme nie. ’n Biblisistiese omgaan met die Skrif, sê hy, gaan met die Skrif om asof dit ’n wasneus is wat ’n mens kan omvorm soos jy wil. Biblisisme verydel juis die gesag van die Skrif – die één doel wat dit skynbaar nastrewe.

Daarom vind ek dit vreemd dat die sogenaamde eietydse Gereformeerde strominge dit problematies vind dat natuurlike teologie téénoor Openbarings- of Skrifteologie gestel word.

Wat beteken dit om gereformeerd te wees? Jonker gee ’n definisie daarvan in die Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif (deel 33(4) van Desember 1992, ble 509–19), waarin hy enkele opmerkings maak (nie resenseer nie) na aanleiding van GP Hartvelt se Simboliek-boek met die titel “Wat is gereformeerd?”:

Uiteindelik is die gereformeerde gesinde daardie sytak van die katolieke Christenheid wat in ’n dinamiese Skrifgeoriënteerde tradisie in gemeenskap met die vaders, die broeders en die susters wil begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek, wat alle verstand te bowe gaan (Ef. 3:18–19). (Kursivering aangebring)

Hiermee is ek dit van harte eens. Ek het in my artikel aangetoon dat Jonker se oë oopgegaan het toe hy ’n semester lank lesings in Basel by Karl Barth bygewoon het. Jonker sê wat hom veral van Barth geboei het, was Barth se evangeliese teologie, sy teologie van die Woord. Die Barmer Erklärung, waarvan Barth die primêre outeur was, het ’n groot rol gespeel in die verwerping van die natuurlike teologie.

In Duitsland tydens die Hitler-bewind het die natuurlike teologie onder die Nazi-ideologie gedy. Daar is verkondig dat die staat, soos dit onder God se voorsienige regering ontwikkel het, iets sê oor wie God is. Dit wat mens uit die natuur en natuurlike ontwikkeling aflei, word as gesaghebbend beskou. Daarteenoor sê Barth en Barmen kragtig nee. Die geskiedenis het telkens uitgewys dat geen teologie wat die gesag van die Skrif op enige manier misken het, ooit tydens krisisse ’n bevrydende woord kon spreek nie. Daarteenoor staan die Barmen Erklärung soos ’n vuurtoring in duister stormnagte uit.

Dit is opmerklik dat Barmen telkens, by elke stelling, met die Skrif begin. Stelling 1 is ’n sprekende voorbeeld daarvan – en ook ’n sprekende voorbeeld van die verwerping van natuurlike teologie (vry vertaal):

Jesus Christus spreek: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” (Joh 14:6)

“Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle: Wie nie by die hek van die kraal ingaan nie, maar van ’n ander kant af inklim, is ’n dief en ’n rower. Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word.” (Joh 10:1, 9)

Jesus Christus, soos Hy aan ons in die Heilige Skrif verkondig word, is die één Woord van God, wat ons moet hoor, in lewe en in sterwe moet vertrou en gehoorsaam.

Ons verwerp die valse leer, asof die kerk as bron van haar verkondiging afgesien van en benewens hierdie één Woord van God ook nog andere gebeurtenisse en magte, figure en waarhede as Gods openbaring kan en moet erken.

Dit is algemeen bekend dat veel gewag daarvan gemaak word dat die Barmen-verklaring ’n groot rol gespeel het by die opstel van die Belhar-belydenis. Ek vind dit jammer dat dit nie, soos Barmen, met die Skrif self begin nie, hoewel dikwels na die Skrif verwys word. Ook word natuurlike teologie nie by name genoem nie, maar die saak is vir enigeen wat tersaaklik kundig is en dit lees, duidelik te onderskei.

