Tuin van digters 2017: program

  • 0

Haal uit die digwoorde, gryp die digbundels en koop jou kaartjie. Dit is tyd vir die 6de Tuin van digters op 15 en 16 September 2017 by die Breytenbach Sentrum in Wellington.

Vanjaar se program is propvol hoogtepunte. Een daarvan is die Ingrid Jonker-prys vir Afrikaanse debuutdigbundels wat in 2015 en 2016 gepubliseer is en op Saterdag 16 September aan die wenner oorhandig word. Die Breytenbach Sentrum se 10de bestaansjaar word ook gevier.

Die tema vir 2017 is 'Uitdagend skeppend'. Die aanhaling dui op beweging – in uitdaag en in skep. Dit is ook die Breytenbach Sentrum se tema vir 2017 en vorentoe en het sy oorsprong by Breyten Breytenbach se woorde tien jaar gelede op 26 Februarie 2007 met die opening van die Breytenbach Sentrum.

Ander programhoogtepunte sluit in die huldiging van die digter Wilma Stockenström; ’n gesprek deur PEN Afrikaans oor Breyten se invloed op die generasies ná hom; die bekendstelling van Nuwe Stemme 6; Andries Bezuidenhout wat gesels met Bibi Slippers oor haar veelbekroonde digbundel Fotostaatmasjien; gesprekke met digters van wie onlangs nuwe bundels verskyn het, ’n oopmikrofoon vir voorlees van gedigte; ’n spesiale groepuitstalling deur by die 40 kunstenaars ter viering van die Sentrum se tiende jaar; Riku Lätti en die Wasgoedlyn se digtersangers van die nag; Tribal Echo wat nuwe toonsettings van gedigte van Adam Small sing; en oorgenoeg eet- en drinkgoed vir lekker kuier.

Kaartjies kos R100 vir die Vrydag, R200 vir die Saterdag en R250 vir die tweedag-pakket. Studente met bewys van ’n geldige studentekaart betaal R60 per dag. PEN Afrikaans se jaarvergadering sal ook op Saterdag 16 September by die Tuin van digters plaasvind en opbetaalde lede sal gratis toegang kry.

Besprekings en navrae kan gedoen word by Jeanne-Mari Gerber by besprekings@breytenbachsentrum.co.za, 021 873 2786, 073 435 1022, h/v Burger- en Malherbestraat, Wellington, 7655.

Inhoud


 

Program

 

Vrydag 15 September

Tuinvrede
16:00 tot laat | Tuin van Digters

Klanke, beelde en woorde in ’n tuin vol gedigte nooi jou uit om tot ruste te kom en voor te berei vir ’n ervaring propvol uitdagende skeppings.

Kinderpret met woorde
16:00 – 17:00 | Arbeidsterapielokaal

Moontlik gemaak deur The Book Traders & Lanése Knipe Arbeidsterapie

Skeppende uitdagings vir kinders met speelaktiwiteite, voorlees van gedigte en selfs bou van eie gedigte.

Filmverse 2
16:00 – 23:00 | Konferensiesaal

Moontlik gemaak deur die ATKV
Artistieke regisseur: Diek Grobler
Vir die ATKV: Nita Cronjé

Die ATKV se tweede suksesvolle en gewilde digkuns-animasieprojek, Filmverse 2, bestaan uit twaalf gedigte wat gebruik word vir hierdie opwindende visuele bloemlesing. Uitdagende gedigte van ’n jonger geslag digters is ingesluit (waaronder dié van Nathan Trantraal, Andries Bezuidenhout en Ronelda Kamfer) asook gedigte van ouer digters (soos Elisabeth Eybers, DJ Opperman, Boerneef en TT Cloete). Die werk van Joan Hambidge, Johann de Lange, Jeanne Goosen, Marlise Joubert en Heilna du Plooy is ook deel van Filmverse 2 – ’n veeltalige projek wat Afrikaans, Engels, Zoeloe en Sesotho insluit.

Klankskeppers
17:00 – 18:00 | Akkoordtent

Talentvolle musikante en woordkunstenaars van Wellington en omgewing wys hul slag, sorg dat die week se sorge verdwyn en stel die koppe reg in vir ’n naweek propvol nuwe en uitdagende ervarings.

‘Uitdagend skeppend’ – opening van groepuitstalling
18:00 – 18:45 | Breytenbach Galery

Aangebied deur die Breytenbach Galery
Opening van ’n 20 X 20-groepuitstalling

Ter viering van die Breytenbach Sentrum se 10-jarige bestaan, span ’n groep van meer as 40 kunstenaars saam om die frase “uitdagend skeppend” te vergestalt en te verbeeld.

