Tronkhond
China Mouton
Protea Boekhuis
ISBN: 978 1 4853 1085 3
Tronkhond deur China Mouton is ’n tydsdokument wat afspeel teen die agtergrond van die ontstuimige politieke veranderinge in Suid-Afrika; en op die keper beskou, die rol van hondemeesters binne die maksimumsekuriteitgevangenisse dwarsoor die land. Die teks is andersyds geskryf as ’n outobiografiese illusie, ’n oorsig oor die outeur se lewe en loopbaan as werknemer van die departement van korrektiewe dienste.
Die verhaal begin wanneer die 16-jarige China, nog nat agter die ore, diens op Robbeneiland aanvaar en met Nelson Mandela kennis maak. Mouton beskryf dié gevangene as ’n lang, breedgeskouerde man wat uitstekend kon skermboks – die leier van die politieke gevangenes, maar ook ’n vaderlike vertroueling wat saans vir die jong bewaarder hardgekookte eiers afgedop en deur die tralies aangegee het. Mandela het die seun by herhaling aangemoedig om verder te studeer.
Die verteller was drie dekades lank by die honde-eenheid betrokke, en Tronkhond lewer verslag oor die bloedige en lewensgevaarlike omstandighede waarin bewaarders hulle daagliks bevind. China, bewapen met net ’n knuppel en dienshond, was dikwels op die voorfront van tronkgevegte of phakamas. Die dienshonde word karakters in eie reg: heroïese en gevalle helde, wat inderwaarheid ook lede van die Mag was, maar nooit die erkenning wat hulle verdien het gekry het nie. In teenstelling met die afgryse en brutaliteit van die tronklewe word hierdie opgeleide honde met liefde en deernis geskets. Mouton behou sy saaklike dokumentêre styl maar dis duidelik dat die enigste emosionele anker wat hy dekades lank gehad het, sy honde was. En telkens was die dood van dié geharde bewaarder se beskermers opnuut vir hom ’n slag:
Goedkoop, koste-effektief, besparing. Ek moet my ou grys wolf wat sy lewe vir my sou opoffer, terugvat veearts toe om uitgesit te te word. Ek kan tot vandag toe vir niemand vertel hoe ek daaroor gevoel het en wat ek daarvan dink nie. Ek het ná al die jare nog nie daarmee vrede gemaak nie. Ek is ook nie van plan om ooit daarmee vrede te maak nie. (32)
Mouton vertel ook van sy ervaring as ’n kreefvanger vir ’n fabriek in Elandsbaai, sy belewenis as kadet-brandweerman in Bellville, en die skrywer neem die leser op ’n avontuurreis. Hy ontmoet ’n meisie genaamd Danieta, met wie hy trou, maar ná die geboorte van sy seun, Charl, word hy gekonfronteer met die nuus dat hy breinvliesontsteking het – en die verpletterende tyding dat hy moontlik die res van sy lewe gestrem sou wees. Besoeke aan geloofsgenesers het die seun se toestand onveranderd gelaat.
Die verhaal berig voorts oor Mouton se liefde vir perde, boks en hegte vriendskappe met kollegas. Die skrywer is ’n mensch en bely met brute eerlikheid dat hy te veel drink, sy vrou verwaarloos en hoe PTSD stelselmatig sy tol begin eis. ’n Interessante kenmerk van die boek is dat Mouton selde veroordelend teenoor enige persoon staan, hetsy moordenaars of gangsters; in stede daarvan probeer hy verstaan wat die dryfvere agter die gevangenes se optrede is. Hy spreek nie net die verdoemdes vry nie, maar soek ook vryspraak vir sy eie persoonlike dwalinge. Op ’n kol het die verteller, terwyl hy ’n drankwinkel bestuur het, hom aan die smokkel van verbode middels skuldig gemaak en hy skryf verfrissend eerlik oor hierdie periode in sy lewe.
Ook die politieke onrus onder gevangenes tussen 1989 en 1994 kom onder die loep, waartydens die toenemende geweld in gevangenisse as gevolg van die toename in vakbonde bly eskaleer het. Die vooruitsig van die eerste demokratiese verkiesing (1994) het die hoop op amnestie vir tronkstraf laat opvlam – ’n vonk in die kruitvat wat die onderskeie subkulture van bendegeweld tot ’n kataklismiese laagtepunt sou stuur. Mouton, ’n asmalyer, se gesondheid het agteruit gegaan en hy is geteister deur delusies dat sy vervreemde vrou en gesin na hom sou terugkeer. Sy huwelik sou egter onherstelbaar verbrokkel.
Tronkhond is ’n unieke werk. Te midde van die geweld en wreedheid word die honde sekuur verbeeld as die selflose helde wat met reg ’n rol in die oorgang na ’n nuwe Suid-Afrika gespeel het.
In die bedankings lys Mouton dan ook die name van sy dienshonde en die boek sluit in ’n figuurlike “muur van herinnering” af:
Julle was my beste vriende, ek sal julle nooit vergeet nie.
Storm
Carlos
Wolfie
Smokie
Tekkies
Jockey
Dirkie
Quin
Brutus
Stormer
Choppie.
|
|
Lees ook:


