Hoekom tree ons op soos wat ons binne ons verhoudings optree – jaar na jaar na jaar?
Dit is die kernvraag van die Tuis ek’s liefie-produksie. Die drama skop humoristies en lighartig af. Tog is mens aanvanklik verward. Ek was so oortuigend vasgevang in Judy (Cintaine Schutte) se 1950’s-huwelik met Johnny (Wessel Pretorius) dat ek vir die eerste paar minute van die toneelstuk geglo het dit is waarlik die 1950’s. Gaandeweg word dit duidelik: Judy hou haar fantasiewêreld met so ‘n ysere hand in stand dat die gehoor nie daaruit kon ontsnap nie. Ook nie haar man nie. En dis die probleem. Een van die probleme.
Die toneelstuk vertoon ‘n paar dinge: krake in elke enkele verhouding. (Wag tot die Judy in die toneelstuk se ma, heerlik vertolk deur Amanda Strydom, vir haar die waarheid oor haar fantasiewêreld kom vertel.) Dit vertoon vir die gehoor ‘n spieël: Hoekom hardloop jy gou om iets vir jou man/vrou te doen as hulle dit eintlik self kon gedoen het? Is dit omdat jy bang is hulle is ontevrede met jou? Is dit dalk omdat dit jou laat voel jy is in beheer? Of is dit omdat hulle die enigste ding op aarde is wat jy besit? En as jy ‘n bietjie verder dink as net man-vrou-verhoudinge, kom jy gou agter die toneelstuk daag jou uit om na te dink oor die status quo in die land. Rasseverhoudinge. Menseverhoudinge, ongeag gender. Rolle tussen almal. Hoe jou kinderdae jou beïnvloed.
Die toneelstuk spog met briljante akteurs wat nog boonop so goed kan dans dat dít ook nog hulle werk kan wees. Crystal-Donna Roberts, Carlo Daniels en Veronique Jephtas is almal multitalentvol as skrywers, akteurs én soepel gimnastiese dansers.
Die toneelstuk lewer sosiale kommentaar op alle verhoudings. Daar is baldadige kleure en flambojante rokke. My enigste kritiek is daar moes nie ‘n pouse gewees het nie.
Gaan kyk dit, dink na. En gaan praat met jou ma, jou kind, jou man, jou vrou, jou partner. Hoekom tree ons op soos wat ons binne ons verhoudings optree – jaar na jaar na jaar?
– Naomi Meyer
📸: © Nardus Engelbrecht
Volg LitNet op Instagram vir meer Woordfees 2023-resensies: @mylitnet
Lees ook:
Tuis, ek’s liefie by die Toyota US Woordfees 2023: ’n onderhoud met Cintaine Schutte