
...
Met dit alles gesê, kan baie Suid-Afrikaners kwaad voel vir president Trump en sy uitsprake oor Suid-Afrika as gasheer van die G20, maar dit sou verkeerd wees om nie die werklikhede in die oë te kyk nie.
...
Trump se harde opmerkings oor Suid-Afrika is dalk onwelkom, maar dit hou ons ’n ongemaklike waarheid voor: Die land se wêreldposisie is nie meer wat dit was nie.
Daar is min Afrikaanssprekendes – veral Afrikaners – wat nie kant kies as dit by Trump en sy dinge kom nie. Aan die een kant is daar ’n duidelik uitgesproke groep Trump-haters wat eenvoudig niks goed in sy optrede kan sien nie. Vir hulle is hy ’n verdelende figuur wat nie alleen die VSA in rasse en klasse verdeel nie, maar ook ’n negatiewe, verdelende invloed op Suid-Afrika en op kohesie onder Suid-Afrikaners het. Aan die ander kant is daar ’n duidelik uitgesproke groep wat hulle met Trump en sy beleidsrigtings vereenselwig en in hom iemand sien wat die ANC-regering tot orde kan roep vir hulle swak regering, korrupsie en diskriminerende raswette. Tussen hierdie groepe is daar skynbaar min mense wat neutraal oor die Amerikaanse president voel.
Wat ’n mens nie kan ontken nie, is dat president Trump ’n nuusmaker is. Hy plaas nie ’n wag voor sy mond nie, is nie diplomaties nie, en hy maak omtrent elke dag nuus. Sy jongste uitsprake aangaande Suid-Afrika se lidmaatskap van die G20 en dat hy nie die beraad gaan bywoon nie, het bogenoemde verdelings weer opnuut onderstreep. Hy het immers, sonder omhaal van woorde, gesê dat Suid-Afrika nie onder die G20-geledere hoort nie en dat hy nie hou van wat in Suid-Afrika gebeur nie. Die G20 is uiteraard ’n belangrike internasionale forum met 19 state – Argentinië, Australië, Brasilië, Kanada, China, Frankryk, Duitsland, Indië, Indonesië, Italië, Japan, Mexiko, Rusland, Saoedi-Arabië, Suid-Afrika, Suid-Korea, Turkye, die Verenigde Koninkryk en die Verenigde State van Amerika – asook die Europese Unie en die Afrika-unie as lede. Van al die lede het Suid-Afrika die kleinste ekonomie.
Op die sosiale media – ’n goeie barometer om standpunte te ontleed – het mense hulle veral van twee kante sterk uitgespreek. Aan die een kant is daar diegene wat hom onmiddellik sterk veroordeel vir sy negatiewe houding jeens Suid-Afrika en niks goed kan sê oor die land nie. ’n Ouddiplomaat van Dirco het op Facebook ook vinnig van hom laat hoor: “Die MAGA-leier se aanval op SA is onbeheersd, ondiplomaties, ongefundeerd, skandelik!” Aan die ander kant is daar mense wat hulle daarin verlekker het, aangesien hy volgens hulle inderwaarheid die ANC se wanbestuur en omgekeerde rassisme in Suid-Afrika aan die kaak gestel het.
Die vraag bly egter staan: Verdien Suid-Afrika sy lidmaatskap van die G20? Om die vraag te beantwoord, wil ek terugloop na die post-’94- politieke gebeure in Suid-Afrika en daarna ’n paar argumente op die tafel plaas.
Waar Nelson Mandela in Afrika-verband en globaal ’n wêreldfiguur was, het Thabo Mbeki sedertdien na vore getree as die vaandeldraer van die visie van ’n Afrika-Renaissance – ’n vernuwing van Afrika – terwyl hy ook ’n sleutelrol gespeel het in die daarstelling van Nepad as raamwerk vir die vasteland se makro-ekonomiese ontwikkeling. Kortom, Suid-Afrika het spreekwoordelik ver bo sy gewigsklas geboks en is internasionaal beskou as die leidende moondheid op die vasteland van Afrika. Eweso kon Suid-Afrika sy reputasie gestand doen deur ’n professionele Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) as buitelandsebeleidsinstrument aan te wend in pogings om as leidende vredemaker in konflikte op die vasteland op te tree. Voorts het dit ook goed gegaan met die land se ekonomiese groeikoers. Onder Mbeki het ekonomiese groei ’n hoogtepunt van 5% bereik.
