Trienke Laurie (1946–)

  • 1

Gebore en getoë

Catherine Elizabeth (Trienke) Laurie is op 10 Mei 1946 gebore – die oudste van drie dogters (Diederi en Heila is die jonger twee) van die bekende digter en letterkundige DJ Opperman en Marié Opperman, ook ’n skrywer en vertaler van kinderverhale. Trienke vertel dat haar naam Catherine vir haar ma te Engels was en dat sy haar toe Trienke genoem het.

Kort voor Trienke se geboorte het haar pa in die gedig "Negester en stedelig" verwys na sy ongebore kind as "’n see-anemoon" en "’n otter (wat) in nat holtes" skuil. Die baba moes ’n seun wees, want die familienaam "Diederik" word geslagte lank al oorgedra, maar toe kom Trienke, vertel Trienke aan Elise Tempelhoff.

Trienke bring haar kinderjare in Kaapstad en op Stellenbosch deur. Haar skooljare begin sy by Jan van Riebeeck in Kaapstad. Sy matrikuleer aan die Hoërskool Bloemhof op Stellenbosch.

Sy skryf haar eerste gedigte as vyfjarige dogtertjie. Haar eerste gedig waaroor haar pa opgewonde geraak het, was "Wurm, wurm, spin vir my", wat sy geskryf het toe sy ongeveer sewe jaar oud was.

Trienke vertel aan Elise Tempelhoff (Beeld, 2 Augustus 1997) dat haar pa nooit eintlik vir haar en Heila aangemoedig het om te dig nie, "maar met een keer, onthou ek baie goed, toe hy aan Kleuterverseboek gewerk het, het hy ons gevra om rympies uit te dink en ons het, sommer ’n hele klomp. Tien van my gedigte is in dié bundel opgeneem."                                                           

Op hoërskool en tydens haar universiteitsjare het sy meer liries geraak en haar pa het haar aangeraai om haar skryfsels te bêre totdat sy in haar derde jaar is.

Tye uit haar kinderjare wat vir haar baie kosbaar is, is die vakansies by die gesin se strandhuis op Franskraal en die skrywers soos Karel Schoeman en Etienne Leroux wat gereeld daar kom kuier het en by haar pa kom kers opsteek het.

Trienke vertel in Leefstyl (Desember 1997-Januarie 1998) as volg oor van haar herinneringe uit haar grootwordjare: "Waar die kind van ’n motortegnikus van kleins af lees van vergassers, so het ons besef die alledaagse lewe is vol poësie. My pa het byvoorbeeld aan tafel gesê: 'Jou otter, gee my die botter.' Later sou hy bloot ’n reeks name ondermekaar plaas as optelgedig, naamlik die 'Visvangplekke op die plaat' soos Maerbankies, Hemelhoog en Die Hel, om hierdie stelling te bewys.

Verdere studie en werk

Trienke is na matriek na die Universiteit van Stellenbosch, waar sy kwalifiseer as hoërskoolonderwyseres in Afrikaans, geskiedenis en kuns. Sy is lid van haar pa se bekende Letterkundige Laboratorium, ’n kursus in kreatiewe skryfwerk en letterkundige kritiek vir ’n klein groepie voorgraadse studente.

Nadat sy haar studies voltooi het, gee sy vir ’n jaar lank onderwys op Vredendal naby die Kaapse Weskus. In 1968 tree sy in die huwelik met Dirk Laurie, ’n bekende in die vasvraprogram Flinkdink en professor in wiskunde. Hulle het vyf seuns (Henri, Diederik, Dirk-Pieter en die tweeling, Reenen en Kestell) wat ook dig, maar in Engels.