Wilma Stockenström gehuldig
19:00 – 20:00 | Akkoordtent

Huldiging: Ronel de Goede

Met: Margot Luyt, Laurinda Hofmeyr, Schalk Joubert

PEN Afrikaans se bestuur het eenparig besluit om Wilma Stockenström aan te wys as die digter wat vanjaar by die Tuin van Digters gehuldig word. Haar invloedryke, merkwaardige bydrae tot die Afrikaanse poësie kan kwalik oorskat word. Stockenström, ’n Hertzogprys-wenner, se oeuvre omvat agt bundels waarin daar met ʼn ondersoekende blik gekyk word na die mens en dié se plek in die heelal. Haar aangrypende verse lewer bewys van ʼn ruimheid van intellek, gees en emosie. Met voordrag deur Margot Luyt en sang deur Laurinda Hofmeyr van getoonsette gedigte van Wilma Stockenström.

’n Plek van uitdagende skepping
20:00 – 21:00 | Akkoordtent

Met: Daniel Hugo, Cloete Breytenbach, Laurinda Hofmeyr, Schalk Joubert

Die Breytenbach Sentrum is vanjaar tien jaar oud en het gegroei tot ’n plek waar dit veral gaan om uitdagende skepping. Die digter en vertaler Daniel Hugo praat oor die toe en die nou van die sentrum en die uitdagings wat wag. Die fotograaf Cloete Breytenbach stel ’n DVD bekend oor die sentrum se geskiedenis, projekte en bedrywighede.

Skop oop die koppe
21:00 – 22:00 | Akkoordtent

Met: Sjaka Septembir, Gertjie Besselsen en Isabelle Grobler

SKOP – Kyk, luister en ervaar bedwelmende beeldspraak – saamgeflans met bekgeveg-digkuns, kletskomedie en fisieke teater. Die gatskoppers is: Sjaka Septembir, wat al beskryf is as die ‘hoerkind van die Afrikaanse letterkunde’ en ook as ‘literêre terroris’; Gertjie Besselsen van Mr. Cat and the Jackal-faam – ’n gesoute musikant wat al lank sy talente saamweef met teaterproduksies; en Isabelle Grobler, ’n internasionaal bekende installasie- en opvoerkunstenaar wat ook ’n opgeleide hanswors is.

 

Saterdag 16 September

Tuinvrede
08:00 tot laat | Tuin van Digters

Klanke, beelde en woorde in ’n tuin vol gedigte nooi jou uit om tot ruste te kom en voor te berei vir ’n ervaring propvol uitdagende skeppings.

10 jaar in beeld
08:00 – 23:00 | Bôrdienghuis

Vervaardig deur Cloete Breytenbach

Kom ervaar die fotograaf Cloete Breytenbach se DVD ter viering van die Breytenbach Sentrum se 10de bestaansjaar.

Filmverse 2
08:00 – 23:00 | Konferensiesaal

Moontlik gemaak deur die ATKV
Artistieke regisseur: Diek Grobler; Vir die ATKV: Nita Cronjé

Die ATKV se tweede digkuns-animasieprojek, Filmverse 2, bestaan uit ’n visuele bloemlesing van twaalf gedigte. Met uitdagende gedigte van ’n jonger geslag digters (waaronder Nathan Trantraal, Andries Bezuidenhout en Ronelda Kamfer) asook ouer digters (soos Elisabeth Eybers, DJ Opperman, Boerneef en TT Cloete). Filmverse 2 is ’n veeltalige projek wat Afrikaans, Engels, Zoeloe en Sesotho insluit.

Verse, gedigte en rympies vir kinders
09:00 – 10:00 | The Book Traders

Voorlesings vir, en deur, kinders uit boeke met gedigte, verse en rympies vir die jongklomp – en die oueres wat wil weet waarvan die kinders hou.

As jy self ’n gedig geskryf het, is dit die regte plek om dit te kom voorlees!

Projek piemp
09:30 – 10:00 | Akkoordtent

’n Groep leerders van Weltevrede Sekondêr in Wellington is geruime tyd reeds onder leiding van Therese Hulme deel van die Piemp-projek – ’n inisiatief van die Breytenbach Sentrum wat poësie onder jongmense bevorder. Die groep het onlangs hul debuut op ’n splinternuwe CD gemaak. Opnames vir die CD het plaasgevind onder leiding van Hunter Kennedy en Pierre Greeff van Die Heuwels Fantasties, sowel as HemelBesem en ander musikante. Kom luister na wat hulle alles doen en beplan.

