Willie Jonker en die Rustenburg-skuldbelydenis – ’n skuif na links?

  • 1

Willie Jonker en die Rustenburg-skuldbelydenis – ’n skuif na links?

Gert Duursema, Universiteit van Pretoria

LitNet Akademies Jaargang 18(1)
ISSN 1995-5928

 

Opsomming

Dertig jaar gelede het die bekende teoloog, prof. W.D. Jonker, by Rustenburg namens homself, die NG Kerk en die Afrikanervolk skuld vir apartheid bely. Dit was opspraakwekkend. Sy optrede is aangeprys, maar – veral uit die geledere van die NG Kerk – sterk afgekeur. Uit hierdie kring is dit hom voor die deur gelê dat sy skuldbelydenis gemotiveer is deur ’n teologiese skuif na links omdat hy die teologie van die rewolusie en bevryding sou omhels. Hierdie artikel stel die vraag of dit waar is. Of is dit vrug van die teologie waarmee hy die NG Kerk as dosent en predikant gedien het? Kan dááruit onteenseglik aangetoon word dat sy ekklesiologie hom só diepgaande beïnvloed het dat hy tot die skuldbelydenis móés kom?

Met die oog op hierdie vrae word die teologie van Jonker in hierdie artikel as ’n ontwikkeling beskryf. Sy ouerhuis en aanvanklike teologiese opleiding aan die Universiteit van Pretoria het hom nog nie doelbewus ’n eie oorspronklike teologiese denkraamwerk laat kies nie. Persone het wel ’n rol gespeel in ’n proses van bewusmaking, soos sy studenteleraars, Ben Marais en Beyers Naudé, sy promotor, G.C. Berkouwer, en Karl Barth. Die artikel dui egter aan dat sy denke met die skryf van sy proefskrif geskuif het. Maar dié skuif was in die rigting van ’n eg Gereformeerde ekklesiologie.

Jonker het in sy proefskrif tot duidelikheid oor ’n verantwoorde, Bybels-teologiese ekklesiologie gekom. Die trajek wat sy teologie sedertdien gevolg het, word kronologies gevolg. Daaruit blyk dat Jonker se doktorale studies hom toegerus het om die Skrif deurlopend aan die NG Kerk oor haar standpunt van afsonderlike kerke vir die afsonderlike bevolkingsgroepe te bedien.

Die situasie in die NG Kerk het hom persoonlik intens geraak en het tot gevolg gehad dat hy op 7 November 1990 namens homself, die NG Kerk en die Afrikanervolk skuld vir apartheid bely het.

Trefwoorde: apartheid; Barth; natuurlike teologie; Rustenburg; skuldbelydenis; Vrije Universiteit

 

Abstract

Willie Jonker and the Rustenburg confession – a shift to the left?

Thirty years ago, on 7 November 1991 at a conference of South African churches held at Hunters Rest in Rustenburg, the well-known Stellenbosch theologian, prof. W.D. Jonker, made a statement that reverberated around the world:

I confess before you and before the Lord, not only my own sin and guilt, and my personal responsibility for the political, social, economic and structural wrongs that have been done to many of you, and the results of which you and our whole country are still suffering from, but vicariously I dare also to do that in the name of the DRC of which I am a member, and for the Afrikaner people as a whole. I have the liberty to do just that, because the DRC at its latest synod has declared apartheid a sin and confessed its own guilt of negligence in not warning against it and distancing itself from it long ago.

It is worth noting that he unambiguously confessed that apartheid was a sin – and that he did so not only on his own behalf, but also on behalf of the Dutch Reformed Church (DRC) as well as the Afrikaner nation.

At the time it was, to say the least, a controversial statement to make. His actions were commended in some circles in South Africa, especially by the English press, but also by the overseas press. They hailed it as a watershed moment in the history of South Africa as a whole, but especially of the so-called “leper church” – the Dutch Reformed Church. Henceforth the DRC would no longer be an outcast in the ecumenical world, but would gradually be welcomed back into the fold.

Although a substantial number of clergy and members of the DRC supported Jonker, a significant number of the rank and file and, notably, some of the leading clergy of the DRC, condemned the confession. They accused Jonker of having changed his theological stance, of being a liberalist and of being motivated by a theological shift to the left. They were convinced that he had embraced the theology of the revolution and/or the liberation theology.

This article investigates whether these accusations can be substantiated. Did Jonker indeed shift from the reformed theological point of view which he had initially endorsed to a theology not only foreign to his very own schooling, but also to the doctrine of the DRC? Or was his confession the ripened fruit of the theology with which he had served the DRC as lecturer and minister of religion? Like any true academic, Jonker had indeed developed, but the question is: Did he digress from the beaten track? Or can a trajectory in his works be identified that clearly indicates that Jonker’s ecclesiology had influenced him so deeply that he confessed, driven by his own conviction, without changing the fundamentals of his theology at all?

Considering these questions, this article traces the development and trajectory of Jonker’s theology. He grew up as a so-called “poor white” (Afrikaans: armblanke) in a typically “nationalistic” (that is, supporters of the National Party and apartheid) and deeply religious household. Jonker attended the University of Pretoria – significantly called the “Voortrekker-universiteit” in those days – for his BA, MA and BD degrees, all of which he obtained with distinction. His studies brought him in close contact with two minsters known for their anti-apartheid stance, the reverends Ben Marais and Beyers Naudé. Although they influenced him, he did not consciously change his views to the point that he would, in later years, make the confession at Rustenburg.

There can be no doubt that his promotor at the Vrije Universiteit in Amsterdam, prof. G.C. Berkouwer, influenced him in a significant way, but the final shift cannot be ascribed to Berkouwer’s influence. Jonker also attended a semester of lectures by Karl Barth in Basel. Barth opened Jonker’s eyes to the dangers of Christian philosophy. Barth’s standpoint was that Christian philosophy inevitably lead to bad theology, to natural theology, a theology that is not solely based on Scripture. It was the influence of Barth that led Jonker to oppose all types of theology that did not exclusively emanate from Scripture throughout his ministry until the end of his life.

This article shows that the final shift happened with the writing of his thesis, Mistieke liggaam en kerk in die Rooms-Katolieke teologie, on the true nature and being of the Church. The Church is the true “mystical” body of Christ Himself. Jonker concluded that all who receive the grace of God in and through Jesus Christ are incorporated into His body – irrespective of prerequisites for membership laid down by human beings (e.g. race in the South African context). The crux of the matter is that Jonker’s shift therefore was not to a position on the “left”, but to a truly reformed and biblical ecclesiology.

Through writing his thesis, Jonker gained clear insight into a well-grounded biblical-theological ecclesiology. In this article the trajectory of Jonker’s theology since the writing of his thesis is traced chronologically. It will indicate that Jonker’s doctoral studies equipped him to convey unequivocally to the DRC the message of the Gospel concerning her policy of separate churches for separate ethnic groups.

For Jonker, it was not solely an abstract theological or intellectual matter. The existence of separate churches in the family of Dutch Reformed churches – “churches” with the same confessions and polity – touched him on a personal level. Moreover, their economic, social, structural, political and especially emotional suffering made such a deep impression on him that he simply could not turn a blind eye or keep quiet about it.

His theology was not practised in an ivory tower but had a deep impact on himself and his career. He simply had to confess that separate churches for separate ethnic groups – ecclesiastical apartheid – is a sin.

Keywords: apartheid; Barth; confession; natural theology; Rustenburg; Vrije Universiteit

 

1. Inleiding

Op 7 November 2020 was dit dertig jaar sedert Willie Jonker by Rustenburg ’n opspraakwekkende skuldbelydenis nie net namens homself nie, maar ook namens die NG Kerk en die Afrikanervolk, gedoen het.

Die Rustenburgberaad is gehou nadat president F.W. de Klerk in sy Kersboodskap (1989) die kerke in Suid-Afrika versoek het om ’n strategie te ontwikkel wat bevorderlik sou wees vir onderhandeling, verandering en versoening in die land (Jonker 1998:201). ’n Loodskomitee onder leiding van dr. Louw Alberts en eerwaarde Frank Chikane is aangewys om ’n konferensie te reël. Dit het van 5 tot 9 November 1990 by die Hunters Rest Hotel buite Rustenburg plaasgevind. Jonker was nie deel van die amptelike afgevaardigdes van die NG Kerk nie, maar is genooi om as een van die sprekers op te tree.1 Hy sou op Dinsdag 7 November om 9 vm. aan die beurt kom.