Na haar huwelik met Dirk verlaat sy die onderwys om haar kinders groot te maak en vestig hulle in Pretoria. Ná 15 jaar verhuis hulle na Vanderbijlpark, en na 17 jaar daar verhuis hulle na Somerset-Wes. Terwyl sy die kinders grootgemaak het, skilder sy, gee kunsklasse en skryf kinderverse. "Ek is ’n outydse soort ma wat nie buite die huis gewerk het nie." (Rooi Rose, 24 November 1999)

Ná haar man se aftrede trek hulle na Gansbaai waar Dirk op 10 Augustus 2019 in die Mediclinic op Hermanus oorlede is nadat hy as gevolg van listeriose breinskade opgedoen het.

In 1990 skryf Trienke haar in as deeltydse student aan die Universiteit van Noord-Wes (destyds die Potchefstroomse Universiteit) en in 1992 behaal sy haar honneursgraad in Afrikaans cum laude. Sy is ook ’n skilder met etlike uitstallings agter haar naam en sy gebruik van haar skilderye vir die buiteblaaie van haar digbundels.

Trienke vertel aan Elise Tempelhoff dat haar pa hulle nooit werklik aangemoedig het om te dig nie, maar met die samestelling van Nuwe Kleuterverseboek het hy hulle gevra om rympies uit te dink, en tien van haar gediggies is opgeneem. Later, veral as student, skryf sy gedigte. "Ek het dit een keer gewaag om ’n gedig aan my pa voor te lê." Sy antwoord was dat Trienke die volgende jaar sy eksperimentele klas moet bywoon.

Dit is egter eers in die 1990's dat sy ernstige poësie begin skep. Haar eerste digbundel, Skietspoel, word in 1997 gepubliseer deur Tafelberg Uitgewers en word in 1999 met die Ingrid Jonker-prys bekroon. Die beoordelaars van die prys meen dat dit ’n "ongewoon stewige debuut is met ’n breë register van temas en versvorme al sou dit ook sterk Eurosentriese trekke vertoon in die intertekstuele relasies met Westerse kunstenaars en kulture. Dié aspek word aangevul deur ’n aardse ingesteldheid en ’n affiniteit vir die natuur wat neerslag vind in talle verse oor die kenmerkende verskynsels van Afrika en kulture op die vasteland. Die bundel is ook bewys van ’n emosionele betrokkenheid en ’n religieuse bewussyn wat in afgewerkte versvorme beïndruk." (Beeld, 22 Maart 1999)
 
In ’n onderhoud met Marí le Roux in Die Burger (11 Junie 1997) vertel Trienke dat hierdie eerste digbundel nooit sou verskyn het sonder die aanmoediging en belangstelling van haar ma nie. "My ma het ’n baie kritiese oor. Sy het van die begin af baie in my werk belanggestel. Sy het my amper meer aangemoedig om te skryf as my pa. Daarom dra ek Skietspoel aan haar op," vertel Trienke.

Haar ma het haar ook geleer dat sekere woordvolgordes lomp is: "[Ook dat] ’n mens dikwels gewone woorde met interessanter woorde kan vervang. Sy het my ook aangeraai om eers in prosa te skryf voordat jy jou werk in digvorm omsit. Anders raak jy so bekoor deur ’n versreël dat jy ander dinge wat daar moet wees, miskyk."

Dit sou egter vir haar baie lekker gewees het om haar pa se reaksie op haar werk te gehoor het. "Maar hy was nooit baie demonstratief nie. [...] Maar hy was eerlik, soms só eerlik dat dit eintlik ongemaklik was. Oor Skietspoel sou hy ’n eerlike mening gegee het," sê sy aan Roux.

Trienke erken dat sy nie graag in die skadu van ’n groot digter soos haar pa wil staan nie; dus weier sy om toe te gee dat haar eie digkuns ’n sterk invloed van haar pa openbaar. Al meen sommige kritici dat ’n mens van haar pa se woordskeppings, klanknabootsings en konkrete beelde in haar gedigte kan inlees, meen Trienke dat dit bloot toevallig is: "Ek skep my eie woorde, beelde en klanke. Dis soms moeilik om beroemde ouers te hê. Ek en my suster is altyd as aanhangseltjies van my pa beskou." (Beeld, 2 Augustus 1997)

Skietspoel het ook met die hulp van haar man, Dirk, ’n werklikheid geword. Sy vertel: "Ek weet nie veel van ’n rekenaar nie. Dit was Dirk se werk om die gedigte uit te druk. Hy moes luister en wéér luister. En sê as my ritme uit is." (Die Burger, 11 Junie 1997)

"In Skietspoel hou Trienke op haar manier koers en dig sy oor dié dinge wat vir haar belangrik is", skryf Marí le Roux: "soos haar verhouding met God en haar verhouding met haar medemens."

