
Lank voordat boekbeïnvloeders ’n naam gehad het, het Trisa Hugo lesers aanlyn bymekaargebring. Vandag skryf sy resensies, voer gesprekke met skrywers en help nuwe stemme hul plek in die Afrikaanse boekwêreld vind. Agter dié werk lê ’n eenvoudige oortuiging: ’n Mens kan iemand se lewe verander deur ’n deur oop te maak.
*
“Ek raak elke keer tranerig as jy so iets sê, en ek’t nie ’n tissue hier nie.”
Trisa Hugo lag, maar haar stem verraai haar. Ek het haar pas vertel hoeveel haar bereidwilligheid om kennis te deel vir my beteken het toe ek self my weg in die boekbedryf probeer vind het. In ’n wêreld waar dit nie altyd maklik is om iemand te kry wat jou die pad sal wys nie, het sy nie net raad gegee nie; sy het ook haar kontakte met my gedeel.
Op die skerm sit sy effens vorentoe, in ’n helder pienk T-hemp, met ’n swart reghoekige bril en ’n kralehalssnoer. Haar hande rus meestal voor haar, maar kom in beweging wanneer sy iets wil beklemtoon.
Sy raak ’n oomblik stil.
“Jy weet, ek dink hoe ouer ’n mens word, hoe meer besef jy dat as jy vir ’n ander mens iets in sy menswees beteken, jy eintlik ’n taamlik hoë doel bereik het.”
’n Mens kan iemand geld gee, help trek of kos maak wanneer hy siek is, sê sy. Maar om iemand te help om sy lewensdoel te bereik is vir haar ’n besonderse vorm van vervulling.
Dit is ’n gedagte wat deur haar werk loop. Of sy nou ’n boek bespreek, ’n skrywer aan lesers bekendstel of kennis met iemand deel, Trisa wil mense nader bring aan die wêreld waarin sy self soveel vreugde gevind het.
Sy het in Brits in Noordwes grootgeword en kon reeds lees voordat sy op vyfjarige ouderdom skool toe is. Haar ouer suster se leesboekies was die begin. Toe sy uiteindelik in die laerskool beland, was sy verbaas dat die ander kinders nog nie kon lees nie. Op die dag toe die leesboekies uitgedeel is, het sy die eerste boek klaar gelees voordat die onderwyseres die stapel kon uitdeel. Sy is in graad 2 geplaas.

Tydens kleinpouse was sy dikwels die enigste kind wat biblioteek toe wou gaan. Soms moes die onderwyseres die biblioteek spesiaal vir haar gaan oopsluit.
Haar ma was self ’n ywerige leser, en boeke was vanselfsprekend deel van die huishouding. Trisa onthou vandag nog haar eerste grootmensboek: Roosmaryn en wynruit, ’n bundel kortverhale deur Linda Joubert, ’n skuilnaam van Henriette Grové.
Boeke was nie haar enigste belangstelling nie. Sy was van jongs af nuuskierig oor rekenaars. Sy het reeds ’n rekenaar gehad toe dit nog ongewoon in huishoudings was en het haarself met die ou DOS-bedryfstelsel leer werk. Ná haar studies het sy as navorser by die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) gewerk, waar sy aan die ontwikkeling en rekenarisering van psigometriese toetse deelgeneem het.
“Die eerste gerekenariseerde toets in Suid-Afrika het ek gehelp maak,” vertel sy.
By die RGN was sy onder die eerste mense wat privaat e-pos gekry het. Lank voordat sosiale media deel van die alledaagse lewe geword het, het sy reeds die moontlikhede raakgesien van tegnologie wat mense met dieselfde belangstellings bymekaar kon bring. Hier het haar liefde vir boeke en haar nuuskierigheid oor die digitale wêreld begin saamvloei.
Lank voor Facebook het Trisa ’n virtuele leeskring begin. Boekemakranka was ’n aanlyn ruimte waar mense boeknuus kon deel, oor hul leeswerk gesels en nuwe titels en boekpryse kon bespreek.
“As mense graag oor boeke wou praat, waarom sou hulle nie aanlyn kon saamkom nie?”
Die groep het haar met mense verbind wat later vriende en kennisse in die Afrikaanse boekbedryf sou word. Sommige van dié verhoudings duur vandag nog voort. Toe Facebook later gewild raak, het die gesprekke na nuwe ruimtes verskuif, maar haar belangstelling in die mense agter die boeke het dieselfde gebly.
Toe die Covid-inperking in 2020 openbare boekbekendstellings en feeste skielik tot stilstand bring, was dit nie vreemd dat sy weer na die internet gedraai het nie. Sy en Analize Viljoen het besluit om virtuele boekgesprekke met skrywers te begin.
