Skrywersonderhoud: China Mouton oor Tronkhond

  • 1

Remona Voges gesels met China Mouton oor sy memoir, Tronkhond. 

Foto: verskaf

Tronkhond
China Mouton
Protea Boekhuis
ISBN: 9781485310853

Hallo China en baie geluk met jou boek Tronkhond. Kan jy vir ons lesers wat nog nie die boek gelees het nie, ’n bietjie meer oor die titel van jou memoir vertel? En is dit jy op die foto op die voorblad?

Die titel Tronkhond verwys na die honde wat daagliks in maksimumveiligheid-tronke regoor die land werk. Die boek handel ook oor die uitwerking wat stres op sommige lede het en die gevolge daarvan. Baie daaglikse insidente word van vertel. Die honde-eenheid waarin ek byna drie dekades gewerk het, is feitlik altyd teenwoordig deur al die gebeure. Ja, dit is ek wat op die voorblad is, met een van my patrolliehonde, Smoky.

Waar kom jou liefde vir honde vandaan?

Ek dink ek is daarmee gebore – ek was nog nooit in my lewe sonder ’n hond nie.

Wat was die sneller vir memoir? Is dit iets waaraan jy al lank werk?

Ek het maar altyd die begeerte gehad om my storie te vertel. Dit het my ’n paar maande geneem om dit te skryf.

Jy skryf in jou boek oor jou ontmoeting met, onder andere, Nelson Mandela. Kan jy ons ’n klein bietjie meer oor dié ervaring vertel sonder om te veel te verklap?

Nelson Mandela het by alle bewaarders respek afgedwing sonder dat hy dit bedoel het. Almal het vir hom respek gehad – dit was maar net die tipe persoon wat hy was, selfs in die hartjie van die apartheidsjare.

Die lewe het jou al op verskillende paaie wat jou loopbaan betref, gestuur. Watter hiervan was vir jou van die interessantste/ergste/mooiste ervarings? Verskaf asseblief ’n paar voorbeelde, indien moontlik.

My loopbaan as ’n hondemeester was beslis die interessantste, soms die ergste, maar ook met die mooiste ervarings. Die tronkopstande, phakamas, was erg stresvol, teenoor die mooi band tussen jou en jou hond. Dit is ’n gevaarlike beroep, maar beslis ’n interessante loopbaan.

Het jy ’n spesifieke skryfroetine of skryf jy wanneer die muse jou beetpak?

Ek probeer hard om in ’n skryfroetine te kan werk, maar ek geniet dit terdeë as die muse my beetpak. Dan skryf ek ’n “hond uit ’n bos uit”!

Waarmee hou jy jou op die oomblik besig?

Ek is baie lief vir die Karoo, en is gereeld by vriende wat boer, Dit lê my na aan die hart. Ek rig ook nou en dan jong perde af en het ook al aan my volgende boek begin werk .

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top