Gesoek: skrywers in Afrikaans
10:00 – 11:00 | Woordtent

Johan van Lill praat met Rachelle Greeff en ’n paar van haar skryfstudente oor die aard en rol van die Breytenbach Sentrum se skryfskool en die identifisering en ontwikkeling van Afrikaanse prosa- en toneelteksskrywers.

Nuwe stemme 6
11:00 – 12:00 | Akkoordtent

Aangebied deur NB Uitgewers

Nuwe Stemme 6, die sesde bundel in die gewilde Nuwe Stemme-reeks wat publikasiegeleenthede skep vir jong digters, word bekendgestel. Die beoordelaars en samestellers, Charl-Pierre Naudé en Bibi Slippers, praat oor die proses wat gevolg is om vanjaar se bundel saam te stel. Van die digters wie se gedigte in die bundel opgeneem is, insluitende Angie Gallagher, Annami Mailovich, Anton Dockel, Churchill Naude, Elmarie Viljoen-Massyn, Elna van Niekerk, Elodie Troskie, Franco Collin, Ingrid Hannelie Penzhorn, Marcel Spaumer, Remona Voges Ryan Pedro en Trudi Coetzee, lees van hulle gedigte voor.

Boekbekendstelling – Die bergengel
12:00 – 13:00 | Breytenbach Galery

Jonathan Amid gesels met die digter, skrywer en kunstenaar Carina Stander oor haar nuwe boek, Die Bergengel. Met ’n uitstalling van kunswerke wat sy spesiaal vir die bekendstelling van die boek geskep het.

Diana Ferrus en die Mengelmoesdigters
12:00 – 12:30 | Woordtent

Ondersteun deur die ATKV en die LW Hiemstra Trust

Die digter Diana Ferrus bied al sedert 2012 jaarliks ’n poësie-skryfskool by die Breytenbach Sentrum, wat gelei het tot die stigting van die Mengelmoesdigters. Dié groep tree gereeld by literêre feeste op en bestaan uit 10 lede: Fiona Fertyn, Adriaan Williams, Ruth Robertson, Gaireyah Fredericks, Merle Danhouse, Sophia Oliphant, Jacqualine Saaiman, Nazlee Jeppie, Cecil Carrolisen en Diana Ferrus. Hulle skryf uitdagend oor die alledaagse mens in drie tale – Afrikaans, Engels en Kaaps. Hul werk vind ook weerklank in foto’s, grafiese kuns, drama, poppekas en woordkunsproduksies. Vyf van hulle het al debuutbundels, of in versamelbundels, gepubliseer. Kom kry ’n nuwe blik op die alledaagse lewe – vasgevang in woorde met hart en siel.

‘Oop mikrofoon’
12:30 – 13:00 | Woordtent

Die Mengelmoesdigters daag alle skeppende siele uit om hulle woorde op die verhoog te kom deel. Kom betower die gehoor met jou gedagtes en woorde met mening. Jy kan dalk net sélf ’n Mengelmoesdigter word…

Alta sing folk-Afrikaans
13:00 – 14:00 | Akkoordtent

Kom luister na Alta van Zyl se Afrikaanse folkmusiek saam met haar ongelooflike talentvolle orkes. Sy sing nou weer vir grootmense na sy besluit het om vir eers die kindermusiek Lollos te los!

Tafelgesprek: Hoe het Breyten generasies ná hom beϊnvloed?
14:30 – 15:00 |Woordtent

Aangebied deur PEN Afrikaans

Hoe het Breyten Breytenbach die generasies ná hom beïnvloed? Danie Marais gesels op Breyten se verjaardag met ’n kenner van sy werk, Louise

Viljoen, en drie gerekende digters uit drie verskillende generasies: Bibi Slippers, Andries Bezuidenhout en Gilbert Gibson. Kom neem deel en moenie huiwer om die deelnemers se standpunte uit te daag nie!

Debuutbundels wat uitdaag
15:30 – 16:30 | Akkoordtent

Aangebied deur NB Uitgewers

Charl-Pierre Naudé gesels met twee opwindende debuutdigters oor hulle besondere digbundels wat oral hoog aangeskryf word. Die twee digters, Corné Coetzee (Nou, hier) en Jolyn Philips (Radbraak) lees ook gedigte voor.