Skietspoel het ’n sterk godsdienstige inslag en ’n aantal van die gedigte handel ook oor Namibië en die grootsheid van die woestyn, skryf Stephanie Nieuwoudt (Die Burger, 10 Junie 1999). "Godsdiens en natuurbeelde word hier onlosmaaklik saamgesnoer. Dis visuele gedigte wat jou deelmaak van die landskap. Daarom is dit amper ’n skok wanneer Laurie vertel dat sy eers in 1999 vir die eerste maal Namibië besoek het."

Sy verduidelik aan Nieuwoudt: "My pa het gesê ’n mens moet uit jou eie ervaringswêreld skryf. Maar Namibië was nog altyd vir my ’n geesteswêreld. ’n Streek waaroor ek gelees het en waarvan ek beelde gevorm het uit gesprekke met mense wat dit besoek het."

AP Grové (Insig, Mei 1997) meen in sy resensie dat die digteres rekening hou met die werklikheid. "Sy verken, luister, neem waar en slaag daarin om met beeld, verwysing en klankspel ’n dieper sin en waarheid aan die ervaarde werklikheid te ontlok. Hierin lê die groot verdienste van die bundel én die moontlikhede vir voortgesette groei."

In Beeld (14 Julie 1997) skryf TT Cloete dat wat ’n mens nie kan mislees nie, is die fyn en skilderkunstige visuele sintuig, die raak beskrywings. "Die gedigte is tegelyk toweragtig en realisties. Skietspoel is ’n ryk bundel, dit bevat gedigte van ’n volwasse digterskap, volgroeid en met vele vertakkings soos Trienke Laurie se boomgedigte."

In Volksblad van 6 Oktober 1997 beskryf Bernard Odendaal Skietspoel as volg: "’n Debuut wat teenstrydige oordele by ’n mens ontlok; ’n digbundel wat nie deurgaans oortuig nie; ’n digterskap wat egter van talentvolheid getuig."

In 1999 word Trienke se tweede bundel, Ek sien ’n rooi bul storm: 'Die storie van ons sterfte' en van ons opstaan: visioene van Siener van Rensburg gepubliseer. Die rooi bul in die titel verwys na die Engelse troepe wat in die Anglo-Boereoorlog uit die Vrystaat na die Transvaal opgeruk het. Talle van Siener van Rensburg se voorspellings oor die oorlog word in die bundel ingewerk.

Bernard Odendaal skryf in Volksblad (15 November 1999): "Die 36 gedigte verwoord nie net Siener se profetiese gesigte nie, maar ook iets van sy eie lewe en ervaringe, sowel as van sy Christelik-gelowige insigte en vermaninge betreffende volk-, mens- en medemens-wees." En, skryf Odendaal, dat ten spyte van die vrae oor party van die letterkundige kenmerke van die bundel, is Ek sien ’n rooi bul storm heel leesbaar en is dit ’n werk wat aktuele sake aanspreek.

 AP Grové (Beeld, 27 September 1999) skryf dat daar wat inhoud betref, heelwat is wat lesers boeiend sal vind. Ook is daar verhale wat in die siniese tye waarin ons leef, vreemd klink, maar dit sal tog lesers laat dink. "Maar die uiteindelike vraag wat gestel moet word, gaan oor die kwaliteit van die vers. En hier, meen ek, het die aard van die stof ’n beslissende rol gespeel. Dit het noodwendig meegebring dat ’n groot deel van die gedigte mededelend, soms betogend, verklarend en uitgesponne geraak het, terwyl meer as een versreël ’n gebrek aan spanning vertoon."