’n Laaste aanhaling wat ek wil gebruik, spesifiek met die oog op ons huidige situasie in Suid-Afrika, kom uit ’n artikel wat in 1973 verskyn het, toe Jonker nog etiek aan die kweekskool doseer het. Dit is gepubliseer in Bulletin van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir die bevordering van Christelike Wetenskap, met die titel “Heilige Skrif en sosiale etiek by Calvyn”. Hy skryf:

Die hoofsaak van wat ons wou sê, is dat Calvyn nie op die natuurreg of die gesonde verstand terugval om aan hom die norme vir die sosiale etiek te verskaf nie, maar op die Heilige Skrif. Hy gebruik ’n bepaalde hermeneutiese metode om die Skriftuurlike norme vir die sosiale lewe te vind en hy is van oortuiging dat wat hy oor die verskillende menslike gemeenskapsvorme sê, eksegeties gefundeer is. Op hierdie manier het hy iets om te sê oor maatskaplike en politieke vraagstukke … Dit is selfs merkwaardig dat Calvyn reeds in sy tyd uitsprake gemaak het oor sake soos slawerny, kolonialisme, die eweredige verspreiding van eiendom en dergelike dinge meer, wat eers veel later in die geskiedenis die ernstige aandag begin geniet het van die breë lae van die volk – en dan meestal onder humanistiese aanvoering en in ’n gesekulariseerde gestalte.

Sommige mag bostaande “onaanvaarbare immuniteitstrategie”, “hermeneuties bevooroordeeld” of “gekompromitteerde Woord-gebondenheid” noem. Dit is hulle goeie reg. Ek staan en val egter daarby dat die Skrif die bron en norm is van gereformeerde teologie. Ek sou daarteenoor eerder wou pleit dat ons tog moet leer uit die geskiedenis. Die beoefening van natuurlike teologie het die NG Kerk geïsoleer, die muishond van die wêreld gemaak, en in gesprekke met susterkerke in ’n doodloopstraat laat beland.

Hoe sou jy die hart en kern van Jonker se ekklesiologie omskrywe? En daardeur ook dalk beklemtoon waarin hy ’n besondere bydrae tot Gereformeerde Ekklesiologie gemaak het, ook nog vir ons vandag wat in Gereformeerde kerklike strominge staan?

Jonker se ekklesiologie is gebou op en gedra deur sy kerkbeskouing. Die mees fundamentele ekklesiologiese uitgangspunt – wat ook aan Jonker se kerkreg ten grondslag lê – is die onverbreekbare eenheid tussen Christus en Sy kerk. Hier bo is reeds aangedui dat Jonker die kerk in terme van die heil definieer. Die kerk is niks anders nie as die nuwe mensheid wat tot stand kom deur die verlossingswerk van Christus, almal wat deur die Heilige Gees Wederbaar en aan Christus verbind is met ’n ware geloof. Die kerk is die produk van die werk van die Drie-enige God in die wêreld, en is daarom geheel en al aangewese op die Here. Dit is nie ’n menslike organisasie of beweging van eie oorsprong nie (al het die kerk uiteraard ’n menslik-organisatoriese kant). Dit is ’n stigting van God en die eiendom van God. Dit is ’n heilige vergadering van almal wat waarlik in Christus glo. Reeds op die eerste bladsye van sy proefskrif, “Mistieke liggaam en Kerk in die nuwe Rooms-Katolieke teologie (bl 11) neem hy hierdie standpunt in:

Wie op dogmatiese standpunt gaan staan en oor die Kerk vanuit die Christologie, die Pneumatologie en die leer van die regverdiging gaan spreek, moet noodwendig die Kerk as vrug van die heilswerk van Christus verstaan, en dus tot die uitspraak kom: ubi gratia, ibi ecclesia. (Vertaal: waar genade is, is die kerk.)

Jonker is ook onversetlik in sy oortuiging dat die kerk bedoel is om ’n lewende, bewuste gemeenskap van gelowiges te wees. Die kerk is immers die liggaam van Christus en is as sodanig die gemeenskap van die heiliges. Die gemeenskap van die heiliges is die voorveronderstelling, die milieu waarbinne Jonker se kerkbegrip opereer, waarsonder sy standpunte dalk na idealisme of wensdenkery mag klink. Om die kerk as liggaam van Christus kerkregtelik te struktureer soos enige ander (sekulêre) vereniging, is vir hom ten ene male ondenkbaar. Dit behoort tot die wese van die kerk dat dit die gemeenskap van uitverkorenes is, van diegene wat deel in die genade van Christus, ’n gemeenskap van verloste mense, die gemeenskap van begenadigdes.