Na ’n nag van intense worsteling, skryf Jonker in sy semi-outobiografie, Selfs die kerk kan verander, het hy tot die oortuiging gekom dat hy ’n skuldbelydenis móés doen. Op ’n velletjie papier het hy dit uitgeskryf (Jonker 1998:202–3). Toe hy aan die woord kom, het hy gesê:

Ek bely voor u en voor God nie net my eie sonde en skuld nie, en my persoonlike verantwoordelikheid vir die politieke, sosiale, ekonomiese en strukturele onregte waaronder u en ons hele land nog ly nie, maar plaasvervangend waag ek dit om dit ook namens die NGK te doen, waarvan ek ’n lidmaat is, en vir die Afrikaner in sy geheel. Ek het die vryheid om dit te doen, want die NG Kerk het apartheid op sy laaste Algemene Sinode tot sonde verklaar en sy eie skuld van nalatigheid beken deurdat hy nie lank gelede daarteen gewaarsku en homself daarvan gedistansieer het nie.2

Dit het in Suid-Afrika én oor die hele wêreld opslae gemaak. Reaksie op die belydenis het van oraloor, ook uit die buiteland, ingestroom. Jonker het talle telefoonoproepe en briewe ontvang. Ook in die openbare pers het ’n menigte briewe en artikels die impak van Jonker se belydenis bevestig. In die Jonker-versameling in die argiefbewaarplek van die NG Kerk in Suid-Afrika te Stellenbosch is ’n lêer met koerantknipsels en briewe wat die verhaal van die reaksie op die belydenis boekstaaf (Jonker-versameling. Argiefbewaarplek: NGK in SA Argief, PPV 1589).3

Die opskrifte in die koerantknipsels (nasionaal en internasionaal) wys hoedat dit as nuus van ingrypende aard opgeraap en versprei is. Enkele voorbeelde bevestig dit. Beeld berig: “Apartheidskuld bely”4 en “’n Stil, sku man skud die NG Kerk”.5 Die Weekly Mail se opskrif lui: “‘I confess’ – and NGK breaks ice”.6 In Nederland berig die NRC Handelsblad: “Afrikaner kerk medeschuldig aan zonde apartheid”7 en die New York Times dek die gebeure selfs twee keer: “Afrikaner cleric asks blacks to forgive”8 en “Apartheid a sin, clergy conference says”.9 Die skerpste opskrif is dié van The Independent in Londen: “South Africa's ‘leper church’ disowns apartheid”.10

Meer as 80% van die briewe wat Jonker na die Rustenburgberaad ontvang het, betuig dank en waardering en spreek bewondering uit vir sy waagmoed. Meestal vereenselwig skrywers hulle met Jonker. Opvallend onder hierdie brieweversameling is die amptelike skrywe van die biskop van St. John’s wat Jonker meedeel dat die sinode van die Anglikaanse Kerk in die Transkei, tydens sy vergadering van 22–25 November 1990, “[…] expressed its appreciation and encouragement in her voicing out publicly the sinfulness of apartheid and confessing her guilt […]”.11

Die res van die briewe haal hom oor die kole. Die meeste van hierdie briewe kom uit die geledere van die NG Kerk.

Twee duidelike lyne kan onderskei word. Aan die een kant word gesê dat die Afrikaner geensins nodig het om verskoning te vra vir wat in die verlede gedoen is nie, maar inteendeel trots kan wees op alles wat vir die sogenaamde anderskleuriges tot stand gebring en gedoen is.12 Aan die ander kant spreek verskeie hul verbasing en “ontnugtering” uit oor die “nuwe leerstellings” van die NG Kerk, want apartheid “is aan my voorgehou as die suiwer leer tot saligheid,” skryf C. Holm van Hennopsmeer in Pretoria.13 Van hulle gaan verder en verdink hom daarvan dat hy teologies van ’n behoudende Gereformeerde posisie na ’n “linkse” en “liberale” oortuiging, waarin die uitgangspunte van die bevrydingsteologie of teologie van die revolusie hom sou oorrompel, geskuif het. Hierdie skuif sou, volgens hulle, hom geïnspireer het om die skuldbelydenis op te stel. Sommige herinner hom daaraan dat hy alreeds in die jare sestig ter wille van hierdie rigting sy en sy kerk se wortels prysgegee het.14 Hoe breed hierdie beskuldiging in die NG Kerk geloop het, word bevestig deur ’n paar artikels uit Die Kerkbode en Afrikaanse dagblaaie.

Een van Die Kerkbode se artikels berig dat die moderature van die vier Transvaalse sinodes15 op Vrydag 16 November 1990 byeengekom het omdat “[…] daar groot onrus in dele van die NG Kerk [heers] as gevolg van sommige van die besluite van die Algemene Sinode en ook die gebeure tydens die Rustenburg-kerkeberaad […]” Hulle het ’n verklaring uitgereik waarin daarop gewys word dat Jonker nie ’n amptelike afgevaardigde van die NG Kerk was nie en geen amptelike opdrag tot ’n skuldbelydenis gehad het nie. Veral in die sinodale gebied van Wes-Transvaal het “[…] tientalle gemeentes hulle ontsteltenis te kenne gegee” en het die dagbestuur gesê “[…] dat hy van oordeel is dat hierdie belydenis nie in ooreenstemming met die besluite van die afgelope Algemene Sinode is nie” (Die Kerkbode 1990:1–2).

Daar word voorts in die berig geskryf dat ’n voormalige moderator van die Algemene Sinode van die NG Kerk, ds. Kobus Potgieter, van voorneme is om “konserwatiewe lidmate” vir ’n konferensie op 1 Desember 1990 byeen te bring.16 Die hoofspreker by dié geleentheid sou die leier van die Konserwatiewe Party, dr. Andries Treurnicht, wees (Die Kerkbode 1990:2). Treurnicht het reeds Jonker se belydenis enkele dae na afloop van die kerkeberaad, op ’n politieke vergadering te Ficksburg in die Vrystaat, skerp veroordeel.17 Vroeër het Die Burger berig dat beide Treurnicht en mnr. Jaap Marais, leier van die Herstigte Nasionale Party, hulle skok en teleurstelling oor Jonker se belydenis uitgespreek het. Treurnicht het na berig word gesê: “Dit het tyd geword dat die kerke aandag gee aan die dwaling van die anti-apartheidsbeweging en sy verband met die teologie van bevryding en vandaar sy skakeling met kommunistiese en revolusionêre organisasies en doelstellings.” En Marais het gesê dat Jonker met dié stap die NG Kerk “[…] vernederend [skaar] by dié kerklike instansies wat nog pal die Afrikanervolk beveg het […]”.18

Hét Jonker gedurende sy bediening as predikant en dosent vir en in die NG Kerk ’n teologiese “skuif na links” gemaak? Kan dit uit die neerslag van sy teologie sedert hy as predikant in 1955 georden is, aangedui word? Het daar gevolglik in sy lewe en werk ’n kentering gekom wat die implikasie meegebring het dat dit hom op ’n ander teologiese uitgangspunt gestel het? Of staan hierdie skuldbelydenis in die verlengde van wat hy sy lewe lank geglo en bely het? Die onderhawige artikel maak met hierdie en soortgelyke vrae erns. Die antwoord word gesoek in die nagaan van die ontwikkeling van Jonker se teologie. Indien sy denke in ’n histories-teologiese trajek ondersoek en gestel word, behoort die veronderstelde “skuif” duidelik na vore te kom.

 

2. Invloede en vorming

2.1 Ouerhuis en opvoeding

Willem Daniel Jonker is op 1 Maart 1929 in ’n eenvoudige bywonershuisie van ’n gesin armblankes op die plaas Kinkelspruit naby Biesiesvlei in die distrik Lichtenburg gebore. In ’n klaskamer van die dorpie se sink skoolgebou is hy gedoop. Hy het opgegroei in ’n ouerhuis van diep gelowige mense wat op ’n eenvoudige wyse hulle geloof uitgeleef en hulle kinders in hul geloof begelei het. Soggens en saans is huisgodsdiens gehou en, wanneer hulle vanweë die afstand van die kerkgebou af nie die erediens kon bywoon nie, het sy vader ’n preek of iets dergeliks voorgelees (Duursema 2017a:30).

Veral sy moeder se piëteit het hom altyd bygebly en hy het sy herinneringe dikwels in die klas met sy studente, waarvan ek een was, gedeel. Sy was ’n vroom vrou wat haar gereeld onttrek het om in haar slaapkamer te gaan bid. Dit het sy aan haar kinders oorgelewer en Jonker vertel dat die eerste gebed wat sy hom geleer het eintlik nie ’n gebed is waarin iets gevra word nie,

[…] maar die stelling van 1 Joh. 1:7 uit die Nederlandse Bybel: ‘Het bloed van Jezus Christus, zijn Zoon, reinigt ons van alle zonden.’ Voor ek nog in die skool was, het sy my dikwels as ek soggens die kombuis inkom, gevra: ‘Het jy al het bloed gesê?’ As ek ontkennend geantwoord het, moes ek teruggaan en by my bed gaan kniel om dit sê. (Jonker 1954:9, 10)

Hulle was as gesin aktief by die kerklike lewe betrokke en Jonker is begelei om deel te neem aan die soort vroomheid wat kenmerkend eie was aan die Afrikanervolk in dié jare en ook in die NG Kerk aan die orde was: Hy het kerk toe gegaan, Sondagskool bygewoon, deelgeneem aan die Kindersendingkrans-byeenkomste, ens.

Die eerste dekade van sy lewe was vanuit ’n politieke en sosiaal-ekonomiese gesigshoek vir Suid-Afrika en in die besonder vir die “Boerevolk” byna revolusionêr van aard. Die Anglo-Boereoorlog het talle verarm gelaat – ’n toestand wat aansienlik versleg het met die wêreldwye depressie van die dertigerjare en die groot droogte van 1933 (Jonker 1998:3). Jonker se ouers was een van die aansienlike getal boere wat hulle grond19 moes agterlaat om elders ’n heenkome te soek. Hulle was ongeskoolde arbeiders en Jonker se vader het as geleentheidswerker af en toe stukwerk gedoen – hy het (onder andere) by ’n huisbouprojek werk gekry (Duursema 2017a:11–5).

Die sogenaamde armblankevraagstuk het ’n deurslaggewende rol in die NG Kerk en in die Afrikanerpolitiek gespeel. Dit het impetus verleen aan die ontwikkeling van apartheid. Die NG Kerk het daarby betrokke geraak omdat sy nie net kon toesien dat haar lidmate swaarkry, daardeur diep geraak en innerlik daaroor bewoë kon wees nie. Netso kon geen politikus of geesteswetenskaplike dié probleem ignoreer nie. Jonker sou later skryf dat iemand soos dr. J.R. Albertyn, organiseerder van die geskiedkundige Volkskongres oor die armblankevraagstuk wat in 1934 in Kimberley gehou is (Fullard 1972:32), vas oortuig was dat die armblankevraagstuk net na behore aangespreek kon word “[…] as die Afrikaner sy selfrespek en gevoel van trots op eie identiteit sou herwin. Daarom moes daar by hulle ’n besef van eie-waarde en ‘rassetrots’ gewek word” (Jonker 1998:3). Albertyn was ook een van die dryfkragte agter die opstel van die bekende Carnegie-verslag – met dr. HF Verwoerd as medeskrywer van die verslag én een van ’n twintigtal sprekers by dié volkskongres.

