Tronkhond deur China Mouton: ’n resensie

  • 0

Tronkhond
China Mouton
Uitgewer: Protea
ISBN  9781485310853

China Mouton vertel baie onderhoudend in Tronkhond van sy loopbaan as hondemeester in die departement van korrektiewe dienste. Hy en sy honde het nagenoeg 35 jaar sekuriteit hanteer in maksimumgevangenisse oor die land heen. Soos op Robbeneiland, Goedemoed naby Aliwal-Noord, Pollsmoor, Upington en Worcester. Die honde het geheet: Storm, Carlos, Wolfie, Smokie, Tekkies, Jockey, Dirkie, Quin, Brutus, Stormer en Choppie. Later word hy opgelei as berede lid en word perde soos Trompie en Tango ook deel van sy lewe. Dis met hulle dat hy oor naweke die vreedsame Karoo inry om berusting vir sy siel te vind.

Jy kry te doen met die agteruitgang van sy huwelik met Danieta en die spanning van sy beroep. Hy is ook ’n asmalyer. Sy humorsin en sy liefde vir diere en die natuur onderskraag hom. Ook die begrip van kollegas.

’n Groot verskeidenheid gebeurtenisse word gedramatiseer: misdaad binne ’n gevangenis soos moord, bendegeweld en ontsnappings; ook ontroerende voorvalle binne sy familie- en vriendekring. Waar nodig gebruik hy ruwe taaluitdrukkings, gevangenes se soort woorde en sekere uitdrukkings wat ek onthou uit my dienspligmaande van lank gelede.

’n Voorbeeld van gewelddadigheid binne die tronk kom op bl 65 voor: "Dit was nie lank nie, toe val die eerste bloed in C-seksie. Bloed moes weer opgetel word, met ander woorde daar moes altyd wraak geneem word en wraak in die bendewêreld is ’n bodemlose put." Op Kersdag 1986 breek ’n phakama uit. Dit is die woord vir ’n groot bendegeveg. Groepies gevangenes veg met bekers, bakke, slotte. "Sommige lê alreeds bebloed oral in die binneplaas rond." ’n Gevangene lê met sy gesig na onder op ’n drein. "Sy kopvel is na agter gevou soos ’n stuk lap. Ek kan hoor hoe die bloed in die drein aftap."

Daar is tonele waarin die personeel se lewens ook bedreig word. Mouton bou ’n toneel op. Jy as leser het sekere verwagtinge. Maar dan kom daar ’n wending; die hoogtepunt of slot is verrassend en – baie belangrik – heeltemal oortuigend. Foto’s verhelder ook die inhoud.

Ek lig verdere uitsonderlike tonele uit. Hy is bitterlik jonk toe hy, ná sy opleiding as bewaarder op Kroonstad, op Robbeneiland begin werk. Hy stel baie belang in boks. Teen die reëls in begin hy en ’n "sogenaamde terroris" Ramotse teen mekaar boks.

Later ontdek hy nog ’n goeie bokser. "In die enkelselle se binneplaas is ’n gevangene besig om kombinasies op ’n slaansak te oefen. Dis ’n groot ou met breë skouers. Aan sy kombinasies en voetwerk kan ek sien hy kán boks. Ten spyte van sy grootte beweeg hy soos ’n ligwelter en Mohammed Ali sou dit nie beter kon doen nie ...

"Later, op pad stort toe, kyk hy op, lag vriendelik en waai vir my ’n groet."

In die menasie doen China navraag oor die goeie bokser. ’n Ouer man sê dadelik: "'Dis Nelson Mandela, main pikkewyn van die ANC!’"

Toe China alleen by die enkelselle begin nagdiens doen het, "het Nelson Mandela gereeld saans hardgekookte eiers wat hy vir aandete gekry het, gestaan en afdop, sout daarop gegooi en dit deur die tralies van sy sel" vir China aangegee. Hulle het dan "lekker oor groot boksers van die wêreld gesels" (bl 12 en 13).

Hoe het hy aan die naam China gekom? Ná ’n ruk op Robbeneiland neem hy, soos hy dit stel, ’n sysprong en word kreefvanger by Elandsbaai. Buite die kreefseisoen werk hy op kommersiële vistreilers van Velddrif tot in Walvisbaai. "Nie lank nie of my hare hang ook op my skouers soos die ander vissermanne s'n. Ek’s donker gebrand van die son." Portugese op die ander treilers begin in hulle taal met hom praat. Hy werk ook op sleepbote. "As die wind kwaai op die dek waai, maak ek soos die ander my lang hare in ’n poniesstert agter my kop vas sodat dit nie in my gesig waai as ek werk nie. Met my poniestert en hangsnor het ek gou die bynaam Chinaman gekry. Later het Chinaman net China geword, die naam wat ek vandag nog het" (bl 18). 

Op 13 September 1992, ’n mooi lentedag by die Winburgse gevangenis, word sersant Salomé le Roux, vrou van die gevangenishoof, aangerand en verkrag deur ’n gevangene wat in hulle tuin op die terrein werk. Hy wat juis geen direkte toesig het nie omdat hy so betroubaar is. Salomé se broer Thys was vroeër ’n kollega van China-hulle op Goedemoed. Hy sit amper die hele dag langs sy suster se bed in die intensiewe sorgeenheid van Universitas-hospitaal in Bloemfontein. Sonder om met enigiemand te praat. Laataand weet hy skielik wat hy moet doen. Halftwee in die nag kom hy op Winburg aan. Dit word op bl 131 gedramatiseer. Iets heel onvoorspelbaar én geloofwaardig. 

Nou ’n laaste toneel. China en Danieta het ’n dogtertjie Marlene en ’n seuntjie Charl. Ná breinvliesontsteking en lank in ’n koma, is Charl serebraal gestremd. Charl kon voor die siekte wel soms te lekker lag. Danieta beskryf hoe hy dit doen: met “sy mondjie, ogies, wangetjies, kennetjie – alles. Dan het daar geluidjies oor sy lippies geborrel wat jou aan ’n duifie laat dink”. Hulle besluit om hom in 1985 na ’n geloofsgeneser se saamtrek in Goodwood te neem. Marlene, toe nog ’n kleuter, word die aand deur ’n vriendin se tienerdogter opgepas.

"Ons verduidelik aan Marlene dat ons haar boetie na ’n oom toe neem wat baie mooi kan bid en dat hy vir Liewe Jesus gaan vra om vir Boetie gesond te maak ...

"Die blydskap op my vyfjarige dogtertjie se gesig onthou ek nog so goed. Sy hardloop dadelik na haar kamer en begin speelgoed uitpak, want as haar boetie terugkom, gaan hy mos niks makeer nie, en dan gaan hulle sommer die hele nag deur speel ...

"Dit is al ná twaalf die nag toe ons by die huis kom. Ek was seker Marlene slaap al ... (M)aar die volgende oomblik vlieg die deur oop en Marlene kom uitgestorm na waar ons met Charl uit die motor klim. Solank as ek lewe sal ek nooit haar gesiggie vergeet nie toe sy sien dat haar boetie nog steeds siek is (bl 48 en 49)." 

Lees gerus verder oor daardie nag en oor talle ander belewenisse in China Mouton se Tronkhond, uitgegee deur Protea Boekhuis. Die redakteur was Deborah Steinmair en die proefleser Morné van Rooyen, met bandontwerp en bladuitleg deur Hanli Deysel.

Lees ook:

Skrywersonderhoud: China Mouton oor Tronkhond

Resensie: Tronkhond deur China Mouton

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top