Afrikaans in Europa
16:30 – 17:30 | Woordtent

Die digter en vertaler Daniel Hugo praat met Yves T'Sjoen van Universiteit Gent en Universiteit Stellenbosch. Hy is ook bestuurslid van het Gents Centrum voor het Afrikaans en de Studie van Zuid-Afrika (UGent), van wie Breyten Breytenbach ’n eredoktorsgraad ontvang het. Daar is onlangs ook ’n leerstoel in Afrikaans ingestel met Hein Willemse as die eerste bekleër daarvan.

Tribal Echo salueer Adam Small
17:30 – 18:30 | Akkoordtent

Met Frazer Barry (hoofsanger), Earl Witbooi (baskitaar) en Deniel Barry (tromme)

Tribal Echo salueer Adam Small: Nuwe toonsettings van Small se gedigte. Die klank van die stam wat in jou oorkanale eggo. Afrikaans het nog nooit so vars geklink nie!

Fotostaatmasjien
18:30 – 19:30 | Woordtent

Met: Willemien& en Jude Harpstar

Andries Bezuidenhout gesels met Bibi Slippers oor haar veelbekroonde digbundel, Fotostaatmasjien, waarvoor sy al verskeie pryse gewen het. Willemien& en Jude Harpstar voer toonsettings van die gedigte uit.

Toekenning van die Ingrid Jonker-prys
19:30 – 20:30 |Akkoordtent

Aanbieders: Ronel de Goede en Danie Marais

Die Ingrid Jonker-prys word jaarliks beurtelings aan ʼn Afrikaanse of ’n Engelse debuutdigbundel toegeken die twee tale waarin Ingrid Jonker geskryf het. Op die kortlys vir vanjaar se Ingrid Jonker-prys verskyn Hendrik J Botha se Atropos, Bibi Slippers se Fotostaatmasjien en Hilda Smits se Die bome reusagtig soos ons was. Kom luister na voorlesings van die digters op die kortlys se gedigte sowel as na sang van Ingrid Jonker en ander digters se se getoonsette gedigte.

Riku Lätti en die Wasgoedlyn
20:30 tot laat | Akkoordtent

Met: Riku Lätti, Jackie Lätti, Laurinda Hofmeyr, Jolyn Philips, Bacchus Nel, Frazer Barry, Churchil Naude, Mark Ellis, Jean Marais en ander

Die Wasgoedlyn se digtersangers van die nag. En ’n paar verrassings!

Olieverfskildery van die Breytenbach Sentrum deur Andries Bezuidenhout

 

‘Uitdagend skeppend’

Die tema van die Tuin van Digters 2017 is ‘Uitdagend skeppend’. Dit dui op voortdurende beweging – in uitdaag en in skep. Dit is ook die sentrum, wat vanjaar sy 10de verjaardag vier, se tema vir 2017 en vorentoe. Dit het sy oorsprong in die woorde van Breyten Breytenbach op 26 Februarie 2007 met die opening van die Breytenbach Sentrum:

Hier word plegtig afgespreek dat dit gaan om die sluiting van vennootskappe op absoluut deursigtige en gelyke grond – waar iedereen haar of sy bydrae sal kan lewer, uit hoofde van vaardigheid of vermoë of potensiaal. Maar veral gaan dit om uitdagende skepping, ’n ware transformasieproses. Want hierdie is nie ’n plek van opgee of afgee of weggee nie; dit gaan oor aangee. Nie om verdeel of opdeel nie, maar om deelname en deelwórd.

 

Groepuitstalling wat uitdaag

uitdagend, bereidwilligheid te kenne te gee om met iemand mee te ding
skeppend
, -e, makend, vormend; -arbeid

Ter viering van die Breytenbach Sentrum se 10-jarige bestaan, span ’n groep van meer as 40 kunstenaars saam om die frase “uitdagend skeppend” te vergestalt en te verbeeld. Nie net dien dit nog altyd as inspirasie vir die galery nie, maar dit het ook die galery se strewe geword om tydens elke uitstalling lyf en asem te gee aan hierdie woorde. Manie Rust se woord – uitnemendheid (uitstekend, voortreflik; par excellance) – dien ook as inspirasie vir elke uitstalling. Die deelnemende kunstenaars sluit in Strijdom van der Merwe, Andries Bezuidenhout, Ingrid Winterbach, Sharlé Matthews, Weyers du Toit, Carina Stander, Nanette Ranger, Theresa Jo, Selwyn Pikeur, Susan Bloemhof, Theresa Collins, Marinda du Toit, JP Meyer, André du Toit, Juhlene Moller, Frans Mulder, Jacques Dohnt, Susan Smuts, Tina Nel, Bibi Slippers, Cathy Brennon, Lawrence Brennon, Hilda Kruger, Judy Woodborne, Riaan van Breda, Hardy Botha, Evette Weyers, Jennifer de Charmoy, Bastiaan van Stenis, Katie du Toit Barnard, Ronel Human, Gerhard Human, Alexander Laurean, Eben van der Merwe, Michelle Davidson, Michelle Nigrini, Willem Pretorius en Marinda du Toit.