Jonker word ook polities bewus groot. Sy laerskoolonderwyser mnr. Hennie van Wyk en sy gesin was sogenaamde Sappe, ondersteuners van die Suid-Afrikaanse Party (SAP), maar die Jonkers was Natte, ondersteuners van die Nasionale Party (Duursema 2017a:38). Jonker skryf dat sy vader die “Sappe as liberaal en heeltemal te goedgesind teenoor die Engelse en die swartes” beskou het (Jonker 1998:11).

Afrikanervolksleiers was lede van die Gereformeerde susterkerke en was gewoonlik diep gelowig. Hulle leiding is eenvoudig gevolg “[…] sonder om enige kritiese vraag te stel oor hoe ons die geloof van ons stiltetye en ons piëtistiese vroomheid daarmee paar” (Jonker 1998:14).

Dit was (kortliks) die milieu waarbinne Jonker grootgeword het en gevorm is. In sy ouerhuis sou hy, soos menige ander Afrikanerseun, “nasionalisties” en as ondersteuner van apartheid (hoewel dit toe nog nie so genoem was nie), opgroei. Wel het mnr. Hennie van Wyk, dié se moeder, “Ou Mevrou” van Wyk, en die Kindersendingkrans (waar ’n Christus-gesentreerde evangeliesgesinde teologie beoefen was) ’n groot rol in die teologiese denke en latere lewe van prof. Jonker gespeel. By hulle het hy geleer om ’n diepe deernis en medelye met alle mense, ongeag van kleur, se geestelike én liggaamlike nood te hê (Duursema 2017a:36–7, 105, 147).20

2.2 Student aan die “Voortrekker-universiteit”

Jonker begin in 1946 met sy studie aan die Universiteit van Pretoria, of “Voortrekker-universiteit”, soos destyds dikwels na hierdie instelling verwys is. Hierdie universiteit het homself kultureel sedert die jare dertig doelbewus met die Afrikanersaak (én apartheid) vereenselwig. In Jonker se eerste gepubliseerde skryfwerk in studenteblaaie is daar dan ook duidelik aansluiting by die eietydse Afrikanersentiment (Duursema 2017a:174).

In die teologiese fakulteit het sy dosente – eie aan die tyd – leiding gegee ten opsigte van die teologiese regverdiging van apartheid. Veral proff. A.B. du Preez21 en E.P. Groenewald22 was met hul publikasies uitgesproke voorstanders van die teologiese regverdiging van die apartheidsbeleid (Duursema 2017a:101).

Tog gee Jonker blyke dat daar, selfs in hierdie periode van storm en drang, ’n bewuswording begin posvat het dat dit nie so eenvoudig was om die destydse politiek Skriftuurlik te begrond nie. Hy skryf dat “[…] ds. (later prof.) Ben Marais, ook reeds met ’n appèl op ons gewete na vore gekom [het] […] Dit het ons gedwing om fyner te begin luister en kritieser te begin vra hoe die Bybel by sulke sake gehanteer moet word” (Jonker 1998:15).

In 1949 is ds. Beyers Naudé as die nuwe studenteleraar in die plek van dr. Ben Marais bevestig. In daardie jaar begin daar ’n besonderse en intieme verhouding tussen dié studenteleraar en Willie Jonker ontwikkel. Naudé sou Jonker in die huwelik bevestig en na sy terugkeer uit Nederland na die voltooiing van sy doktorale studie het hy en sy gesin ’n tyd lank by Naudé in Potchefstroom tuisgegaan. Ten spyte van hierdie besonderse en nabye verhouding tussen die twee, gee Jonker nêrens enige blyke dat Naudé hom teologies beïnvloed het soos dit die geval met dr. Ben Marais was nie (Duursema 2017a:102–6).

Die gevolgtrekking waartoe die navorsing kom, is dat daar by Jonker, terwyl hy as student blootgestel is aan die suigkrag van Afrikanernasionalisme en die teologiese regverdiging van apartheid, in sy omgaan met Gereformeerde teologie ’n ánder insig begin posvat en groei wat die teologiese regverdiging van apartheid nie sonder meer met huidjie en muidjie kon sluk nie.

2.3 Doktorale studie aan die Vrije Universiteit

2.3.1 Die invloed van Berkouwer

Die Vrije Universiteit was in die vroeë twintigste eeu as dié inrigting beskou waar studente van Gereformeerde oortuiging hulle nagraadse studies kon voortsit. ’n Doktoraat aan die Vrije Universiteit was ’n gesogte kwalifikasie en baie Suid-Afrikaners, waaronder Jonker, het hulle in Amsterdam bevind vir verdere studie (Schutte 2005a:380; Heyns 1954:18). Gerrit Schutte se beskrywing van die aantrekkingskrag van die Vrije Universiteit vir Suid-Afrikaanse studente is in die kol:

Het Kuyperiaanse neocalvinisme was orthodox zonder verstard te zijn, integendeel, het toonde een sterke sociale dynamiek te bezitten. Het was de drijfkracht achter de snelle en succesrijke emancipatie van het gereformeerde volksdeel in Nederland. Een toenemend aantal jonge Afrikaners gevoelde zich aangetrokken door Kuypers radicaliteit. Zij zagen hoe een gedepriveerde, geminachte orthodoxe minoriteit onder diens leiding een zelfbewust volksdeel werd en haar eigen plaats in samenleving en politiek ging innemen. En hoe een kerk zijn confessie ernstig nam en deze in rapport met de tijd bracht en het kerkvolk stimuleerde tot actie. Zij zagen in de gereformeerde theologie van Kuyper en Bavinck dus een modern antwoord, ook op de uitdagingen van de eigen tijd in Zuid-Afrika en van het Afrikaner volk op zoek naar culturele identiteit en emancipatie. (Schutte 2005a:147)

Aan die Vrije Universiteit was aanvanklik, soos in die res van Nederland, weinig aandag aan die politieke ontwikkelinge en spanninge in Suid-Afrika gegee. Dit was selfs so dat “[…] de roep van sommigen tot het terugdringen van de invloed van zwarten, kleurlingen en het joods mijnkapitaal als de mening van een extreme minderheid onbelangrijk (werd) geacht” (Schutte 2005a:13, vgl. 284). Na die Tweede Wêreldoorlog het sake egter begin verander. Die pro-Duitse sentiment by sommige in Suid-Afrika gedurende die wêreldoorlog het verhoudinge toenemend laat verkil.

In Oktober 1952, toe Jonker sy nagraadse studie begin, was dit nog nie die geval nie. A.Th. van Deursen skryf in sy omvangryke werk oor die Vrije Universiteit dat verhoudinge tussen dié instelling en Suid-Afrika na die Tweede Wêreldoorlog en gedurende die daaropvolgende koue oorlog stelselmatig aan’t afkoel was, maar “[v]oor het grootste deel echter bleef het buitenlandse beleid zich bewegen over het oude spoor […]” (Van Deursen 2005:205).

Die eerste rimpelings het egter op die oppervlak begin verskyn. Hier kan gewys word op die debat wat op 12 November en 7 Desember 1951 in die senaat van die Vrije Universiteit gevoer is. Dit het gehandel oor die toekenning van doktorsgrade honoris causa aan twee Suid-Afrikaners, prof. J.C. van Rooy, rektor van die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (tans Noordwes-Universiteit) en ds. A.J. van der Merwe, toenmalige moderator van die NG Kerk in Suid-Afrika en voorsitter van die nasionale 1952- Van Riebeeck-fees-komitee (Van Deursen 2005:205). Die bedoeling was dat die toekenning moet saamval met die driehonderdjarige herdenking van die “volksplanting” deur Jan van Riebeeck aan die Kaap. Die senaat het geen probleem met Van der Merwe gehad nie, maar Van Rooy was ietwat van ’n turksvy: “[K]an een voorzitter van de Broederbond en een steunpilaar van de apartheid wel een nationaal figuur zijn?” is gevra (Schutte 2005a:351–2).23

By bogenoemde vergaderings het prof. J. Waterink, toenmalige rektor van die Vrije Universiteit, die rassekwessie afgemaak as Engelse propaganda. Prof. G.C. Berkouwer, Willie Jonker se studieleier en promotor, verskil hiervan en sê dat hy by baie in Suid-Afrika “[…] een onchristelijke houding tegenover deze zaak […]” aantref. ’n Kollega aan die mediese fakulteit, A.Th. Knoppers, deel Berkouwer se sentiment. Hy is van oordeel dat die geld wat deur die Suid-Afrikaanse regering aan die swart bevolking bestee word, geen bewys lewer van die juistheid van die politieke beleid van apartheid nie en vind dié beleid “[…] niet alleen praktisch, maar vooral principieel onjuist” (Schutte 2005a:355; vgl. Van Deursen 2005:205). Dit was egter eers na die Sharpeville-gebeure van 21 Maart 1960 dat Nederland en die Vrije Universiteit finaal teen die politieke bestel in Suid-Afrika gekeer het (Duursema 2017b:116 e.v., 168).

Hoewel sy invloed nie onderskat kan word nie, is dit in die lig van bostaande dus onwaarskynlik dat Berkouwer die finale en deurslaggewende rol gespeel het in die koersverandering wat Jonker later sou noop om by Rustenburg skuld vir apartheid te bely. Dit word bevestig deur die feit dat tydgenote en medepromovendi by Berkouwer nie die koersverandering meegemaak het nie. Hier kan na bv. prof. J.C. Lombaard24 en selfs na prof. Johan Heyns25 verwys word.

Jonker toon in ’n lesing gelewer by geleentheid van die afskeid van prof. Heyns op 28 Oktober 1993 aan dat Heyns se denke vanuit die skepping hom “[…] verhinder het om van die begin af krities genoeg teenoor die volksteologie te wees wat so lank in die Afrikaanse kerke amok gemaak het” (Jonker 1994:20). Hy vervolg: “Waar hy vroeër apartheid as ’n bepaalde gehoorsaamheidsmodel beskou het, het dit vir hom later duidelik geword dat dit nie gehandhaaf kan word nie” (Jonker 1994:23; vgl. Heyns 1977:209–19). ’n Studie oor Heyns bevind:

Uiteindelik het Heyns nie heeltemal daarin geslaag om apartheid ongekwalifiseerd te verwerp nie en moet sy worsteling met die definiëring van apartheid en die vashou aan die aanvanklike goeie bedoelings daarmee toegeskryf word aan sy ingesteldheid van kritiese identifikasie met die Afrikanervolk. (Williams 2006:398)

Jonker skryf egter dat dit inderdaad tydens sy studie in Nederland was (nié dat dit tydens sy studie by Berkouwer was nie) dat hy oortuig geraak het van die morele probleme rondom apartheid: “Iets van ’n gevoel van onbehae, en later van skaamte en skuld het in my hart begin groei. Die morele vraag wou my nie weer loslaat nie” (Jonker 1998:16).

2.3.2 Karl Barth

Jonker het ook aan die einde van 1953 gedurende die wintersemester (Oktober tot Desember) Basel besoek. Barth het in die tydperk seminare vir buitelandse studente aangebied, en Jonker het dit bygewoon en Barth persoonlik ontmoet. Hy vertel dat Barth by geleentheid in Basel vir hom gesê het “Christian philosophy is bad theology” en dat dit hom “[…] versigtig gemaak [het] vir alles wat vir my na ‘natuurlike teologie’ geruik het” (Jonker 1998:20).26

Dié opmerking is van deurslaggewende belang om die teologiese onderbou van Jonker se skuldbelydenis in te skat. “Alles wat na ‘natuurlike teologie’ ruik” sluit alle tipes teologieë in wat begrond word vanuit die algemene openbaring en die algemene genade, die sogenaamde skeppingsordeninge of voorsienigheidsordeninge – terme wat gereeld gebruik is in die pogings om apartheid Bybels te regverdig en by sommige Suid-Afrikaners nasionalistiese sentimente aangewakker het (Duursema 2017b:155).27 Jonker verstaan dat “natuurlike teologie”

’n soort teologie bedoel wat nie op die openbaring van God in die Skrif gebaseer is nie, maar op die mens se eie nadenke oor wat van God en sy wil uit die algemene openbaring in die natuur en geskiedenis afgelei kan word. Dit kan veral in etiese kwessies ’n ontoelaatbare rol speel, omdat dan nie net na die geopenbaarde wet van God geluister word nie, maar afleidings uit die natuur en geskiedenis tot normatiewe beginsels vir ons sedelike gedrag verhef word. (Jonker 1998:20)

In Jonker se artikel “Die pluriformiteitsleer van Abraham Kuyper” bring hy die apartheidskloutjie by die natuurlike-teologie-oor:

Wanneer ’n mens jou nie langer op die Skrif alleen beroep en deur die Skrif laat lei nie, maar deur die geskiedenis, skeppingsbeginsels – of wat dan ook – kan ’n mens jou teologie nie “gereformeerd” noem nie, maar is dit ’n stuk natuurlike teologie […] Dit sou maklik wees om die invloed daarvan op die dokument Ras, volk en nasie in die lig van die Skrif (1974) aan te dui, asook die spore daarvan in die latere Kerk en samelewing (1986). (Jonker 1989:22)

Dit blyk dus duidelik dat die invloed van Barth nie geringgeskat kan word nie. Inteendeel –Jonker het vir die res van sy lewe hierdie standpunt teenoor natuurlike teologie gehandhaaf. Dit spreek duidelik uit die feit dat hy dié standpunt steeds handhaaf in die afskeidsrede vir prof. Heyns op 28 Oktober 1993 waarna hier bo verwys is, ’n lesing gelewer ná Jonker se aftrede in 1992 en wat op 19 Julie 1994 gepubliseer is (Jonker 1994).

Bostaande maak duidelik waartéén Jonker hom gerig het, maar bring nog nie die diepste grondslag van sy teologie – en van die Rustenburg-skuldbelydenis – duidelik na die oppervlak nie. Daarvoor moet in sy proefskrif, Mistieke liggaam en kerk in die nuwe Rooms-Katolieke teologie, wat in 1954 by J.H. Kok in Kampen uitgegee is, gedelf word.

2.3.3. Proefskrif

Die vormende invloed wat Jonker se nagraadse studie gehad het en waarvan die proefskrif die resultaat is, kan nie oorbeklemtoon word nie. Willie Jonker het die fundamentele vraagstuk van die ekklesiologie in sy proefskrif raak saamgevat: “Op al die beslissende punte in die geskiedenis waarby die vraag wat die Kerk wesenlik is, in die brandpunt gestaan het, het dit om ’n worsteling met dié probleem gegaan. Dit is die probleem van die verhouding van Kerk en genade” (Jonker 1954:10). En: “Die vraag na wat die aard van die liggaam van Christus is, is opnuut die vraag na die verhouding van die Kerk tot die genade” (Jonker 1954:15).

Bogenoemde sal soos ’n goue draad deur Jonker se ganse loopbaan loop. Hy het deur hierdie doktorale studie tot die insig gekom dat die Kerk van Christus, sonder uitsondering, slegs gekonstitueer kan en mag word deur die genade wat ons deel in Jesus Christus.

Sy proefskrif handel oor die geding wat in die Rooms-Katolieke Kerk tussen ’n jonger geslag teoloë en die tradisionele ekklesiologie gedurende die sogenaamde interbellum – die periode tussen die twee wêreldoorloë – ontstaan het. Die jonger teoloë het probeer om uitdrukking te gee aan die inhoud van die begrip mistieke liggaam. In dié term het hulle die wese van die Kerk volkome uitgedruk gesien, wat hulle naamlik as “’n genade-grootheid” verstaan het (Jonker 1954:15).

Volgens die tradisionele Rooms-Katolieke visie is die Kerk ’n “heilbrengende instituut”. Daarmee bedoel hulle onomwonde: Buite die Rooms-Katolieke Kerk is geen saligheid nie (extra ecclesiam nulla salus). Met ander woorde: Die Kerk is nie “[…] die somtotaal van verlostes nie, maar die somtotaal van diegene wat aan die Rooms-Katolieke Kerk behoort […]” (Jonker 1954:13). Die tradisionele Rooms-Katolieke siening berus op bogenoemde stelreël en die amptenary is die gevolmagtigde uitdelers van die heil in en deur die bediening van die sakramente. Hulle is immers die opvolgers van Petrus, sodat gesê word waar Petrus is, is die Kerk (ubi Petrus, ibi ecclesia).

Teenoor hierdie standpunt van die Kerk van Rome, gaan Jonker van die oortuiging uit: Waar genade is, is die Kerk (ubi gratia, ibi ecclesia). Om aan die liggaam van Christus verbonde te wees, is onafskeidbaar verbonde met die deelname aan die genade van Christus. Die mistieke liggaam van Christus is die somtotaal van almal wat deur Sy genade met Christus verenig is (Jonker 1954:74–5). Wanneer die wese van die Kerk só verstaan word, as deelname aan die genade, is die Kerk die “[…] congregatio fidelium, die coetus bonorum of communio sanctorum” (Jonker 1954:79).

Jonker stem met die jonger geslag Rooms-Katolieke teoloë (bv. É. Mersch, J.A. Möhler, J. Tyciak, ens.) saam dat álmal wat in Christus verlos is, deel is van die liggaam van Christus en dat daar slegs één vereiste vir lidmaatskap aan die mistieke liggaam van Christus is, naamlik deelname in die genade van Christus (Jonker 1954:92). Dit beteken nie dat hy hulle kerkbegrip aanvaar het nie, maar dat hy die aksent op Christus in die nuwer katolieke ekklesiologie verwelkom het.

Hiermee saam moet die klem wat Jonker op die onverdienstelike karakter van die genade lê, gelees word. Hierdie deel wees van die liggaam van Christus, die eenheid in en met Christus, is nie gevolg van een of ander innerlike deug (’n sg. virtus interna) nie (Jonker 1954:8, 12, 76), maar is ’n verhouding wat tot stand kom wanneer God die mens die geregtigheid en heiligheid van Christus toereken (Jonker 1954:23, 207). Jonker gebruik nêrens in sy proefskrif enige taal of uitdrukking wat dalk (mis)verstaan kan word as ’n eienskap of voorwaarde waaraan ’n mens moet voldoen om aan die Kerk te kan behoort nie. Hy praat deurgaans slegs van die genade as voorwaarde om tot die Kerk, tot die liggaam van Christus, te behoort. Dié voorwaarde is iets objektiefs, buite die mens, in Christus geleë. In sy “Summary” aan die einde van sy proefskrif herhaal hy nogeens: “[…] Scripture knows of no membership in the Church without participation in grace” (Jonker 1954:225).