Willie Jonker as student (links) en later as dosent in die lesinglokaal. (Foto’s: Willie Jonker Digitale Argief)

Met instemming verwys Jonker na Abraham Kuyper wat gesê het dat die kerk uit die besondere genade opkom, nie uit die algemene genade nie. Kuyper het volgens Jonker nooit moeg geword daarvan om te beklemtoon dat die kerk ’n eiesoortige verskynsel, ’n verskynsel sui generis, is wat met niks anders vergelykbaar is of op een lyn met enigiets anders geplaas kan word nie. Daar is immers géén ander samelewingsvorm wat aan die heil in Christus verbind is, buiten die kerk nie. Slegs die kerk word die liggaam en bruid van Christus, die volk, bouwerk en tempel van God, ens genoem.

In die lig van bostaande is dit ook nie vreemd nie dat Jonker regdeur sy lewe soveel klem gelê het op die eenheid van die kerk. Die liggaam van Christus mag nie in stukke en brokke opgesny word nie. Die veelheid van kerke is vir hom niks anders as sondige verskeurdheid nie. Binne die NG Kerk het dié verskeurdheid die vorm aangeneem van afsonderlike kerk vir die afsonderlike bevolkingsgroepe. Hy het hom regdeur sy bediening daarop toegespits om dit te beveg – soos ek in my artikel aangedui het.

Die één kerk moet sigbaar gestalte aanneem. Vir hom was die saak van die eenheid van die kerk ’n diep geestelike saak. In ’n ongepubliseerde en voorheen onbekende manuskrip van net enkele bladsye lank met die titel “Die eenheid van die kerk in die lig van Skrif en Belydenis” skrywe hy dat ons houding en gesindheid hieroor getuienis lewer van ’n mens se erns met die heiligmaking. Hy vervolg: “Al ons regsinnigheid is van nul en gener waarde sonder die liefde nie (1 Kor 13). En die liefde wat die Heilige Gees in ons harte uitgestort het, is die enigste ware wortel van kerklike eenheid.”

’n Tweede baie belangrike grondbeginsel van Jonker se ekklesiologie is die volledigheid van die plaaslike gemeente. In die manuskrip waarna ek hier bo verwys het, Die regering van Christus, skryf hy dat die uitgangspunt van die Reformasie is om elke plaaslike gemeente as kerk in die volle sin van die woord te sien, terwyl die Rooms-Katolieke Kerk die kerk so totaal anders verstaan het, “’n kopernikaanse omwenteling” was.

Die volledigheid of selfstandigheid van die plaaslike gemeente mag egter nooit met outonomie verwar word nie, omdat dit die plek is waar Christus direk en persoonlik deur die bediening van die Woord en die sakramente regeer. Christus is immers die enigste Hoof, Koning en Meester van sy kerk. Omdat Christus uiteraard ook die Hoof, Koning en Meester van die plaaslike gemeente is, mag die plaaslike gemeente nie in sy selfstandigheid aangetas word nie en nie van buite deur andere regeer word nie. Die selfstandigheid van die plaaslike gemeente dui ook konsekwent op, aan die een kant, die uitsluiting van elke vorm van hiërargie en menslike regering en, aan die ander kant, die erkenning van die alleenheerskappy van die Woord van God.

Hoe verstaan Jonker dan die kerkverband en meerdere vergaderings? Die grondbeginsel wat Jonker deurgaans handhaaf, is dat ’n meerdere vergadering ’n vergadering is waar – op grond van Ef 4:17–19 – die liefde van Christus geken moet word “saam met al die heiliges”. Ook hier geld dus dat die kerk die gemeenskap van die heiliges is. In ’n meerdere vergadering kom ’n steeds wyer kring van die gawes en insigte van die heiliges byeen. In Die regering van Christus (bl 94) skryf hy: “Op die meerdere vergadering is daar dus nie soseer meer gesag teenwoordig as in die mindere nie, maar daar is meer […] van ‘al die heiliges’, ’n groter sektor uit die gemeente van Christus op aarde […] Dit is geen heerskappy en dwingende seggenskap nie, maar ’n geestelike, amptelike diens.”