"Daarby moet dit gestel word dat die digteres ’n moeilike taak op haar geneem het. Die visioene van Siener van Rensburg was meermale simbolies van aard, vol 'raaisel en spreuk' wat om ’n uitleg vra. By die hervertelling en hergebruik moes noodwendig iets van die geheimsinnigheid verlore gaan."

"Tog het Laurie in hoë mate sinvol met die stof gewerk. Soms is dit monologies aangebied met die Siener vertellend aan die woord. Elders het sy weer die gespreksvorm gebruik om so ’n dramatiese element in te voer."

"Deur die organisasie van haar materiaal het sy verder, meen ek, daarin geslaag om aansluitend by bestaande getuienisse ’n eie sinvolle lyn deur ons geskiedenis, veral dan van hierdie (20ste) eeu, te trek..."

In Die Burger van 27 Oktober 1999 is Joan Hambidge van mening dat ’n tweede bundel ’n baie moeilike hekkie vir ’n digter is om oor te kom. Sy het van Trienke Laurie se eerste bundel gehou, maar beskou Ek sien ’n rooi bul storm wat meer "historiografies in aanbod" is as ’n opdrag wat dalk té ambisieus is vir ’n jong digter.

Hambidge gaan voort: "Die voor die hand liggende rymdwang wat in vele verse aan die bod kom, raak op die duur moeisaam. Ook is die gedigte metries nie afgewerk nie. Die sillabiese patrone is eweneens uit pas, en veral wanneer ’n mens die gedigte hardop lees, kom die ondeugde duideliker na vore.

’n Vers hoef nie streng patrone na te volg nie, maar wanneer dit oortree, moet die digter kompenseer." [...] "Die probleem is dat Laurie soms rympatrone navolg en soms nie. Die gedigte maak dus ’n onbeholpe indruk." [...]

"Die oorwegende indruk wat hierdie bundel laat, is werk-in-wording. Ons sien dus eerder die kladboek van ’n bundel met moontlikhede. Enkele gedigte is af, maar die geheel laat die indruk van haas. [...] Dit is jammer, want die enkele mooi gedigte word versmoor deur die oorwegend swakker meerderheid."

Trienke se derde digbundel, Uitroep, verskyn in 2001, ook by Tafelberg Uitgewers. Sy vertel aan Elize Parker (Sarie, 17 Oktober 2001) dat sy in hierdie bundel haar pa se digterlike skeppingsproses verken. Daar is ook onder meer gedigte oor Namibië en oor die bekende kunstenaar, Helen Martins, van die Uilhuis op Nieu-Bethesda. Helen se lewensverhaal het nog altyd vir Trienke geïnteresseer omdat sy as outsider-kunstenaar haar eie wêreld wou skep. "Hierdie amperse besetenheid van sulke mense het vir my vele raakpunte met digters se skeppings." Daar is ook gedigte oor haar ma se dood wat meer direk is met minder beeldspraak. In hierdie bundel is daar ook ’n afdeling met guitige en ligte, speelse kinderverse.

Bernard Odendaal (Volksblad, 19 November 2001) meen dat Uitroep in sy geheel gesien ’n verdienstelike bundel is, maar nie ’n vernuwende of verdiepende bydrae tot die digter se oeuvre is nie. Met haar religieuse en natuurpoësie het sy klaas vir haar ’n waardige plek in die hedendaagse Afrikaanse verskuns oopgeskryf.

Lucas Malan (Rapport, 28 Oktober 2001) skryf dat hierdie ’n bundel is wat duidelik van ’n digtalent spreek. "Veral in die gedig 'Kruik van ivoor' onderneem sy iets besonders deur die vae spore van haar pa se onvoltooide, nagelate manuskrip van Sonklong oor Afrika te volg en in ’n 'verbeeldingspel' iets daarvan te probeer herwin. Dit val op dat sy hier nader aan die gedronge taal en funksionele woordgebruik van die Opperman-idioom beweeg en só besondere effekte bereik."