Alhoewel mense soos sy laerskoolonderwyser, mnr. Hennie van Wyk, “Ou Mevrou” van Wyk, die twee studenteleraars, dr. Ben Marais en ds. Beyers Naudé, sy promotor, prof. G.C. Berkouwer, en veral Karl Barth hom onmiskenbaar beïnvloed het, het dié invloede nie die finale deurslag gegee nie. Sy navorsing na die aard, die wese van die Kerk het die keerpunt gebring. Tóé het hy verstaan dat álmal wat in Christus begenadig is, aan Sy liggaam behoort. Wie aan die liggaam of Kerk van Christus behoort of nie is nie die besluit van ’n méns nie.

 

3. Die kentering

Die gevolg van Jonker se navorsing was sy insig dat as die Kerk(genootskap) waartoe hy behoort het, die NG Kerk, ook die liggaam van Christus is, mag géén mens énigiemand wat deur Christus begenadig is daarvan uitsluit nie. Die vergadering van die Algemene Sinode in Oktober 1990 het erken dat die NG Kerk in dié opsig wél oortree het en daarvoor het Jonker by die kerkeberaad skuld bely. Agt jaar na dié sitting skryf hy:

Deur my kennismaking met die Katolieke teologie en die feit dat ek daardeur gedwing is om intensiewe aandag aan die leer aangaande die Kerk te gee, is ek voorberei vir die stryd om die karakter van die Kerk waaraan ek later in Suid-Afrika sou moes deelneem. Ek het meer belangstelling in die Kerk as instelling gekry. My teologiese blikpunt het verskuif vanaf die individuele geestelike lewe na die Kerk as gemeenskap van gelowiges. (Jonker 1998:23)

En ’n paar bladsye verder: “Die soort kerkbegrip waarmee ek sedert my proefskrif gewerk het, kon nie in ooreenstemming gebring word met die ideologie van apartheid nie” (Jonker 1998:46).

Dat laasgenoemde inderdaad die geval is – ook Jonker se standpunte oor kerklike apartheid – sien ’n mens (onder andere) duidelik in die stellings wat met Jonker se proefskrif meegegee is en wat die promovendus bereid was om in die openbaar te verdedig. Stelling VIII is ter sake: “Dit is onvolledig en misleidend om sonder meer te sê dat die Hervormers sowel in beginsel as in praktyk die pluriforme gedaante van die Kerk aanvaar het (Die Kerkbode 1954, 180)” (Jonker 1954).

In die September 1989-uitgawe van In die Skriflig – d.w.s. 35 jaar na publikasie van sy proefskrif en slegs ’n jaar voor die Rustenburg-skuldbelydenis – skryf Jonker ’n artikel getiteld “Die pluriformiteitsleer van Abraham Kuyper” met as subtitel “Teologiese onderbou vir die konsep van aparte kerke vir aparte volksgroepe?” Hier bo (in paragraaf 2.3.2) is reeds na dié artikel verwys. Hy formuleer die vraag wat hy beoog om met sy artikel te beantwoord so:

Abraham Kuyper het deur sy ekklesiologie in Suid-Afrika baie invloed uitgeoefen, veral op die teologie van die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Onder andere het hy deur sy visie op die kerk en deur sy pluriformiteitsleer ’n instrument aan Suid-Afrikaanse teoloë voorsien waarmee hulle sedert die veertigerjare die konsep van aparte kerke vir aparte volksgroepe teologies probeer onderhou het. (Jonker 1989:12)

Dit is duidelik dat die insigte waartoe Jonker in sy proefskrif gekom het, inderdaad die goue draad is wat deur sy ganse loopbaan loop.

 

4. Voortgesette trajek

Vervolgens word enkele belangrike momente op die trajek wat die teologie van Willie Jonker gevolg het, uitgelig. Het hy van sy ingeslane weg afgewyk? Hier sal blyk dat Jonker op geen stadium teologies geskuif het nie, maar dat sy teologiese denke konsekwent vanuit die middelaarskap van Christus bepaal is en dat die skuldbelydenis by Rustenburg ’n uitvloeisel daarvan was.

4.1 Volkskerk

Jonker was as jong Gereformeerde predikant in sy eerste gemeente met die volkskerklike aard van die NG Kerk gekonfronteer. Dit noop hom om gedurende Januarie 1956, skaars vyf maande na sy bevestiging, ’n brief in Die Kerkbode onder die opskrif “Ons Kerk ’n Volkskerk?” te publiseer (Jonker 1956a:111–2). Hy sou dié toestand aan die hand van Gereformeerde kerkordelike uitgangspunte aan die kaak stel (vgl. Duursema 2017a:22–75). Hy skryf:

Die meeste lidmate het net tot die kerk behoort omdat dit ’n tradisie was, niks meer nie. Dit was niks anders as ’n volkskerk-situasie in die slegte sin van die woord nie […] Dit sou die aard van my bediening op ’n beslissende manier bepaal … Die huisbesoek en pastoraat sou indringender moes word, die katkisasie strenger en deegliker, die gebruik van die sakramente sou teen misbruik beskerm moes word, en die kerklike tug moes weer begin funksioneer.28 (Jonker 1998:26–7)

Ek het in my navorsing oor Jonker se teologiese bydraes in hierdie vroeë periode van sy bediening bevind dat hy ’n berekende publikasiestrategie gevolg het waarin hy hom in briewe, artikels en preke29 nie alleen uitgespreek het teen hierdie volkskerklike aard van die NG Kerk nie, maar óók teen die metodisties-piëtistiese (Jonker sou later die woord evangelikalies gebruik) “oplossing” wat in daardie jare gangbaar geword het, te wete allerlei evangelisasieaksies (Duursema 2017b:39, 40). Daarteenoor bepleit hy die weg van die Skrif: die kerklike tug. Die vrug hiervan is die bekroonde30 werk En as jou broeder sondig (Duursema 2017b:32–75).

In 1991, ’n jaar voordat hy sou emeriteer, sou hy hom weer uitlaat oor sy arbeid in die NG Kerk. Hy maak gewag van “[…] die soort stryd wat ek van die begin van my bediening af teen bepaalde situasies en opvattinge binne die Ned. Geref. Kerk gevoer het” en skryf dat dié stryd “veral gegaan teen die volkskerkkarakter van die Ned. Geref. Kerk”. Hy skryf in helder en duidelike taal dat die NG Kerk haar “eerder deur ’n vorm van volksdenke as deur die Skrif en sy eie belydenis laat lei het” (Jonker 1991:121) en lê Jonker weereens ’n duidelike korrelasie tussen die natuurlike teologie (volksdenke) en die volkskerk (Jonker 1991:122).

4.2 Sendingbepalinge

Die volgende belangrike moment in Jonker se loopbaan waarop gewys moet word, is die publikasie van sy omstrede Die sendingbepalinge van die Ned. Gereformeerde Kerk van Transvaal in 1962. Dit publiseer hy na ’n studiereis in Europa waartydens hy navorsing gedoen het oor die geskiedenis en ontwikkeling van Gereformeerde kerkreg. Hy het sy navorsing op skrif gestel maar nie gefinaliseer en gepubliseer nie. Ek het die manuskrip in ’n kelderverdieping van sy woonstel in die Strand gevind, geredigeer en in 2017 gepubliseer met die titel Die regering van Christus in Sy kerk: geskiedenis van die ontwikkeling van die Gereformeerde kerkreg (sien Jonker en Duursema 2017).

Na dié studiereis was hy uitstekend toegerus met kennis en insig oor die omvangryke geskiedenis van teologiese nadenke oor die kerkregering en kon hy die struktuur en reëls van die NG Kerk se beleid van kerklike geskeidenheid meet aan die regering van Christus in sy kerk (Duursema 2017b:174–211).

Hierdie studiereis het Jonker onderneem omdat hy gevoel het dat sy kennis van die kerkreg nie voldoende was nie (Jonker 1998:39). Dít ten spyte van talle artikels van kerkregtelike aard – waaronder ’n drietal in Die Kerkbode oor die sogenaamde konsepkerkorde vir die beoogde algemene sinode en sy boek oor kerklike tug (“En as jou broeder sondig …” Enkele aspekte van die kerklike tug). Daarbenewens was sy kerkregtelike insigte hoog aangeslaan: Hy is verkies as aktuarius van die sinode van Suid-Transvaal asook van die algemene sinode van Transvaal.

Tussen hakies: Dit is as gevolg van hierdie studiereis dat Jonker nie by die Cottesloe-beraad teenwoordig was nie – al het hy meegewerk aan die voorbereiding van dokumente vir ’n voorlegging van die afvaardiging van die NG Kerk (Jonker 1998:40).

Sendingbepalinge – soos dit alombekend is – is skaars 59 bladsye lank, maar het geweldige opspraak sowel as persoonlik pyn vir Jonker ingehou. In sy semi-outobiografiese Selfs die kerk kan verander wy Jonker twee hoofstukke aan die aanloop tot en die nadraai van Sendingbepalinge: hoofstuk 3: “Die eenheid van die kerk” en hoofstuk 4: “Die pyn van verwerping” (Jonker 1998:49–89). Dié opskrifte spreek boekdele en pen dít waaroor dit gegaan het, noukeurig neer. Sendingbepalinge handel van voor tot agter oor die eenheid van die Kerk en, meer spesifiek, oor die verskeurdheid binne die NG Kerk-familie. In dié werkie meet hy die Kerk se beleid van afsonderlike kerke vir afsonderlike bevolkingsgroepe – uitsluitlik op grond van ras – aan die liggaam van Christus soos dit in die Skrif aan die bod kom en ook aan die Bybels-teologiese standpunte van die Gereformeerde kerkreg soos verwoord in die Dordtse Kerkorde.