 

PEN Afrikaans se jaarvergadering

PEN Afrikaans, wat hom onder meer beywer vir die bevordering van Afrikaanse woordkuns en die letterkunde in die algemeen, sowel as vir uitdrukkingsvryheid en taalregte, se jaarvergadering vind op 16 September om 12:30 by die Tuin van Digters plaas. PEN Afrikaans is deur sy lidmaatskap van PEN International die verteenwoordiger van sy lede en die Afrikaanse skrywersgemeenskap in ’n internasionale verband. Lede van PEN Afrikaans wie se ledegeld opbetaal is, kan die Tuin van Digters vanjaar gratis bywoon. Vir vereistes vir lidmaatskap vir PEN Afrikaans, besoek www.litnet.co.za/pen-afrikaans-aansoekvorm/.

 

Wat jy moet weet

Daar is twee ingange tot die Tuin van Digters: In Burgerstraat langs die hoofgebou by die hek na die tuin en by die parkeerterrein regs agter die sentrum deur die groot hek.

Alle vertonings, behalwe as dit anders aangedui word, sal in die Woordtent en die Akkoordtent agter die hoofgebou aangebied word.

Digters se bundels sal te koop wees sowel as ander nuwe en ook tweedehandse boeke.

Verversings sal in die Bôrdienghuis Teater te koop wees.

Besoek ook die Kardoes-winkel langs die Breytenbach Galery vir kunsgeskenke.

 

Kinders

Daar is weer ’n interaktiewe oppaslokaal vir kleiner kinders in die Breytenbach Sentrum. Hulle gaan op allerlei skeppende maniere besig gehou word. Dit sluit in voorlesings van gedigte en stories, flieks, skeppende speelprojekte en allerlei ander aktiwiteite.

 

Wellington toerisme

Skakel met die Wellington Toerisme-kantoor by info@wellington.co.za om jou te help met jou verblyfbesprekings en om ander inligting oor Wellington en die omgewing te kry.

 

Verdere navrae

Breytenbach Sentrum, Burgerstraat 14, Wellington. Kontak ons by 021 873 2786 of per e-pos by info@breytenbachsentrum.co.za.

 

Kaartjiepryse

Tweedagpakket: R250 per persoon (Sluit alle aanbiedings in) Toegang vir Vrydag 15 September: R100 per persoon (sluit alle aanbiedings op die program in vir 15 September)

Toegang vir Saterdag 16 September: R200 per persoon (sluit alle aanbiedings op die program in vir 16 September)

Studente-afslag: R60 per persoon per dag (met geldige studentekaart)

Opbetaalde lede van PEN Afrikaans: Gratis toegang

 

Besprekings en navrae

Jeanne-Mari Gerber 021 873 2786 / 073 435 1022 besprekings@breytenbachsentrum.co.za

H/v Burger- en Malherbestraat, Wellington

 

Borge

Die Dagbreek Trust, ATKV, LW Hiemstra Trust, Wes-Kaapse Departement van Sport en Kultuursake, NLDTF (Nasionale Lotery), Naspers, Het Jan Marais Nationale Fonds, Rupert-musiekstigting, Drakenstein Munisipaliteit

 

Vennote

NB Uitgewers, PEN Afrikaans, US Departement Afrikaans en Nederlands, Wellington Toerisme, Print, Lanése Knipe Arbeidsterapie

 

Verblyfborg

Dankie aan Cummings Gastehuis. Kontak hulle gerus by 021 873 3474 of stuur ’n e-pos na mattievisser@wellington.accommodation.com en kom kuier sommer die hele naweek saam met ons.

Die program is onderhewig aan verandering.

Volg Breytenbachsentrum op Facebook en @breytenbachsent op Twitter en hou ons splinternuwe webwerf, www.breytenbachsentrum.co.za, dop vir die nuutste inligting oor die Tuin van Digters 2017.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top