Malan het egter sekere voorbehoude gehad en het gevoel dat die outeur en die uitgewer die snoeiskêr "dieper moes ingelê het om sterker groei te bevorder".

TT Cloete skryf in Beeld (2 Februarie 2002) oor hoe Trienke, op ’n betowerende manier, terugwerkend op haar pa se gedigte inwerk. Stilisties is Uitroep ’n werk wat heeltemal op eie bene staan, maar dit gaan om iets veel anders en diepers. "’n Oorkoepelende motief in die bundel is die ontbinding van die bestaande en die weeropstanding daarvan, ’n stuwende siklus, ’n sirkel van lewe en doodgaan en weer begin. Deel van hierdie sirkel is Laurie se gedigte wat ’n soort 'voltooiing' is van Opperman se werk wat hy ongepubliseerd gelaat het, maar ook van gedigte wat hy gepubliseer het. [...] So is Laurie ’n oor vir gedigte wat Opperman ongehoord gedink het, sy is die oë (daar is baie oog in die gedigte) waarmee die digter-kind en die digter-pa saam kyk, en Laurie is vir Opperman ’n voltooiende hand in wat hy onvoltooid geskryf het of wou skryf, maar sy is dit in haar eie ryk idioom wat ’n uitroep verdien." Hy sluit sy stuk af deur te sê dat Laurie se bundeltitel reg is: dis uitroeppoësie, ook in die gedigte wat nie met haar pa te maak het nie."

Vir Louis Esterhuizen (Die Burger, 9 Oktober 2001) is Uitroep  nie net ’n bevestiging van Laurie se plek as digter in Afrikaans nie, maar lewer sy ook met ’n hele paar skitterverse ’n beduidende bydrae tot die uitbouing van die Afrikaanse poësie.

Ses jaar later, in 2007, word Trienke se volgende digbundel, Sonskyf, by Protea Boekhuis gepubliseer. Die bundel is opgedeel in ses afdelings en die deurlopende tema, soos afgelei kan word uit die titel, is die son.

"In die eerste afdeling kom die Suid-Afrikaanse see-, plante-, voël- en dierelewe aan die bod," volgens die inligtingstuk van die uitgewers. "Die digter tref dikwels amusante vergelykings tussen natuur- en sosiale verskynsels, soos die vergelyking van ’n jellievis met ’n straatvrou in die reeks 'Kwal'. In die derde, omvangryke afdeling 'Songod', word die aanbidding van die son in antieke Egipte en argeologiese opgrawings tematies ontgin. ’n Boeiende tema in die vierde afdeling, 'Soveel onder die son', is die herdigting van verhale en legendes uit die noordweste van Suid-Afrika. Die digter se belangstelling in die skepping van kunswerke lei tot boeiende gedigte oor kunstenaars soos Leonardo da Vinci, Albrecht Dürer en Suid-Afrikaanse skilders soos Cecily Sash. Dit is egter bowenal die groter skepping wat herhaaldelik deur die digter ondersoek word, van die nietigste plantjie tot die grootse hemelruim. Die bundel begin nie verniet met die afdeling 'Sonbesie' en eindig met die gedig 'Liewenheersbesie' nie – tussenin word die lewe op aarde in sy wye verskeidenheid ter sprake gebring."

Joan Hambidge (Volksblad, 15 Oktober 2007) beskou dit nie as een van Trienke se beste bundels nie, terwyl Hein Viljoen (Beeld, 15 Desember 2008) skryf dat hoewel die bundel inderdaad "oordadig vol son is, dit die stiller gedigte is, dié met fyner lyne en nuanses, wat op die ou end harder praat as die groot gil".