Dáároor word hy verwerp: Prof. T.N. (Tobie) Hanekom van die kweekskool in Stellenbosch en latere kollega van Jonker skryf ’n baie skerp en negatiewe resensie daaroor in Die Kerkbode van 3 Oktober 1962 (Jonker 1998:57; Duursema 2017b:220 e.v.). Volgens Hanekom “[…] maak dr. Jonker [’n] tragiese sprong na die Roomse kerkbeskouing”. En dat dit Jonker “[…] weinig baat om vooraf daarteen verskansing te soek: sy verwantskap met die erkende Roomse opvatting blyk ondubbelsinnig […]” (Die Kerkbode 1962:473). Jonker skryf dat hy verstom was oor die felheid van sy woorde en dat hy doeltreffend daarin geslaag het om Jonker se persoonlike, teologiese, kerklike en politieke integriteit onder verdenking te plaas (Jonker 1998:59). Dit het ook effektief daarin geslaag om Jonker se kritiek en aanbevole wysigings aan die Kerkorde 1962 van die Algemene Sinode in die doofpot te stop. Die polemiek in Die Kerkbode het tot in 1963 voortgeduur.

In die NG Kerk van die vyftigerjare van die vorige eeu kon daar beswaarlik ’n groter klad op ’n mens se naam kom as die beskuldiging dat jy “Rooms” is. Tog is Jonker se openbare verdediging van sy proefskrif in 1955 in gloeiende taal in ’n ander tydskrif van die Kerk berig: “Skitterende verweer van Suid-Afrikaanse student teen aanvalle van Roomse priester” (Die Voorligter 1955:18). Tóé is daar gereken dat Jonker die aanslae van die sogenaamde “Roomse Gevaar” behoorlik die loef afgesteek het.

Nogeens moet daarop gewys word dat Jonker die teologiese trajek waarop hy hom in sy proefskrif begeef het ook in Sendingbepalinge onafgebroke voortsit. Een van die stellings wat met Jonker se proefskrif meegegee is en hy bereid was om te verdedig, lui:

In verband met die agt sendingkerke wat in Suidelike Afrika tot stand gekom het deur die sendingarbeid van die Ned. Geref. Kerke, behoort die vraag ernstig onder oë gesien word of ’n Kerk wat reeds sy eie ringe en sinode besit, nog langer as onselfstandig beskou kan word (Stelling X). (Jonker 1954)

Die derde onderafdeling van Sendingbepalinge handel juis oor “… die kwessie van die onselfstandigheid van die sendingkerk” (Jonker 1962:14–8). In geen onduidelike taal het Jonker hom daarteen uitgespreek. ’n Mens moet daarmee sáám ook die eerste onderafdeling in die volgende hoofstuk onder die opskrif “Wanneer word ’n kerk selfstandig?” lees (Jonker 1962:38–43). Dáár neem hy dié standpunt in: “[…] daar [is] maar één plaaslike gemeente, dan is dit daar die ware kerk van Jesus Christus. En waar die kerk van Christus is, daar is vryheid, volwaardigheid, selfstandigheid” (Jonker 1962:39).

4.3 ’n Oorkoepelende algemene sinode

In 1978 sou die Algemene Sinode van die NG Kerk in Bloemfontein vergader. Op die agenda was ’n voorstel van die Federale Raad van NG Kerke, die kontakorgaan tussen die NG Kerk en sy susterkerke (vroeër “dogterkerke” genoem) – die NG Sendingkerk, NG Kerk in Afrika en die Reformed Church in Africa. Daarin is gevra dat die bestaande Federale Raad vervang word deur ’n oorkoepelende sinode waarin al die kerke van die NG Kerk-familie verteenwoordig sou wees. Dit het omtrent die spreekwoordelike kat in die duiwehok losgelaat. Die sinodale kommissies van die drie Transvaalse sinodes31 het uitgebreide beskrywingspunte ingedien waarin hulle hul teenkanting daarteen uitgespreek het. So ook was die verslag van die Breë Moderatuur daarteen gekant (Agenda 1978:158), maar twee lede, dr. F.E. O’B Geldenhuys en ds. A.F. Louw, het ’n minderheidsverslag laat dien (Agenda 1978:159).

Daar kan geen twyfel bestaan dat Jonker se Sendingbepalinge aansienlik bygedra het tot die versoek van die Federale Raad nie. Hy spel dit in Sendingbepalinge in duidelike taal uit dat, indien daar beweer word dat die NG Kerk één is, dit êrens en nadruklik – ook organisatories – ’n duidelike uitdrukking moet vind en “[d]ie beste sal wees as dit kan geskied op ’n Algemene Sinode […]” (Jonker 1962:52). Dié invloed word ook deur Jonker self in sy Selfs die kerk kan verander bevestig (Jonker 1998:146).

Jonker skryf in Augustus, twee maande voor die sitting van die Algemene Sinode wat van 18 tot 27 Oktober 1978 geduur het, ’n roerende artikel oor die voorstel van die Federale Raad in Die Kerkbode onder die titel “Die uitdaging”. Daarin bepleit hy die saak ten gunste van ’n oorkoepelende algemene sinode en verwoord hy die pyn van die drie susterkerke. Hy skryf dat hulle oortuig is dat

[…] kleur, ras en kultuur nie skeidingmakende faktore binne die kerk mag wees nie. Hulle het uiters gevoelig geword vir elke vorm van afgrensing van die verskillende bevolkingsgroepe van mekaar, omdat hulle dit as ’n vorm van diskriminasie ervaar waardeur die blanke Christene die nie-blanke Christene soveel as moontlik op ’n afstand wil hou […]

en dat

[…] baie blanke Christene onwillig is om Christene van ’n ander kleur werklik ten volle te aanvaar en met hulle die gemeenskap van die heiliges te beoefen. (Jonker 1978:198)

Hy toon aan dat die persepsie by die susterkerke bestaan dat die argumente wat die moederkerk vir afsonderlike kerke aanvoer nie aan die Skrif ontleen word nie, maar aan argumente eie aan die natuurlike teologie, nl. dat dit noodsaaklik is om die bestaande volkeverskeidenheid te handhaaf (Jonker 1978:198). Hy pleit daarvoor dat die NG Kerk

[…] geen twyfel daaroor moet laat dat hy in geen enkele opsig iets wil afdoen aan wat die Skrif leer oor die gemeenskap van die heiliges nie. Ons het hierin nie met ’n middelmatige saak te doen waaroor daar verskil van mening in die kerk moontlik is nie. Volgens die Skrif hang die liefde tot en gemeenskap met die broers onderling onlosmaaklik saam met die liefde tot en gemeenskap met Christus. (Jonker 1978:211)

Hy waarsku ook dat, indien die sinode sou besluit om die versoek van die hand te wys, verhoudinge met die drie susterkerke tot so ’n mate sal versleg dat die kerke uiteindelik teenoor mekaar te staan sal kom en dat dit vir die NG Kerk kan beteken dat hy homself al meer in ’n posisie van isolasie sal bevind (Jonker 1978:200). Dat dit inderdaad gebeur het, is deel van die tragiese geskiedenis van die NG Kerk. Die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke het op 25 Augustus 1982 te Ottawa vergader en het ’n status confessionis afgekondig, apartheid as sonde verklaar en die teologiese regverdiging daarvan as ’n kettery. Die NG Kerk se lidmaatskap van die Wêreldbond is ook opgeskort.

4.3.1 Die Belydenis van Belhar

Die Algemene Sinode van die NG Sendingkerk wat nouliks ’n maand na Ottawa – van 22 September tot 6 Oktober 1982 – in Belhar vergader het, het die besluite van Ottawa geëggo en ’n konsep, wat uiteindelik die Belydenis van Belhar sou wees, aanvaar.

Dié sinodesitting was nog nie afgehandel nie toe Die Kerkbode op 6 Oktober 1982 ’n onderhoud met prof. Jonker publiseer waarin hy nogeens – soos in bogenoemde artikel – waarsku dat die NG Kerk voor een van die ingrypendste geestelike beslissings in sy hele geskiedenis te staan gekom het. Hy pleit vir nederigheid, ootmoed en ’n bereidheid tot selfondersoek by die NG Kerk en wys daarop dat dié kerk se beleid vernedering en lyding vir die susterkerke meebring. “Veral die feit dat die kerk op rasse-grondslag verdeel is en dat ’n stelsel wat deur hulle as so pynlik ervaar word, deur die kerk verdedig word, oortuig hulle daarvan dat dit vir ons om veel meer gaan as ’n praktiese politieke beleid” (Die Kerkbode 1982:16). Hierdie standpunte is duidelik ’n voorspel tot die skuldbelydenis by Rustenburg.

Jonker het hom by meer as een geleentheid positief – hoewel nie sonder om ook, waar nodig, krities te wees nie – oor die Belydenis van Belhar uitgelaat.32 In hierdie konteks is dit onnodig om op detail in te gaan. Om die trajek wat Jonker na die Rustenburg-belydenis gevolg het aan te toon, sal dit waarskynlik voldoende wees om na ’n berig wat in Die Ligdraer, die lyfblad van die NG Sendingkerk, op 22 Mei 1992 verskyn het, te verwys. Die berig open met die sin: “Ek het gehuil toe ek die Belhar-belydenis die eerste maal lees, want ek het gedink: Dit is NG Kerk-teologie – óns moes dit gesê het.”

Die diepe berou wat uit Jonker se Rustenburg-skuldbelydenis spreek, word in bogenoemde beriggie duidelik geëggo.

4.3.2 Die Kairos-dokument

’n Verdere gevaar vir die NG Kerk waarop Jonker in bogenoemde artikel, “Die uitdaging” van 1978, gewys het, is dat ’n afwysende besluit oor ’n oorkoepelende algemene sinode tot verbittering by die susterkerke kan lei wat hulle in die arms van die “‘swart teologie’ wat verwant is aan die teologie van die rewolusie” kan dryf (Jonker 1978:200). Ook dít het inderdaad gebeur en die sogenaamde Kairos-dokument is in 1985/86 deur die Institute for Contextual Theology uitgegee.

