Twyfelbos deur François Loots: ’n resensie

  • 0

Titel: Twyfelbos
Skrywer: François Loots

ISBN: 9780798185202
Uitgewer: Human & Rousseau

Byname (in teenstelling met troetelname) is beledigings in eufemistiese gedaantes. Onkunde en sosiale afkeer is die algemene basis van hierdie verskynsel. Die paradoks van ’n vrou wat dit durf waag om haar hare kort te sny, ’n langbroek te dra en wydsbeen perd te ry was derhalwe by uitstek ’n onvermydelike sneller tot gemeenskapsetikettering in die Kaapkolonie van die 1820’s. In die woorde van die Hollandse reisiger Marten Douwe Teenstra (1830) sou dit geregverdig wees om na so ’n persoon te verwys as ’n “mansvelder” of ’n “mannetjiesvrou” (bl 7).

Sophia Truter word aan die leser bekendgestel deur die oë van ’n bruinweduweespinnekop. Die afwesigheid van menslike karakters in die openingstoneel beklemtoon Sophia se afsondering in die gegewe moment. Sy bevind haar in die Overberg op ’n sogenaamde rusplaas anderkant die Kleinrivier. “Hier is sy stoksielalleen” (13). Haar selfopgelegde ballingskap volg op ’n drieledige verlies. Haar eggenoot, eens regter Johannes Truter, het as ’n Engelse vlinder genaamd sir John uit sy voormalige kokon verskyn; haar hartskind, haar jongste, Kleinjan, is gereduseer tot oorskot in ’n graf met ’n klein stukkie van ’n aardwolf se been as enigste fisiese memento; en die sagtheid wat Magdalena was, is weinig meer as die hunkering na ’n seilskip op pad na Batavia.

In die Kaap kon sy nie bly nie – sy kon nie “hierdie stilte gevul met rou saam met hom aandurf nie” (22) en moes gaan na waar voorgee oorbodig is, nie langer waar elke glimlag haar siel nog ’n bietjie laat kwyn het nie, want “Wat is daar na ’n dood nog te sê?” (29).

Die vrae wat by ’n soen van ’n verbygaande vrou ontkiem het, en wortelgeskiet het saam met Magdalena: “Maar wat ons doen, wat beteken dit eintlik?” en “Hoe ’n mens maak dit van ons?” het onbeantwoord gebly, en slegs ’n spook wat in drome verskyn, eggo dit soms nog. Die onvergenoegdheid word met nostalgie vermeng en verwoord as die hunkerende woordspel op die Herderspsalm: “Jou ruggraat ’n hobbelpad na gras en weiveld, na valleie en ’n plek waar sy kan asemhaal, kan leef, vuur kan spoeg, kan vloei, enigiets, waar sy alles kan verrig” (75).

Toe kom sy. Met ’n brood. Te perd. En Sophia wil “ophou praat, ’n stuk brood afbreek, met ’n hand na Es toe uitreik, maar sy’s te bang sy sit ’n voet verkeerd” (86).

Na sy doop by die Sakrivier stap Mandel, gekersten ingevolge die wilde amandelboom wat as getuie gestaan het, 40 dae deur dorre onherbergsaamheid. “Jesus se woestyn is ’n woeste wêreld” (16). Hier word hy weer klip, in die naam van die sespotige god |Kaggen, in teenstelling met en ter bevryding van die drieledige god in wie se naam hy gedoop was. “[V]andag was Mandel die Sakrivier van hom af” (108) en word ’n vryloper. Maar die bynaam bly. Baster. Skeefgeteelde. Die een wat in donker oomblikke steeds soos sak voel: “Wanneer hulle ’n sak oor jou gooi, kom die son nie op nie en die maan wys nie meer sy gesig nie” (125).

In Mosselbaai verskyn ’n verdwene suster in ’n bloederige droom. En haar Kleinboet sweer: “’n Oog vir ’n oog” (57).

Dan word die lyk van ’n boer op ’n bokpad gevind. Hy is vermoor.