Die ANC as leidende politieke party kon egter nie die momentum volhou nie, en uiteindelik het Suid-Afrika se internasionale aansien begin taan. Verskeie akademici het volgehou dat Suid-Afrika steeds ’n leidende internasionale moondheid is, maar in 2018 is ’n belangrike boek deur die hoog aangeskrewe Londense International Institute for Strategic Studies (IISS) gepubliseer. Die skrywer van die publikasie was James Hamill, ’n akademikus van die Universiteit van Leicester. Die titel van die boek was betekenisvol: Africa’s lost leader: South Africa’s continental role since apartheid.
Hamill se kernargument was dat Suid-Afrika sedert 1994 wye internasionale aansien geniet het. ’n Groot deel van die internasionale gemeenskap het Suid-Afrika beskou as ’n opkomende middelmoondheid wat as waardige vaandeldraer kon optree vir pogings in Afrika om konflikbeslegting, ekonomiese ontwikkeling, demokrasie en menseregte uit te bou. Hamill het egter ook aangevoer dat negatiewe interne politieke dinamika in Suid-Afrika die land toenemend begin terughou het om aan die verwagtinge te voldoen. Dit was veral Suid-Afrika se knellende sosio-ekonomiese situasie en sy onvermoë om die SANW as buitelandsebeleidsinstrument te finansier wat krake in die land se internasionale aansien veroorsaak het. Daarmee het Hamill die konvensionele wysheid bevraagteken dat Suid-Afrika die onbetwiste leidende moondheid in Afrika is wat die kontinent se toekoms rigtinggewend bepaal.
Sewe jaar sedert die publikasie van Hamill se boek is dit glashelder dat Suid-Afrika se internasionale aansien sedert die Zuma-dae etlike treë agteruit gegee het. In hierdie verband wil ek kortliks wys op ses faktore wat Suid-Afrika laat kleitrap sover dit sy aansien en profiel internasionaal betref.
Eerstens is Suid-Afrika – danksy ’n sterk sakesektor – steeds die grootste en mees gesofistikeerde ekonomie in Afrika. Ekonomiese groei is egter uiters traag. Hamill wys tereg met sy navorsing daarop dat Suid-Afrika een van die ongelykste samelewings ter wêreld is. Hy wys verder daarop dat Suid-Afrika se ekonomiese groei 2,5% in 2013 was, 1,7% in 2014 en 1,3% in 2015. Tans bly die land se ekonomiese groei onder 1%, wat beteken dat Suid-Afrika jaar na jaar verarm.
Terwyl Brics-lidstate in 2024 ekonomies gegroei het – byvoorbeeld Brasilië met 3,4% en Indië met meer as 6% – kry Suid-Afrika dit eenvoudig nie reg om met meer as 1% te groei nie. Die fiskale posisie van die land is benard en die skuldlas hemelhoog. Werkloosheid bly ewe kommerwekkend, en daar is min twyfel dat miljoene Suid-Afrikaners baie gefrustreerd is met hulle sosio-ekonomiese vooruitsigte.
Tweedens: Die gevolge van gebrekkige ekonomiese groei het meegebring dat Suid-Afrika die SANW finansieel verwaarloos het, met uiters negatiewe gevolge vir sy rol as buitelandsebeleidsinstrument. Reeds in 2013, tydens die sogenaamde Battle of Bangui in die Sentraal-Afrikaanse Republiek, het die SANW in ’n vernederende posisie beland, met lewensverlies ná gevegte teen ’n oormag Séléka-rebelle. Onlangs het M23-rebelle in die oostelike DRK die SANW weer verneder, met 14 Suid-Afrikaanse soldate wat hulle lewens verloor het en talle wat ernstig gewond is. Boonop was SANW-lede in Goma in die DRK vir alle praktiese doeleindes vir ’n tyd lank krygsgevangenes.
Ook in Mosambiek kon die SANW nie, soos twee dekades gelede met die multinasionale ontplooiings in die streek, sy gesag as onbetwiste streekleier laat geld nie. Uiteindelik moes die SANW en ander Suider-Afrikaanse magte onttrek sonder dat die probleem van bloeddorstige radikale Moslem-insurgente opgelos is. Die gevolg is dat die konflik in die noorde van Mosambiek ’n permanente veiligheidsbedreiging geword het.
En nou is die verskrikking van ’n menslike tragedie in Soedan weer in die nuus. Op RSG is aan ’n kommentator gevra waarom Suid-Afrika nie optree nie, en die antwoord was eenvoudig dat die SANW nog sy wonde lek ná die operasies in die DRK en Mosambiek. Kortom, Suid-Afrika beskik nie meer oor ’n SANW wat as politieke instrument kan dien om diplomatieke vredespogings te rugsteun nie. Trouens, reeds tydens die Zuma-bewind is die SANW sonder verduideliking uit Soedan onttrek – na alle waarskynlikheid omdat fondse vir ontplooiing opgedroog het.