Jonker het geen ooghare vir dié protesdokument nie. Hy noem dit “’n politieke strydgeskrif met ’n teologiese onderbou” (Jonker 1987:75). Dit maak gebruik van die Marxistiese maatskappy-analise en reduseer die verdeeldheid van die kerk tot ’n klassestryd tussen die verdrukkers en die verdruktes (Jonker 1987:76). Jonker maak dit ook bo alle twyfel duidelik dat “[w]ie egter teen die eersgenoemde soort politieke teologie [lees die Bybelse regverdiging van apartheid – G.J.D.] gestry het, kan tans onmoontlik anders as om homself ook te distansieer van hierdie resente vorm van politieke teologie” (Jonker 1987:74).

Maar:

Juis die klaarblyklike emosionaliteit, eensydigheid en ongenuanseerdheid van die Kairos-dokument getuig van ’n ervaring van pyn en verontregting wat nie met teologiese argumente alleen beantwoord kan word nie, maar om begrip en die toenadering van die liefde roep […] Die hardhorendheid, die ongevoeligheid, die onversetlikheid van sommige kerke in ons land en hulle onwil om hulleself helder en ongekwalifiseerd los te maak van ’n vorm van politieke teologie na regs, het bygedra tot die opkoms van ’n politieke teologie na links soos dit in die Kairos-dokument voor ons lê. (Jonker 1987:74)

 

5. Slot

Die kernvraag waarop hierdie artikel ’n antwoord wil bied, is: Het Jonker teologies na links geskuif? Die histories-teologiese trajek waarin sy teologie ontwikkel het, is nageloop. Die bevinding is dat hy nie geskuif het nie, maar dat sy skuldbelydenis by Rustenburg die konsekwensie en toepassing van sy teologie is. Hy het opgegroei en was ’n student in die dampkring van die teologie van apartheid. Hy is nie daarin versmoor nie. Hy het uitgegroei en die Gereformeerde teologie het hom laat koers kies – Skrif toe. Weg van natuurlike teologie. Dit het hy uitgepak in sy werk. Die beoefening van die teologie het Jonker deurgaans gesien as bediening – met die Woord as opdrag.

Om Jonker van een of ander politieke motief of politieke teologie te verdink, kan op geen manier aangetoon word nie. Hy het inteendeel hom onverpoos teen enige vorm van politieke teologie uitgelaat. Hy het sedert die publikasie van sy proefskrif in 1954 tot by die Rustenburgse skuldbelydenis en daarna te midde van en ten spyte van felle teenkanting en verwerping nie links of regs van ’n weldeurdagte Bybels-teologiese trajek afgewyk nie. Jonker het vanuit hierdie Bybels-teologiese oorwegings, waarin Christus sentraal staan, gedink en standpunt ingeneem.

Die Rustenburgse skuldbelydenis is in ’n sekere sin die voltooiing van ’n sirkel: Hy is terug by die kindergebedjie wat sy moeder hom geleer het: “Het bloed van Jezus Christus reinigt ons van alle zonden.” In 1990 het hy egter nie by sy bed in ’n bywonershuis gekniel nie, maar as volwasse teoloog op ’n openbare verhoog, om namens die NG Kerk en die Afrikaner voor God en mens belydenis te doen vir al die onreg en pyn wat apartheid veroorsaak het.

 

Bibliografie

Botes, D.H. (red.). 1960. Die volle Raad: Preekbundel vir ouderlinge. Bloemfontein: SACUM.

Cronjé, G. (red.). 1947. Regverdige rasse-apartheid. Stellenbosch: Pro Ekklesia.

Du Preez, A.B. 1955. Die Skriftuurlike grondslag vir rasseverhoudings. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.

—. 1959. Eiesoortige ontwikkeling tot volksdiens: die hoop van Suid-Afrika. Kaapstad: HAUM.

Duursema, G.J. 2017a. Deurdagte koerswysiging: ’n biografiese bibliografie van Willem Daniel Jonker 1929–1955. Stellenbosch: Willie Jonker Digitale Argief.

—. 2017b. Communio Sanctorum: Gereformeerde kerkreg versus kerklike geskeidenheid – ’n biografiese bibliografie van W.D. Jonker, 1955–1968. Stellenbosch: Willie Jonker Digitale Argief.

Fullard, W. 1972. Geskiedenis van die Gemeente 1872–1972. Kimberley: Noordkaap Drukkers.

Groenewald, E.P. 1947. Apartheid en voogdyskap in die lig van die Heilige Skrif. In Cronjé (red.) 1947.

Heyns, J.A. 1953. Die grondstruktuur van die modalistiese triniteitsbeskouing. DTh-proefskrif. Kampen: J.H. Kok.

—. 1954. Teologiese studie aan die Vrije Universiteit. Die Kerkbode, 18 Augustus, bl. 18.

—. 1977. Die kerk. Pretoria: NG Kerkboekhandel.

Hofmeyr, J.W., C.J.J. Froneman en J.H.H. du Toit (reds.). 1987. Perspektiewe op Kairos = Perspectives on Kairos. Kaapstad: Lux Verbi.

Jonker, W.D. 1954. Mistieke liggaam en kerk in die nuwe Rooms-Katolieke teologie. DTh-proefskrif. Kampen: J.H. Kok.

—. 1956a. Ons Kerk ’n Volkskerk? Die Kerkbode, 18 Januarie, bl. 111.

—. 1956b. Ons is kinders van God. Die Kerkbode, 27 April, ble. 750–1.

—. 1956c. Is ons gehoorsaam? Enkele gedagtes oor die kerklike tug I. Die Kerkbode, 10 Oktober, ble. 665–6.

—. 1956d. Is ons gehoorsaam? Enkele gedagtes oor die kerklike tug II. Die Kerkbode, 17 Oktober, ble. 701–2.

—. 1957a. Die geduld van God. Die Kerkbode, 7 November, bl. 823.

—. 1957b. Vergifnis en liefde. Die Kerkbode, 4 Desember, ble. 1013–4.

—. 1958. Het dit sin om van evangelisasie te spreek? Die Voorligter, November, bl. 24.

—. 1959. “En as jou broeder sondig …” Enkele aspekte van die kerklike tug. Kaapstad, Pretoria: NG Kerk Uitgewers.

—. 1960. Dra mekaar se laste. In Botes (red.) 1960.

—. 1962. Die sendingbepalinge van die Ned. Gereformeerde Kerk van Transvaal. Potchefstroom: Potchefstroom Herald—(Vanderspoel)—drukkery.

—. 1978. Die uitdaging. Die Kerkbode, 16 Augustus, ble. 198–200; 211.

—. 1987. Die implikasies van die Kairos-Dokument. In Hofmeyr, Froneman en Du Toit (reds.) 1987.

—. 1989. Die pluriformiteitsleer van Abraham Kuyper. In die Skriflig, 23(91):12–23

—. 1991. Reaksie op Naudé en Fürstenberg se bespreking van Uit vrye guns alleen. Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif, 35(1):119–123.

—. 1993. Die moderne belydenisbeweging in Suid-Afrika – en Calvyn. In die Skriflig, 27(4):443–462.

—. 1994. In gesprek met Johan Heyns. Skrif en Kerk, 15(1):13–26.

—. 1998. Selfs die kerk kan verander. Kaapstad: Tafelberg.

Jonker-versameling. Argiefbewaarplek: NG Kerk in SA Argief, Stellenbosch, PPV 1586 – PPV 1600.

Jonker, W.D. en G.J. Duursema. 2017. Die regering van Christus in Sy kerk: geskiedenis van die ontwikkeling van die Gereformeerde kerkreg. Stellenbosch: Willie Jonker Digitale Argief.

Willie Jonker Digitale Argief. https://williejonker.co.za/rustenburg_koerantberig_plaaslik_beeld_19901107 (7 Oktober 2020 geraadpleeg).

—. https://williejonker.co.za/rustenburg_koerantberig_buiteland_nrc-handelsblad_19901107 (7 Oktober 2020 geraadpleeg).

—. https://williejonker.co.za/rustenburg_koerantbertig_buiteland_new-york-times_19901107 (7 Oktober 2020 geraadpleeg).

—. https://williejonker.co.za/rustenburg_koerantberig_buiteland_the-weekly-mail_19901108 (7 Oktober 2020 geraadpleeg).

—. https://williejonker.co.za/rustenburg_koerantberig_buiteland_new-york-times_19901108 (7 Oktober 2020 geraadpleeg).

—. https://williejonker.co.za/rustenburg_koerantberig_buiteland_independent_19901108 (7 Oktober 2020 geraadpleeg).

—. https://williejonker.co.za/rustenburg_koerantberig_plaaslik_beeld_19901118 (12 Oktober 2020 geraadpleeg).

—. https://williejonker.co.za/rustenburg_koerantberig_plaaslik_beeld_19901118-3 (12 Oktober 2020 geraadpleeg).

—. https://williejonker.co.za/rustenburg_korrespondensie_19901206_5 (12 Oktober 2020 geraadpleeg).

—. https://williejonker.co.za/rustenburg_korrespondensie_19910122_3 (12 Oktober 2020 geraadpleeg).

—. https://williejonker.co.za/rustenburg_korrespondensie_19910219_1 (12 Oktober 2020 geraadpleeg).

—. https://williejonker.co.za/rustenburg_koerantberig_plaaslik_oosterlig_ongedateerd (12 Oktober 2020 geraadpleeg).

—. https://williejonker.co.za/rustenburg_koerantberig_plaaslik_oosterlig_ongedateerd-2 (12 Oktober 2020 geraadpleeg).

—. Referaat: Die konsep-belydenis van die Ned. Geref. Sendingkerk. https://williejonker.co.za/die-konsep-belydenis-van-die-ned-geref-sendingkerk (5 Oktober 2020 geraadpleeg).