Wat meer is, is dat daar in hierdie onderlinge, gemeenskaplike diens en wedersydse versterking ’n heerliker openbaring van die eenheid van die kerk na vore kom. ’n Meerdere vergadering moet die plek wees om mekaar te kontroleer en op te skerp om ten volle in die lig van die Woord te wandel.

’n Laaste aspek waarop gewys moet word, is die onontbeerlike plek wat die Skrif in Jonker se ekklesiologie inneem. In sy afskeidspreek in die NG Gemeente Johannesburg op 16 Mei 1965 (ongepubliseer – sien https://williejonker.co.za/19650516-2), toe hy vertrek om die leerstoel aan Unisa te beklee, preek hy oor die heerskappy deur die Woord en die Gees van God:

Die Kerk is net Kerk solank die Woord van God daarin regeer; ’n kerklike vergadering het slegs gesag solank die Woord van God daar regeer, anders nie.

En

Waar Christus se Woord suiwer verkondig word, daar héérs Hy. Daar regeer en red Hy. Daar word die Kerk sigbaar. Daar word die bedieninge vervul na die maat van die geloof. Daar is die ernstige begeerte om na al Gods gebooie te wandel. Dáár is die Kerk.

Die kerk noem hy ’n creatura Verbi – ’n skepping van die Woord. En in Die regering van Christus (ble 1, 4 en 5) skryf hy dat beide Luther en Calvyn beklemtoon het dat

[die] kerk dáár is, waar die gelowiges om die Woord en die sakramente versamel is, en dat die ganse regeermag van die kerk op aarde, met al die moontlike gesag wat dit kan dra, gegee is aan daardie versameling van gelowiges rondom die Woord van God, omdat Christus self daar in hulle midde met Sy Woord regeer.

Die piëteit wat uit bostaande spreek, is kenmerkend van die teologie van Jonker. Die kerk, hierdie heilige vergadering van almal wat waarlik in Christus glo, beskryf hy in sy bekroonde werk En as jou broeder sondig … as die “bloed-warme” gemeenskap van die heiliges.

Hierdie uitgangspunt van Jonker is nuut, vars, ontdaan van filosofies afgeronde skemas en sisteme, maar is Bybels, eg gereformeerd. En, teologies-wetenskaplik deeglik deurdink en begrond. Dit is my pleit dat ons almal wat vandag in die Gereformeerde kerklike stroming staan, hetsy as die plaaslike leraar, hetsy op meerdere vergaderings, maar veral in die opleiding van bedienaars van die Woord, Jonker se ekklesiologie sal (her)ontdek. Mag ons in die Gereformeerde kerklike strominge vandag die “bloed-warme” gemeenskap van die heiliges wees.

 

Lees Gert Duursema se LitNet Akademies-artikel hier: Willie Jonker en die Rustenburg-skuldbelydenis – ’n skuif na links?

 

  • 3

Kommentaar

  • Henri Craemer

    Soos ek in my Facebook comments gesê het:

    Ek het in 1973 die NGK verwerp nadat 'n predikant blatante rassisme en geslagsvooroordeel probeer regverdig het met sekere Bybelverse. Daar was voor dit verskeie preke van 'n soortgelyke aard, maar hierdie een was die laaste strooi. Ek het vir 33 jaar nie weer my voete in die kerk gesit nie, behalwe vir troues en begrafnisse. Dit het nie my Christelike geloof geaffekteer nie, maar wel die manier hoe ek dit beoefen het.

    Ek het die NGK as 'n spul hygelaars beskou, wat selfs 'n meerderwaardige houding teenoor ander Afrikaanse kerke gehuldig het. Dit was vir my onchristelik en ver van die leerstellings van Jesus.

    Die Rusteburg-skuldbelydenis het gehelp om die skeur te heel, al het dit my jare geneem voor ek weer gereeld kerk gegaan het. Ek is ook nie terug na die NG Kerk nie.

    Dit moes baie moed eis van Willie Jonker om dit te doen, veral omdat die wurggreep van kultuur en politiek so ongelooflik sterk kan wees.

    Ek het voor my verwerping wel preke van Ds Jonker gehoor wat my geloof in Christus baie versterk het. Hy was, en bly 'n man van God in my oë.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top