Nie net Trienke se digkuns nie, maar ook haar eie kunswerke wat teen haar mure in haar huis hang, is deurspek met die natuur. Die Bosveld en die see – twee uiteenlopende plekke – is haar geliefkoosde plekke, vertel sy aan Elise Tempelhoff. Ook reis is een van haar tydverdrywe en as sy nie kan reis nie, lees sy alles wat sy in die hande kan kry: "Ek neem nie boeke by die biblioteek uit nie, omdat ek te stadig lees en voordat ek weet, is die twee weke om. Ek koop liewer die boeke, want dan kan ek hulle bekrap."

Ná die publikasie van Sonskyf is Trienke se pen vir ’n hele paar jaar stil, veral wat haar digwerk betref. In 2011 verskyn daar by Corals Uitgewers ’n "briefboek" wat sy aan haar kleinseun, Chris, wat in die Vaaldriehoek woon, skryf. Sy noem dit Van my ouma, ’n groet: briewe, verse en prente oor die die klein vyf en ander klein dingetjies.

Hierdie boek het ontstaan as gevolg van Ouma se groot verlange na haar kleinseun; so ver van haar af en dit het gegroei uit ’n gereelde uitruil van ervarings in briefies, verse en prente, skryf Jacqueline Leeuvenink in Kerkbode (3 Junie 2011)

"En wat ’n affêre is dit nie vir die lesers, oud en jonk, om saam met Chris in sy ouma se onnutsige, slimme kop met al haar kleurvolle kinkels en kabels te klim nie! Want Trienke kan teken, dig én skryf. En sy weet hoe om vuur te bly stook vir die behoud van ’n band met ’n kleinkind wat ver is." [...]

"Dit is ’n ouma vol lag. En wat ook haar kleinseun aanraai om gereeld ’n diep hô-hô-lag te gee. Die Afrikaanse kinderboekskat is hiermee beslis ’n juweel ryker. Een waarvoor enige kind sy bekkie soos ’n kuikentjie wawydoop sal hou om nóg meer van hierdie stories en versies gevoer te word."

In 2017, tien jaar ná die publikasie van haar vorige bundel, word Trienke se volgende bundel Koebesie ook by Corals Uitgewers uitgegee.

Op LitNet is Dewald Koen die resensent van Koebesie. Hy begin sy resensie deur te noem dat die resensent in sy bespreking van ’n boek moet probeer om op objektief en verantwoordelik te wees in die bestudering van die boek en dit dan aan die hand van literêre standaarde te beoordeel. Maar as die teks gebreke toon, maak dit die resensent se taak nie so aangenaam nie.

Die titel van die bundel, Koebesie, is die onderwerp van die buiteblad wat deur Laurie self geskilder is. Dit beeld die koebesie ook wat eintlik beter bekend is as die hommelby wat die manlik weergawe van die heuningby is: "Interessant is die feit dat dié diklywige en digbehaarde bysoorte veral in die Noordelike Halfrond voorkom. Laurie betrek hoofsaaklik ruimtes in die noordelike halfrond in haar gedigte en fokus veral op België en Griekeland. In die bundel as geheel poog die digter om die werkerby as metafoor vir die digter in te span wat ervarings versamel om terug na die byekorf te neem en sodoende met die ander 'bye' te deel. Laasgenoemde sluit aan by die reismotief wat naas die natuur- en religieuse temas sterk in die bundel figureer. In die slotvers skryf Laurie soos volg:

Terug na die korf

Die werkerby keer terug
met nektar van die ver blom
en voor die reisiger op die skerm
volvoer sy haar dans van die son.

"Die meerderheid gedigte in die eerste kwart van die bundel handel oor die spreker se ervarings as reisende digter in België. Later kom die kultuurgeskiedkundige aspekte van die antieke Griekse beskawing aan bod en bied aan die leser ’n blik op plekke en gebeure wat tematies interessant is en die leser se verbeelding kan stimuleer."  