Die ruimte, tot hier uitgebeeld as historiese fiksie, grootliks deur die oë van Sophia en Mandel, verwissel nou van rat en ’n speurelement word bygevoeg. Die rol van ondersoeker word vertolk deur Jan Tesselaar, die veldkornet. As simbool van geregtigheid en met die herstel van balans op sy pligtestaat sou ’n stabiele agtergrond deel van sy verwagte samestelling gewees het. Die onstuimigheid wat sy persoonlike wêreld kenmerk, is derhalwe in skrille kontras met die verwagte. As pasgetroude man tob hy oor ’n vreemde verskynsel wat sy huweliksdag, en spesifiek sy bruid, Cornelia, oorskadu het: “Die man het met ’n ruiker in die hand reg voor haar gaan staan, sê hulle. Sy het dit by hom geneem, daaraan geruik en toe flou geval” (148). Cornelia se daaropvolgende kriptiese opmerkings tydens haar swangerskap vind aansluiting by Jan se eie binnegeheim, Amelia, die een saam met wie hy is, maar met wie hy nie getroud is nie, teenoor Cornelia, die een met wie hy getroud is, maar saam met wie hy nie is nie. Ten spyte hiervan is hy getaak met die vind van ’n bekentenis waar daar geen tekort aan verdagtes is nie, insluitend die weduwee van die vermoorde wat met Shakespeariaanse wroeging haar hande bly afvee. Niemand weet immers “hoeveel mense in een siel skuil nie” (177).

Die moordverhoor bring sir John na die Overberg: “Die lang arm van jou gereg strek tot hier ...” (99.) Maar dis die pyn van die verloëning, “Ek het jou nooit geken nie” (230), wat Sophia wil laat perd opsaal, “die veld met sy kommerboom en twyfelbos invaar en help-my-tog-sade optel en weggooi” (249). Beide Jan en Sophia se pad via die twyfelbos word gerig deur die besef: “Engelse mans in Engelse kantore maak regulasies. Die veld en die natuur het sy eie wette” (152). Alhoewel twyfelbos ’n ding is wat nie sommer uitgekap kan word nie, kom daar tog ’n ander uitkyk oor die veld, een wat bevestig: “Hier groei geen twyfelbos meer nie” (253).

Die verloop van die verhoor word as ’n nagedagte deur die oë van ’n jurielid, Daniël van Rhenosterfontein, geformuleer, op ’n stadium wanneer die uitslag daarvan reeds aan die leser bekend is. Sy denke aksentueer die mate waarin vooroordeel en giftonge die regsproses beïnvloed. Desnieteenstaande sy sedige “Dis beter om jou nie aan stories te steur nie”, is daar ook die verontskuldigende “maar mense praat mos en ek het gehoor” (259).

In samehang met die aard van die gekose ruimte waarin die roman afspeel, word emosies en gebeurtenisse aan die hand van natuurbeelde deur middel van metafore en personifikasie oorgedra. Herinneringe kom in die stilte “soos naguile aangevlieg, op soek na rusplek” (32); vreesloosheid is die afwesigheid van “die noordwester in haar broekspype” (102); wanhoop is bymekaargemaakte hoop, gekonfronteer deur ’n swerm meeue wat gate daarin pik (133); en weemoed ’n herfswind wat jou “troosteloos nooi [...] na donker aande en koue nagte” (194). Tyd word eweneens aan die natuur verbind: “’n [H]ele jaar kan hom in ’n oogwink uitstrek waar jy wag” (92) en “vir die klap van ’n vlerk lank” (93).

Loots het die tema van soeke na seksuele identiteit deur ’n hoofkarakter wat die bekende vir die onbekende verruil, reeds in 2003 begin verken met sy Lente in Beijing (Tafelberg), en sy daaropvolgende historiese fiksie het beide bekende figure (Bram Fischer, Jan Hofmeyr en James Barry) en bekende gebeurtenisse (die Sizzlers-moorde in 2003 en die moord op Anni Dewani in 2010) ondersoek. Twyfelbos gee ’n stem, al is dit grootliks fiktief, aan ’n bykans vergete en onderspeelde historiese figuur, Sophia Alida (De Wet) Truter (1771–1849), en skep daardeur ’n karakter met veel meer fasette as bloot die vervreemde vrou van ’n Kaapse regter, Johannes Andreas Truter (1763–1845), later bekend as sir John.

Die insluiting van verskeie ander werklike historiese figure, onder andere Jan Tesselaar, wat in 1828 as Caledon se veldkornet aangestel is en rondom wie daar inderdaad ’n legende aangaande sy huweliksdag gehul is, verseker geloofwaardigheid en outensiteit wat tyd en ruimte betref. Mandel is wel aangedui as ’n fiktiewe figuur, maar is inderwaarheid die simboliese verteenwoordiging van ’n groep mense wat, soos die vroulike karakters van hulle tyd, nie ’n stem gegun was nie en wat beledig, verkleineer en veroordeel was omdat hulle gewaag het om die grense van sosiale gebruike en opvattings uit te daag.

Lees ook:

François Loots se Twyfelbos sleur mee: ’n lesersindruk

François Loots se Twyfelbos is ’n Pierneef-skildery: ’n lesersindruk

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top