Wat as ’n praktiese oplossing vir gekanselleerde bekendstellings begin het, het ’n manier geword om lesers steeds toegang tot skrywers, uitgewers en ander rolspelers in die boekbedryf te gee. Lesers het later vir haar vertel hoe baie dié gesprekke tydens die inperking vir hulle beteken het.
Die gesprekke het nie verdwyn toe die wêreld weer oopgegaan het nie.
Vandag skryf Hugo resensies, voer gesprekke met skrywers en neem deel aan besprekings oor Afrikaanse boeke en letterkunde. In 2024 was sy op Netwerk24 se Smaakmaker-kortlys vir boeke.
“Smaakmaker is vir my ’n onding van ’n woord,” sê sy.
Sy verkies die term boekbeïnvloeder. Dit beskryf vir haar beter wat sy doen: Haar werk gaan nie bloot oor die beoordeling van boeke nie, maar ook daaroor om lesers met titels en skrywers in aanraking te bring. Nie almal in die literêre wêreld beskou boekbeïnvloeding noodwendig as ernstige werk nie, maar Hugo sien dit as ’n belangrike manier om boeke se leserskring uit te brei.
Sy het ook deel uitgemaak van die paneel wat Afrikaanse boeke vir die Afrikaans 100-lys help kies het. Om gevra te word om aan die projek deel te neem, was vir haar een van die grootste komplimente ooit.
Die proses het egter ook teleurstellings opgelewer. Sy was bly oor die boeke wat die lys gehaal het, maar het gewonder of sommige ouer titels hoog geplaas is omdat mense gemeen het hulle behoort daar te wees. Van haar eie gunstelinge het nie die erkenning gekry waarop sy gehoop het nie. Etienne van Heerden se Toorberg is een van die boeke wat haar besonder na aan die hart lê.
Tog is ’n boeklys vir haar nie ’n finale uitspraak oor letterkunde nie.
“’n Boeklys kan nooit die gesprek oor letterkunde afsluit nie. Dit kan hoogstens ’n beginpunt wees – nog ’n manier om lesers aan die praat te kry.”
Dit is juis die gesprek wat vir haar belangrik is. ’n Lys kan ’n mens na ’n boek lei, maar dit kan nie namens lesers besluit wat hulle daaruit gaan haal nie.
Hugo is bekommerd oor die Afrikaanse boekbedryf. Daar word wonderlike boeke uitgegee, sê sy, maar dit voel vir haar asof die mark al kleiner geknip word. Verder sien sy min jonger mense by boekbekendstellings en literêre geleenthede. By ’n onlangse gesprek met die skrywer PP Fourie was daar ongeveer 70 mense. “Ek is 70,” sê sy, “en ek wonder of daar iemand was wat jonger as ek is.”
Sy dink nie die probleem is bloot tyd nie. Jonger mense werk dikwels van die huis af, sê sy, en het dus geleentheid om sulke byeenkomste by te woon. Boeke is boonop duur. Lesers leen boeke by biblioteke, lees op platforms soos Libby of koop tweedehands.
Vir haar lê daar ’n verdere probleem: Wanneer ’n boek tweedehands van eienaar verwissel, verdien die skrywer nie weer aan daardie verkoop nie. Sy sien dus ’n spanning tussen die lesers wat steeds graag lees en ’n boekbedryf wat genoeg boeke moet verkoop om nuwe werk moontlik te maak.
“Daar’s te min ure in die dag,” sê sy. Ek kan amper sien hoe sy na die boeke op haar bedkassie kyk.
Sy werk dikwels tot tienuur saans en probeer daarna nog lees. Haar eie skryfwerk het nie verdwyn nie, maar kry minder tyd as wat sy daaraan sou wou bestee. Daar is ook ’n groter projek, wat sy egter nog nie wil bekend maak nie.
Teen die einde van ons gesprek is daar minstens een taak wat sy vasbeslote is om af te handel.
“Ek gaan vanaand daai paragraaf klaarmaak,” sê sy.
Sy en haar man, John, is al 39 jaar getroud en deel steeds ’n lewe waarin daar plek is vir nuwe idees. Tog keer ons gesprek telkens terug na dieselfde vraag: Wat beteken dit om iets vir iemand anders moontlik te maak?
Wanneer ek haar weer bedank vir alles wat sy oor die jare vir my beteken het, raak sy weer emosioneel. Sy glo dat die waarde van ’n lewe nie net lê in wat ’n mens self bereik nie, maar ook in wat jy vir ander mense moontlik maak.
Vir Trisa Hugo is invloed nie om die hardste stem in die kamer te wees of die laaste woord oor ’n boek te hê nie. Dit is om iemand te wys waar die deur is – en wanneer daardie persoon huiwer, dit vir hom oop te hou.