"Helaas is die oorgrote meerderheid van die gedigte in die bundel ongeslaagd. Laurie se voorliefde vir anekdotismes en die 'vertelagtige' skryfstyl dra by tot die gedigte se ondergang. Die digter maak haarself skuldig aan woordoordaad sowel as die oormatige gebruik van uitroeptekens." [...]

"Met die publikasie van Sonskryf in 2007 het verskeie kritici op gebreke in Laurie se digstyl gewys. Dit wil voorkom asof die digter nie daarin kon slaag om laasgenoemde kritiek ter harte te neem en die digkuns op ’n meer beheersde wyse te beoefen deur krities te herlees en te herskryf nie. Om spaarsamig met woorde en beelde om te gaan, is ’n fyn kuns waarin slegs gesoute digters slaag. Alhoewel die bundel esteties mooi daarna uitsien, is dit die poësie wat die finale oordeel fel. Helaas is die kool in Koebesie se geval nie die sous werd nie."  

Baie van haar gedigte is outobiografies, en in die gedig "Afvlerk" skryf sy vir haar pa. Die gedig handel oor die tyd aan die begin van die 1980's toe hy beroerte gehad het.

Trienke se man, Dirk, beskryf haar as iemand wat verskriklik stadig en deeglik is. "Ek nie. Sy vra raad, maar doen dan tog presies wat sy wil. Sy het ’n sagte geaardheid, maar laat haar nooit van koers druk nie." (Die Burger, 11 Junie 1997)

Oor ’n boek wat haar lewe verander het, vertel Trienke aan Beeld (24 September 2001) dat sy soms ’n boek kies om te lees as gevolg van die inhoud, maar dat die storielyn haar dan meesleur – "soos River god van Wilbur Smith met sy Egiptiese agtergrond wat my boei, of Die groot verlange van Leon Rousseau oor die lewe van Eugène Marais."

"Ek lees graag ons veldgidse oor klippe, blomme, motte en reptiele en dies meer, want die verskeidenheid van voorkoms en aard van die skepping en die Skepper gaan letterlik my verstand te bowe. (Die sterre is te ingewikkeld vir my.) Daarom het ek die gedragsbeskrywings in Groot vyf van Johann Botha so geniet."

"My belangstelling in kuns het my Guy Butler se The prophetic nun laat lees en ek ontdek toe onder andere suster Margaret, wat modelle vir haar tonele gekies het en nie sommer figure nageteken het nie. Suster Pauline het heelwat swart beeldhouers opgelei, en was dit nie vir Butler nie, sou dié selflose werk vir ons verhul gebly het."

"Soms verstom die samevat van al die drade my soos in Vuur op die horison, Engela van Rooyen se roman oor die Anglo-Boereoorlog."

’n Kinderboek wat baie plesier aan Trienke verskaf het, is Die rooi prinses van Paul Biegel waar die prinses van haar troontjie moes afklim om die lewe beter te leer ken.

"Die Bybel dink ’n mens jy ken, maar neem nou skielik ’n Engelse Bybel of die Bybellennium ter hand, dan word nuwe waarhede vir jou geopenbaar. Net so kan ek die eerste maal ’n bundel lees en dink dis nie waffers nie, maar lees ek dit ’n ander maal, en miskien hardop, dan is ek weer verstom en beïndruk."

Publikasies:

 

 

 

 

Publikasie

Van my ouma, ’n groet: briewe, verse en prente oor die klein vyf en ander klein dingetjies

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780620482554 (sb)

Uitgewer

Vanderbijlpark: Corals Uitgewers

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Koebesie

Publikasiedatum

2017

ISBN

978992211271 (sb)

Uitgewer

Vanderbijlpark: Corals Uitgewers

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Gedigte deur Trienke Laurie beskikbaar op die internet

Artikels oor Trienke Laurie beskikbaar op die internet

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 1

Kommentaar

  • Trienke is 'n heerlike mens, vol lag en liefde en woorde en kleure. 'n Sterk, sagte vrou. 'n Woordkunstenaar in eie reg.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top