Derdens het die onlangse beraad van die G20 se ministers van buitelandse sake iets blootgelê van die probleme waarmee Suid-Afrika worstel en wat sy aansien negatief beïnvloed. Reg of verkeerd: Die VSA se besluit om nie aan die beraad deel te neem nie, het Suid-Afrika se beeld ernstig geknou. Dit het ook duidelik geword dat Cyril Ramaphosa baie bekommerd was en is oor die komende G20-beraad in Johannesburg – veral oor die infrastruktuurverval in die stad, asook die miljoene mense wat in armoede, werkloosheid en informele nedersettings vasgevang is. Dit alles is immers tekens van ’n ekonomie wat nie groei nie en van gebrekkige regering.
Vierdens: Suid-Afrika se diplomatieke verhoudinge is nie op die professionele vlak wat dit behoort te wees nie. In ’n reaksie op ’n navraag van Maroela Media ’n tyd gelede het ‘n kollega van my van Unisa, Jo-Ansie van Wyk, tereg opgemerk dat die Suid-Afrikaanse regering – en Dirco – hom lelik misreken het met Donald Trump se terugkeer na die Withuis. Sy het tereg aangevoer dat ons diplomatieke korps ’n klaarblyklike onvermoë getoon het om in voeling te bly met die situasie in die VSA en die regering dienooreenkomstig te adviseer. Daarby het Ramaphosa self ’n groot fout begaan deur Ebrahim Rasool as ambassadeur aan te stel.
Hierdie knelpunte is nie beperk tot die VSA nie. Op goeie gesag verneem ek dat Suid-Afrikaanse diplomate in die buiteland dikwels ongelukkig is oor die omstandighede waarin hulle moet werk – selfs ten opsigte van behuising. Europese diplomate in Suid-Afrika is op hulle beurt ongelukkig dat hulle nie altyd die nodige toegang tot Dirco-funksionarisse kry nie, en dat geskeduleerde vergaderings dikwels nie plaasvind nie.
Vyfdens het korrupsie en swak regering Suid-Afrika se internasionale beeld groot skade berokken. Die Zondo-verslag het verrotting binne die ANC-regering blootgelê en die party van morele hoë grond ontneem. Dit het meegebring dat die politieke momentum wat die ANC onder Mandela opgebou het, stoom verloor het. In onlangse maande het korrupsie binne die veiligheidsmagte na die oppervlak geborrel. As ’n mens kyk na die polisiediens, is dit nie vergesog om dit as ’n nes van korrupsie en interne konflik te beskryf nie. Intussen bly die probleme op die Kaapse Vlakte hoogs problematies, en politici pleit opnuut dat die (verswakte) SANW ontplooi word, terwyl menselewens voortdurend in bendegeweld verlore gaan.
Laastens: Die ANC hou steeds styf beheer oor buitelandse beleid en het sedert 2024 RNE-vennote uitgesluit van strategiese besluitneming oor buitelandse verhoudinge. Die gevolg is dat Suid-Afrika se bande met veral die VSA – ons tweede belangrikste handelsvennoot – groot skade gely het. Dit is ou nuus dat Suid-Afrika se noue bande met China, Rusland en veral Iran en sy proksiemagte, Hamas en Hezbollah, die VSA lank reeds frustreer. Die Biden-administrasie se destydse ambassadeur in Suid-Afrika, Reuben E Brigety II, het uiters swak behandeling van die ANC en sy alliansievennote ontvang, en toe reeds was dit duidelik dat sake nie goed verloop met die wêreld se grootste ekonomie nie.
Die gevolg is dat daar leemtes in die bestuur van ons buitelandse verhoudinge ontstaan het wat die deur oopgelaat het vir rolspelers soos die DA, die Solidariteit Beweging / AfriForum en politici onder leiding van Corné Mulder om met Amerikaanse rolspelers in gesprek te tree. Met ander woorde, paradiplomasie het as verskynsel na vore gekom in die Suid-Afrikaanse diplomatieke landskap. In plaas daarvan om kwaad te word vir rolspelers wat op paradiplomatieke vlak leemtes vul en die Solidariteit Beweging / AfriForum van hoogverraad te laat ondersoek, sal dit beter wees om ons diplomatieke professionaliteit te herstel en ons diplomatieke korps tot ’n hoër vlak te verhef.