—. Referaat: Is dit vir die N.G.K. moontlik om Belhar as belydenis te aanvaar? https://williejonker.co.za/20000201 (5 Oktober 2020 geraadpleeg).

—. Referaat: Beoordeling van die Belhar-belydenis. https://williejonker.co.za/beoordeling-van-die-belhar-belydenis (5 Oktober 2020 geraadpleeg).

Die Kerkbode. 1962. Boekbeskouing. Die Kerkbode, 3 Oktober, ble. 473–4.

—. 1982. N.G. Kerk voor ’n ingrypende beslissing. Die Kerkbode, 6 Oktober, bl. 16.

—. 1990. Onrus oor Rustenburg. Die Kerkbode, 23 November, ble. 1–2, 4.

Die Ligdraer. 1992. N.G.K.-Professor huil toe hy Belhar lees. Die Ligdraer, 22 Mei, bl. 8.

Lombaard, J.C. 1957. Die leer van die heiliging by Karl Barth. DTh-proefskrif. Kampen: J.H. Kok.

Marx, C. 2009. Oxwagon Sentinel: Radical Afrikaner Nationalism and the history of the “Ossewabrandwag”. Berlyn: Lit.

Nederduitse Gereformeerde Kerk. 1978. Agenda van die vyfde vergadering van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, Bloemfontein, Woensdag 18 Oktober 1978. Bloemfontein: NG Sendingpers.

—. 1990. Handelinge van die agtste vergadering van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk gehou in Bloemfontein, Dinsdag 16 Oktober tot Donderdag 25 Oktober 1990. Bloemfontein: NG Sendingpers.

Schutte, G.J. 2005a. De Vrije Universiteit en Zuid-Afrika 1880–2005. Deel I. Zoetermeer: Uitgeverij Meinema.

—. 2005b. De Vrije Universiteit en Zuid-Afrika 1880–2005. Deel II. Zoetermeer: Uitgeverij Meinema.

Van Deventer, H. S.j. Moenie skeur nie …/Die kerk op die voorblad by http://hennievandeventer.co.za/kerk (13 Oktober 2020 geraadpleeg).

Van Deursen, A.Th. 2005. Een hoeksteen in het verzuild bestel, De Vrije Universiteit 1880–2005. Amsterdam: Uitgeverij Bert Bakker.

Die Voorligter. 1955. Skitterende verweer van Suid-Afrikaanse student teen aanvalle van Roomse priester. Die Voorligter, 15 Mei, bl. 18.

Williams, H.H. 2006. J.A. Heyns en die Nederduitse Gereformeerde Kerk en apartheid. Ongepubliseerde DTh-proefskrif, Universiteit van die Vrystaat.

 

Eindnotas

1 Die afgevaardigdes van die NG Kerk was prof. P.C. Potgieter en drr. P. Roussouw en D.J. Hattingh. Prof. J.A. Heyns is ook genooi om ’n voordrag te hou.

2 Sien https://williejonker.co.za/rustenburg_skuldbelydenis_19901107 vir ’n afdruk van die oorspronklike handgeskrewe belydenis sowel as vir die Afrikaanse vertaling daarvan.

3 Dokumente en briewe wat reeds in die openbare domein is, is beskikbaar by https://williejonker.co.za/kategorie/rustenburg.

4 Sien https://williejonker.co.za/rustenburg_koerantberig_plaaslik_beeld_19901107 (12 Oktober 2020 geraadpleeg).

5 Sien https://williejonker.co.za/rustenburg_koerantberig_plaaslik_beeld_19901118 (12 Oktober 2020 geraadpleeg).

6 Sien https://williejonker.co.za/rustenburg_koerantberig_buiteland_the-weekly-mail_19901108 (7 Oktober 2020 geraadpleeg).

7 Sien https://williejonker.co.za/rustenburg_koerantberig_buiteland_nrc-handelsblad_19901107 (7 Oktober 2020 geraadpleeg).

8 Sien https://williejonker.co.za/rustenburg_koerantberig_buiteland_new-york-times_19901108 (7 Oktober 2020 geraadpleeg).

9 Sien https://williejonker.co.za/rustenburg_koerantbertig_buiteland_new-york-times_19+901107 (7 Oktober 2020 geraadpleeg).

10 Die verslaggewer skryf: “For good reason they had been the leper church of the world. It was the DRC which, in 1857, first introduced into Afrikaner society the concept of entrenched racial discrimination, ordering that the different races should worship at different churches. When the National Party came to power in 1948, the DRC actively pushed for apartheid, and provided a detailed Biblical justification for discrimination” (https://williejonker.co.za/rustenburg_koerantberig_buiteland_independent_19901108 [7 Oktober 2020 geraadpleeg]).

11 Sien https://williejonker.co.za/rustenburg_korrespondensie_19901206_5 (12 Oktober 2020 geraadpleeg).

12 Sien https://williejonker.co.za/rustenburg_koerantberig_plaaslik_oosterlig_ongedateerd (12 Oktober 2020 geraadpleeg).

13 Sien https://williejonker.co.za/rustenburg_koerantberig_plaaslik_beeld_19901118-3 (12 Oktober 2020 geraadpleeg).

14 Vgl. https://williejonker.co.za/rustenburg_korrespondensie_19910122_3 en https://williejonker.co.za/rustenburg_korrespondensie_19910219_1 (12 Oktober 2020 geraadpleeg).

15 Destyds was dit Suid-, Noord-, Wes- en Oos-Transvaal.

16 Hennie van Deventer beskryf ds. Kobus Potgieter, studenteleraar tydens sy studie aan die Universiteit van Pretoria, as iemand “… met aansienlik ander insigte as die Beyers Naudé’s en die Nico Smiths van die lewe …” (Van Deventer s.j.:32).

17 Sien https://williejonker.co.za/rustenburg_koerantberig_plaaslik_rapport_19901111 (12 Oktober 2020 geraadpleeg).

18 Sien https://williejonker.co.za/rustenburg_kerantberig_plaaslik_rapport_19901108 (12 Oktober 2020 geraadpleeg).

19 Dié stukkie grond was geleë in die Langkloof naby Uniondale (Duursema 2017a:11–2).

20 Jonker skrywe in sy herinneringe: “Toe ek later jare steeds groter helderheid oor die probleme rondom apartheid, en veral die onaanvaarbaarheid van kerklike apartheid gekry het, was dit vir my ’n bevestiging van indrukke wat ek van jongs af nie in my ouerhuis nie, maar in die Kinderkrans op Biesiesvlei opgedoen het” (Jonker 1998:10–1).

21 Afgesien van ’n hele aantal artikels in kerklike tydskrifte, het hy die Bybelse regverdiging van apartheid uitgewerk in twee boeke: In 1955 verskyn Die Skriftuurlike grondslag vir rasseverhoudings en in 1959 Eiesoortige ontwikkeling tot volksdiens: die hoop van Suid-Afrika.

22 Sien bv. sy bydrae “Apartheid en voogdyskap in die lig van die Heilige Skrif” wat in Cronjé (red.) 1947 verskyn. Dié boek word wyd as een van die belangrikste publikasies oor die ideologie van apartheid beskou. Sinodale besluite van die NG Kerk is rigtinggewend deur hierdie werk beïnvloed. ’n Ander bekende medewerker was William Nicol, moderator van die Transvaalse NG Kerk en voorsitter van die Kommissie vir die Teologiese Fakulteit van die Universiteit van Pretoria.

23 Vir Van Rooy en die Broederbond, sien Marx (2009:157–8, 188, 194).

24 Promoveer 21 Junie 1953 by Berkouwer met ’n proefskrif getiteld “Die leer van die heiliging by Karl Barth” (Schutte 2005b:723).

25 Promoveer 18 Desember 1953 by Berkouwer met ’n proefskrif getiteld “Die grondstruktuur van die modalistiese triniteitsbeskouing” (Schutte 2005b:721).

26 Dit was o.a. vanweë dié standpunt t.o.v. die Christelike filosofie dat Barth vir ’n geruime tyd “… werd beschouwd als een gevaar voor het voorbestaan van de Vrije Universiteit, en daarom gevaarlijker dan ongeloof of vrijzinnigheid”. Berkouwer dank sy aanstelling juis aan sy (aanvanklike) teenkanting teen Barth (Van Deursen 2005:209).

27 Dit sluit ook alle teologieë wat nie uitsluitlik van die Skrif alleen uitgaan nie, soos die liberale, antropologiese, ervarings- en subjektivistiese teologieë, in.

28 Jonker wy die hele hoofstuk 2 van Selfs die kerk kan verander aan dié onderwerp.

29 Voorbeelde hiervan is die preke in Die Kerkbode: Ons is kinders van God (Jonker 1956b), Die geduld van God (Jonker 1957a), Vergifnis en liefde (Jonker 1957b) en Dra mekaar se laste (Jonker 1960). Verder die artikels – ook in Die Kerkbode – Is ons gehoorsaam? Enkele gedagtes oor die kerklike tug I en II (Jonker 1956c en 1956d).

30 Dit was die eerste boek van Jonker wat in Suid-Afrika gepubliseer is. Daarmee het hy die eerste prys verower in ’n kompetisie wat NG Kerk Uitgewers in daardie tyd vir nuwe manuskripte uitgeskryf het (Duursema 2017b:68).

31 Wes-Transvaal: Agenda 1978:760–1, Noord-Transvaal: Agenda 1978:761–771 en Suid-Transvaal: Agenda 1978:750–2.

32 Sien byvoorbeeld:

 

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


  • 1

Kommentaar

  • Sketterende beoordeling van Willie Jonker se teologie wat talle studente (myself ingeslote) se teologie, maar veral ons lewens beïnvloed het

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top