Dit is vandag duidelik dat Suid-Afrika se internasionale aansien – veral sedert die Zuma-bewind – groot skade gely het. Eweso is dit duidelik dat Suid-Afrika nie meer die statuur het van twee of drie dekades gelede toe eers Mandela en daarna Mbeki wêreldwyd sonder voorbehoud in die hoogste diplomatieke kringe ontvang is nie. Ebrahim Rasool se uitsetting uit die VSA vroeër vanjaar het bloot onderstreep dat Suid-Afrika ’n kantelpunt in sy buitelandse verhoudinge bereik het.
’n Punt wat ek hier wil toevoeg, is dat Suid-Afrika sy belange tussen die VSA aan die een kant en sy Brics-vennote – veral China en Rusland – aan die ander kant beter sal moet balanseer. Dit sal diplomatieke vernuf verg, maar is haalbaar. Indië, wat ook ’n Brics-lidstaat is, word oor die algemeen beskou as ’n land wat sy belange tussen die ontwikkelde Weste en sy Brics-vennote goed balanseer, gelei deur ’n beleid van strategiese outonomie of “multibelyning”. Hierdie benadering stel Indië in staat om sy nasionale belange na te streef en met verskeie moondhede saam te werk sonder om hom styf met enige enkele blok te vereenselwig, hoewel dit voortdurend uitdagings vir die Indiese regering inhou. Indië is egter ’n goeie voorbeeld om uit ’n diplomatieke oogpunt te bestudeer.
Waar laat dit die G20 en Trump se jongste opmerkings oor Suid-Afrika?
Suid-Afrika kan hom gelukkig ag om steeds ’n lid van die G20 as ‘n uitgelese groep te wees. As Nigerië beter gevaar het, het Suid-Afrika dalk tweede viool gespeel as leier in Afrika. In sy boek verwys James Hamill tereg na Nigerië as Afrika se “kreupel reus”. Nigerië – tans Sub-Sahara-Afrika se tweede grootste ekonomie – sukkel reeds lank om sy volle potensiaal te bereik as gevolg van lae standaarde van regering en aanhoudende konflikte in die suidelike Niger-delta en die noordooste waar Boko Haram nog beheer uitoefen. Dit staan as struikelblokke in Nigerië se strewe om op die hoogste internasionale vlak sy stem te laat hoor.
Hierdie situasie laat ook die deur wawyd oop vir Suid-Afrika om op diplomatieke vlak die belangrikste rolspeler in Sub-Sahara-Afrika te bly, en om op die momentum van sy verlede ’n G20-lidstaat te wees. Indien Nigerië polities en ekonomies beter presteer het, kon dit anders gewees het. Egipte is natuurlik ook in die prentjie, maar Egipte is eweveel ’n Afrikastaat as deel van die Midde-Oosterse, Arabiese landskap, en word nie altyd deur alle Afrika-rolspelers as verteenwoordigend van Afrika aanvaar nie.
Met dit alles gesê, kan baie Suid-Afrikaners kwaad voel vir president Trump en sy uitsprake oor Suid-Afrika as gasheer van die G20, maar dit sou verkeerd wees om nie die werklikhede in die oë te kyk nie. Suid-Afrika het baie van sy post-’94- diplomatieke glans op die internasionale verhoog verloor en vertoon vandag veel dowwer as tevore. Die probleme gaan nie sommer verdamp nie, en ’n volgende Amerikaanse president gaan Suid-Afrika nie spesiale behandeling gee nie. Die Amerikaanse sentiment het reeds onder die Biden-administrasie gedraai, en die Trump-administrasie het sekere politieke werklikhede bloot op ’n ondiplomatiese wyse onder Suid-Afrika en die ANC se neus gevryf.
Ten slotte wil ek aanvoer dat Suid-Afrika steeds ’n leidende staat in Afrika is en dit waarskynlik sal bly, maar ons moet meer realisties wees oor ons globale reputasie. Ons is geen spesiale geval meer soos onder Mandela en Mbeki nie. Soos André de Ruyter nou tereg opgemerk het, moet ons besef dat Suid-Afrika in die groter prentjie ekonomies gesproke ’n baie klein rolspeler is. Dit het tyd geword dat ons regeerders – en Suid-Afrikaners wat steeds in die euforie van die verlede vasgevang is – dit begin insien, asook dat daar baie werk binnelands en buitelands gedoen sal moet word indien Suid-Afrika in internasionale diplomatieke forums vorentoe respek wil afdwing.


Kommentaar
Goeie, gebalanseerde artikel!